Wiki Afrikaans 2023: Spesiaal:Soek
AFWiki Tiếng ViệtWiki English

Samoaanse nasionale rugbyspan

Afrikaans editions of Wiki, an online encyclopedia

Die Samoaanse nasionale rugbyspan (Engels: Samoa national rugby union team; Samoaans: Manu Samoa) is die nasionale rugbyspan wat Samoa in internasionale wedstryde (toetswedstryde) verteenwoordig. Rugby word in Samoa geadministreer deur Rugby Samoa (Lakapi Samoa) wat in 1924 gestig is. Samoa word deur Wêreldrugby as ’n vlak twee-span erken. Die Samoaanse rugbyspan is tans (September 2022) elfde op Wêreldrugby se wêreldranglys gelys.[4] Die span neem aan die jaarlikse Stille Oseaan Nasiesbeker deel, saam met Fidji, Japan, Kanada, Tonga en die Verenigde State. Samoa was ’n lid van die Stille Oseaan-eilande Rugbyalliansie (Engels: Pacific Islands Rugby Alliance; PIRA), saam met Fidji en Tonga; maar hulle het in 2009 hulself onttrek.[5]

Samoa
Samoa Rugby.jpg
UnieRugby Samoa (RS)
Bynaam(e)Manu Samoa
Embleemdie Suiderkruis
StadionApiapark, Apia
Kapasiteit12 000
Afrigter(s)Vlag van Samoa Seilala Mapusua (sedert 2020)
Kaptein(s)Michael Alaʻalatoa
Spankleure


Alt. kleure

Statistiek
Meeste toetseBrian Lima (65)[1]
Meeste toetspunteTusi Pisi (245)[2]
Meeste drieëBrian Lima (29)[3]
Eerste internasionale wedstryd
Flag of the Samoa Trust Territory.svg Wes-Samoa 0–6 Fidji Vlag van Fidji
(Apia, Samoa; 18 Augustus 1924)
Grootste oorwinning
Vlag van Samoa Samoa 115–7 Papoea-Nieu-Guinee Vlag van Papoea-Nieu-Guinee
(Apia, Samoa; 11 Julie 2009)
Grootste nederlaag
Vlag van Nieu-Seeland Nieu-Seeland 101–14 Samoa Vlag van Samoa
(Nieu-Plymouth, Nieu-Seeland; 3 September 2008)
Wêreldbeker
Verskynings8/9 (Eerste in 1991)
Beste uitslagKwarteindrondte in 1991 en 1995
Amptelike webwerf
www.manusamoa.com

Samoa het in 1924 sy eerste internasionale wedstryd teen Fidji gespeel. Samoa, Fidji en Tonga speel gereeld teen mekaar in toernooie soos die Stille Oseaan-nasiesbeker (tot in 2005 Stille Oseaan-drienasies), waarin Samoa tot dusver 14 titels gewen het. Samoa se bynaam is Manu Samoa en hulle speel tradisioneel in blou truie met wit broeke. Om die opponent te intimideer en hulself te motiveer word voor elke toetswedstryd die Siva Tau-oorlogsdans deur die Samoaanse span uitgevoer. Dié oorlogsdans dateer uit die land se oorloë met naburige eilande.[6]

Samoa het tot dusver vir agt van die nege rugbywêreldbekertoernooie gekwalifiseer en net die Rugbywêreldbeker 1987 in Australië en Nieu-Seeland misgeloop. In 1991 en 1995 het hulle daarin geslaag om tot die kwarteindrondte deur te dring. Sedertdien vaar Samoa nie meer so goed in die Wêreldbeker nie. Twee voormalige Samoaanse rugbyspelers is in Wêreldrugby se Heldesaal opgeneem.

Beheerliggaam

Die beheerliggaam vir rugby in Samoa is Rugby Samoa (Samoaans: Lakapi Samoa). Rugby Samoa is in 1924 gestig en het in 1988, net ná die eerste rugbywêreldbekertoernooi, ’n volle lid van die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRR; nou Wêreldrugby) geword.[7] Daarbenewens het Rugby Samoa in 2000 ’n stigtingslid van die Vereniging van Oseaniese Rugbyunies (Federation of Oceania Rugby Unions, FORU; nou Oseanië Rugby) geword.[8]

Naas die amptelike nasionale span roep Rugby Samoa ook ander keurspanne byeen. Samoa A is die tweede nasionale span van Samoa en hulle neem aan Wêreldrugby se Stille Oseaan-uitdaging deel. Die Samoa Sevens is die Samoaanse sewesrugbyspan en hulle neem aan internasionale toernooie soos Wêreldrugby se Sewesreeks, Sewesrugbywêreldbeker, Olimpiese Somerspele en die Statebondspele deel. Nes ander rugbylande beskik Samoa oor ’n o/20-nasionale span wat aan die Wêreldrugby o/20-kampioenskap deelneem.[9] Kinders en jongmense word reeds op skool aan rugby bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hul met hul afrigting.

As deel van die Stille Oseaan-eilande Rugbyalliansie het die beheerliggaam van 2004 wedstryde gereël van die Stille Oseaan-eilanders, ’n gemeensame keurspan van die drie Stille Oseaan-eilandstate Fidji, Samoa en Tonga. Aangesien die Stille Oseaan-eilanders nie die gewenste inkomste vir die beheerliggame gegenereer het nie, het die Samoaanse beheerliggaam dié samewerking in 2009 beëindig.[10]

Algemene situasie

Samoa is een van die min lande waar rugby die hoofsport is. Slegs die Cookeilande, Fidji, Nieu-Seeland, Tonga en Wallis kan soortgelyke bewerings maak.[6] Met ’n bevolking van amper 200 000 is die keuring van talentvolle spelers in vergelyking met ander lande baie klein, maar Samoa behoort konstant aan die 15 beste spanne wêreldwyd en hulle is redelik mededingend. Dié land ly egter onder ’n groot uitvloei aan talent, aangesien baie spelers in die professionele ligas in Australië, Nieu-Seeland, Europa of Japan speel en deur die onderskeie land ingeburger word. Volgens Wêreldrugby se reëls is ’n tydperk van vyf jaar ononderbroke blyplek genoeg om vir die nasionale span van ’n ander land uit te draf (tot aan die einde van 2020 was dit net drie jaar).[11] Sedert die 1970’s het baie Samoane veral na Nieu-Seeland vertrek. Van die bekendste Nieu-Seelandse spelers met ’n Samoaanse herkoms is Jerry Collins, Michael Jones, Chris Masoe, Mils Muliaina, Isaia Toeava en Tana Umaga, terwyl Manu Tuilagi vir Engeland uitdraf.

