Jura

Die Jura (Engels: Jurassic) is ’n geologiese periode van die Mesosoïese Era en strek van die einde van die Trias sowat 201,3 miljoen jaar gelede tot die begin van die Kryt sowat 145 miljoen jaar gelede.

Periode/
sisteem
Epog/
serie
Tydsnede/
etage
M. jaar
gelede
Kryt Vroeg Berriasium jonger
Jura Laat Titonium 145,0–152,1
Kimmeridgium 152,1–157,3
Oxfordium 157,3–163,5
Middel Callovium 163,5–166,1
Batonium 166,1–168,3
Bajosium 168,3–170,3
Aalenium 170,3–174,1
Vroeg Toarsium 174,1–182,7
Pliensbachium 182,7–190,8
Sinemurium 190,8–199,3
Hettangium 199,3–201,3
Trias Laat Rhaetium ouer
Die verdeling van die Jura (IKS).

Die Jura is ook ’n chronostratigrafiese sisteem van die Mesosoïese erateem.

Jura
'n Kaart van die wêreld, soos dit in die middel Jura gelyk het (sowat 170 miljoen jaar gelede).
Jura
Groot dinosourusse het in die Jura voorgekom in woude met ewe groot naaldbome.

Die Jura is die middelste periode van die Mesosoïkum en is genoem na die Juragebergte in die Europese Alpe, waar kalksteenstrata uit die periode die eerste keer ontdek is.

Teen die begin van die Jura het die superkontinent Pangea uitmekaar begin dryf en twee landmassas, Laurasië in die noorde en Gondwana in die suide, gevorm. Dit het die kuslyn verleng en die kontinentale klimaat verander van droog tot vogtig, en baie van die woestyne van die Trias is vervang deur reënwoude. Daar was geen yskappe by die pole nie.

Die Jura het begin met die Trias-Jura-uitwissing. Die einde van die periode het egter geen duidelike, definitiewe grens met die Kryt nie; dit is die enigste grens tussen geologiese periodes wat amptelik ongedefinieer is.

Op die land het die dierelewe verander van die Trias se oorheersende Dinosauromorpha en Crocodylomorpha tot een wat slegs deur dinosourusse oorheers is. Die eerste voëls het ook in die Jura hulle verskyning gemaak nadat hulle uit ’n tak van die Theropoda ontwikkel het. Ander belangrike gebeurtenisse sluit in die verskyning van die eerste akkedisse en die evolusie van soogdiere.

In die oseane het seereptiele voorgekom soos Ichthyosauria en Plesiosauria, terwyl Pterosauria die oorheersende vlieënde gewerweldes was. Moderne haaie en rôe het die eerste keer in dié periode ontstaan en gediversifseer.

Die plantegroei het meestal uit varings en naaksadiges, insluitende naaldbome, bestaan. Baie moderne groepe het ook hulle verskyning gemaak.

Etimologie en geskiedenis

Jura 
'n Portret van Alexandre Brongniart, wat die naam "Jura" uitgedink het.

Die chronostratigrafiese term "Jura" kom van die Juragebergte, 'n beboste bergreeks wat hoofsaaklik aan die grens tussen Frankryk en Switserland loop. Die naam kom van die Kelties vir "beboste berg", en is deur Latyn as 'n naam van 'n plek ontleen. Dit het later in Juria en eindelik Jura ontwikkel.

Tydens 'n toer van die streek in 1795 het die Duitse naturalis Alexander von Humboldt die koolstofdeposito's in die Juragebergte herken as geologies verskillend van die Triasoue Muschelkalk van Suid-Duitsland, maar hy het verkeerdelik afgelei dat hulle ouer is. Hy het dit toe in 1799 Jura-Kalkstein ("Jura-kalksteen) genoem.

