Wiki Afrikaans 2022: Spesiaal:Soek
AfrikaansVietnameseEnglish

Die Verenigde State se nasionale krieketspan (Engels: United States national cricket team) is die nasionale krieketspan van die Verenigde State (VSA) en verteenwoordig dié land in internasionale krieket. Krieket word in die Verenigde State deur VSA Krieket (Engels: USA Cricket, USAC) beheer. Die span is voorheen bestuur deur die Amerikaanse Krieketvereniging (United States of America Cricket Association, USACA) wat in 1965 ’n geassosieerde lid van die Internasionale Krieketraad (IKR) geword het.[6] In Junie 2017 is die Amerikaanse Krieketvereniging deur die IKR weens kwessies oor bestuur en finansiering geskors en die Amerikaanse span was tydelik onder toesig van die IKR Amerikas, totdat ’n nuwe erkende beheerliggaam gestig is.[7] In Januarie 2019 is amptelik geassosieerde lidmaatskap aan VSA Krieket toegestaan.[8]

Verenigde State
Kenteken van die Verenigde State se nasionale krieketspan.svg
Kenteken van die Verenigde State se nasionale krieketspan
KonferensieVSA Krieket (VSAC)
Personeel
EDI-kapteinSaurabh Netravalkar
T20I-kapteinMonank Patel
AfrigterVlag van Indië Jagadeesh Arunkumar
Internasionale Krieketraad
IKR-statusAssosiaatlid met EDI-status (1965)
IKR-streekAmerikas
IKR-ranglys Tans[1] Beste rang tot dusver
EDI19de18de (24 September 2019)
T20I28ste28ste (22 Desember 2021)
Internasionale eendagwedstryde
Eerste EDIt Vlag van Nieu-Seeland Nieu-Seeland op The Oval, Londen; 10 September 2004
Laaste EDIt Vlag van Oman Oman op Al Amerat-krieketstadion, Maskat; 20 September 2021
EDIs Gespeel Gewen/Verloor
Algeheel[2]219/12 (42,85%)
(0 gelykop, 0 onbeslis)
Vanjaar[3]00/0
(0 gelykop, 0 onbeslis)
Krieketwêreldbeker-verskynings0/12
verskynings by wêreldbekerkwalifiserings8 (eerste in 1979)
Beste uitslag7de plek (in 2001)
Twintig20s
Eerste T20It Vlag van Verenigde Arabiese Emirate Verenigde Arabiese Emirate op IKR-akademiegrond, Doebai; 15 Maart 2019
Laaste T20It Vlag van Ierland Ierland op die Sentrale Browardpark, Lauderhill; 23 Desember 2021
T20Is Gespeel Gewen/Verloor
Algeheel[4]168/6 (56,66%)
(1 gelykop, 1 onbeslis)
Vanjaar[5]00/0
(0 gelykop, 0 onbeslis)
T20I-wêreldbeker-verskynings0/7
Verskynings by T20I-wêreldbekerkwalifiserings4 (eerste in 2010)
Beste uitslag6de plek (in 2010)
EDI-klere

Die wedywering met die Kanadese nasionale krieketspan is so sterk in krieket as wat dit in enige ander spansport is en albei spanne ding jaarliks om die K.A. Auty-beker mee. Die wedstryd tussen die twee lande is in der waarheid die oudste internasionale wedywering in krieket en is reeds in 1844 uitgespeel. Vir ’n eeu en ’n half het die Verenigde State selde teen ander nasionale spanne te staan gekom. Hulle het meestal teen Kanada of teen besoekende spanne van ander lande gespeel.

Die Verenigde State het tydens die IKR-trofee 1979 in Engeland vir die eerste keer aan ’n internasionale toernooi deelgeneem; sedertdien het hulle net twee van dié toernooi misgeloop (nou bekend as die krieketwêreldbekerkwalifisering). Nadat hulle die Sesnasiesuitdaging 2004 gewen het, het die span vir die Kampioentrofee 2004 gekwalifiseer en sy eerste twee EDI-wedstryde gespeel. In April 2018 het die IKR besluit om aan al sy lede volle T20I-status toe te ken. Vervolgens sal elke T20I-wedstryd wat die Verenigde State ná 1 Januarie 2019 teen ander IKR-lede speel, as volle T20I erken word.[9] Die Verenigde State is tans (3 April 2022) 19de op die eendagranglys en 28ste op die Twintig20-wêreldranglys.[10][11]

Tydens die Wêreldkrieketliga se afdeling twee in 2019 het die Verenigde State in die vierde plek geëindig, nadat hulle die wedstryd om die derde plek teen Papoea-Nieu-Guinee verloor het, ’n wedstryd wat as ’n EDI erken is (en die Verenigde State se derde EDI-wedstryd nog was, 15 jaar ná hul laaste). Met die vierde plek het die land ’n plek in die Wêreldkrieketliga 2 2019–22 bespreek, waartydens alle wedstryde van die span EDI-status sal geniet. Die span se eerste plaaslike EDI-reeks het begin op 13 September 2019, waaraan Papoea-Nieu-Guinee en Namibië deelgeneem het.[12]

Beheerliggaam

VSA Krieket (Engels: USA Cricket, USAC) is in 2017 as opvolger van die beheerliggaam Amerikaanse Krieketvereniging (Engels: United States of America Cricket Association, USACA) gestig en verantwoordelik vir die reëling van krieket in die Verenigde State. Sedertdien verteenwoordig dit die Verenigde State as ’n assossiaatlid by die Internasionale Krieketraad (IKR). Spelers van die Amerikaanse Maagde-eilande, ’n eilandgebied van die Verenigde State, mag vir die Wes-Indiese nasionale krieketspan gekeur word.[13]

VSA Krieket bestuur al die VSA-verteenwoordigende nasionale spanne, insluitende die mans, vroue en jeug. Hulle is ook verantwoordelik vir die bestuur en organisasie van EDI- en T20I-reekse teen ander spanne, en die reëling van internasionale wedstryde tuis. Daarbenewens is USAC verantwoordelik vir inkomsteverkryging deur die verkoop van kaartjies, borgskappe en uitsaairegte, veral in verband met die Verenigde State se span.

Kinders en jongmense word reeds op skool aan krieket bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hul met hul afrigting. Nes ander krieketnasies beskik die Verenigde State oor ’n o/19-nasionale span wat aan die o/19-krieketwêreldbeker deelneem.[14]

Geskiedenis

Invoering van krieket

 
Aankondiging van die eerste internasionale krieketwedstryd tussen Kanada en die Verenigde State in die New York Herald, 1844

