Wiki Afrikaans 2022: Jaco Jacobs
AFVietnameseEnglish

Desmond Tutu

Desmond Tutu: Suid-Afrikaanse kerkleier en Nobelprys vir Vrede-wenner

Desmond Mpilo Tutu (7 Oktober 1931 in Klerksdorp26 Desember 2021 in Kaapstad) was een van Suid-Afrika se bekendste en mees invloedryke kerkleiers. As vurige teenstander van die apartheidsregering ontvang hy in 1984 die Nobelprys vir Vrede vir sy stryd teen rassediskriminasie in Suid-Afrika.[1]

Desmond Tutu
Desmond Tutu 2013-10-23 001.jpg
Desmond Tutu in 2013
Gebore
Desmond Mpilo Tutu

(1931-10-07)7 Oktober 1931
Sterf26 Desember 2021 (op 90)
Kaapstad, Wes-Kaap, Suid-Afrika
NasionaliteitVlag van Suid-Afrika Suid-Afrika
BeroepAartsbiskop van Kaapstad
Termyn1986–1996
VoorgangerP.W.R. Russell
OpvolgerNjongonkulu Ndungane
EggenootNomalizo Leah Shenxane
KindersTrevor Thamsanqa Tutu
Theresa Thandeka Tutu
Naomi Nontombi Tutu
Mpho Andrea Tutu
Ouer(s)Zacheriah Zililo Tutu (vader)
Aletta Tutu (moeder)
Handtekening
Desmond Tutu Signature.svg

Die hoogtepunte van sy teologiese loopbaan sluit onder meer in sy aanstellings as biskop van Lesotho in 1978, biskop van Johannesburg in 1985 (hy was die eerste swart Suid-Afrikaner in hierdie amp), hoofsekretaris van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke in 1978 en aartsbiskop van Kaapstad in 1986.

In sy hoedanigheid as aartsbiskop van Kaapstad was hy hoof van die Anglikaanse Kerk van Suider-Afrika, 'n pos wat hy prysgegee het in 1996 om al sy aandag te wy aan sy taak as voorsitter van die Waarheid-en-versoeningskommissie. Desmond Tutu, Godsman en politikus, was een van die sentrale figure in die apartheidstryd en het vir dekades onwrikbaar bly glo dat transformasie in Suid-Afrika moontlik was, toe ander al moed opgegee het.

'n Kort lewensgeskiedenis

Desmond Mpilo Tutu is op 7 Oktober 1931 in Klerksdorp gebore. In 1953 behaal hy 'n onderwysdiploma en in 1954 'n B.A.-graad aan die Universiteit van Suid-Afrika. Hy kwalifiseer hom in die teologie, eers aan St Peter's College in Johannesburg en daarna aan King's College in Londen, waar hy sy meestersgraad voltooi. Toe hy in 1967 na Suid-Afrika terugkeer, wy hy hom daaraan toe om swart teoloë op te lei. Van 1972 tot 1975 beklee hy 'n prominente posisie by die Wêreldraad van Kerke en in 1976 word hy as biskop van Lesotho aangestel. In 1977 keer hy na Suid-Afrika terug om 'n toespraak by Steve Biko se begrafnis te lewer. Hy besef in hierdie tyd dat die kerk 'n aktiewe rol sou moes speel om die apartheidsbewind teen te staan. Hy word in 1978 algemene sekretaris van die Wêreldraad van Kerke, 'n liggaam wat die Suid-Afrikaanse regering godsdienstig sowel as polities teengestaan het. Tutu beywer hom wêreldwyd vir ekonomiese sanksies teen Suid-Afrika en gebruik die publisiteit wat hy ontvang toe Columbia Universiteit 'n eregraad aan hom toeken in 1982 en hy die Nobelprys vir Vrede ontvang in 1984 om sy sanksiestryd te bevorder. Uiteindelik sou internasionale ekonomiese druk 'n bepalende faktor in die ondergang van die apartheidsregering wees. Die Suid-Afrikaanse regering se teenreaksie was 'n demoniseringsveldtog. Tutu se paspoort is reeds in 1979 teruggetrek en vir meer as 'n dekade is hy deur regeringsgesindes as 'n antichris en gevaarlike agitator uitgekryt. Die armes en verdruktes, daarenteen, het hom as 'n simbool van geregtigheid en bevryding gesien.

Na 1994 beywer Desmond Tutu hom vir die opbou van die reënboognasie (hy het dié term uitgedink) en word hy in 1995 voorsitter van die Waarheid-en-versoeningskommissie.

Tutu het sy aftrede op 22 Julie 2010 op 78-jarige ouderdom aangekondig.[2] Tutu is in 1955 met Leah Nomalizo Shenxane getroud en hulle het vier kinders. Sy kinders is by 'n kosskool in Swaziland (nou Eswatini) opgevoed. Terwyl hy die Waarheid-en-versoeningskommissie bestuur, is hy vir prostaatkanker behandel. Twintig jaar later keer die kanker terug en was die oorsaak van sy dood.[3] Hy is op 26 Desember 2021 in Kaapstad oorlede.[4] Tutu is op 1 Januarie 2022 in Kaapstad in die teenwoordigheid van sy familie en ander roubeklaers begrawe, en die verrigtinge is direk op TV en aanlyn gebeeldsend.

