Tv-Reeks The Crown: Historiese TV-dramareeks oor die bewind van koningin Elizabeth II

The Crown is 'n historiese TV-dramareeks oor die bewind van koningin Elizabeth II, wat geskep en hoofsaaklik geskryf is deur Peter Morgan en vervaardig is deur Left Bank Pictures en Sony Pictures Television vir Netflix.

Morgan het dit ontwikkel van sy dramarolprent The Queen (2006) en veral sy verhoogproduksie The Audience (2013).

The Crown
Tv-Reeks The Crown: Rolverdeling, Seisoene, Vervaardiging
GenreHistoriese drama
SkepperPeter Morgan
Besetting
TemamusiekkomponisHans Zimmer
Komponis(te)
  • Rupert Gregson-Williams (s. 1-2)
  • Lorne Balfe (s. 2)
  • Martin Phipps (s. 3-4)
Land van oorsprong
Oorspronklike taalEngels
Aantal seisoene5
Aantal episodes50
Produksie
Uitvoerende vervaardiger(s)
  • Peter Morgan
  • Stephen Daldry
  • Andy Harries
  • Philip Martin
  • Suzanne Mackie
  • Matthew Byam Shaw
  • Robert Fox
  • Tanya Seghatchian
  • Nina Wolarsky
  • Allie Goss
  • Benjamin Caron
Vervaardiger(s)Andrew Eaton
Vervaardigings-lokasie(s)VK
Speeltyd47-61 minute
Vervaardigings-maatskappy(e)
  • Left Bank Pictures
  • Sony Pictures Television
VerspreiderNetflix Streaming Services
Vrystelling
Oorspronklike netwerkNetflix
Beeldformaat4K (Ultra-HD)
Oorspronklike vrystelling4 November 2016 (2016-11-04) –
tans
Eksterne skakels
Webwerf

Die eerste seisoen dek die tydperk van koningin Elizabeth se troue met prins Philip in 1947 tot die beëindiging van haar suster, prinses Margaret, se verlowing aan Peter Townsend in 1955. Die tweede seisoen handel oor die tydperk van die Suezkrisis in 1956 tot die aftrede van premier Harold Macmillan in 1963 en die geboorte van prins Edward in 1964. Die derde seisoen dek van 1964 tot 1977 en sluit Harold Wilson se twee tydperke as premier in. Dit stel ook Camilla Shand bekend. Die vierde seisoen handel oor die tydperk van 1979 tot die vroeë 1990's en sluit Margaret Thatcher se tyd as premier en prins Charles se troue met lady Diana Spencer in. Die vyfde en sesde seisoen, wat die reeks sal afsluit, gaan oor die koningin se bewind tot in die 21ste eeu.

Tv-Reeks The Crown: Rolverdeling, Seisoene, Vervaardiging
Claire Foy vertolk in die eerste twee seisoene die rol van koningin Elizaberh II.

Vir elke twee seisoene vertolk nuwe akteurs die rolle om op te maak vir die verouderingsproses. Claire Foy speel die rol van die koningin in die eerste twee seisoene, met Matt Smith as prins Philip en Vanessa Kirby as prinses Margaret. Vir die derde en vierde seisoen neem Olivia Colman oor as die koningin, Tobias Menzies as prins Philip en Helena Bonham Carter as prinses Margaret. In seisoen drie sluit Josh O'Connor by die rolverdeling aan as prins Charles. In die vierde seisoen sluit die nuwe akteurs in Emma Corrin as lady Diana Spencer en Gillian Anderson as Margaret Thatcher. Imelda Staunton, Jonathan Pryce en Lesley Manville het by Colman, Menzies en Bonham Carter oorgeneem vir die laaste twee seisoene, terwyl Dominic West en Elizabeth Debicki die rolle van onderskeidelik Charles en Diana vertolk.