In 1829 het die Franse naturalis Alexandre Brongniart 'n boek gepubliseer met die naam Beskrywing van die Terreine wat die Kors van die Aarde uitmaak of Essay oor die Struktuur van die Bekende Grondgebiede van die Aarde. Hierin gebruik hy die frase terrains jurassiques wanneer hy 'n vergelyking tref tussen die "Jura-Kalkstein" van Humboldt en kalksteen van Brittanje van dieselfde ouderdom. So het hy die term wat later "Jura" geword het, geskep en gepubliseer.

Die Duitse geoloog Leopold von Buch het in 1839 die drievoudige verdeling van die Jura daargestel: van die oudste tot die jongste die Swart, Bruin en Wit Jura.

Die Franse paleontoloog Alcide d'Orbigny het in geskrifte tussen 1842 en 1852 die Jura in 10 stadiums verdeel, gebaseer op ammoniete en ander fossiele in Engeland en Frankryk. Sewe word steeds gebruik, maar nie een het sy oorspronklike definisie behou nie. Die Duitse paleontoloog Albert Oppel het in sy studies tussen 1856 en 1858 d'Orbigny se oorspronklike skema verander en die stadiums verder in biostratigrafiese sones verdeel, hoofsaaklik gebaseer op ammoniete. Die meeste van die moderne stadiums van die Jura is in 1962 by die Colloque du Jurassique à Luxembourg geformaliseer.

Geologie

Die periode Jura word in drie epogs verdeel: Vroeg, Middel en Laat. Net so word die Jura in stratigrafie verdeel in die series Onderste, Middelste en Boonste Jura. Geoloë verdeel die rotse van die Jura in 'n stratigrafiese stel eenhede wat etages genoem word, wat elk gevorm het tydens ooreenstemmende geologiese tydperke bekend as tydsnedes of tye.

Etages kan wêreldwyd of streeksgewys verdeel word. Globale etages word deur die Internasionale Kommissie vir Stratigrafie bekragtig. Die tydsnedes/etages van die Jura kan regs heel bo gesien word.

Stratigrafie

Jura 
Gevoude kalksteenlae van die Onderste Jura in Switserland.
Jura 
Strata van die Middel-Jura in Argentinië.
Jura 
Tidwell-lid van die Morrison-formasie (Boonste Jura), Colorado.

Die stratigrafie van die Jura is hoofsaaklik gebaseer op die gebruik van ammoniete as indeksfossiele. Die eerste verskyningsdatum van spesifieke taksons van ammoniete word gebruik om die begin van etages aan te dui, asook kleiner tydperke in etages, bekend as "ammonietsones". Hulle word soms weer verder verdeel in subsones. Globale stratigrafie is gebaseer op Europese standaard-ammonietsones.

Vroeë Jura

Die oudste deel van die Juraperiode is histories die Lias genoem. Dit stem rofweg ooreen met die Vroeë Jura, maar sluit ook 'n deel van die vroeëre etage Rhaetium in. Die etage Hettangium is in 1864 deur die Switserse paleontoloog Eugène Renevier genoem na Hettange-Grande in Noordoos-Frankryk. Die begin van die Hettangium, en dus die Jura as geheel, word aangedui deur die eerste verskyning van die ammoniet Psiloceras spelae tirolicum in die Kendlbach-formasie by Kuhjoch.

Die etage Sinemurium is in 1842 die eerste keer deur Alcide d'Orbigny gedefinieer en gebruik. Die naam kom van die Franse dorp Semur-en-Auxois, naby Dijon. Die begin van die etage word bepaal deur die eerste verskyning van die ammoniet Vermiceras quantoxense.

Albert Oppel het die Pliensbachium in 1858 genoem na die dorp Pliensbach, naby Stuttgart, Duitsland. Die begin daarvan word bepaal deur die eerste verskyning van die ammoniet Bifericeras donovani.

Die etage Toarsium is genoem na die dorp Thouars (Latyn: Toarcium) in die Loirevallei in Frankryk. Die grens is die eerste verskyning van ammoniete wat tot die subgenus Eodactylites behoort.