Godsdienstige en politieke sieninge

 
Tutu saam met Dalai Lama in 2004
 
Desmond Tutu met sy dogter Mpho Andrea Tutu in Nederland, 2012

In die jare vanaf 2008 het Tutu in 'n toenemende mate krities teenoor die African National Congress geword. In 2008 het hy in die openbaar die destydse Zimbabwiese president Robert Mugabe gevra om te bedank, hom van menseregteskendings beskuldig[5] en Tutu was van die Suid-Afrikaanse ANC se optrede in dié saak teleurgesteld.[6] In 2011 het hy die ANC van "onderdanigheid" teenoor die Volksrepubliek China beskuldig, nadat die Dalai Lama, wat vir Tutu se 80ste verjaardag genooi is, net met vertraging 'n visum vir Suid-Afrika ontvang het.[7] Op 10 Mei 2013 het Tutu in die openbaar verklaar om by die volgende verkiesing nie meer vir die ANC te stem nie. Volgens hom was die ANC 'n goed in die stryd teen onderdrukking, maar dit sou moeilik wees om 'n groep van vryheidsvegters in 'n politieke party om te skep. Suid-Afrika se hoofprobleme volgens Tutu is korrupsie, 'n gebrek aan verantwoordelikheid en swakhede in die Suid-Afrikaanse grondwet. Terselfdertyd het hy die Suid-Afrikaners aangemoedig om oor die tydperk na die afsterwe van Nelson Mandela na te dink.[8] Toe die Dalai Lama op 2 Oktober 2014 op aansoek deur Jacob Zuma opnuut ingang na Suid-Afrika geweier is, waar hy aan die Nobelprys vir Vrede-wenners se ontmoeting wou deelneem, het Tutu die Suid-Afrikaanse regering skerp gekritiseer: "Ek is skaam om hierdie lekspoegklomp my regering te noem." (I am ashamed to call this lickspittle bunch my government). Dit sou die derde keer in vyf jaar wees wat die Dalai Lama die ingang na Suid-Afrika geweier is en hy het hulle gewaarsku: "Ek het hulle toe gewaarsku dat net soos ons gebid het vir die ondergang van die apartheidsregering, so sal ons bid vir die ondergang van 'n regering wat so ruggraatloos kan wees." (I warned them then that just as we had prayed for the downfall of the apartheid government so we would pray for the demise of a government that could be so spineless).[9]

Desmond Tutu het hom vir die Palestyne se regte beywer; na Israel se politiek het hy in 'n kommentaar van The Guardian in 2002 as "Apartheid" verwys[10]

Desmond Tutu het hom ook vir homoseksuele menseregte beywer. Sy kerk in Suid-Afrika het die selfdegeslaghuwelik ondersteun, wat die ANC in die parlement ondersteun het. In 'n persverklaring in Nairobi, Kenia, het Tutu 2007 in 'n debat die Anglikaanse kerkleiers in Afrika aangemoedig om selfdegeslaghuwelike in die kerk toe te laat.[11][12] In 2013 het hy by die Verenigde Nasies se UN Free and Equal Campaign-veldtog in Kaapstad gesê, hy verwerp "godsdienstige regverdigings van homofobiese vooroordele". Hy het dit soos volg gestel: "Ek sou weier om na 'n homofobiese hemel te gaan. Nee, ek sal jammer sê, ek bedoel ek sal veel eerder na die ander plek toe gaan. Ek sal nie 'n God aanbid wat homofobies is nie en dit is hoe diep ek hieroor voel. Ek is so passievol oor hierdie veldtog as wat ek ooit oor apartheid was. Vir my is dit op dieselfde vlak." (I would refuse to go to a homophobic heaven. No, I would say sorry, I mean I would much rather go to the other place. I would not worship a God who is homophobic and that is how deeply I feel about this. I am as passionate about this campaign as I ever was about apartheid. For me, it is at the same level.)[13] In Mei 2016 het Tutu se dogter Mpho met die Nederlandse Marceline van Furth getrou. Tutu het toestemming van die Anglikaanse Kerk gekry om 'n "vaderlike seën" tydens die huwelik te spreek.[14]

Verwysings

  1. (en) "The Nobel Peace Prize 1984". Nobelprize.org. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 25 Julie 2018. Besoek op 6 Oktober 2017.
  2. (af) Vaarwel, Tutu, Nuus24, 23 Julie 2010.
  3. (en) "Obituary: Archbishop Desmond Tutu, hero of South Africa anti-apartheid movement". The Scotsman. 28 Desember 2021. Besoek op 1 Januarie 2021.
  4. (en) Jason Burke (26 Desember 2021). "Archbishop Desmond Tutu, giant in fight against apartheid South Africa, dies at 90". The Guardian. Besoek op 26 Desember 2021.
  5. (en) "Go Mugabe or face arrest – Tutu". BBC. 5 Desember 2008. Besoek op 26 Desember 2021.
  6. (en) "Tutu accuses S Africa over Mugabe". BBC. 24 Desember 2008. Besoek op 26 Desember 2021.
  7. (en) "South Africa's Desmond Tutu: „I will not vote for ANC"". BBC. 10 Mei 2013. Besoek op 26 Desember 2021.
  8. (en) David Smith (25 April 2014). "Desmond Tutu: why I won't vote ANC". The Guardian. Besoek op 26 Desember 2021.
  9. (en) "Tutu breaks silence on Dalai Lama visa row". IOL. 2 Oktober 2014. Besoek op 3 Oktober 2014.
  10. (en) "Apartheid in the Holy Land". The Guardian. 29 April 2002. Besoek op 26 Desember 2021.
  11. (en) "advocate:Desmond Tutu likens antigay discrimination to apartheid". www.advocate.com.
  12. (de) "Tutu verteidigt Homos". Queer.de. 22 Januarie 2007. Besoek op 22 Januarie 2007.
  13. (en) "Tutu says he cannot worship 'homophobic' God". Al Jazeera. 26 Julie 2013. Besoek op 26 Julie 2013.
  14. (en) Harriet Sherwood (24 Mei 2016). "Desmond Tutu's daughter leaves clergy after marrying female partner". The Guardian. Besoek op 26 Desember 2021.

Eksterne skakels