In die vroeë 18de eeu het Britse offisiere krieket na die Dertien Kolonies saamgebring. Die vroegste bekende verwysing na krieket dateer uit 1709 in die huidige deelstaat Virginië,[15] toe William Byrd II saam met sy vriende by sy herehuis Westover krieket gespeel het. Teen dié tyd is die eerste krieketklubs gestig. Aanvanklik is krieket veral deur offisiere van die Britse Leër en anglofiele koloniste uitgeoefen, maar ook vir Amerikaanse here het dit ’n gewilde tydverdryf begin geword (van die Verenigde State se stigtingsvaders het krieket gespeel).[16] Die eerste opgetekende wedstryd het in 1751 plaasgevind.[17] Aanvanklik het die klubs teen mekaar gespeel, maar toe ook teen Kanadese spanne. Na wat verneem word was George Washington, later die eerste President van die Verenigde State, ’n groot aanhanger van krieket en hy het tydens die Amerikaanse Rewolusie minstens een keer met sy troepe Wicket, ’n inheemse krieketvariant, gespeel. Bekend is ’n krieketwedstryd met sy troepe by Valley Forge, die winterlaer van sy soldate in 1777/78, waaraan ook Washington deelgeneem het.[18] John Adams het glo in die Amerikaanse Kongres gesê, as leiers van krieketklubs “presidente” genoem kan word, is daar geen rede waarom die leier van die nuwe nasie nie dieselfde genoem kan word nie. In 1833 het studente by die Haverford-kollege ’n krieketspan gestig en die sport in Philadelphia gevestig, wat later in die Verenigde State se krieketvesting ontwikkel het.[15]

Van 24 tot 26 September 1844 het die Verenigde State hul eerste internasionale wedstryd teen Kanada voor ’n gehoor van 20 000 by die St George’s-krieketklub in Bloomingdalepark in New York, die plek van die latere New York-universiteit se latere geneeskundige fakulteit, gespeel. Dit was die eerste internasionale wedstryd nog en word as een van die eerste internasionale sportgebeurtenisse in die moderne geskiedenis beskou.[16][15] Kanada, wat onder die benaming “Britse Ryk se Kanadese Provinsie” verskyn het, het die wedstryd met 23 lopies gewen.[19] Die wedstryd is tot in die 1910’s jaarliks aangebied en het die grondslag vir die oudste sportiewe wedywering geleë,[20] wat self 30 jaar ouer is as die bekendste wedywering in internasionale krieket, Die As tussen Australië en Engeland. In 1845 is die eerste internasionale wedstryd tussen albei spanne in Kanada aangebied en deur die gaste met 61 lopies verloor.[15] In 1846 het die Verenigde State die Kanadese span in New York op 28 lopies uitgeboul, die laagste telling vir die nasionale span nog.[16] In 1853 het die Verenigde State in Harlem vir die eerste keer die Kanadese geklop.[15] Die snelbouler Joel Bradbury het in 1854 in Toronto teen die Verenigde State nege paaltjies vir ses lopies geneem, waarna die gaste op net 32 lopies uitgeboul is. Tot op hede is dit die Verenigde State se laagste telling teen Kanada.[16]

Verspreiding in die 19de eeu

 
Fred Lillywhite in sy tent (The English Cricketers’ Trip to Canada and the United States in 1859)

George Parr het in 1859 ’n Engelse span op hul toer na die Verenigde State aangevoer, dit was die eerste internasionale kriekettoer nog.[15][21] Ná dié toer het Fred Lillywhite die boek The English Cricketers’ Trip to Canada and the United States in 1859 geskryf, wat die volgende jaar uitgegee en een van die oudste krieketboeke nog is.[16] Tydens die toer, wat ook Kanada ingesluit het, het die span al sy vyf wedstryde gewen teen spanne wat uit 22 spelers saamgestel is, van wie wedstryde teen die nasionale spanne van Kanada en die Verenigde State. Tydens die toer is ook uitstallingswedstryde en twee uitstappies na die Niagara-waterval onderneem. In 1862 het die broers George en Harry Wright vir die Verenigde State verskyn; albei het later invloedryke spelers in die Major League Baseball geword en hulle is in die Bofbalheldesaal ingeskryf. In 1864 het die Haverford-kollege vir die eerste keer teen die Universiteit van Pennsilvanië in die derde oudste interkollegiale wedstryd in die Verenigde State te staan gekom.[15] In 1868 en 1872 het verdere toere deur Engelse spanne na Noord-Amerika gevolg, waartydens die gaste ook teen Kanada en die Verenigde State te staan gekom het. Hierdie toere was suiwer finansiële ondernemings. Die meeste wedstryde is “teen kanse” gespeel om ’n gebalanseerde wedstryd moontlik te maak; die tuisspan is toegelaat om meer as elf spelers in te span (meestal 22).[22]

In 1872 het die bekende krieketspeler W.G. Grace saam met sy Engelse span die Verenigde State ontmoet. In 1874 het Philadelphia se span aan die Halifax Internasionale Kriekettoernooi in Halifax deelgeneem, glo die oudste internasionale kriekettoernooi nog. In dieselfde jaar het ’n bofbalspan Engeland besoek, en beide bofbal en krieket gespeel. In 1878 het ’n Australiese span die Verenigde State besoek en sy wedstryde teen All New York, die Peninsular-krieketklub in St. Louis en Kalifornië in San Francisco gewen, terwyl die wedstryd teen Philadelphia onbeslis geëindig het. Die laasgenoemde wedstryd was die eerste eersterangse wedstryd in die Verenigde State, waarmee hulle nog voor die gevestigde krieketnasies in Afrika en Asië eersterangse krieket gespeel het. In 1879 het Ierland die Verenigde Staate besoek en in die reeks van twee wedstryde teen Philadelphia onbeslis gespeel. In 1882 het Australië tydens sy tweede besoek ’n uit 18 spelers bestaande span van Philadelphia met nege paaltjies geklop en een jaar later het George Wright vir die nasionale span in die eersterangse wedstryd teen Philadelphia verskyn, waarmee hy die eerste en tot dusver enigste sportlui geword het wat beide eersterangse krieket en Major League Baseball gespeel het. Wes-Indië het op hul 1886-toer onder andere in New York en Philadelphia gespeel.[15]

Van die 1880’s het hulle ook toere op hul eie onderneem, onder andere na Brits-Guayana,[16] waar hulle in 1888 Wes-Indië geklop het.[15] ’n Vroeë noemenswaardige speler was Bart King, wat vir Philadelphia teen internasionale spanne soos Engeland en Australië as bouler uitstekend presteer het.[17] King het in 1892 vir die Verenigde State in die jaarlikse wedstryd teen Kanada verskyn en hy word as die beste Amerikaanse krieketspeler beskou.[15] Gedurende die 1890’s het die wedersydse wedstryde met Kanada nuwe gewildheid verkry met die twee glo beste veelsydiges in die Noord-Amerikaanse krieketgeskiedenis: Die Amerikaanse Bart King en die Kanadese Jack Laing. Albei spelers het die plaaslike krieket vir amper 20 jaar oorheers en groot gehore het hulle tweestryde dopgehou. Wedstryde teen Kanada het gereeld voortgegaan tot die onderbreking in 1912.[16]

Agteruitgang

Ondanks krieket se gewildheid gedurende die 18de en vroeë 19de eeu is dit vanaf die 1850’s en 1860’s deur bofbal verdring. Toe die belangstelling in bofbal toegeneem het, is die reëls van dié sport effens aangepas om sy gewildheid verder te verhoog. Byvoorbeeld is maklik vervardigbare ronde bofbalkolwe ingevoer om ’n verskil te maak met die plat krieketkolwe.[23] ’n Ander rede vir die afname van krieket se gewildheid mag dalk wees dat in die laat 19de eeu Amerikaanse krieket ’n amateursport vir ryk mense was, terwyl in beide Engeland en Australië ’n professionele weergawe van dié sport ontwikkel het. Nadat die krieketvlak met professionaliteit elders in die wêreld verbeter het, het baie Noord-Amerikaanse krieketklubs hardnekkig elitisties gebly. Klubs soos Philadelphia en Merion het met krieket weggedoen en hul fasiliteite na ander sportsoorte soos gholf en tennis omgeskakel. Sommige stadkrieketklubs het onwetend bygedra tot hul eie afsterwe deur bofbalspanne te borg. Teen 1900 was bofbal in die Verenigde State numeries en kultureel oorheersend.[16]

