Toronto is die hoofstad van die provinsie Ontario, Oos-Kanada en met 'n bevolking van byna 2,8 miljoen nie net die grootste stad van Kanada nie, maar ook die vierde mees bevolkte in Noord-Amerika na Mexikostad, New York en Los Angeles.
Die stad is die sentrum van die sogenaamde Golden Horseshoe (Goue Hoefyster), 'n metropolitaanse gebied met meer as ses miljoen inwoners aan die suidwestelike oewer van die Ontariomeer, wat oor 'n afstand van sowat 100 kilometer van Hamilton in die weste tot by Oshawa in die ooste strek.
Kaart | Wapen |
Vlag | |
Land | Kanada |
Provinsie | Ontario |
Koördinate | 43°44′N 79°22′W / 43.733°N 79.367°W |
Gestig op | 27 Augustus 1793 (Town of York) |
Geïnkorporeer op | 6 Maart 1834 (City of Toronto) |
Oppervlak: | |
- Totaal | 630,20 vk km |
Hoogte bo seevlak | 76,5 m |
Bevolking: | |
- Totaal (2021-sensus) | 2 794 356 |
- Bevolkingsdigtheid | 4 434/vk km |
- Metropolitaanse gebied | 6 202 225 (Toronto CMA) |
Tydsone | UTC -5 (EST) |
- Somertyd | UTC -4 (EDT) |
Burgemeester | John Tory |
Amptelike Webwerf | toronto.ca |
Toronto beskik oor 'n belangrike hawe (vir onder meer die uitvoer van graan) aan die Ontariomeer, en dit is die kulturele, finansiële, handel- en nywerheidspilpunt van Engelssprekende Kanada asook die setel van belangrike universiteite. Toronto beskik oor Kanada se hoogste wolkekrabbers – die simbole van sy dinamiese ekonomiese groei. Die CN-toring (553,5 meter) is een van die hoogste geboue wêreldwyd – 'n platform van glas dien op 'n hoogte van sowat 350 meter as 'n uitsigpunt.
Die stad is met sy sowat veertig skouburge die derde belangrikste Engelstalige teaterstad ter wêreld na Londen en New York. Daar is talle parke in die stadsgebied, terwyl ook agttien eilande in die Ontariomeer as rustige toevlugsoorde in die woelige stad dien. Net soos Montreal word Toronto onder die veiligste metropole ter wêreld gereken.
Die Wyandot (Hurone), een van die Eerste Nasies, wat teen die oewers van die Ontariomeer gewoon het, het die gebied van die huidige Toronto Tarantua of "vergaderplek" genoem. Vanuit hierdie plek het die Hurone hul bote in 'n lang portage na die Simcoe-meer en verder tot by die Huronmeer gedra. Die Franse het in 1615 vir die eerste keer met die plaaslike Eerste Nasies in aanraking gekom.
Die eerste Europese nedersetting was die Franse Fort Rouillé, wat in die jaar 1750 opgerig is. Tog het die grootskaalse Europese immigrasie eers met die Amerikaanse Rewolusie begin, toe 'n groot aantal lojaliste hulle in die omgewing begin vestig het. In 1793 het die stad, wat in daardie tydperk nog sy historiese naam York gedra het, die hoofstad van die nuwe kolonie Opper-Kanada geword.
In 1834 het York – destyds 'n dorp met sowat 10 000 inwoners – stadstatus gekry en sy naam gewysig tot Toronto. Die stad het 'n bestendige groei gedurende die 19de eeu getoon en het een van die vernaamste bestemmings van immigrante in Kanada geword. Omtrent 1900 het Toronto se bevolking reeds 'n kwart miljoen beloop. Die groot aantal immigrante het Toronto se ekonomiese groei in die tydperk ná die Tweede Wêreldoorlog bevorder. In 1953 het Toronto en omliggende dorpe hulle saamgesluit tot die metropolitaanse gebied van Toronto, Metropolitan Toronto.