Die verfiling vind plaas in Borehamwood, Hertfordshire, asook deur die Verenigde Koninkryk en internasionaal. Netflix het die eerste seisoen op 4 November 2016 uitgereik, die tweede op 8 Desember 2017, die derde op 17 November 2019, die vierde op 15 November 2020 en die vyfde op 9 November 2022. Teen 2020 was die geraamde vervaardigingsbegroting van The Crown na berig word $260 miljoen, wat dit die duurste TV-reeks maak wat nog vervaardig is.

The Crown het lof by resensente ontvang vir die toneelspel, regie, skryfwerk, kinematografie en vervaardiging, hoewel die historiese onakkuraathede soms kritiek ontlok, veral in die vierde seisoen. Dit het al verskeie pryse en benoemings gewen, insluitende altesaam 63 Emmy-benoemings vir die eerste vier seisoene, waarvan dit 21 gewen het. Die reeks het ook die Golden Globe vir beste TV-dramareeks ontvang op die 74ste en 78ste toekenningsaand, met nog pryse vir Foy, Colman, Corrin, O'Connor en Anderson.

Rolverdeling

Die hoofkarakters in The Crown, in die volgorde van die erkenningslys van die eerste episodes, is:

Seisoene

      Seisoen   Episodes  Uitgereik
1 10 4 November 2016 (2016-11-04)
2 10 8 Desember 2017 (2017-12-08)
3 10 17 November 2019 (2019-11-17)
4 10 15 November 2020 (2020-11-15)
5 10 5 November 2022 (2022-11-05)
6 10 16 November 2023 (2023-11-16) / 14 Desember 2023 (2023-12-14)

Vervaardiging

Ontwikkeling

In November 2014 is aangekondig Netflix gaan die 2013-toneelstuk The Audience in 'n TV-reeks omskep. Peter Morgan, wat die toneelstuk en die draaiboek vir die 2006-rolprent The Queen geskryf het, is die hoofdraaiboekskrywer vir The Crown. Die regisseurs vir die eerste seisoen was Stephen Daldry, Philip Martin, Julian Jarrold en Benjamin Caron.

Die eerste seisoen, wat uit 10 episodes bestaan, was die duurste produksie nog van Netflix en Left Bank Pictures. Dit het minstens £100 miljoen gekos. Opdrag is gegee vir nog 'n seisoen, met nog vier seisoene beplan sodat die reeks oor 60 episodes en ses seisoene sou strek.

In Januarie 2020 het Morgan aangekondig 'n vyfde en finale seisoen word beplan, al sou dit aanvanklik uit ses seisoene bestaan het. Morgan het gesê terwyl hy aan die vyfde seisoen gewerk het, het dit vir hom "duidelik geword dat dit die perfekte tyd en plek is om te stop"; Netflix en Sony het sy besluit ondersteun. In Julie 2020 het Netflix egter aangekondig daar sal ses seisoene wees, soos aanvanklik beplan. Morgan het daarmee saamgestem. Hy het bygevoeg die finale twee seisoene sal dit moontlik maak "om dieselfde tydperk in fyner besonderhede te dek".

Verfilming

Sowat 25% van die eerste seisoen is by die Elstree-ateljee in Borehamwood, Hertfordshire, verfilm. Die res is elders geskiet, en die verfilming het altesaam 152 dae geduur. Stelle vir privaat kwartiere, die binnekant van 'n privaat straler, die kabinetskamer en die buitekant van 10 Downing Street is by die Elstree-ateljee gebou, terwyl Lancaster House, Wrotham Park en Wilton House gebruik is vir tonele van Buckingham-paleis. Ely- en Winchester-katedraal het ingestaan vir Westminster-abdy, terwyl terreine in Suid-Afrika ook gebruik is vir tonele in Kenia. Bykomende terreine in die VK sluit in Belvoir-kasteel, Waddesdon Manor, Eltham-paleis, Shoreham-lughawe, Balmoral-kasteel, Loseley Park, Hatfield House, Southwark-katedraal en Wellington-kollege.

Die verfilming van die tweede seisoen het vroeg in Oktober 2016 begin. Daar is in Julie 2018 aan die derde seisoen begin skiet en in Augustus 2019 aan die vierde seisoen. Die verfilimg van die vyfde seisoen het in Julie 2021 begin. Die première was op 9 November 2022.