Middel-Jura

Die Aalenium is genoem na die stad Aalen in Duitsland. Dit is in 1864 deur die Switserse geoloog Karl Mayer-Eymar gedefinieer. Die begin daarvan word aangedui deur die eerste verskyning van die ammoniet Leioceras opalinum.

Alcide d'Orbigny het die etage Bajosium na die dorp Bayeux (Latyn: Bajoce) in Normandië, Frankryk, genoem. Die begin daarvan word aangedui deur die eerste verskyning van die ammoniet Hyperlioceras mundum.

Die Batonium is in 1843 deur die Belgiese geoloog d'Omalius d'Halloy na die stad Bath, Engeland, genoem. Die begin word gedefinieer as die eerste verskyning van die ammoniet Gonolkites convergens, aan die begin van die Zigzagiceras zigzag-ammonietsone.

Die Callovium se naam kom van die Latynse weergawe van die dorp Kellaways in England, en is in 1852 deur Alcide d'Orbigny benoem. Die begin daarvan is die eerste verskyning van die ammoniete wat tot die genus Kepplerites behoort.

Laat Jura

Die Oxfordium is in 1844 deur Alcide d'Orbigny genoem na die stad Oxford in Engeland, met verwysing na die Oxford-klei. Die onderste grens is die eerste verskyning van die ammoniet Quenstedtoceras mariae. Daaropvolgende voorstelle was die eerste verskyning van Cardioceras redcliffense as die begin van die etage.

Die dorp Kimmeridge aan die kus van Dorset, Engeland, is die oorsprong van die naam Kimmeridgium. Die etage is in 1842 deur Alcide d'Orbigny bedink, met verwysing na die Kimmeridge-klei. Die onderste grens word gedefinieer as die eerste verskyning van ammoniete van die Bauhini- en Baylei-sone.

Die Titonium is in 1865 deur Albert Oppel in wetenskaplike geskrifte begin gebruik. Die naam is ongewoon onder die name van geologiese etages, want dit kom uit die Griekse mitologie en is nie 'n pleknaam nie. Titonos was die seun van Laomedon van Troje en het verlief geraak op Eos, die Griekse godin van die daeraad. Albert Oppel het haar naam vir die etage gekies omdat die Titonium begin het met die daeraad van die Kryt-periode. Die begin daarvan word beskou as die eerste verskyning van die ammonietgenus Gravesia.

Die boonste grens van die Jura is tans ongedefinieer; die grens tussen die Jura en die Kryt is die enigste stelselgrens sonder 'n definisie. Calpionellids, 'n enigmatiese groep planktonprotiste wat vir 'n kort ruk van die laat Jura tot die vroeë Perm volop was, is voorgestel as die beste kandidate vir die vasstelling van die Jura-Kryt-grens. Veral die eerste verskyning van Calpionella alpina is voorgestel as die definisie van die begin van die Kryt.

Minerale- en koolwaterstofneerslae

Die Kimmeridge-klei en ekwivalente is die grootste bronrots vir die Noordsee-olie. Die Arabiese Intrabankbekken, wat tydens die Middel- en Laat Jura neergelê is, is die terrein van die wêreld se grootste oliereserwes, insluitende die Ghawarveld, die wêreld se grootste olieveld.

Die Jura-oue Sargelu- en Naokelekan-formasies is groot bronrotse vir oliereserwes in Irak. Meer as 1 500 gigaton Jurasteenkoolreserwes word in Noordwes-China aangetref, hoofsaaklik in die Turpan-Hami- en Ordos-bekken.

Slagkraters

Groot slagkraters sluit in die Morokweng-slagkrater, 'n inpakstruktuur met 'n deursnee van 70 km onder die Kalahariwoestyn in noordelike Suid-Afrika. Dit dateer van die Titonium, sowat 146,06 ± 0,16 miljoen jaar gelede.