Die Stille Oseaan-eilandstate se beheerliggame is nie sterk genoeg om hierdie uitvloei aan talent stop te sit nie. Soms word die sistematiese stropery in ’n ironiese manier met die 19de eeuse Blackbirding vergelyk.[12] Samoane, wat hul eie land verteenwoordig, kan nie altyd vir hul nasionale span verskyn nie, aangesien veral Engelse klubs huiwerig is om spelers vir toetswedstryde beskikbaar te stel. Die professionele span Moana Pasifika, wat sedert 2022 aan die internasionale toernooi Superrugby deelneem, sal as ’n oplossing dien. In dié span, wat in die Nieu-Seelandse stad Auckland gesetel is, speel Samoane saam met Tongane en Nieu-Seelanders met ’n Polinesiese herkoms; dié span streef ’n verkieslik “Stille Oseaan”-karakter na.[13]

Amerikaans-Samoa, ’n eilandgebied van die Verenigde State van Amerika wat nes Samoa aan dieselfde argipel behoort, beskik oor sy eie nasionale rugbyspan. Dit bereik egter by verre nie dieselfde status nie en hulle speel net af en toe. In Amerikaans-Samoa is Amerikaanse voetbal die gewildste sportsoort; baie Samoane speel in die Nasionale Voetballiga.[14]

Geskiedenis

’n Beskeie begin

In Wes-Samoa was die in ander gebiede van Oseanië reeds goed gevestigde rugbysport tydens die Duitse koloniale tydperk minder bekend, plaaslike koerante het aan die begin van die 20ste eeu net min oor rugbywedstryde in die hoofstad Apia berig.[8] Dié situasie het in 1914 verander, toe Nieu-Seeland die eilandgroep aan die begin van die Eerste Wêreldoorlog beset en begin administreer het (van 1919 af amptelik as ’n Volkebondmandaat). Die Rooms-Katolieke orde van die Maristebroers, wat van 1871 af hier werksaam was, het van 1920 af aan hul skole weens die sterk Nieu-Seelandse invloed ’n aantal sportsoorte met ’n Britse oorsprong ingevoer.[15][16] Rugby het vinnig die by verre gewildste sportsoort geword en is deur groot dele van die bevolking goed ontvang. Volgens Robert F. Dewey, ’n historikus aan die DePauw-universiteit, was rugby destyds ’n belangrike manier om die plaaslike trots en strydlustige manlikheid uit te druk. Nadat baie tradisionele rituele gedurende die koloniale tydperk verdwyn het, was rugby ’n goeie plaasvervanger vir die uitvoering van ou konflikte. Buitendien was die atletiese vaardighede van die inheemse spelers glo heel geskik vir die rugbyspel. ’n Soortgelyke ontwikkeling het in twee ander Stille Oseaan-eilandstate plaasgevind: Fidji en Tonga.[12]

In 1924 is die Apia Rugbyvoetbalunie (Engels: Apia Rugby Football Union, die latere Wes-Samoaanse Rugbyvoetbalunie en die huidige Rugby Samoa) gestig, wat aanvanklik met die Nieu-Seelandse Rugbyvoetbalunie geassosieerd was. Die eerste toetswedstryd het op 18 Augustus 1924 in die Samoaanse hoofstad Apia teen Fidji plaasgevind en is met 0–6 verloor.[6] Volgens ’n legende is die wedstryd op ’n rugbyveld met ’n groot boom op die middellyn gespeel, maar destydse koerantberigte vermeld niks daarvan nie.[8] Die wedstryd het om 7 v.m. afgeskop om die Samoaanse toeskouers kans te gee om ná die wedstryd te gaan werk. ’n Maand later is die tweede toetswedstryd teen Fidji met 9–3 gewen.[6][17] Aan die einde van Julie 1926 is Tonga vir die eerste keer verwelkom.[18] In 1928 en 1932 het die Stille Oseaan-bure weer Samoa besoek, maar dit sou tot in 1947 duur, totdat die Samoane weer besoek ontvang het; daardie jaar het hulle Tonga vir die eerste keer geklop.[19]

Gereelde wedstryde is eers in 1955 hervat en as gevolg van die beheerliggaam se moeilike finansiële situasie kon die eerste wegwedstryde eers in 1956 gespeel word, toe die Samoane na Tonga vertrek het. In 1960 het die Nieu-Seelandse Maori (die Maori se keurspan)vir die eerste keer Wes-Samoa besoek.[20] In 1962 het die Nieu-Seelandse beheer geëindig en Wes-Samoa sy onafhanklikheid verkry. In 1963 is in die Fidjiaanse hoofstad Suva die eerste Suid-Stille Oseaan-spele aangebied, waartydens Wes-Samoa in al sy vier wedstryde duidelik verslaan is en net die bronsmedalje ingepalm het.[21] Aangesien die beheerliggaam se moeilike finansiële situasie bly aanhou het, moes hul internasionale speelprogram vir die volgende agt jaar opnuut opgeskort word.

Toenemende internasionale kontakte

Aan die Suid-Stille Oseaan-spele 1971 se rugbytoernooi in Papeete (Frans-Polinesië) het die mededingers uit Fidji en Tonga nie deelgeneem nie. Tydens die groepfase het Wes-Samoa die Cookeilande en Nieu-Kaledonië geklop, en in die halfeindstryd Tahiti. In die eindstryd het die Samoane weer teen die Cookeilande te staan gekom en met ’n 23–9-oorwinning die toernooi beklink.[22] In 1972 het hulle Tonga vir vier toetswedstryde ontvang, maar almal verloor. ’n Jaar later was hulle teen die besoekende Nieu-Seelandse Maori ook sonder enige kans. In Junie 1975 is Tonga opnuut vir vier toetswedstryde verwelkom; Wes-Samoa het twee oorwinnings aangeteken, die eerste teen dié span in amper drie dekades.

Tupuola Efi, wat gelyktydig as beheerliggaamspresident en eerste minister gedien het, het die doelwit gehad om die destydse beskeie Samoaanse rugbysport se vlak te verbeter. Dit was net met meer wedstryde teen gelykwaardige of beter opponente moontlik. Om hierdie rede het hy in 1976 ’n fondsinsameling georganiseer om die span se eerste toer na Nieu-Seeland te befonds. Dié veldtog het die bepaalde doelwit oortref en die beheerliggaam kon ’n verteenwoordigende keurspan saamstel. Gedurende die vierweekse toer het hulle teen ses plaaslike spanne van die Nieu-Seelandse kampioenskap te staan gekom en hulle is vyf keer verslaan. In die toetswedstryde teen die Nieu-Seelandse Maori is hulle ook twee keer geklop. Twee begeleiers van die span het die fondsinsameling by die Samoaanse Diaspora voortgesit, waardeur hulle die grondslag vir toekomstige toere en die verbetering van die beheerliggaam se strukture gelê het.[23] Die Suid-Stille Oseaan-spele 1979 het gewys dat die in Nieu-Seeland verwerfde kennisse veral in taktiese opsig nog nie voldoende was nie. Ná hul tweede plek gedurende die groepfase met die Salomonseilande, Tonga en Tahiti het hulle in die halfeindstryd teen die gasheer Fidji met 13–16 verloor en hulle het in die klein finale om die derde plek ’n verrassende nederlaag teen Nieu-Kaledonië met 8–9 gely.[24]

In 1982 het die nuwe, jaarlikse Stille Oseaan-drienasiestoernooi gereelde wedstryde aan die drie voorste Stille Oseaan-rugbylande besorg en die vorige ongereelde wedersydse toere vervang. Wes-Samoa het die eerste toernooi met twee wegoorwinnings beklink, waaronder hul eerste oorwinning teen Fidji sedert 1924. Die Suid-Stille Oseaan-spele 1983 is tuis in Apia aangebied. Wes-Samoa het in die rugbytoernooi se groepfase Amerikaans-Samoa, die Cookeilande, Papoea-Nieu-Guinee, Tokelau en Tonga geklop. Ná hul oorwinning in die halfeindstryd teen Nieu-Kaledonië is die gasheer in die eindstryd egter deur Fidji met 18–10 geklop.[25] In Mei 1985 het die Internasionale Rugbyraad (IRR, nou Wêreldrugby), wat redelik eksklusief was en net agt lede behels het, op die invoering van die rugbywêreldbekertoernooi besluit. Vir die eerste toernooi in 1987 sou nege plekke deur uitnodiging toegeken word (die IRR-lid Suid-Afrika is weens die apartheidboikot nie genooi nie).[26] Terwyl die twee Oseaniese mededingers Fidji en Tonga uitgenooi is, het Wes-Samoa nie in aanmerking gekom nie; die hoofrede was waarskynlik hul gebrek aan ervaring teen nasionale spanne van ’n hoër vlak.