Die toneel van die verwydering van koning George VI se kankeragtige long is nagevors en beplan deur Pankaj Chandak, 'n spesialis in oorplantingschirurgie by Guy's Hospital, Londen. Chandak en sy chirurgiese span het toe deel van die toneel geword wat vir die reeks geskiet is. Die chirurgiese model van koning King George VI is aan die Gordon-patologiemuseum in Londen geskenk as 'n hulpmiddel vir onderrig.

Historiese akkuraatheid

Die reeks is beide veroordeel en gekritiseer oor sy uitbeelding van historiese gebeure.

Seisoen 1

In die reeks word gewys hoe Churchill se vrou, Clementine, toekyk hoe haar man sy portret deur Graham Sutherland verbrand ná Churchill se aftrede. Die skildery is in werklikheid verbrand deur die broer van hulle privaat sekretaris, Grace Hamblin, sonder dat Hamblin self betrokke was.

Die koninklike biograaf Hugo Vickers ontken dat prinses Margaret as monarg waargeneem het terwyl die koningin op toer was. Hy beweer haar toespraak by die ambassadeursontvangs het nooit plaasgevind nie. Die koninginmoeder het die Kasteel van Mey 'n jaar vroeër gekoop as wat uitgebeeld word, en het prins Charles en prinses Anne versorg terwyl die koningin weg was.

Die reeks word vertolk as dat die koningin en Churchill prinses Margaret gedwing het om van haar plan af te sien om met Peter Townsend te trou. Die koningin lig haar in die reeks in dat sy volgens die Royal Marriages Act van 1772 nie meer lid van die familie sal kan wees as hulle trou nie. Daar is egter bewyse dat pogings in werklikheid aangewend is om enige uitstel te voorkom, wat Margaret sou toegelaat het om haar koninklike titel en toelae te behou, in die land te bly en haar koninklike pligte voort te sit.

Seisoen 2

Nadat seisoen 2 uitgereik is, het Peggy Noonan van The Wall Street Journal kommentaar oor die historiese akkuraatheid daarvan gelewer en gevra vir "groter waarheid in kuns en vermaak". Die fotograaf Baron Nahum kom byvoorbeeld dwarsdeur dié seisoen voor, maar het in werklikheid in 1956 al gesterf. Die reeks wys ook hoe die koningin 'n toespraak by 'n Jaguar-fabriek lewer, terwyl daar geen bewyse is dat dit gebeur het nie. En hoewel sy dalk lord Altrincham kon ontmoet het om sy artikel te bespreek is daar geen bewyse daarvan nie.

Vickers het geskryf die koningin het wel die Hertog van Windsor veroordeel nadat sy die Marburg-dokumente gelees het, maar meen die reeks gee die verkeerde indruk dat die hertog uit die koninklike familie verban is nadat dit gepubliseer is. In werklikheid het die hertog in kontak met sy familie gebly en het sy openbare verskynings voortgeduur.

Die uitbeelding van die verhouding tussen die Amerikaanse eerste dame Jackie Kennedy en die koninklike familie het ook kritiek uitgelok as dat dit onakkuraat is. Verslae van destyds dui daarop dat sy prins Philip as "aangenaam, maar senuweeagtig" beskryf het, met geen ware band tussen hulle nie. Resensente het die idee afgeskiet dat die koningin Ghana besoek het om met die Kennedys se gewildheid mee te ding. Volgens berigte het dié episode belangriker feite geïgnoreer, soos dat Kennedy se skoonsuster Lee en haar man, prins Stanislaw Albrecht Radziwill, aanvanklik nie na die banket genooi is nie weens hulle status as geskeidenes. Hulle is eindelik genooi, maar prinses Margaret en prinses Marina, die Hertogin van Kent, het dit nie bygewoon nie, al wou die Kennedys hulle blykbaar ontmoet.