Nog 'n groot slagkrater is die Poetsjezj-Katoenki-krater, met 'n deursnee van 40 km, onder Nizjni Nowgorod-oblast in Wes-Rusland. Die impak dateer van die Sinemurium, 195,9 ± 1,0 miljoen jaar gelede.

Paleogeografie en tektoniek

Jura 
Pangea aan die begin van die Jura.
Jura 
Gondwanaland het in die Laat Jura opgebreek, en die Indiese Oseaan het as gevolg daarvan ontstaan.

Aan die begin van die Jura was die hele landmassa van die Aarde verenig in die superkontinent Pangea. Dié het in die Vroeë Jura begin opbreek in die noordelike superkontinent, Laurasië, en die suidelike superkontinent, Gondwana. Die eerste skeuring was tussen Noord-Amerika en Afrika, in die Vroeë Jura.

Gedurende die Jura het die noordelike Atlantiese Oseaan relatief smal gebly, terwyl die suidelike Atlantiese Oseaan eers in die Kryt ontstaan het. Die kontinente was omring deur Panthalassa, met die Tetisoseaan tussen Gondwana en Asië. Aan die einde van die Trias het die seevlakke gestyg en die grootste dele van Sentraal- en Wes-Europa is oorvloei. Dit het verander in 'n argipel eilande wat deur vlak seë omring was.

Gedurende die Jura was die noord- en suidpool met oseane bedek. Aan die begin van die Vroeë Jura was die Boreale Oseaan verbind aan die Proto- Atlantiese Oseaan deur die "Wikingkorridor", of Transkontinentale Laurasiese Seekanaal, van 'n paar honderd kilometer breed. Tydens die Callovium het die Toergai- Epikontinentale See gevorm, en dit het 'n seegrens tussen Europa en Asië gevorm.

Madagaskar en Antarktika het in die laat Vroeë Jura van Afrika begin wegdryf saam met die uitbarsting van die Karoo-Ferrar- groot vulkaniese provinsies, en dit het die westelike Indiese Oseaan geopen en die verbrokkeling van Gondwana begin.

Aan die begin van die Jura was Noord- en Suid-Amerika nog verbind, maar teen die begin van die Laat Jura het hulle van mekaar weggedryf en die Karibiese Seekanaal, ook bekend as die Spaans-Amerikaanse Korridor, gevorm wat die Noord-Atalantiese Oseaan met Oos-Panthalassa verbind het. Paleontologiese data dui daarop dat die seekanaal sedert die Vroeë Jura oop kon gewees het.

Jura 
Die vorming van die Pasifiese Plaat in die Vroeë Jura.

In die Vroeë Jura, sowat 190 miljoen jaar gelede, het die Pasifiese Plaat ontstaan by die driedubbele aansluiting van die Farallon-, Phoenix- en Izanagiplaat, die drie belangrikste seeplate van Panthalassa. Die voorheen stabiele driedubbele aansluiting het verander in 'n onstabiele rangskikking wat aan alle kante omring was deur oorgangsfoute weens 'n kinkel in een van die plaatgrense. Dit het daartoe gelei dat die Pasifiese Plaat in die middel van die aansluiting ontstaan het. In die Middel- tot vroeë Laat Jura het die Sundanceseekanaal, 'n vlak binnelandse see, die grootste deel van Noord-Amerika bedek.

Die eustatiese seevlak (die afstand van die middel van die Aarde tot die seeoppervlak) was na raming in die Hettangium en Sinemurium naby die huidige vlakke, en het in die Sinemurium tot die Pliensbachium verskeie tiene meters gestyg en in die laat Pliensbachium weer gedaal tot die huidige vlak. Dit lyk of daar in die Toarsium 'n geleidelike styging tot 'n maksimum van ~75 m bo die huidige vlak was. In die laaste deel van die Toarsium het die seevlak weer eens met verskeie tiene meters gedaal. Dit het daarna, op die grens tussen die Kimmeridgium en Titoniumn, weer gestyg tot 'n moontlike 140 meter bo die huidige vlak totdat dit weer gedaal het.