Ná die ietwat omstrede nie-uitnodiging het die Samoaanse beheerliggaam verskeie stappe onderneem om meer internasionale erkenning te verkry. In 1986 het die Walliese nasionale span deur die Suidelike Stille Oseaan getoer en die eerste span van buite Oseanië geword om teen Wes-Samoa te speel. Hoewel die gasheer se speelse vaardighede grootliks onbekend was, het die Walliese Rugbyunie aan dié wedstryd op 14 Junie amptelike toetsstatus toegeken. Die Samoane het teen halftyd heelwat verrassend met 14–7 voorgeloop, maar hulle het nogtans met 14–32 verloor.[27] In 1988 het die beheerliggaam by die voorheen redelik eksklusiewe IRR aangesluit, waarvolgens amper alle wedstryde met die tradisionele rugbylande as toetswedstryde erken is. In dieselfde jaar het Peter Schuster die nuwe pos as hoofafrigter betree. Daarbenewens het die beheerliggaam spesifiek rugbyspelers met ’n Samoaanse herkoms in die buiteland vir die nasionale span begin werf. Van hulle was oorwegend nakomelinge van trekarbeiders wat van die 1950’s tot die 1970’s na Nieu-Seeland verhuis het. In 1995 het hierdie spelers amper die helfte van die span gevorm.[28]

Eerste deelnames aan rugbywêreldbekertoernooie

Gedurende herfs 1988 het die Wes-Samoane vir die eerste keer ’n oorsese toer onderneem, meer spesifiek na Wallis en Ierland. Dit het omtrent vyf weke gevat en twee toetswedstryde teen die Walliese en die Ierse rugbyspanne ingesluit, wat albei in nederlae geëindig het. Van die ander agt wedstryde teen klubs en keurspanne het hulle vier gewen.[29] In 1989 is die Stille Oseaan-drienasies by uitsteek nie aangebied nie, pleks daarvan het hulle nog ’n toer na Europa oor ’n aantal weke onderneem. Terwyl die toetswedstryde teen Wes-Duitsland en België in duidelike oorwinnings geëindig het, het hulle teen Roemenië ’n naelskraapse nederlaag gely. Bykomende wedstryde teen keurspanne is in die Sowjetunie, Engeland en Frankryk gespeel. Oor die algemeen was die wenrekord positief.[30] In April 1990 het Wes-Samoa tydens ’n toernooi in Tokio met deels duidelike oorwinnings teen Suid-Korea, Tonga en Japan sonder moeite vir die daaropvolgende rugbywêreldbekertoernooi gekwalifiseer.[31]

Sowel in 1990 as in 1991 het Wes-Samoa die Stille Oseaan-drienasies beklink. Tydens die Suid-Stille Oseaan-spele 1991 in Port Moresby, die Papoea-Nieu-Guinese hoofstad, het die Samoane vir die laaste keer aan die rugbytoernooi deelgeneem. Ná hul oorwinning teen die Salomonseilande in die halfeindstryd het hulle in die eindstryd Amerikaans-Samoa met 34–7 geklop.[32] ’n Maand ná hul titeloorwinning het hul langverwagte eerste deelname aan die Rugbywêreldbeker 1991, wat in die destydse Vyfnasies aangebied is, gevolg. Voor dié toernooi is die Samoane as buiteperde beskou. Op 6 Oktober het hulle in Cardiff teen die medegasheer Wallis te staan gekom en ’n verrassende oorwinning met 16–13 aangeteken, waarby hulle blykbaar hul opponente veral in die aanval oorheers het.[33] Dié wedstryd het een van die bekendste rugby-aanhalings opgelewer: “Dankie tog dat Wallis nie teen die hele Samoa gespeel het nie” (Thank heavens Wales weren’t playing the whole of Samoa).[34] In hul tweede poelwedstryd is Wes-Samoa deur die latere kampioen Australië naelskraap met 9–3 geklop, maar hulle het ná ’n duidelike 35–12-oorwinning teen Argentinië die kwarteindrondte gehaal. Wes-Samoa is egter deur Skotland met 28–6 geklop, maar met hul deelname aan die uitklopfase het hulle regstreeks vir die daaropvolgende rugbywêreldbekertoernooi gekwalifiseer.[35]

Hul goeie prestasies het voortgegaan, toe Wes-Samoa sowel in 1992 as in 1993 die Stille Oseaan-drienasies beklink en vier opeenvolgende toernooie gewen het. Hul toer na Nieu-Seeland in Julie 1993 was ook suksesvol. Die Samoane het al hul sewe wedstryde teen plaaslike keurspanne gewen, terwyl die twee wedstryde teen die All Blacks, wat nie as toetswedstryde erken is nie, naelskraap verloor is.[36] Die Walliesers het in Junie 1994 vir hul rugbywêreldbekernederlaag wraak geneem, toe hulle in Junie 1994 tydens hul toer na Oseanië Apia besoek en die Samoane met 34–9 geklop het. In voorbereiding op die Rugbywêreldbeker 1995 het die Samoane amper ’n jaar deur die gasheerland Suid-Afrika getoer en onder andere in hul eerste toetswedstryd teen die Springbokke gespeel. Tydens die daaropvolgende toernooi het Wes-Samoa weer goed presteer. Met oorwinnings teen Italië (met 42–18) en Argentinië (met 32–26) asook ’n nederlaag teen Engeland (met 22–44) het hulle weer die kwarteindrondte gehaal, waar hulle met 14–42 teen die gasheer en latere kampioen verloor het.[37]

Gevolge van professionalisering

Nadat die IRR in Augustus 1995 al die beperkinge rakende die spelersbetaling opgehef en daarmee die professionele tydperk van die rugbyspel ingelui het, was dit vir Samoa en die ander Stille Oseaan-eilandstate terselfdertyd vloek én seën. Aan die een kant kon die nasionale span professionele spelers insluit wat oorwegend by klubs in Nieu-Seeland, Australië, Europa en Japan gespeel het. Aan die ander kant het die beheerliggaam altyd met die risiko gesit dat hierdie spelers meer as drie jaar oorsee gebly het en volgens die IRR se woonplekreël deur die onderskeie beheerliggame gekeur kon word, waarvolgens hulle nie meer vir die nasionale span beskikbaar was nie. Buitendien het die finansieel sterk mededingers die plaaslike liga erg verswak.[38] Om in die toekoms met die internasionale mededingers tred te hou was die implementering van nuwe bestuurstrukture noodsaaklik. Die beheerliggaam het saam met die beleggingsfonds Fay Richwhite die gesamentlike onderneming Manu Samoa Rugby Beperk gestig, wat sedertdien vir die bemarking van die nasionale span verantwoordelik is. Buitendien het Fay Richwhite se vennote $5 miljoen uit hul persoonlike bates belê, aanvanklik vir die tydperk van 1995 tot 2004.[39] Dié belegging het die beheerliggaam van ’n moontlike bankrotskap bewaar. Aangesien Manu Samoa Rugby Beperk in Nieu-Seeland gesetel is, het in die publiek egter die indruk ontstaan dat die nasionale span aan ’n buitelandse maatskappy “verkoop” is.[40]