Daarbenewens was, toe die eerste internasionale beheerliggaam vir krieket – die Imperiale Krieketkonferensie (IKK) – in 1909 gestig is, lidmaatskap beperk tot lande van die Britse Ryk. Dit het die gewildheid van krieket buite die Britse Ryk gekniehalter en die momentum om krieket in die Verenigde State te professionalisier vertraag. Nogtans bly dit omstrede of ’n meer toeganklike IKK die momentum sou vergroot het, al dan nie.[16] Onafhanklik daarvan het die sport in die Verenigde State nie só floreer soos dit in die Britse Ryk die geval was nie. Vanaf die 1880’s tot die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog is krieket in die Verenigde State nie deur ’n egte nasionale span oorheers nie, maar deur die amateurspan uit Philadelphia wat deur klubs in die Amerikaanse krieketvesting Philadelphia se metropolitaanse gebied rondom die Delawarerivier saamgestel is.

Philadelphiaanse krieket

 
Bart King word as die beste Amerikaanse krieketspeler nog beskou[24]
 
Die Philadelphiaanse krieketspan, hier tydens ’n toer na Engeland in 1884, was die vernaamste Amerikaanse krieketspan vir ’n aantal dekades ná die Amerikaanse Burgeroorlog
 
George Patterson het met 271 eersterangse lopies die hoogste telling deur ’n speler uit ’n geassosieerde krieketnasie aangeteken en hy is “W.G. Grace van Amerikaanse krieket” genoem[25]

Die Philadelphiaanse krieketspan het die stad Philadelphia tussen 1878 en 1913 in eersterangse krieket verteenwoordig. Hoewel die Verenigde State in 1844 in die eerste internasionale krieketwedstryd teen Kanada gespeel het, het dié sport stadigaan agteruitgegaan, wat deur bofbal se toenemende gewildheid versnel is.[26] In Philadelphia het krieket egter gewild gebly en vanaf die einde van die 19de eeu tot die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog het die stad oor ’n eersterangse span beskik wat met baie ander dwarsdeur die wêreld kon meeding. Dié span is uit spelers van die vier oorheersende krieketklubs in Philadelphia saamgestel: Germantown, Merion, Belmont en Philadelphia. Spelers van kleiner klubs soos Tioga en Moorestown, asook plaaslike kolleges, soos Haverford en Penn, het ook vir Philadelphia gespeel. Binne 35 jaar het die span in 89 eersterangse wedstryde gespeel. Hiervan het hulle 29 gewen, 46 verloor, in 13 onbeslis gespeel en een wedstryd is voor sy voltooiing afgelas.

In 1884 het Philadelphia sy eerste toer na Engeland aangepak, maar sonder enige eersterangse wedstryd. Een Jaar later het Philadelphia sy eerste eersterangse oorwinning teen ’n besoekende span aangeteken, toe hulle ’n keurspan onder leiding van Ned Sanders met 109 lopies by die Germantown-krieketklub verslaan het. In 1886 het Wes-Indië sy eerste toer na Noord-Amerika onderneem en onder andere in New York en Philadelphia gespeel. Twee jaar later het hulle Ierland ontvang, wat Longwood en All New York geklop, maar twee keer teen Philadelphia verloor het. In 1889 het die tweede toer na Engeland gevolg, maar weer sonder enige eersterangse wedstryd. Aansluitend het hulle Ierland en Skotland besoek; terwyl hulle teen die Iere onbeslis gespeel het, het hulle die Skotte met tien paaltjies geklop. Twee jaar later het Lord Hawke se keurspan Philadelphia besoek, wat elk ’n eersterangse wedstryd teen Philadelphia gewen en verloor het, voordat hulle in New York, Baltimore, Boston en Chicago gespeel het. In 1892 het die Iere weer die Verenigde State besoek. Hulle het in Philadelphia, Boston, New York en Baltimore gespeel. Die reeks van drie wedstryde teen Philadelphia het met 1–1 gelykop geëindig.[15]

In dié jaar het Bart King vir die Verenigde State in die jaarlikse wedstryd teen Kanada verskyn en hy word as die beste krieketspeler beskou wat in hierdie tydperk vir Philadelphia gespeel het. Hy was ’n ervare kolwer, maar hy het ook sy waarde as ’n bouler bewys. Gedurende sy loopbaan het hy verskeie Noord-Amerikaanse rekords opgestel, waaronder ’n eersterangse boulrekord.[27] Hy het met die beste krieketspelers wêreldwyd uit Engeland en Australië meegeding. King was die oorheersende bouler van sy span toe hulle in 1897, 1903 en 1908 na Engeland getoer het. Hy het kolwers uitgeboul met sy unieke aflewering, wat hy “die hengelaar” genoem het, en gehelp om die swaaiboulwerk in die sport te vervolmaak. Baie van die huidige beste boulers maak staat op sy strategieë en tegnieke.[28] Sir Pelham Warner het na Bart King as een van die fynste boulers van alle tye verwys,[29] en Sir Donald Bradman het hom as “Amerika se grootste krieketseun” beskryf.[30] In 1893 het King in sy eersterangse verskyning sewe Australiese paaltjies geneem en Philadelphia na ’n oorwinning met ’n beurt geneem. Aansluitend het Australië teen New York onbeslis gespeel, ’n eersterangse oorwinning teen Philadelphia, asook oorwinnings teen beide Massachusetts en Detroit aangeteken. Tydens die Australiese besoek in 1912 het King in sy laaste eersterangse wedstryde gespeel, dié reeks het met 1–1 gelykop geëindig.[15]

In 1894 het Lord Hawke se keurspan weer die Verenigde State besoek. Die gaste het albei eersterangse wedstryde teen Philadelphia gewen. George Patterson het 271 eersterangse lopies vir sy span teen Arthur Wood se span aangeteken. Tot op hede is dit die hoogste telling in eersterangse krieket deur ’n speler van ’n geassosieerde krieketnasie. Twee jaar later het Philadelphia nog ’n eersterangse oorwinning teen Australië aangeteken, maar nogtans dié reeks met 1–2 verloor. Australië het tydens sy toer ook New Jersey, Chicago en Kalifornië ontmoet. In 1897 het Pelham Warner se span die Verenigde State besoek en in New York, Baltimore en Philadelphia gespeel. Die gaste het in die eersterangse wedstryde teen Philadelphia elk ’n oorwinning en ’n nederlaag aangeteken. In dieselfde jaar het Philadelphia sy derde toer na Engeland onderneem, dié keer insluitende eersterangse wedstryde. Hulle het twee oorwinnings aangeteken en nege nederlae in 14 wedstryde gely. In die daaropvolgende jaar het die tweede besoek deur Pelham Warner se span gevolg, met ’n bykomende wedstryd in Chicago. Die gaste het albei eersterangse wedstryde teen Philadelphia gewen. In 1899 het Ranjitsinhji ’n keurspan in die Verenigde State aangevoer, wat albei eersterangse wedstryde teen Philadelphia elk met ’n beurt gewen het. Twee jaar later het Bernard Bosanquet, die uitvinder van die googly, ’n keurspan in die Verenigde State aangevoer. Die reeks van twee eersterangse wedstryde teen Philadelphia het met 1–1 gelykop geëindig. In 1903 het Kent die eerste Engelse countyspan geword wat die Verenigde State besoek het. Die gaste het albei eersterangse wedstryde teen Philadelphia gewen. Aansluitend het Philadelphia sy tweede eersterangse toer na Engeland onderneem, waar hulle ses van hul 15 wedstryde gewen het.[15]