In die Vroeë Jura het die wêreld se oseane verander van 'n aragonietsee- tot 'n kalsietsee-chemie, met 'n voorkeur vir die oplossing van aragoniet en die neerslag van kalsiet. Die vermeerdering van kalkagtige plankton in die Middel-Jura het die chemie van die see verander, met die neerslag van biogemineraliseerde plankton op die seebodem wat as 'n buffer gedien het teen groot CO2-vrystellings.

Klimaat

Die klimaat van die Jura was oor die algemeen warmer as vandag s'n (sowat 5-10 °C warmer), met die koolstofdioksied in die aardatmosfeer wat waarskynlik sowat vier keer meer was. Koue tussenposes het egter in dié tyd voorgekom en die andersins warm kweekhuisklimaat onderbreek. Woude het waarskynlik naby die pole gegroei waar hulle warm somers en koue, soms sneeuryke winters ondervind het. Dit is onwaarskynlik dat daar ysplate was, aangesien die hoë somertemperature die versameling van sneeu voorkom het. Daar kon egter gletsers gewees het. Druipstene en glendoniete in Noordoos-Siberië in die Vroeë en Middel-Jura dui op koue winters.

Die diep oseane was waarskynlik 8 °C warmer as vandag, en koraalriwwe het 10° verder suid en noord gegroei. Die Intertropiese Konvergensiesone het waarskynlik oor die oseane voorgekom en gelei tot groot gebiede woestyn en struiklande by die laer breedtegrade 40° N en S van die ewenaar. Tropiese reënwoude en toendrabiome was waarskynlik skaars of afwesig.

In die Jura het Pangea se megamoesonwinde, wat die voorafgaande Perm en Trias gekenmerk het, ook afgeneem. Afwisselings in die voorkoms van veldbrande in die Jura is beheer deur die 405 000-jaar-eksentrisiteitsiklus. Danksy die opbreking van Pangea is die hidrouliese siklus gedurende die Jura aansienlik verbeter.

Die begin van die Jura is waarskynlik gekenmerk deur 'n termiese opbloei wat ooreenstem met die Trias-Jura-uitwissing en die uitbarsting van die Sentraal-Atlantiese vulkaniese provinsie. In die eerste deel van die Jura was daar die Vroeë Jura se koel tussenpose, tussen 199 miljoen en 183 miljoen jaar gelede. Daar is voorgestel ysvorming was teenwoordig in die Noordelike Halfrond tydens beide die vroeë en laaste deel van die Pliensbachium. Wêreldwye temperature het met sowat 4-8 °C gestyg tussen die vroeë deel van die Toarsium en die einde van die etage sowat 174 miljoen jaar gelede. Tydens die warm tussenpose van die Toarsium was oseaanoppervlakke waarskynlik warmer as 30 °C, en ekwatoriale en subtropiese (30°N-30°S) streke was waarskynlik uiters droog, met temperature in die binneland van Pangea waarskynlik hoër as 40 °C. Dié warm tussenpose is gevolg deur die Middel-Jura se koel tussenpose tussen 174 miljoen en 164 miljoen jaar gelede. Dit kon afgewissel gewees het deur kort ystussenposes.

'n Kortstondige ystydperk het moontlik in die laat Bajosium voorgekom. Tussen die Callovium en Oxfordium was daar 'n wêreldwye afkoeling, moontlik selfs 'n ystydperk. Dit is gevolg deur 'n warm tussenpose in die Kimmeridgium, tussen 164 miljoen en 150 miljoen jaar gelede. Volgens die verspreiding van fossielhout was dit een van die natste tydperke van die Jura.

Die einde van die Jura word gekenmerk deur die Titonium se koel tussenpose, wat 150 miljoen jaar gelede begin en tot in die Vroeë Kryt geduur het.

Flora

Naaldbome

Jura 
Die versteende keël van 'n Araucaria mirabilis uit die Argentinië van die Middel-Jura.