Teen die tweede helfte van die 20ste eeu het Toronto Montreal as die ekonomiese sentrum van Kanada en sy grootste stad verbygesteek, veral omdat baie Engelstalige ondernemings in Montréal hulle hoofkwartiere as gevolg van die verfransingsbeleid in Quebec na Toronto verskuif het. Die stad het derhalwe in die 1970's en 1980's tot Kanada se ekonomiese metropool ontwikkel.
Volgens 'n verslag van die Verenigde Nasies het Toronto tans die tweede grootste persentasie immigrante na Miami (Florida, Verenigde State). Naastenby die helfte van die inwoners is in die buiteland gebore, en woonbuurte soos Chinatown, Little Italy, Greektown of Koreatown getuig van Toronto se etniese diversiteit.
Toronto is 'n handel-, nywerheid-, finansiële en logistiese sentrum. Sy bankbedryf, effektebeurs en groothandelsektor is die grootstes in Kanada. Ná die opening van die Sint-Laurens-waterweg het ook Toronto se hawe 'n groter rol gespeel, tog het sy belangrikheid intussen weer afgeneem.
Toronto trek voordeel uit die natuurlike rykdom van die provinsie Ontario. Die grootskaalse beskikbaarheid van grondstowwe en hidro-elektriese krag het die vestiging van 'n verskeidenheid nywerhede bevorder, waarby die motornywerheid die grootste aandeel in die stad se ekonomiese opswaai gehad het. Tans produseer Toronto en sy omgewing meer as die helfte van Kanada se verwerkte goedere.
Die metropolitaanse gebied van Toronto is in ekonomiese opsig die sewende grootste ter wêreld (ná New York, Londen, Tokio, Parys, Los Angeles en Chicago) met 'n BBP van sowat 305 miljard VSA-$ (waarvan 225 miljard in Toronto-Stad). Volgens markkapitalisering is Toronto se effektebeurs tans die derde grootste in Noord-Amerika en die sesde grootste ter wêreld. Die meeste finansiële ondernemings het hulle hoofkwartiere in Baystraat, die eweknie van New York se Wallstraat.
Die Toronto Transit Commission (TTC) onderhou 'n uitgebreide netwerk van moltrein-, bus- en tremlyne in die stadsgebied met 'n totale roetenetwerk van 1 200 kilometer (754 myl). Toronto se openbare vervoerstelsel pronk met die derde grootste aantal passasiers in Noord-Amerika ná Mexikostad en New York.
Toronto se moltreinstelsel dien met slegs twee hooflyne, die U-vormige Yonge-Universiteit-Spadina-lyn en die Bloor-Danforth-lyn, wat in 'n oos-westelike rigting langs die stad se hoofstrate loop en verder afgeleë stadsbuurte met die binnestad verbind, as die ruggraat van die plaaslike openbare vervoerstelsel. Die twee lyne word naby aan hul eindpunte met sylyne verbind, soos die Sheppard-lyn in die noorde en die Scarborough RT in die ooste, wat van Toronto se moltreinstelsel die mees uitgebreide snelvervoerstelsel in Kanada maak.
Die res van die stad word veral deur 'n netwerk van sowat 150 buslyne bedien, waarvan baie as 'n rooster langs die hoofstrate loop. Behalwe vir die roete nommer 99 is hulle almal met een of meer moltrein- of snelvervoerstasies verbind. Die mees tipiese kenmerk van Toronto se openbare vervoer is die TTC se tremstelsel, een van min in Noord-Amerika wat nog steeds in bedryf is. Dit is selfs die tweede grootste tremstelsel ter wêreld ná dié van Melbourne in Australië. Die meeste van Toronto se elf tremlyne is in die stadsentrum gekonsentreer en met die moltreinstelsel verbind.
GO Transit verskaf trein- en busdienste vir pendelaars in die metropolitaanse gebied van Toronto en verbind die middestad met die voorstede en randgebiede.
Wiki Commons bevat media in verband met Toronto. |
Hoofstede van Kanada | ||||
---|---|---|---|---|
|
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article Toronto, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.
®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.