In 1905 het die Marylebone-krieketklub (MCC) sy eerste toer na die Verenigde State onderneem, die reeks van twee eersterangse wedstryde teen Philadelphia het met 1–1 gelykop geëindig. In 1907 het Philadelphia Bermuda besoek en die tweedaagse wedstryd teen die gasheer met 47 lopies verloor. In dieselfde jaar het die MCC in twee onbesliste wedstryde teen Philadelphia gespeel. In 1906 het Philadelphia weer Bermuda besoek en dié keer met agt paaltjies gewen. Daarop het Philadelphia se laaste toer na Engeland gevolg, waartydens hulle tien eersterangse wedstryde gespeel het, van wie hulle vier gewen en ses verloor het. Bart King het tydens dié toer 87 paaltjies met ’n boulgemiddelde van 11.01 geneem, wat tot in 1958 die beste individuelle boulwerk in Engeland was. In 1909 het Ierland die Verenigde State besoek. In die eerste eersterangse wedstryd se eerste beurt het King alle tien Ierse paaltjies geneem en ’n driekuns in die tweede beurt behaal, waarvolgens Philadelphia dié wedstryd met ’n beurt geneem het. Hulle het die tweede wedstryd ook met ’n beurt gewen. Daarna het Philadelphia Jamaika besoek en die reeks van drie eersterangse wedstryde met 2–1 gewen. Een jaar later is Philadelphia in Hamilton deur die gasheer met nege paaltjies verslaan. In 1911 het Bermuda vir die eerste keer die Verenigde State besoek. In die wedstryd teen Philadelphia in Haverford het Gerald Conyers aan die einde van Philadelphia se beurt ses paaltjies vir twee lopies geneem, dit was twee driekunste, en ’n boulwerk van 15/138 in die oorwinning met ses lopies behaal. Tydens die daaropvolgende besoek het die gasheer in Hamilton teen Philadelphia met sewe paaltjies gewen. In 1912 het Philadelphia weer na Bermuda getoer, waar hulle deur die nasionale span met vier paaltjies geklop is. Tydens die Australiese toer na Noord-Amerika in 1913 is die laaste eersterangse wedstryde in die Verenigde State in meer as 90 jaar gespeel. Die gaste het twee oorwinnings aangeteken en in een onbesliste wedstryd teen Philadelphia gespeel. Ander wedstryde is in New York, Chicago, Pittsburgh en Rhode Island aangebied, waarby die Germantown-krieketklub die besoekers geklop het. Op die toer is ook twee eersterangse wedstryde teen ’n gesamentlike Amerikaans-Kanadese span gespeel, wat albei deur die gaste gewen is.[31][32] Ná die Eerste Wêreldoorlog het krieket ook in Philadelphia agteruitgegaan en hulle het ’n reeks van vier wedstryde teen New York met 1–3 verloor. In 1921 het ’n Oos-Kanadese keurspan die Verenigde State besoek en teen Philadelphia onbeslis gespeel. Twee jaar later het Bermuda ’n reeks van twee wedstryde teen Philadelphia met 0–1 verloor en in 1928 het die gaste teen Philadelphia onbeslis gespeel.[15]

Naoorlogse tydperk

In die tussentyd het die krieketbedryf voortgegaan in die Amerikaanse Maagde-eilande, dié eiland stel egter spelers beskikbaar vir die Wes-Indiese nasionale krieketspan, wat sedert 1928 toetskrieketstatus geniet.[33] Die Amerikaanse Maagde-eilande het tussen 1885 en 1894 die Verenigde State ses keer op internasionale vlak verteenwoordig. Hiervan het die Verenigde State een wedstryd gewen, twee verloor en in drie onbeslis gespeel. In 1932 het die Australiërs die Verenigde State besoek, van die spelers was die bekende Sir Donald Bradman. In 1958 het Pakistan die Verenigde State vir wedstryde in Philadelphia, New York en Massachusetts besoek. Een jaar later het die MCC se besoek vir wedstryde in Philadelphia en Washington, D.C. gevolg.[15]

Tot in die middel van die 1960’s, toe IKR-hervormings geassosieerde lede toegelaat het om aan te sluit, het krieket ’n klein tydverdryf in die Verenigde State gebly. As gevolg daarvan het dié sport in die Verenigde State gedurende die 1930’s heeltemal agteruitgegaan. Ná die Tweede Wêreldoorlog het migrante uit die Verenigde Koninkryk en later die Karibiese gebied en Suid-Asië die sport weer na die land saamgebring en gehelp om dit te laat herleef. Die Amerikaanse Krieketvereniging (United States of America Cricket Association, USACA) is in 1961 gestig en in 1963 is die internasionale wedstryde teen Kanada hervat met Kanada wat die eerste wedstryd in Toronto met ’n beurt gewen het. In 1964 het Yorkshire die Verenigde State vir wedstryde in New York, Washington, D.C. en Hollywood besoek. Die herlewing het daartoe gely dat die Verenigde State in 1965 by die IKR aangesluit het.[16] In dieselfde jaar het Cliff Severn op 39 saam met sy jonger broer Winston in ’n tweedaagse wedstryd teen Kanada op Rileypark in Calgary vir die Verenigde State verskyn. Een jaar later het die Verenigde State die terugwedstryd op die C. Aubrey Smith-krieketveld in Los Angeles met 54 lopies gewen.[34] Vandag word krieket in alle 50 Amerikaanse deelstate beoefen.[35] In dié jaar het Worcestershire die Verenigde State vir wedstryde in Honolulu en Hollywood besoek, waarop Nieu-Seeland se besoek gevolg het, insluitende ’n wedstryd in Los Angeles. Twee jaar later het die MCC die Verenigde State vir wedstryde in Washington, D.C., Philadelphia en New York besoek. In 1968 het die Verenigde State hul eerste toer na Engeland aangepak, waar hulle teen tweede countyspanne en kleiner counties te staan gekom het. In 1973 het die Verenigde State in Los Angeles Ierland met 42 lopies verslaan.[15]