Naaldbome het 'n groot deel van die flora van die Jura uitgemaak. In die Laat Trias en die Jura was daar 'n groot diversifikasie van naaldbome, met die meeste moderne naaldboomgroepe wat teen die einde van die Jura in die fossielrekord verskyn het nadat hulle uit hulle Voltziales-voorouers ontwikkel het.

Naaldbome van die familie Araucariaceae het in die Vroeë Jura hulle verskyning gemaak en lede van die moderne genus Araucaria was teen die Middel-Jura in albei halfrondes wydverspreid.

Jura 
Blare van Ginkgo huttonii uit die Engeland van die Middel-Jura.

Ginkgoales

Ginkgoales, waarvan die enigste oorlewende spesie Ginkgo biloba is, was uiteenlopender gedurende die Jura: Hulle was onder die belangrikste komponente van Eurasiese flora en was by 'n wye verskeidenheid klimaatstoestande aangepas.

Broodbome

Broodbome het die hoogtepunt van hulle diversiteit in die Jura en Kryt beleef. Hoewel die Mesosoïkum soms die "tydperk van die broodbome" genoem word, was broodbome vermoedelik 'n relatief klein deel van die Middel-Mesosoïkum se flora. Die Nilssoniales was algemener en is dikwels as broodbome of hulle verwante beskou. Daar is egter bevind hulle was 'n afsonderlike plant en het uitgesterf.

Die verwantskap tussen Mesosoïese en moderne broodbome is twyfelagtig, en geen broodbome van die Jura behoort tot enige van die twee moderne groepe nie. Ook wydverspreid in die Jura was die uitgestorwe Ctenis-lyn, wat lyk of dit ver verwant was aan moderne broodbome.

Ander saadplante

Hoewel daar 'n paar bewerings is, lyk dit nie of daar aanvaarde fossielrekords uit die Jura is van blomplante, wat vandag 90% van plante uitmaak, nie. Dit lyk volgens fossiele of die groep in die daaropvolgende Kryt gediversifiseer het.

Varings

Daar was verskeie families varings in die Jura, maar daar is geen rekord van Polypodiales, wat vandag 80% van varings uitmaak, nie; dit lyk of hulle in die Kryt gediversifiseer het. Die Cyatheales, die groep wat die meeste moderne boomvarings bevat, het in die Laat Juta hulle verskyning gemaak.

Fauna

Reptiele

Crocodylomorpha

Jura 
'n Holotipespesimen van Platysuchus.

Die Trias-Jura-uitwissing het die verskeidenheid van Pseudosuchia uitgedun en die Crocodylomorpha, wat in die vroeë Laat Jura ontstaan het, was die enigste groep wat oorleef het. Alle ander groepe het uitgesterf.

Skilpaaie

Jura 
Thalassemys, 'n skilpad uit die Laat Jura van Duitsland.

Skilpaaie (Testudinata) het gedurende die Jura gediversifiseer. Skilpaaie uit die Jura het tot twee meer gevorderde klades, die Mesochelydia en Perichelydia, behoort. Die voorsate van die Mesochelydia was vermoedelik waterskilpaaie, terwyl dié van die Testudinata waarskynlik landskilpaaie was. Die moderne groepe skilpaaie (Testudines, Pleurodira en Cryptodira) het aan die begin van die laat Jura gediversifiseer.

Lepidosauria

Rhynchocephalia, waarvan die enigste lewende verteenwoordiger die tuatara) is, het aan die begin van die Jura wêreldwyd versprei en was die oorheersende groep klein reptiele tydens die Jura. Hulle het die grootste morfologiese diversiteit van hulle evolusionêre geskiedenis in die Jura bereik en 'n groot verskeidenheid lewenstyle gehad, insluitende die akwatiese pleurosourides met lang, slangagtige lywe en kort ledemate, die gespesialiseerde, plantvretende Eilenodontinae en die Sapheosauria, wat breë tandplate gehad het wat op die eet van harde skelette dui.

