Die kookpunt van 'n stof is die temperatuur waar dit van 'n vloeistoftoestand na 'n gastoestand deur die hele vloeistofmassa heen verander.
'n Vloeistof kan ook na 'n gas verander onder die kookpunt deur die proses wat as verdamping bekend staan. Verdamping is 'n oppervlakverskynsel waar slegs die molekules op die gas/vloeistof intervlak kan verdamp (soos water uit nat klere op 'n wasgoedlyn). Die woord kook omskryf egter 'n proses waar die vloeistofmassa in sy geheel begin verdamp met die vorming van borrels (soos in 'n ketel).
Die verskil tussen kookpunt, borrelpunt en dampdruk is die volgende:
Die element met die laagste kookpunt is helium. Beide die kookpunte van renium en wolfram oorskry 5000 K teen standaard-druk. Vanweë die eksperimentele probleme om sulke uiters hoë temperature te meet, bestaan daar teenstrydighede in die literatuur oor watter element die hoogste kookpunt het.
Die kookpunt stem ooreen met die temperatuur waar die dampdruk van die stof gelyk is aan die omgewingsdruk. Die kookpunt is dus drukafhanklik. Gewoonlik word kookpunte met betrekking tot standaard-druk gepubliseer (101.325 kilopascal of 1 atmosfeer). By hoër hoogtes waar die atmosferiese druk baie laer is, is die kookpunt dus ook laer. Die kookpunt styg soos die omgewingsdruk styg totdat die kritiese punt bereik word, waar daar nie onderskeid meer tussen die gas en vloeistoffase getref kan word nie. Die kookpunt kan nie hoër as die kritiese temperatuur wees nie. Op soortgelyke wyse sal die kookpunt verlaag saam met verlagende omgewingsdruk totdat die trippelpunt bereik word. Die kookpunt kan dan ook nie verder as hierdie trippelpunt verlaag word nie.
Die kookpunt van water is benaderd gelyk aan 100 °C teen standaard-druk. Bo op die berg Everest is die druk ongeveer 260 mbar (26 kPa) en is die kookpunt dus laer, by 69 °C.
Vir puriste met 'n kennis van termodinamika, is die normale kookpunt van water 99.97 grade Celsius (dit wil sê teen 'n druk van 1 atm of 101.325 kPa). Tot en met 1982 het dit ook as die standaard kookpunt van water bekend gestaan, maar IUPAC beveel nou aan dat 'n standaard-druk van 1 bar (100 kPa) gebruik word. Teen hierdie effe laer druk van 1 bar (100 kPa) is die standaard kookpunt van water gelyk aan 99.61 grade Celsius.
Die veranderingsproses vanaf vloeistof na 'n gas verg 'n sekere hoeveelheid warmte wat die latente verdampingswarmte genoem word. As 'n vloeistof by sy kookpunt verhit word, word al hierdie hitte verbruik om die faseverandering te bewerkstellig en bly die temperatuur van die stof konstant ten spyte van die warmte wat bygevoeg word. Vandaar die woord latent wat afgelei is van die latynse woord wat "weggesteek" beteken.
Op 'n intermolekulêre vlak beskou is die kookpunt die punt waar die vloeistofmolekules genoeg energie besit om die verskillende intermolekulêre bindingskragte, wat die molekules in die vloeistoffase hou, te oorkom (bv. dipool-dipool aantrekkingskrag, oombliklike-dipool geïnduseerde-dipool aantrekkingskrag asook waterstofbindings. Die kookpunt dien daarom ook as 'n aanduiding van hoe sterk hierdie aantrekkingskragte vir 'n spesifieke stof is.
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article Kookpunt, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.
®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.