Misgelope toernooie

 
Die Verenigde State se nasionale krieketspan in 2017

Hulle is nie vir die eerste Krieketwêreldbeker 1975 uitgenooi nie en as ’n geassosieerde lid was die Verenigde State geregtig om aan die IKR-trofee 1979 deel te neem. Hulle het oorwinnings teen Israel en Wallis aangeteken, maar ná hul nederlaag teen Sri Lanka is hulle weens hul swakker lopietempo uitgeskakel. Daarmee het hulle versuim om vir die Krieketwêreldbeker 1979 te kwalifiseer. Drie jaar later het hulle tydens die IKR-trofee 1982 net Israel geklop en is weer uitgeskakel, waarmee hulle die Krieketwêreldbeker 1983 misgeloop het. Tydens die IKR-trofee 1986 het hulle op gelyke punte met Nederland en Bermuda geëindig, maar hulle is weer weens hul swakker lopietempo in die derde plek uitgeskakel, waarmee hulle nie vir die Krieketwêreldbeker 1987 gekwalifiseer het nie. Tydens die IKR-trofee 1990 het hulle vir die eerste keer daarin geslaag om vanaf die eerste rondte te vorder, maar hulle het laaste in die tussenrondte geëindig en vervolgens die Krieketwêreldbeker 1992 misgeloop. Tydens die IKR-trofee 1994 het hulle weer in die eerste rondte misluk, só ook in 1997, waarmee hulle die krieketwêreldbekertoernooie in 1996 en 1999 misgeloop het. Van 1998 af het hulle ook aan die Wes-Indiese EDI-toernooi deelgeneem. Tydens die IKR-trofee 2001 het hulle vanaf die eerste rondte gevorder, maar met hul sesde plek in die Superliga het hulle nie vir die Krieketwêreldbeker 2003 gekwalifiseer nie. Van 2000 af het die Verenigde State aan elke Amerikastrofee deelgeneem en die 2002-toernooi in Argentinië beklink.[15]

In 2004 het die span aan die Sesnasiesuitdaging 2004 deelgeneem wat hulle gewen het. Daarmee het hulle vir die Kampioentrofee 2004 gekwalifiseer, waar hulle in hul eerste internasionale eendagwedstryde (EDIs) nog duidelik deur beide Nieu-Seeland en Australië verslaan is.[36] In dieselfde jaar is tydens die Interkontinentale Beker die eerste eersterangse wedstryde in die Verenigde State in meer as 90 jaar aangebied, maar hulle is deur Kanada geklop. John Davison het met 17 paaltjies vir Kanada die beste eersterangse boulwerk sedert Jim Laker behaal. Daarna het hulle teen Bermuda gewen, maar nie die halfeindstryd gehaal nie. Hulle het die Amerikastrofee 2004 in Bermuda ná Kanada in die tweede plek afgesluit.[15] Tydens die Interkontinentale Beker 2005 is die span deur die wêreldbeheerliggaam geskors, nadat mededingende beheerliggame nie op ’n span kon besluit nie.[37] Tydens die IKR-trofee 2005 het die Verenigde State in die laaste plek geëindig en sodoende die Krieketwêreldbeker 2007 misgeloop, buitendien het hulle hul EDI-status verloor. In Augustus 2006 het die Verenigde State op die internasionale verhoog teruggekeer en aan die Amerikastrofee se afdeling een in Kanada deelgeneem. Onder vyf deelnemende spanne het hulle tweede geword.[15]

In Mei 2007 sou die Verenigde State na Darwin, Australië, vertrek om aan die wêreldkrieketliga se afdeling drie deel te neem. Die twee beste spanne van dié toernooi het vir die afdeling twee later die jaar gekwalifiseer. Die Amerikaanse Krieketvereniging is egter deur die IKR geskors en die nasionale span van die toernooi uitgesluit, waarmee hulle nie meer vir die Krieketwêreldbeker 2011 kon kwalifiseer nie.[38] Die skorsing was die gevolg van ’n interne dispuut oor ’n grondwet vir die nasionale beheerliggaam. Vroeg in 2008 is die geskil opgelos en die skorsing op 1 April dieselfde jaar opgehef.[39]

Vir die daaropvolgende siklus is die Wêreldkrieketliga 2007–09 opgesit, wat nuwe speelmoontlikhede saamgebring het. Ná hul hertoelating het hulle in afdeling vyf begin, waar hulle vanaf die eerste rondte gevorder het, maar in die halfeindstryd deur Jersey uitgeskakel is, hulle is ook in die klein finale om die derde plek deur Nepal verslaan.[40] Daarmee het hulle die regstreekse kwalifisering vir die Wêreldkrieketliga 2009–14 se afdeling vyf gehaal. Ná hul eindstrydnederlaag teen Nepal is hulle as naaswenner bevorder. Met die opkoms van Twintig20-krieket (T20I) is aan hulle by die T20I-wêreldbekerkwalifisering 2010 ’n wegspringplek toegestaan, terwyl hulle voorheen die eerste twee T20I-wêreldbekertoernooie in 2007 en 2009 misgeloop het.[41] Hulle is egter deur Ierland en Afghanistan geklop en het die T20I-wêreldbeker 2010 misgeloop.[42] Tydens die afdeling vier het hulle die eindstryd teen Italië gewen en as eerste span vir die afdeling drie gekwalifiseer,[43] waar hulle met hul laaste plek afgeskakel is en die Krieketwêreldbeker 2019 misgeloop het.[44] Tydens die kwalifisering het hulle die T20I-wêreldbekerkwalifisering 2012 gehaal, maar hulle is reeds in die eerste rondte uitgeskakel. In die laaste wedstryd teen Skotland het hulle met ’n duidelike oorwinning die kans gehad om vanaf die eerste rondte te vorder, maar hul aangetekende oorwinning was nie genoeg nie, waarmee hulle die T20I-wêreldbeker 2012 misgeloop het.[45]

Tydens die Wêreldkrieketliga se afdeling vier 2012 is die Verenigde State bevorder en in 2013 het hulle in afdeling drie aangebly. Hulle het aan die T20I-wêreldbekerkwalifisering 2013 deelgeneem, maar hulle is in die laaste plek uitgeskakel en het vervolgens die T20I-wêreldbeker 2014 misgeloop.[46] Tydens die Wêreldkrieketliga se afdeling drie 2014 is hulle weer afgeskakel. Tydens die T20I-wêreldbekerkwalifisering 2015 vir die T20I-wêreldbeker 2016 het hulle weer in die eerste rondte misluk.[47]

Op 26 Junie 2015 het die IKR die Amerikaanse Krieketvereniging weer geskors, maar dié keer nadat ’n IKR-ondersoek “beduidende kommer uitgespreek het oor die bestuur, finansies, reputasie en krieketaktiwiteite”. Hierdie skorsing het egter nie die nasionale span se wedstryde geraak nie, maar die beheerliggaam van IKR-befondsing ontneem en verhoed dat die Amerikaanse Krieketvereniging enige toernooie in die Verenigde State kon reël (terwyl die IKR steeds enige toernooie in die Verenigde State kon goedkeur). Die skorsing sou aanbly totdat die Amerikaanse Krieketvereniging aan die IKR kan bewys dat “voorwaardes met betrekking tot bestuur, finansies en sy krieketaktiwiteite” verbeter het.[48]

Tydens die wêreldkrieketliga se afdeling vier 2016 op eie bodem is hulle weer bevorder en het in afdeling drie aangebly. Tydens die Wêreldkrieketliga 2017–19 se afdeling drie in 2017 het die Verenigde State vir die eerste keer die afdeling twee gehaal, waar hulle ’n plek in die Krieketwêreldbekerliga 2 2019–2023 bespreek het. In Twintig20 is hulle in 2019 reeds in die Amerikas se kwalifisering uitgeskakel en het die T20I-wêreldbeker 2021 misgeloop.[49]