Die laaste gemeenskaplike voorsaat van lewende Squamata (wat akkedisse en slange insluit) het sowat 190 miljoen jaar gelede tydens die Vroeë Jura gelewe, terwyl groot skeidings tussen moderne Squamata-lyne na raming in die Vroeë tot Middel-Jura plaasgevind het.

Plesiosauria

Jura 
Rhomaleosaurus cramptoni in die Natuurhistoriese Museum in Londen.

Plesiosauria het aan die einde van die Trias (Rhaetium) ontstaan. Teen die einde van dié periode het alle ander Sauropterygia uitgesterf. Minstens ses lyne van Plesiosauria het die Trias-Jura-grens oorgesteek.

Jura 
Die skelet van 'n Pterosauria in Haarlem.

Plesiosauria was reeds in die Vroeë Jura uiteenlopend. Die vroeë spesimens het gewoonlik klein liggame gehad, wat tot in die Toarsium in grootte toegeneem het. Plesiosauria het in die Jura varswateromgewings oorgeneem, en oorblyfsels van Pleisosauria met klein liggame is in die varswaterneerslae van China en Australië ontdek.

Pterosauria

Pterosauria het in die Laat Trias vir die eerste keer verskyn. Hulle was vermoedelik visvretend. Anurognathidae, wat in die Middel-Jua vir die eerste keer ontstaan het, was waarskynlik insekvreters.

Dinosourusse

Dinosourusse, wat in die Laat Trias morfologies gediversifseer het, het in die Vroeë Jura 'n toename in uiteenlopendheid en getalle beleef ná die einde van die Trias-Jura-uitwissing en die uitsterwing van ander reptielgroepe. Hulle het in aard-ekostelsels die oorheersende gewerweldes geword.

Teropodes

Gevorderde Theropoda wat tot Neotheropoda behoort het, het in die Laat Trias die eerste keer verskyn. Basale neoteropodes het tot in die Vroeë Jura oorleef, maar het in die Middel-Jura uitgesterf. Die vroegste Averostra het in die Vroeë Jura verskyn, vanaf die vroeë Sinemurium (199,3-197,5 miljoen jaar gelede) van Italië. Die ongewone Ceratosauria-genus Limusaurus van die laat Jura van China het plante gevreet en was die vroegste bekende teropode wat afgewyk het van sy voorouers se vleisdieet.

Die oudste lid van Allosauroidea was vermoedelik die Asfaltovenator van die Middel-Jura van Suid-Amerika.Coelurosauria het in die Middel-Jura die eerste keer verskyn, insluitende die vroeë Tyrannosauridae soos Proceratosaurus uit die Bathonium van Brittanje.

Scansoriopterygidae, 'n groep klein, geveerde Coelurosauria met vlermuisagtige vlerke vir sweef is bekend uit die Middel- en Laat Jura van China. Die oudste rekord van Troodontidae is vermoedelik Hesperornithoides uit die Laat Jura van Noord-Amerika.

Voëls
Jura 
Archaeopteryx lithographica uit die Laat Jura van Duitsland.

Die vroegste Avialae, wat voëls en hulle voorsate insluit, het in die Middel- tot Laat Jura hulle verskyning gemaak. Hulle is verteenwoordig deur die Archaeopteryx uit die Laat Jura van Duitsland. Avialae behoort tot die klade Paraves in Coelurosauria, wat ook Dromaeosauria en Troodontidae insluit.

Jura 
'n Skelet van Heterodontosaurus, 'n primitiwe ornitiskium uit die Vroeë Jura van Suid-Afrika.

Ornitiskiums

Die vroegste definitiewe Ornithischia het in die Vroeë Jura verskyn. Hulle is verteenwoordig deur basale ornitiskiums soos Lesothosaurus, Heterodontosauridae en vroeë lede van Thyreophora. Die vroegste lede van Ankylosauria en Stegosauria het in die Middel-Jura verskyn. Die basale Neornithischia Kulindadromeus uit die Middel-Jura van Rusland dui aan dat minstens sommige ornitiskiums met protovere bedek was.