In November 1995 het Wes-Samoa tydens hul toer in die Verenigde Koninkryk teen Skotland te staan gekom en in Edinburg ’n goeie 15–15-gelykop aangeteken.[41] In Junie 1996 het Wes-Samoa in Napier in hul langverwagte eerste toetswedstryd teen die All Blacks gespeel en hulle het met 10–51 verloor. Die hoogtepunt van ’n verdere toer na Europa gedurende herfs 1996 was hul eerste oorwinning teen Ierland, toe hulle in Dublin met 40–25 geseëvier het.[42] In ooreenstemming met die eilandstaat se naamverandering in 1997 is die nasionale span van Wes-Samoa ook in Samoa hernoem. Die Oseaniese rugbywêreldbekerkwalifisering is in September 1998 in Australië aangebied. Samoa is deur die gasheer en Fidji geklop, maar hulle het ná ’n oorwinning teen Tonga een van die drie regstreekse plekke bespreek en hulle moes nie in die uitspeelwedstryde teen ’n Europese span speel nie.[43] Gedurende somer 1999 het Samoa vir die eerste keer deelgeneem aan die Stille Oseaanrand Rugbykampioenskap, ’n toernooi vir die spanne in en rondom die Stille Oseaan, en die tweede plek onder ses deelnemers beklee. Tydens die Rugbywêreldbeker 1999, wat weer in die destydse Vyfnasies aangebied is, het Samoa aanvanklik Japan met 43–9 geklop, maar hulle is deur Argentinië met 32–16 verslaan. Om tot die uitspeelrondte te vorder, moes hulle teen Wallis wen. Net soos agt jaar voorheen het Samoa sy opponent oorheers en met 38–31 ’n verrassende oorwinning aangeteken.[44] Die uitspeelrondte se uitslag was net só as in 1991, aangesien Samoa deur Skotland met 35–20 geklop is.[45]

Die nuwe millennium

 
Samoa teen Suid-Afrika tydens die Rugbywêreldbeker 2007
 
Samoa teen Namibië tydens die Rugbywêreldbeker 2011
 
Wallis teen Samoa tydens die Rugbywêreldbeker 2011

Samoa het die Stille Oseaanrand Rugbykampioenskap 2000 gewen en een jaar later het hulle in die laaste toernooi se eindstryd teen Fidji met 17–28 verloor.[46] Die Stille Oseaan-drienasies in 2002 het terselfdertyd as rugbywêreldbekerkwalifisering gedien. Samoa en Fidji het hul toernooiplekke met drie oorwinnings en ’n gelykop elk bespreek, terwyl Samoa in dié toernooi weens sy swakker punteverskil as naaswenner geëindig het.[47] In voorbereiding op die daaropvolgende rugbywêreldbekertoernooi het die Samoane in Julie 2003 deur Suider-Afrika getoer en vir die eerste keer teen Namibië te staan gekom. Dit was een van die laaste oorsese toere volgens die ou tradisie, wat veral deur die midjaarrugbytoetsreeks en die eindjaarrugbytoetsreeks met ’n vaste skedule vervang is.[48] Tydens die Rugbywêreldbeker 2003 in Australië is die Samoane in ’n sterk groep geloot. Hulle het hul eerste twee groepwedstryde duidelik gewen, met 60–13 teen Uruguay en met 46–9 teen Georgië. In die derde groepwedstryd teen die latere kampioen Engeland het Samoa sowat ’n uur voorgeloop, maar hulle is eindelik met 35–22 geklop.[49] In die laaste wedstryd het hulle met 10–60 teen Suid-Afrika verloor en Samoa is sodoende met hul derde plek uit die toernooi geskakel.[50]

In 2002 was Rugby Samoa een van die stigtingslede van die Stille Oseaan-eilande Rugbyalliansie wat die doelwit gehad het om die samewerking tussen die Stille Oseaan-rugbylande te verbeter. In 2004 het die lede die gesamentlike keurspan Stille Oseaan-eilanders byeengeroep, wat volgens die Britse en Ierse Leeus se voorbeeld al om die twee jaar pleks van die onderskeidelike nasionale span ’n aantal toetswedstryde teen die vername rugbylande gespeel het. Op mediumtermyn sou dié span homself vir ’n moontlike uitbreiding van die Super 12 of die Drienasiesreeks beskikbaar stel.[8] In altesaam elf wedstryde het hulle agt nederlae gely en drie oorwinnings aangeteken. In 2009 het die Samoaanse beheerliggaam die alliansie verlaat, aangesien hulle glo naas die sportiewe ook nie in die finansiële doelwitte geslaag het nie. Sedertdien het die Stille Oseaan-eilanders ondanks verskeie herlewingspogings nie meer byeengekom nie.[10] Nes die ander Stille Oseaan-rugbylande het Samoa toenemend gebuk gegaan onder die feit dat die beste spelers kontrakte by oorsese klubs onderteken het en vervolgens van hul onderskeie klubs afhanklik was. Byvoorbeeld was tydens die Rugbywêreldbeker 2003 alle in Engeland werksame spelers afwesig, terwyl ander spelers weens die blyplekreël vir ander nasionale spanne uitgedraf het. Dit en ander nadele het daartoe gelei dat die beheerliggame van Samoa, Fidji en Tonga in 2000 die kontinentale beheerliggaam Vereniging van Oseaniese Rugbyunies (Federation of Oceania Rugby Unions, FORU; nou Oseanië Rugby) van stapel gestuur het. Die FORU het vir ’n medebeslissingsreg by die IRR se uitvoerende raad aangeklop en dit is in 2004 toegestaan. Die meer as ’n dosyn lede moet egter twee setels deel en word dus steeds erg benadeel teenoor die “groot” rugbylande.[51]

In 2005 het Samoa die laaste Stille Oseaan-drienasiestoernooi gewen. Dié toernooi het terselfdertyd as rugbywêreldbekerkwalifisering gedien, waarvolgens hulle hul plek by die daaropvolgende rugbywêreldbekertoernooi bespreek het. In 2006 is die vorige Stille Oseaan-drienasies met die nuwe Stille Oseaan-nasiesbeker vervang. Die eerste toernooi (aanvanklik Stille Oseaan-vyfnasies genoem) het Samoa in die tweede plek afgesluit. Tydens die Rugbywêreldbeker 2007 in Frankryk het die Samoane weereens die kwarteindrondte misgeloop. Hulle het teen Suid-Afrika met 7–59, teen Tonga met 15–19 en teen Engeland met 22–44 verloor; hul 25–21-oorwinning teen die Verenigde State was nie meer van belang nie.[52] Die voortdurende gebrek aan die beste spelers was in September 2008 besonder opvallend, toe Samoa in Nieu-Plymouth in ’n vriendskaplike wedstryd teen Nieu-Seeland te staan gekom en met 14–101 verloor het; tot op hede is dit hul ergste nederlaag.[53] Hul klasverskil teenoor die vernaamste rugbylande was net só groot soos hul verskil teenoor die meeste Stille Oseaan-buurlande. Tydens die daaropvolgende rugbywêreldbekerkwalifisering was die Oseaniese bekerwenner die enigste struikelblok: Papoea-Nieu-Guinee is in Julie 2009 met 115–7 en 73–12 oorrompel; dié eersgenoemde oorwinning is tot op hede die hoogste in die Samoaanse rugbygeskiedenis.[54]