Op 22 Junie 2017 het op die IKR se jaarlikse vergadering in Londen die IKR se volle rad eenparig besluit – ná aanleiding van ’n aanbeveling deur die Raad in April, en ’n onlangse verhoor oor geskilbeslegtingskomitees voor Michael Beloff, wat in Junie 2017 afgehandel is – om die Amerikaanse Krieketvereniging uit te sluit. Dit het die beheerliggaam se weiering om ’n deur die IKR goedgekeurde grondwet aan te neem ingesluit.[7] In Januarie 2019 is ’n nuwe goedgekeurde beheerliggaam, VSA Krieket, gestig en hulle het as ’n geassosieerde lid by die IKR aangesluit.[50][8]

Verdere ontwikkeling

Nadat hulle in 2018 Singapoer in die eindstryd van die afdeling drie verslaan het, het hulle vir die eerste keer die afdeling twee gehaal.[51] In April 2019 het die Verenigde State, nadat hulle die afdeling twee onder die vier beste spanne afgesluit het, vir die Krieketwêreldbekerliga 2 2019–2023 gekwalifiseer, wat aan hulle die kans besorg het om die wêreldbekerkwalifisering 2023 vir die Krieketwêreldbeker 2023 te haal. Alle wedstryde tydens die Krieketwêreldbekerliga 2 sal as EDIs erken word.[52][53] Tydens die Krieketwêreldbekerliga 2 het hulle die drienasiestoernooi in die Verenigde Arabiese Emirate beklink, maar die toernooi in Nepal in die laaste plek afgesluit. Die drienasiesreeks in die Verenigde State in September 2019 was die eerste EDI-reeks in die Verenigde State en die gasheer het ná Namibië en voor Papoea-Nieu-Guinee in die tweede plek afgesluit, die tweede toernooi in April 2020 moes egter nes ander toernooie weens die wêreldwye Covid-19-pandemie uitgestel word.[54][55]

In November 2021 het Ierland vir Desember 2021 ’n toer van vyf wedstryde na die Verenigde State aangekondig, voordat hulle vanaf daar in Januarie 2022 vir ’n EDI-reeks na Wes-Indië sal vertrek. Daarmee het die Verenigde State vir die eerste keer ’n bilaterale reeks teen ’n volle lid aangebied.[56][57] Dié reeks het met twee T20Is begin; ná ’n stadige begin in die eerste wedstryd het in die tweede beurt ’n hoë vennootskap tussen Sushant Modani en Gajanand Singh begin en die gasheer ’n telling van 188 lopies laat aanteken. Ierland het in die lopiejag 26 lopies te min aangeteken, waarmee die Verenigde State hul eerste oorwinning nog teen ’n toetsnasie aangeteken het.[58][59] Ierland het die T20I-reeks in die tweede wedstryd egaliseer; hulle het eerste gekolf en is op 150 lopies uitgeboul, die gasheer het egter nege lopies te min aangeteken.[60] Ná die twee T20Is sou ’n EDI-reeks gespeel word. Dit is egter ná ’n aantal Covid-gevalle op 28 Desember 2021 afgelas.[61] In November 2021 is die Verenigde State saam met Wes-Indië as medegasheer vir die T20I-wêreldbeker 2024 benoem. Tydens dié toernooi sal vir die eerste keer wedstryde tydens ’n internasionale toernooi in die Verenigde State aangebied word.[62] In Maart 2022 het die beheerliggaam in voorbereiding op die Major League Cricket 2023 beleggings ter waarde van 110 miljoen Amerikaanse dollar vir die opknapping van agt stadions in die land aangekondig.[63]

Kleure en kenteken

In EDI- en T20I-krieket dra Amerikaanse spelers blou truie met rooi kleuraksente, blou moue, ’n blou V-halslyn en blou broeke. Veldspelers dra ’n blou bofbalpet of ’n blou sonhoed. Die kolwers se helms is op ’n soortgelyke manier geverf. Gedurende IKR-toernooie verskyn die borg se embleem op die regter mou en die belettering USA verskyn op die middel van die trui.

VSA Krieket se kenteken toon ’n rooi krieketkolf voor ’n rooi-wit-gestreepte skild met die wit belettering USA Cricket onder op ’n blou agtergrond; wit, blou en rooi is die Verenigde State se nasionale kleure.

Tuisstadions

Ligging van Amerikaanse krieketstadions
 
Die Sentrale Browardpark is die enigste Amerikaanse krieketveld met amptelike EDI-status[64]

Die Verenigde State beskik oor geen amptelike tuisstadion vir hul nasionale span nie. Die Verenigde State se nasionale krieketspan span vir hul krieketwedstryde eerder ’n verskeidenheid stadions dwarsdeur die Verenigde State in:

No.StadionPlekEerste wedstryd
1Sentrale BrowardparkLauderhill13 September 2019

Wedywering met Kanada

Die Verenigde State se grootste mededinger in krieket is Kanada. Albei spanne het in 1844 in die eerste internasionale wedstryd nog teen mekaar te staan gekom en ontmoet sedertdien jaarliks, met uitsondering van die tydperk tussen 1913 en 1962 asook van 1994 tot 2011. As deel van hierdie mededinging speel albei nasionale spanne om die K.A. Auty-beker wat deur Karl André Auty geskenk is. Dit is die oudste en tot vandag toe langste bilaterale mededinging in internasionale sport.[65]

Spelers

Spelerstatistieke

Altesaam het vir die Verenigde State 37 spelers EDI- en 27 spelers T20I-krieket gespeel. Vervolgens die spelers, wat vir die Amerikaanse span die meeste lopies aangeteken en die meeste paaltjies geneem het.

Lopies

EDIT20I
SpelerTydperkEDIsLopiesSpelerTydperkT20IsLopies
Monank Patel2019–hede19525Steven Taylor2019–hede14335
Aaron Jones2019–hede14438Aaron Jones2019–hede14211
Steven Taylor2019–hede18402Xavier Marshall2019–hede14204
Jaskaran Malhotra2019–hede11313Jaskaran Malhotra2019–hede12181
Ian Holland2019–hede08244Monank Patel2019–hede16164
Korrek teen: 3 April 2022[66]Korrek teen: 3 April 2022[67]

Paaltjies

EDIT20I
SpelerTydperkEDIsPaaltjiesSpelerTydperkT20IsPaaltjies
Saurabh Netravalkar2019–hede1931Nisarg Patel2019–hede1216
Nisarg Patel2019–hede1415Timil Patel2019–20190711
Nosthush Kenjige2019–hede1115Saurabh Netravalkar2019–hede1511
Karima Gore2019–hede1613Ian Holland2019–20190610
Cameron Stevenson2019–20200712Karima Gore2019–hede0810
Korrek teen: 3 April 2022[68]Korrek teen: 3 April 2022[69]

Spankapteins

Tot op hede het twee spelers as kaptein vir die Verenigde State tydens ’n EDI-wedstryd fungeer en twee tydens ’n T20I.[70]

EDI[71]T20I[72]
No.NaamTydperkNaamTydperk
1Richard Staple2004Saurabh Netravalkar2019
2Saurabh Netravalkar2019–hedeMonank Patel2021–hede