Souropodomorfe

Sauropoda het tydens die Jura die oorheersende groot plantvreters in aard-ekosisteme geword. Sommige souropodes van die Jura het reusagtig geword en was die grootste organismes wat ooit op land gelewe het.

Jura 
'n Skelet van Karaurus sharovi, 'n salamander uit die Middel- tot Laat Jura van Kazachstan.

Basale, tweepotige Sauropodomorpha het tot in die Vroeë Jura bestaan, maar het aan die begin van die Middel-Jura uitgesterf. Vierpotige souropodomorfe het in die Laat Trias verskyn. Die vierpotige Ledumahadi uit die Vroeë Jura van Suid-Afrika het 'n geraamde gewig van 12 ton gehad, veel groter as ander bekende basale souropodomorfe.

Amfibieë

Die uiteenlopendheid van Temnospondyli, wat as klein amfibieë beskou word, het in die Laat Trias progressief afgeneem, met net Brachyopoidea wat tot in die Jura en daarna oorleef het. Lede van dié familie is bekend van deposito's uit die Jura in Asië. Moderne Lissamphibia het in die Jura begin diversifiseer. Die Prosalirus van die Vroeë Jura is vermoedelik die eerste verwant van die padda wat soos moderne paddas kon hop.

Moderne kroongroeppaddas soos Enneabatrachus en Rhadinosteus het in die Laat Jura verskyn. Hoewel die eerste salamanderlyn amfibieë uit die Trias bekend is, het moderne kroongroepsalamanders en hulle verwante die eerste keer in die Middel- tot Laat Jura in Eurasië verskyn.

Verwysings

Skakels

  • Jura  Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik uit die Engelse Wiki vertaal.
Proterosoïkum Fanerosoïese Eon
  Neoproterosoïkum   Paleosoïese Era Mesosoïese Era Kainosoïese Era
Ediacarium Kambrium Ordovisium Siluur Devoon Karboon Perm Trias Jura Kryt Paleogeen Neogeen Kwartêr

Tags:

Jura Etimologie en geskiedenisJura GeologieJura Paleogeografie en tektoniekJura KlimaatJura FaunaJura VerwysingsJura SkakelsJuraEngelsErateemGeologieKryt (geologie)MesosoïkumPeriode (geologie)Sisteem (stratigrafie)Trias

🔥 Trending searches on Wiki Afrikaans:

MetafoorMuskietInsekKookpuntKangaroeTropiese sikloonVolstruisBurgerregteFossielbrandstofSonkragLandbou in Suid-AfrikaKwame NkrumahLys van Joodse feeste en herdenkingsGeprosesseerde kosNatuurrampTweede WêreldoorlogApostoliese GeloofsbelydenisChemiese elementEngelsWikiquotePeriodieke tabelLemoenGesondheidLys van Afrikaanse televisiereekseSlangArmoedeverligtingRumatoïede artritisNic de JagerMielieKunselementeVarkgriepVloeistofGlasKlimaatsverandering in Suid-AfrikaVerdampingLys van Afrikaanse skrywersTatoeëermerkKolonisasieSamestellende afleidingStaalNuwe TestamentNasionalismeParkinson se siekteBybelWêreld- Ekonomiese ForumDrakensbergeByMetaalHoofpynKeramiekSuikersiekteLionel MessiSpreeuNasiebouIntensiewe vormWekkerKPriemgetalAsemhalingMark (ekonomie)SatellietVoëlJanie du PlessisBloeddrukDesmond TutuPrimêre sektor van die ekonomieTrappe van vergelykingSokkerSeptimius AwardsBTWDemokrasieVingerseksByvoeglike naamwoordKaliumKinkhoesMcDonald's🡆 More