Verdere ontwikkeling

In 2010 het Samoa die Stille Oseaan-nasiesbeker vir die eerste keer gewen. Tydens die 2011 midjaarrugbytoetsreeks het hulle nog ’n verrassing teen ’n vlak-een-span aangeteken, toe Australië in Sydney met 32–23 geklop is; dit was hul eerste oorwinning teen dié span.[55] Tydens die Rugbywêreldbeker 2011 in Nieu-Seeland het die Samoane in die eerste groepwedstryd Namibië met 49–12 geklop. Daarop het ’n naelskraapse 10–17-nederlaag teen Wallis en ’n 27–7-oorwinning teen Fidji gevolg. Om tot die kwarteindrondte te vorder moes hulle in die laaste wedstryd die destydse kampioen Suid-Afrika klop. Die Samoane kon goed tred hou en het naelskraap met 5–13 verloor. Met hul derde plek in die groep het hulle regstreeks vir die daaropvolgende rugbywêreldbeker gekwalifiseer.[56] Aansluitend het Samoa vir die tweede keer die Stille Oseaan-nasiesbeker gewen en tydens die 2013 midjaarrugbytoetsreeks hul eerste oorwinning teen Skotland aangeteken. Tydelik het Samoa weens sy goeie prestasies op Wêreldrugby se wêreldranglys die sewende plek beklee, ’n uitstekende plek vir ’n Stille Oseaan-span. Tydens die Stille Oseaan-nasiesbeker 2015 het hulle die eindstryd in die Kanadese stad Burnaby teen Fidji met 29–39 verloor.[57]

Die Rugbywêreldbeker 2015 in Engeland het teleurstellend verloop. Hulle het net daarin geslaag om in die eerste wedstryd die Verenigde State te oorheers en hulle met 25–16 geklop. Daarop het nederlae teen Suid-Afrika (met 6–46), Japan (met 5–26) en Skotland (met 33–36) gevolg. Die span het net in die vierde plek geëindig en sodoende hul regstreekse kwalifisering vir die daaropvolgende toernooi misgeloop.[58] Samoa het vervolgens op Wêreldrugby se wêreldranglys afgegly. Dit was veral te wyte aan ’n reeks nederlae van nege wedstryde wat in Junie 2017 begin het – meer as ooit tevore. Dit het ook die rugbywêreldbekerkwalifisering ingesluit. Vervolgens moes die Samoane in Julie 2018 ’n interkontinentale uitspeelwedstryd teen Duitsland speel. Met twee oorwinnings (met 66–15 tuis en met 42–28 weg in Heidelberg) het hulle hul negatiewe reeks beëindig en vir die toernooi gekwalifiseer.[59] Die Rugbywêreldbeker 2019 het net soos vier jaar voorheen verloop. Op die oorwinning teen Rusland (met 34–9) het duidelike nederlae teen Skotland (met 0–34), die gasheer Japan (met 19–38) en Ierland (met 5–47) gevolg. Samoa het weer in die vierde plek geëindig en sodoende opnuut hul regstreekse kwalifisering vir die daaropvolgende toernooi misgeloop.[60]

As gevolg van die reisbeperkings tydens die wêreldwye Covid-19-pandemie het Samoa in 2020 nie in ’n enkele wedstryd gespeel nie en ook in 2021 was die wedstrydkalender erg beperk. Hulle kon twee kwalifiseringswedstryde teen Tonga speel en albei wen, waarmee hulle vir die hooftoernooi gekwalifiseer het.[61] Al drie Samoaanse wedstryde tydens die 2021 eindjaarrugbytoetsreeks moes ná positiewe Covid-19-toetse afgelas word.

Aan die begin van 2022 het Wêreldrugby ’n nuwe reël geïmplementeer wat vir die Stille Oseaan-eilandstate as baie voordelig beskou word. Hiervolgens kan nasionale spelers van ’n “groot” rugbylande na ’n ander nasie oorskakel, ongeag die aantal toetswedstryde wat tot dusver gespeel is. Hiervoor moes 36 maande verloop het sedert die laaste toetswedstryd en die speler moet in die betrokke land gebore wees; ’n oorskakeling is ook moontlik met ’n ouer of grootouer wat daar gebore is. Volgens verwagtinge sal talle spelers met ’n Samoaanse, Fidjiaanse of Tongaanse herkoms tydens die Rugbywêreldbeker 2023 vir hul oorspronklike nasie kan speel.[62]

Kleure, embleem en bynaam

Samoa speel tradisioneel in ’n blou trui met rooi kleuraksente, wit broeke en blou sokkies. Hul alternatiewe trui is wit met blou en rooi kleuraksente, blou broeke en wit sokkies.

Die huidige truiverskaffer is sedert 2021 die Australiese vervaardiger Dynasty Sport[63] en die truiborg is sedert 2018 die Samoaanse toerismemaatskappy Grey Investment Group.[64] Die beheerliggaam se kenteken verskyn op die regterbors, die truiverskaffer se kenteken links en die borgkenteken in die middel.

Die beheerliggaam Rugby Samoa se kenteken toon die wapen van Samoa met die belettering Samoa Rugby Union daaronder. Die embleem toon die Suiderkruis, die nasionale simbool van Samoa.

Die Siva Tau

 
Samoa voer hulle vorm van die Haka uit voor die span se Poel A-wedstryd teen Suid-Afrika by die Rugbywêreldbeker 2007
 
Samoa voer die Siva Tau uit voor die wedstryd teen Suid-Afrika by die Rugbywêreldbeker 2011

Voor elke wedstryd voer die span ’n Siva Tau, wat verwant is aan die All Blacks se Haka, uit. Dié oorlogsdans het die doel om die opponent te intimideer en hulself aan te moedig. Die nasionale span in Australiese voetbal voer ook hierdie oorlogsdans uit. Die Manu Siva Tau is ’n Samoaanse oorlogsdans wat deur Samoa se nasionale spanne voor elke wedstryd opgevoer word. Die Samoaanse nasionale rugbyspan voer die tradisionele Ma’ulu’ulu Moa op hul toere op. Voor die Rugbywêreldbeker 1991 is die Manu-oorlogslied saamgestel, dit is as meer effektief beskou om spelers in ’n sielkundige opsig “op te laai”.[65][66]

SamoaansAfrikaans

Le Manu Samoa e ua malu ona fai o le faiva (2×)
Le Manu Samoa lenei ua ou sau
Leai se isi Manu oi le atu laulau
Ua ou sau nei ma le mea atoa
O lou malosi ua atoatoa
Ia e faatafa ma e soso ese
Leaga o lenei manu e uiga ese
Le Manu Samoa
Le Manu Samoa
Le Manu Samoa e o mai I Samoa hi