Rekords

EDI-rekord teen ander lande

TeenstanderWedstrydeGewenVerloorGelykopOnbeslis% GewenEerste oorwinning
t. Toetsnasies
  Australië101000,00
  Nieu-Seeland101000,00
t. Assosiaatlede
  Namibië2110050,0017 September 2019
  Nepal4130025,0017 September 2021
  Oman404000,00
  Papoea-Nieu-Guinee5410080,0013 September 2019
  Skotland2110050,009 Desember 2019
  Verenigde Arabiese Emirate22000100,008 Desember 2019
Algeheel219120042,8513 September 2019
Rekords volledig tot en met EDI #4382 op 2 April 2022. Laaste keer hersien op 3 April 2022. Wenpersentasies sluit geen uitslae uit en tel gelykop as ’n halwe oorwinning.[73]

Wêreldbekerrekord

JaarUitslag
1975Nie deelgeneem nie
1979Nie gekwalifiseer nie
1983Nie gekwalifiseer nie
1987Nie gekwalifiseer nie
1992Nie gekwalifiseer nie
1996Nie gekwalifiseer nie
1999Nie gekwalifiseer nie
2003Nie gekwalifiseer nie
2007Nie gekwalifiseer nie
2011Nie gekwalifiseer nie
2015Nie gekwalifiseer nie
2019Nie gekwalifiseer nie
2023N.v.t.

Kampioentrofee-rekord

JaarUitslag
1998Nie toegelaat nie
2000Nie gekwalifiseer nie
2002Nie gekwalifiseer nie
2004Groepfase
2006Nie toegelaat nie
2009Nie toegelaat nie
2013Nie toegelaat nie
2017Nie toegelaat nie

T20I-rekord teen ander lande

TeenstanderWedstrydeGewenVerloorGelykopOnbeslis% GewenEerste T20I-oorwinning
t. Toetsnasies
  Ierland2110050,0022 Desember 2021
t. Assosiaatlede
  Argentinië11000100,0011 November 2021
  Bahamas11000100,0013 November 2021
  Belize11000100,007 November 2021
  Bermuda3120033,338 November 2021
  Kaaimanseilande22000100,0019 Augustus 2019
  Kanada302100,00
  Panama11000100,007 November 2021
  Verenigde Arabiese Emirate201010,00
Algeheel16861156,6619 Augustus 2019
Rekords volledig tot en met T20I #1502 op 2 April 2022. Gelykop verwys na wedstryde wat deur ’n valbyl (soos ’n Superboulbeurt) beslis is. Wenpersentasies sluit geen uitslae uit en gelykop as ’n halwe oorwinning (ongeag die valby).[74]

Twintig20-rekord

JaarUitslag
2007Nie gekwalifiseer nie
2009Nie gekwalifiseer nie
2010Nie gekwalifiseer nie
2012Nie gekwalifiseer nie
2014Nie gekwalifiseer nie
2016Nie gekwalifiseer nie
2021Nie gekwalifiseer nie
2022N.v.t.