Manu Samoa, mag u slaag met u missie (2×)
Manu Samoa, hier kom ek
Daar is geen ander Manu (span) nie
Hier kom ek, heeltemal voorbereid
My sterkte is op sy hoogte
Maak pad en beweeg eenkant
Want dié Manu is uniek
Manu Samoa
Manu Samoa
Die Manu Samoa regeer vanaf Samoa

Tuisstadion

Samoa se tuisstadion is die Apiapark in die hoofstad Apia met ’n kapasiteit van 8 000. Dié stadion is in 1924 ingewy en het sedertdien elke tuiswedstryd aangebied.[67]

Toetswedstryde

 
Samoa se plek op Wêreldrugby se ranglys van 10 Oktober 2003 tot op hede

Samoa het 121 van sy 274 toetswedstryde gewen, ’n wenrekord van 44,16%. Samoa se statistieke in toetswedstryde teen alle lande, in alfabetiese volgorde, is soos volg (korrek in September 2022):[68]

TeenGespeelGewenVerloorGelykop% Gewen
  Amerikaans-Samoa2200100
  Argentinië431075,00
  Australië615016,67
  België1100100
  Cookeilande3300100
  Duitsland3300100
  Engeland80800,00
  Fidji582134336,21
  Frankryk40400,00
  Georgië513120,00
   Ierland716014,29
  Italië743057,14
  Japan16115068,75
  Kanada6600100
  Korea1100100
  Namibië2200100
  Nieu-Kaledonië320166,67
  Nieu-Seeland60600,00
  Nieu-Seelandse Maori1201200,00
  Papoea-Nieu-Guinee3300100
  Roemenië20200,00
  Rusland1100100
  Salomonseilande2200100
  Skotland1211018,33
  Spanje1100100
  Suid-Afrika90900,00
  Tahiti2200100
  Tokelau1100100
  Tonga693827455,07
  Uruguay1100100
  Verenigde State752071,43
  Wallis1046040,00
Algeheel274121144944,16

Rekorde

Wêreldbekerrekord

Samoa het tot dusver aan amper elke rugbywêreldbekertoernooi deelgeneem, met uitsondering van die Rugbywêreldbeker 1987 in Australië en Nieu-Seeland. Hul beste prestasie tot dusver was hul vordering tot die kwarteindrondte in 1991 en 1995.

JaarUitslag
1987Nie genooi nie
1991Kwarteindrondte
1995Kwarteindrondte
1999Kwarteindrondte uitspeelwedstryd
2003Poelfase
2007Poelfase
2011Poelfase
2015Poelfase
2019Poelfase
2023gekwalifiseer
2027N.v.t.
2031N.v.t.

Stille Oseaan-drienasies

Die Stille Oseaan-drienasies was van 1982 tot 2005 die tradisionele jaarlikse toernooi tussen die drie Stille Oseaan-rugbylande Fidji, Samoa en Tonga. Hulle het die toernooi tien keer gewen.

  • Titeloorwinnings (10): 1982, 1990, 1991, 1992, 1993, 1997, 1999, 2000, 2001, 2005

Stille Oseaan-nasiesbeker

Samoa se enigste jaarlikse toernooi sedert 2006 is die Stille Oseaan-nasiesbeker, waartydens hulle teen Fidji en Tonga speel (soms word ook ander nasionale span genooi). Hulle het die toernooi vier keer gewen.

  • Titeloorwinnings (4): 2010, 2012, 2014 (gedeel), 2022

Stille Oseaanrand Rugbykampioenskap

Samoa het drie keer aan die Stille Oseaanrand Rugbykampioenskap deelgeneem en die toernooi eenkeer gewen.

  • Titeloorwinnings (1): 2000

Suid-Stille Oseaan-spele

Samoa het vyf keer aan die Suid-Stille Oseaan-spele se rugbytoernooi deelgeneem en twee keer gewen.

  • Titeloorwinnings (2): 1971, 1991

Ander toetswedstryde

Gedurende die amateurtydperk het Samoa deels maandelange oorsese toere onderneem, waartydens hulle teen ander nasionale spanne, plaaslike saamgestelde spanne en klubspanne gespeel het. Eweneens het hulle ander nasionale spanne in Samoa gehuisves. Teen die jaar 2000 het die oorsese toere volgens die ou tradisie tot ’n einde gekom, aangesien die professionalisering van die rugbyspel te min tyd vir toere oorlaat. Vandag is toetswedstryde teen die spanne van die Noordelike Halfrond gedurende twee tydstippe van die jaar moontlik. Gedurende die Juniemaand se midjaarrugbytoetsreeks vertrek Europese spanne na Samoa, terwyl gedurende die Novembermaand se eindjaarrugbytoetsreeks Samoa na Europa vertrek. In teenstelling met die meeste ander rugbylande speel Samoa nie vir enige trofee teen sy opponente nie.

Spelers

Huidige span

Die volgende spelers het Samoa se span tydens die Stille Oseaan-nasiesbeker 2022 gevorm:[69]

Agterspelers (backs)

SpelerPosisieKlubToetswedstryde
Ere EnariSkrumskakelMoana Pasifika1
Auvasa FalealiʻiSkrumskakelPapatoetoe5
Jonathan TaumateineSkrumskakelMoana Pasifika3
AJ AlatimuLosskakelSeattle Seawolves6
Rodney IonaLosskakelBrumbies6
D’Angelo LeuilaLosskakelMoana Pasifika15
Nigel Ah WongSenterBlues1
Duncan PaiaʻauaSenterToulon0
Henry TaefuSenterMoana Pasifika10
Danny ToalaSenterMoana Pasifika1
Ed FidowVleuelRugby New York14
Neria FomaiVleuelMoana Pasifika3
Lolagi VisiniaHeelagterMoana Pasifika1

Voorspelers (forwards)

SpelerPosisieKlubToetswedstryde
Seilala LamHakerUSA Perpignan18
Ray NiuiaHakerMoana Pasifika11
Andrew TualaHakerLA Giltinis1
Michael Alaʻalatoa  StutLeinster8
Sef FaʻagaseStutQueensland Reds0
Marco FepuleaʻiStutLA Giltinis1
Aki SeiuliStutDragons1
Kalolo TuilomaStutRugby New York2
Michael CurrySlotMoana Pasifika0
Theo McFarlandSlotSaracens3
Sam SladeSlotMoana Pasifika3
Chris VuiSlotBristol Bears19
Jack LamLosvoorspelerMoana Pasifika41
Fritz LeeLosvoorspelerClermont1
Alamanda MotugaLosvoorspelerMoana Pasifika4
Olajuwon NoahLosvoorspelerSharks3
Henry StowersLosvoorspelerMoana Pasifika5
Jordan TaufuaLosvoorspelerLyon0

Bekende spelers

  
Gavin Williams (2010)
Census Johnston (2013)
  
Sakaria Taulafo (2014)
Mahonri Schwalger (2015)

Twee voormalige Samoaanse spelers is vir hul uitstekende prestasie in Wêreldrugby se Heldesaal opgeneem:[70]

SpelerPosisieInskrywing
Brian LimaVleuel, Senter2011
Peter FatialofaStut2019

Spelerstatistieke

Vervolgens die belangrikste statistieke van Samoa se spelers. Die spelers wat met * gekenmerk is, is nog aktief en kan hul statistieke verbeter.

(Korrek teen: September 2022)

Meeste toetswedstryde[71]
RangNaamTydperkToetswedstryde
01Brian Lima1991–200765
02Toʻo Vaega1986–200161
03Semo Sititi1999–200959
04Census Johnston2005–201757
05David Lemi2004–201754
06Sakaria Taulafo2009–201644
07Opeta Palepoi1998–200543
08Jack Lam *2013–202242
09Tusi Pisi2011–201942
10Ofisa Treviranus2009–201842
Meeste toetswedstryde as kaptein[72]
RangNaamTydperkToetswedstryde
01Semo Sititi2000–200739
02Pat Lam1995–199923
03David Lemi2012–201721
04Peter Fatialofa1990–199516
05Mahonri Schwalger2009–201113
06Jack Lam *2018–202209
07Chris Vui *2017–202208
08George Stowers2008–200907
09Kahn Fotualiʻi *2013–202205
10Ofisa Treviranus201504
Meeste punte aangeteken[73]
RangNaamTydperkPunte
01Tusi Pisi2011–2019245
02Earl Vaʻa1996–2003174
03Silao Leaega1997–2002145
04Brian Lima1991–2007140
05Darren Kellett1993–1995137
06Roger Warren2004–2008119
07Gavin Williams2007–2010106
08Tanner Vili1999–2006099
09Alesana Tuilagi2002–2015090
10Andrew Aiolupo1983–1994089
Meeste drieë gedruk[74]
RangNaamTydperkDrieë
01Brian Lima1991–200729
02Alesana Tuilagi2002–201518
03Semo Sititi1999–200917
04Afato Soʻoalo1996–200116
05Lome Faʻatau2000–200714
06Toʻo Vaega1986–200114
07David Lemi2004–201713
08Ed Fidow *2018–202212
09George Leaupepe1995–200510
10Drie spelers met nege drieë elk

Afrigters

  
Michael Jones (2017)
Bryan Williams (2018)

Samoa het in 1988 met Peter Schuster sy eerste afrigter benoem. Sedert 2020 dien die Samoaan Seilala Mapusua as Samoaanse hoofafrigter.

NaamTydperk
  Peter Schuster1988–1995
  Bryan Williams1996–1999
  John Boe2000–2003
  Michael Jones2004–2007
  Niko Palamo2008–2009
  Titimaea Tafua2009–2011
  Scott Wisemantel2011
  Stephen Betham2012–2015
  Alama Ieremia2016–2017
  Titimaea Tafua2017–2018
  Steve Jackson2018–2020
  Seilala Mapusuasedert 2020