Sien ook

Verwysings

  1. (en) "ICC Rankings". Internasionale Krieketraad.
  2. (en) "ODI matches – Team records". ESPNcricinfo.
  3. (en) "ODI matches – 2022 Team records". ESPNcricinfo.
  4. (en) "T20I matches – Team records". ESPNcricinfo.
  5. (en) "T20I matches – 2022 Team records". ESPNcricinfo.
  6. (en) Martin Williamson (18 Mei 2005). "A brief history …". ESPNcricinfo. Besoek op 3 April 2022.
  7. 7,0 7,1 (en) Peter Della Penna (22 Junie 2017). "USACA expelled by the ICC". ESPNcricinfo. Besoek op 3 April 2022.
  8. 8,0 8,1 (en) Peter Della Penna (8 Januarie 2019). "USA formally approved to rejoin ICC as Associate Member under USA Cricket". ESPNcricinfo. Besoek op 3 April 2022.
  9. (en) "All T20 matches between ICC members to get international status". Internasionale Krieketraad. 26 April 2018. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 3 November 2019. Besoek op 26 Februarie 2020.
  10. (en) "Men's ODI Team Rankings". Internasionale Krieketraad. 29 Maart 2022. Besoek op 3 April 2022.
  11. (en) "Men's T20I Team Rankings". Internasionale Krieketraad. 29 Maart 2022. Besoek op 3 April 2022.
  12. (en) "United States To Host First-Ever ODI On September 13". NDTV Sports. Besoek op 25 Junie 2021.
  13. (en) "West Indies as separate cricketing countries?". Emerging Cricket. 8 Julie 2020. Besoek op 3 April 2022.
  14. (en) Martin Williamson (11 Januarie 2006). "The Under-19 World Cup". ESPNcricinfo. Besoek op 3 April 2022.
  15. 15,00 15,01 15,02 15,03 15,04 15,05 15,06 15,07 15,08 15,09 15,10 15,11 15,12 15,13 15,14 15,15 15,16 15,17 15,18 (en) "Timeline of USA cricket". Cricket Europe. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 2 Desember 2008. Besoek op 26 Junie 2021.
  16. 16,0 16,1 16,2 16,3 16,4 16,5 16,6 16,7 16,8 16,9 (en) Deb K Das (18 Januarie 2006). "Cricket in the USA". ESPNcricinfo. Besoek op 3 April 2022.
  17. 17,0 17,1 (en) "The History of Cricket in the United States". Smithsonian Magazine. 1 Oktober 2006. Besoek op 3 April 2022.
  18. (en) "The American Revolution Webpage: The Winter At Valley Forge". Besoek op 5 Desember 2006.
  19. (en) Martin Williamson. "The oldest international contest of them all". ESPNcricinfo. Besoek op 3 April 2022.
  20. (en) "Canada Versus United States of America Cricket 1844 St George Cricket Club Ground, Manhattan, New York". Cricket Club. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 6 Oktober 2006. Besoek op 9 Maart 2007.
  21. (en) Frank Keating (11 September 2009). "One tour to start them all: how English cricketers blazed a trail 150 years ago". The Guardian. Besoek op 3 April 2022.
  22. (en) Alan Gibson (1989). The Cricket Captains of England. The Pavilion Library. pp. 4–7. ISBN 1-85145-390-3.
  23. (en) "Early Baseball and Cricket in America". Seattle Krieketklub. Besoek op 3 April 2022.
  24. (en) "Bart King". ESPNcricinfo. Besoek op 3 April 2022.
  25. (en) "George Patterson". ESPNcricinfo. Besoek op 3 April 2022.
  26. (en) Deb K Das (7 April 2005). "Pennsylvania's hidden secret". ESPNcricinfo. Besoek op 3 April 2022.
  27. (en) John Rolfe (1994). Everything You Want to Know About Sports (Sports Illustrated for Kids). New York: Bantam Books for Young Readers. ISBN 0-553-48166-5.
  28. (en) Allen Synge (2007). "SABR UK Examiner no.10: Baseball and Cricket: Cross-Currents". Society for American Baseball Research (Britse hoofstuk). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 8 Februarie 2007. Besoek op 31 Januarie 2007.
  29. (en) "Wisden – 1966 – Obituaries in 1965". John Wisden & Co. 1966. Besoek op 31 Januarie 2007.
  30. (en) Donald Bradman (1998). The Art of Cricket. Robson Books.
  31. (en) "Canada and United States of America v Australians". Cricket Archive. 7 Julie 1913. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 18 Februarie 2020. Besoek op 2 Maart 2011.
  32. (en) "Australia in North America 1913". Cricket Archive. 25 Augustus 1913. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 18 Februarie 2020. Besoek op 23 Maart 2014.
  33. (en) "1909–1963 – Imperial Cricket Conference". Internasionale Krieketraad. Besoek op 3 April 2022.
  34. (en) Peter Della Penna (5 Junie 2014). "US cricket pioneer Severn passes away at 88". ESPNcricinfo. Besoek op 3 April 2022.
  35. (en) "The Organization". Amerikaanse Krieketvereniging. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 16 Januarie 2021. Besoek op 21 Julie 2009.
  36. (en) "USA claims ICC Champions Trophy berth in thrilling finish". ESPNcricinfo. 8 Maart 2004. Besoek op 3 April 2022.
  37. (en) Deb K Das (8 Augustus 2005). "ICC expels USA from Intercontinental Cup". ESPNcricinfo. Besoek op 3 April 2022.
  38. (en) "ICC suspends USA Cricket Association". ESPNcricinfo. 3 Maart 2007. Besoek op 3 April 2022.
  39. (en) "ICC welcomes back USA". Cricket Europe. 1 April 2008. Besoek op 3 April 2022.
  40. (en) "Afghanistan and Jersey into final". ESPNcricinfo. 30 Mei 2008. Besoek op 3 April 2022.
  41. (en) "UAE to host expanded World Twenty20 Qualifiers". ESPNcricinfo. 20 Mei 2009. Besoek op 3 April 2022.
  42. (en) "Afghanistan beat USA to progress". ESPNcricinfo. 11 Februarie 2010. Besoek op 3 April 2022.
  43. (en) "Cush century takes USA to title triumph". ESPNcricinfo. 21 Augustus 2010. Besoek op 3 April 2022.
  44. (en) Peter Della Penna (31 Januarie 2011). "Unhappy ending for USA". ESPNcricinfo. Besoek op 3 April 2022.
  45. (en) "Afghanistan finish top after seventh win". ESPNcricinfo. 20 Maart 2012. Besoek op 3 April 2022.
  46. (en) "Ireland through, Italy still in hunt despite loss". ESPNcricinfo. 24 November 2013. Besoek op 3 April 2022.
  47. (en) Peter Della Penna (19 Julie 2015). "USA eliminated despite 18-run win". ESPNcricinfo. Besoek op 3 April 2022.
  48. (en) "ICC suspends USACA over 'significant concerns'". ESPNcricinfo. 26 Junie 2015. Besoek op 3 April 2022.
  49. (en) Andrew Nixon (26 Augustus 2019). "Bermuda and Canada through to global qualifier". Cricket Europe. Besoek op 3 April 2022.
  50. (en) Peter Della Penna (27 November 2018). "USA plan to launch their T20 League in 2021". ESPNcricinfo. Besoek op 3 April 2022.
  51. (en) Peter Della Penna (19 November 2018). "USA roll past Singapore to earn first-ever promotion to WCL Division Two". ESPNcricinfo. Besoek op 3 April 2022.
  52. (en) "Oman and USA secure ICC Men's Cricket World Cup League 2 places and ODI status". Internasionale Krieketraad. Besoek op 24 April 2019.
  53. (en) Peter Della Penna (14 Augustus 2019). "The road to World Cup 2023: how teams can secure qualification, from rank No. 1 to 32". ESPNcricinfo. Besoek op 3 April 2022.
  54. (en) "Series six of Men's CWC League 2 in USA postponed due to Coronavirus outbreak". Internasionale Krieketraad. 13 Maart 2020. Besoek op 3 April 2022.
  55. (en) "Men's Cricket World Cup League 2 in USA Postponed due to Coronavirus outbreak". VSA Cricket. 13 Maart 2020. Besoek op 3 April 2022.
  56. (en) Peter Della Penna (9 November 2021). "USA to host Ireland in first home series against Full Member". ESPNcricinfo. Besoek op 3 April 2022.
  57. (en) "USA v Ireland: Irish to make historic American tour in festive series". BBC. 9 November 2021. Besoek op 3 April 2022.
  58. (en) "USA v Ireland: Tourists stunned in historic Twenty20 international in Florida". BBC. 22 Desember 2021. Besoek op 3 April 2022.
  59. (en) Peter Della Penna (23 Desember 2021). "Gajanand Singh, Sushant Modani propel USA to historic T20I win over Ireland". ESPNcricinfo. Besoek op 3 April 2022.
  60. (en) Peter Della Penna (24 Desember 2021). "Lorcan Tucker sets up Ireland win as T20I series ends with honours even". ESPNcricinfo. Besoek op 3 April 2022.
  61. (en) Peter Della Penna (28 Desember 2021). "USA-Ireland ODI series cancelled due to Covid-19 outbreak". ESPNcricinfo. Besoek op 3 April 2022.
  62. (en) Nagraj Gollapudi (16 November 2021). "USA co-hosts for 2024 T20 WC, Pakistan gets 2025 Champions Trophy, India and Bangladesh 2031 World Cup". ESPNcricinfo. Besoek op 3 April 2022.
  63. (en) Peter Della Penna (18 Maart 2022). "USA T20 franchise league MLC projected to spend $110 million on facilities ahead of 2023 launch". ESPNcricinfo. Besoek op 3 April 2022.
  64. (en) Peter Della Penna (27 Julie 2016). "BCCI officials in Florida to discuss India-WI T20s in August". ESPNcricinfo. Besoek op 3 April 2022.
  65. (en) "How Philadelphia became the unlikely epicenter of American cricket". The Guardian. 28 Maart 2015. Besoek op 3 April 2022.
  66. (en) "Records / United States of America / One-Day Internationals / Most Runs". ESPNcricinfo. Besoek op 3 April 2022.
  67. (en) "Records / United States of America / Twenty20 Internationals / Most Runs". ESPNcricinfo. Besoek op 3 April 2022.
  68. (en) "Records / United States of America / One-Day Internationals / Most Wickets". ESPNcricinfo. Besoek op 3 April 2022.
  69. (en) "Records / United States of America / Twenty20 Internationals / Most Wickets". ESPNcricinfo. Besoek op 3 April 2022.
  70. Die tydperk verwys na die ooreenstemmende krieketseisoen waarin die eerste of laaste wedstryd van die tyd as kaptein plaasgevind het
  71. (en) "United States of America / Records / One-Day Internationals / List of Captains". ESPNcricinfo. Besoek op 3 April 2022.
  72. (en) "United States of America / Records / Twenty20 Internationals / List of Captains". ESPNcricinfo. Besoek op 3 April 2022.
  73. (en) "Records / United States of America / ODI matches / Result summary". ESPNcricinfo. 2 April 2022. Besoek op 3 April 2022.
  74. (en) "Records / United States of America / Twenty20 Internationals / Result summary". ESPNcricinfo. 2 April 2022. Besoek op 3 April 2022.

Verdere leesstof

  • (en) Tom Melville (1998). The Tented Field: A History of Cricket in America. Bowling Green, OH: Bowling Green State University Popular Press. ISBN 0-87972-769-1.
  • (en) Jones Wister (1893). A "Bawl" for American Cricket. Philadelphia.

Eksterne skakels