Verwysings

  1. (en) "Most matches". ESPNscrum. Besoek op 18 September 2022.
  2. (en) "Most points". ESPNscrum. Besoek op 18 September 2022.
  3. (en) "Most tries". ESPNscrum. Besoek op 18 September 2022.
  4. (en) "World Rugby Rankings". Wêreldrugby. Besoek op 18 September 2022.
  5. (en) "We quit: SRU". Samoa Observer. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 20 Februarie 2012.
  6. 6,0 6,1 6,2 6,3 (en) "Rugby History in Fiji". Teivovo. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 14 November 2007. Besoek op 6 Oktober 2007.
  7. (en) "Member Unions". Wêreldrugby. Besoek op 18 September 2022.
  8. 8,0 8,1 8,2 8,3 (en) Robert F. Dewey (2012). John Nauright, Charles Parrish (red.). Rugby Union Football, Pacific Islands. Sports around the world: History, culture and practice (1 uitg.). Santa Barbara: ABC-Clio. pp. 445–447. ISBN 978-1-59884-300-2.
  9. (en) "World Rugby U20 Championship". Wêreldrugby. Besoek op 18 September 2022.
  10. 10,0 10,1 (en) "Samoa quits Pacific Islands Rugby Alliance". Planet Rugby. 17 Julie 2009. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 21 Julie 2009. Besoek op 12 Desember 2021.
  11. (en) "World Rugby raises international eligibility period from three to five years". BBC. 10 Mei 2017. Besoek op 18 September 2022.
  12. 12,0 12,1 (en) "Pacific's brawn drain is world rugby's gain". North West Star. 7 Oktober 2011. Besoek op 18 September 2022.
  13. (en) "Next steps in Pacific Island professional teams' journey confirmed by NZ Rugby". All Blacks. 14 April 2021. Besoek op 18 September 2022.
  14. (en) "Why Samoans Are 40 Times More Likely to Play in the NFL". GV Wire. 15 Augustus 2019. Besoek op 18 September 2022.
  15. (en) "Brief history of Marist Brothers primary school Mulivai". Marist Brothers Old Pupils Association. 2021. Besoek op 18 September 2022.
  16. (en) "Samoa Tourism to Celebrate 100 Years of Samoan Rugby". Stille Oseaan-toerisme-organisasie. 2020. Besoek op 18 September 2022.
  17. (en) "1924 Fiji tour to Western Samoa and Tonga". rugbyarchive.net. 2021. Besoek op 18 September 2022.
  18. (en) "1926 Tonga tour to Fiji and Western Samoa". rugbyarchive.net. 2021. Besoek op 18 September 2022.
  19. (en) "1947 Tonga tour to Fiji and Western Samoa". rugbyarchive.net. 2021. Besoek op 18 September 2022.
  20. (en) "1960 New Zealand Maori tour to Western Samoa and Tonga". rugbyarchive.net. 2021. Besoek op 18 September 2022.
  21. (en) "Rugby Football". First South Pacific Games: Official report and results. Suva: Fiji Times and Herald. 1963. pp. 44–47. Besoek op 18 September 2022.
  22. (en) "South Pacific Games 1971". rugbyarchive.net. 2021. Besoek op 18 September 2022.
  23. (en) Keith Quinn (8 Julie 2015). "Some stuff You never knew about the rise and rise of Samoa rugby – and New Zealand's role in its early years". Keith Quinn Rugby. Besoek op 18 September 2022.
  24. (en) "South Pacific Games 1979". rugbyarchive.net. 2021. Besoek op 18 September 2022.
  25. (en) "South Pacific Games 1983". rugbyarchive.net. 2021. Besoek op 18 September 2022.
  26. (en) "1987 Rugby World Cup: The long road to the cup". New Zealand History. 2021. Besoek op 18 September 2022.
  27. (en) "How a Welsh rugby disaster led to a newborn child being given the most bizarre name ever". Wales Online. 19 Junie 2017. Besoek op 18 September 2022.
  28. (en) Robert F. Dewey (2008). Greg Ryan (red.). Pacific Islands rugby: Navigating the global professional era. The changing face of rugby: The Union game and professionalism since 1995. Newcastle: Cambridge Scholars Publishing. p. 89. ISBN 978-1-84718-530-3.
  29. (en) "1988 Western Samoa tour to Wales and Ireland". rugbyarchive.net. 2021. Besoek op 18 September 2022.
  30. (en) "1989 Western Samoa tour to Europe". rugbyarchive.net. 2021. Besoek op 18 September 2022.
  31. (en) "1991 Rugby World Cup – Asia/Oceania qualifiers". rugbyarchive.net. 2021. Besoek op 18 September 2022.
  32. (en) "1991 South Pacific Games". rugbyarchive.net. 2021. Besoek op 18 September 2022.
  33. (en) Richard Seeckts (6 Oktober 1991). "Western Samoa hand Wales a lesson". ESPNscrum. Besoek op 18 September 2022.
  34. (en) Liam Heagney (17 Oktober 2021). "We were the poor cousins': Samoa's 1991 World Cup upset 30 years on". Rugby Pass. Besoek op 18 September 2022.
  35. (en) "Rugby World Cup 1991: Overview". rugbyworldcup.com. 2019. Besoek op 18 September 2022.
  36. (en) "1993 Western Samoa tour to New Zealand". rugbyarchive.net. 2021. Besoek op 18 September 2022.
  37. (en) "Rugby World Cup 1995: Overview". rugbyworldcup.com. 2019. Besoek op 18 September 2022.
  38. (en) Richard Bath (1997). The Complete Book of Rugby. Seven Oaks Ltd. p. 67. ISBN 1-86200-013-1.
  39. (en) "Fay: Samoans need change". The New Zealand Herald. 29 Oktober 2011. Besoek op 18 September 2022.
  40. (en) Robert F. Dewey (2008). Greg Ryan (red.). Pacific Islands rugby: Navigating the global professional era. The changing face of rugby: The Union game and professionalism since 1995. Newcastle: Cambridge Scholars Publishing. p. 99. ISBN 978-1-84718-530-3.
  41. (en) "1995 Western Samoa tour to Scotland and England". rugbyarchive.net. 2021. Besoek op 18 September 2022.
  42. (en) Tom Cary (12 Oktober 2019). "Ireland's horrendous defeat at Lansdowne Road to Samoa serves as a warning from history ahead of crucial World Cup clash". The Daily Telegraph. Besoek op 18 September 2022.
  43. (en) "1999 Rugby World Cup – Oceania qualifiers". rugbyarchive.net. 2021. Besoek op 18 September 2022.
  44. (en) "Samoa crash Jenkins' party". BBC. 14 Oktober 1999. Besoek op 18 September 2022.
  45. (en) "Rugby World Cup 1999: Overview". rugbyworldcup.com. 2019. Besoek op 18 September 2022.
  46. (en) Jeremy Duxbury (8 Julie 2001). "Fiji triumph 28–17 over Samoa". Fidjiaanse Rugbyunie. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 20 Junie 2003. Besoek op 18 September 2022.
  47. (en) "Fiji qualify for World Cup finals". Raidió Teilifís Éireann. 6 Julie 2002. Besoek op 18 September 2022.
  48. (en) "2003 Samoa tour to southern Africa". rugbyarchive.net. 2021. Besoek op 9 Januarie 2002.
  49. (en) "England survive Samoa scare". BBC. 26 Oktober 2003. Besoek op 18 September 2022.
  50. (en) "Rugby World Cup 2003: Overview". rugbyworldcup.com. 2019. Besoek op 18 September 2022.
  51. (en) Robert F. Dewey (2008). Greg Ryan (red.). Pacific Islands rugby: Navigating the global professional era. The changing face of rugby: The Union game and professionalism since 1995. Newcastle: Cambridge Scholars Publishing. pp. 95–97. ISBN 978-1-84718-530-3.
  52. (en) "Rugby World Cup 2007: Overview". rugbyworldcup.com. 2019. Besoek op 18 September 2022.
  53. (en) "All Blacks thrash Samoa by record margin". The Irish Times. 3 September 2008. Besoek op 18 September 2022.
  54. (en) "Samoa put 100 points on PNG". Planet Rugby. 12 Julie 2009. Besoek op 18 September 2022.
  55. (en) "Samoa shock Australia with 32–23 win in Sydney". BBC. 17 Julie 2011. Besoek op 18 September 2022.
  56. (en) "Rugby World Cup 2011: Overview". rugbyworldcup.com. 2019. Besoek op 18 September 2022.
  57. (en) "Fiji defeats Samoa 39–29 in wild Pacific Nations Cup final". Huffpost. 8 Maart 2015. Besoek op 18 September 2022.
  58. (en) "Rugby World Cup 2015: Matches". rugbyworldcup.com. 2019. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 22 Junie 2020. Besoek op 18 September 2022.
  59. (de) "Fremdgehen mit ovalem Ball: Rugby-WM-Quali Deutschland vs Samoa 28:42". Der Ballreiter. 17 Julie 2017. Besoek op 18 September 2022.
  60. (en) "Rugby World Cup 2019: Matches". rugbyworldcup.com. 2019. Besoek op 18 September 2022.[dooie skakel]
  61. (en) Aaron Goile (17 Julie 2021). "Manu Samoa down Tonga again, secure Rugby World Cup 2023 qualification". Stuff. Besoek op 18 September 2022.
  62. (en) "World Rugby's tweak of eligibility rule game changing for Pacific Island unions". stuff.co.nz. 25 November 2021. Besoek op 23 Januarie 2022.
  63. (en) "Manu Samoa Rugby Official Apparel". Dynasty Sport. Besoek op 18 September 2022.
  64. (en) Joyetter Feagaimaali’i-Luamanu (1 Julie 2018). "Samoa Rugby gets 1 million Tala boost". Samoa Observer. Besoek op 18 September 2022.
  65. (en) "The Manu Siva Tau". Tuilagi Rugby Academy. 2021. Besoek op 18 September 2022.
  66. (en) "Learn the awesome Samoan manu!". BBC. Besoek op 18 September 2022.
  67. (en) John Naurigh, Charles Parrish (2012). Sports Around the World: History, Culture, and Practice. Santa Barbara: ABC-CLIO. p. 446. ISBN 978-1-59884-300-2.
  68. (en) "International Rugby Union Statistics – Samoa". ESPNscrum. Besoek op 18 September 2022.
  69. (en) "Vaovasamanaia announces Manu Samoa Team vs Tonga World Rugby Pacific Nations Cup". Rugby Samoa. 7 Julie 2022. Besoek op 18 September 2022.
  70. (en) "Inductees". Wêreldrugby. Besoek op 18 September 2022.
  71. (en) "Total matches played (descending)". ESPNscrum. Besoek op 18 September 2022.
  72. (en) "Total matches played as captain (descending)". ESPNscrum. Besoek op 18 September 2022.
  73. (en) "Total points scored (descending)". ESPNscrum. Besoek op 18 September 2022.
  74. (en) "Total tries scored (descending)". ESPNscrum. Besoek op 18 September 2022.

Verdere leesstof

  • (en) Robert F. Dewey (2008). Greg Ryan (red.). Pacific Islands rugby: Navigating the global professional era. The changing face of rugby: The Union game and professionalism since 1995. Newcastle: Cambridge Scholars Publishing. ISBN 978-1-84718-530-3.
  • (en) Richard Bath (1997). The Complete Book of Rugby. Seven Oaks Ltd. ISBN 1-86200-013-1.
  • (en) J. R. Jones (1976). Encyclopedia of Rugby Union Football. Londen: Robert Hale. ISBN 0-7091-5394-5.

Eksterne skakels

#Wikipedia® is a registered trademark of the Wikimedia Foundation, Inc. Wiki (Study in China) is an independent company and has no affiliation with Wikimedia Foundation.
This article uses material from the Wikipedia article Samoaanse nasionale rugbyspan, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply. (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 3.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.