Gordonstoun-skool het gereageer op sy negatiewe uitbeelding en het beweer prins Charles se persoonlike terugvoering aan die skool was oorweldigend positief. Vickers het gesê dieselfde episode beeld die dood van prins Philip se suster in 'n vliegongeluk onakkuraat uit as die gevolg van sy eie wangedrag by Gordonstoun: "Ek kan glad nie verstaan hoe enstige rolprentmakers so 'n vreeslike tragedie sal wil omskep in 'n reeks uitgedinkte gebeurtenisse wat niks met die waarheid te doen het nie".

Phil Owen van The Wrap het droë humor gesien in Northam se vertolking van premier Eden en gesê: "Ek veronderstel die skepper Peter Morgan het dit as komedie bedoel. Daar is regtig geen ander verduideliking vir hoekom Jeremy Northam premier Anthony Eden vertolk asof hy in elke toneel 'n senuweeinstorting het nie."

Seisoen 3

Die koningin het nie Churchill ná sy laaste beroerte besoek nie. Vickers beweer hy was teen daardie tyd seniel en sou nie 'n gesprek kon voer nie. Anthony Blunt se ontbloting as 'n Sowjetspioen het ook kritiek ontlok. Vickers sê die episode noem nie dat Blunt in 1979 ontmasker is en dat sy ridderskap van hom weggeneem is nie. Hy sê ook Blunt het nooit in Buckingham-paleis gewoon nie. Hy meen dis laf om te beweer hy het sy ontmaskering met prins Philip bespreek in 'n poging om die koninklike familie af te pers.

Verskeie feite oor die verhouding met president Johnson is gekritiseer, soos die implikasie dat geen Amerikaanse president voor hom Balmoral besoek het nie of dat hy nie geweet het wie prinses Margaret was voor haar besoek aan Amerika nie. Die prinses het wel 'n ete in die Withuis bygewoon, maar die gebeure is hoofsaaklik fiktief (soos haar flirtery met Johnson, die stout limirieke en hulp met 'n Amerikaanse lening aan Brittanje). Die feit dat prinses Margaret en president Johnson wyle president Kennedy op dieselfde ete in die openbaar sou beledig het, word ook as hoogs onwaarskynlik beskou omdat lede van die Kennedyfamilie na berig word die ete bygewoon het.

Koningin Elizabeth en prins Philip het Aberfan besoek om met die dorpenaars te simpatiseer ná die 1966-ramp, maar hulle het saam gereis en nie apart, soos in die reeks uitgebeeld word, nie.

Die verhouding tussen prins Philip en sy moeder, prinses Alice, is ook gekritiseer omdat beweer word hulle was vervreem en dat Philip beswaar gemaak het teen haar besoek aan Londen. In werklikheid het hy haar gereeld besoek. Haar onderhoud met 'n joernalis van The Guardian het ook nooit plaasgevind nie. Vickers sê dieselfde episode noem nie dat prins Philip haar aangemoedig het om permanent na Londen te verhuis nie.

Prins Charles het die Hertog van Windsor in 1972 in Parys besoek, hoewel die briewe waarin hy sy gevoel vir Camilla bespreek, gekritiseer is: Die prins het Camilla ontmoet, maar het haar nog nie intiem geken in die leeftyd van die hertog nie. Die koningin het wel die hertog 10 dae voor sy dood besoek, maar die besoek is lank voor die tyd gereël en nie op kort kennisgewing aangevra nie. Simpson was nie by die hertog toe hy sterf nie.

Die tyd van Wood se aanstelling as deken van Windsor om en by die tyd van die Apollo 11-maanlanding in Julie 1969 is onakkuraat, want hy is in 1962 aangestel.

Daar word gemeen daar was geen sameswering deur die paleis om prins Charles te keer om met Camilla te trou nie; Camilla was regtig lief vir Andrew Parker Bowles en prins Charles kon nie 'n finale besluit neem nie. Daar is ook beweer prinses Anne se vriendskap met Andrew Parker Bowles het nie oorvleuel met prins Charles en Camilla se ontmoeting nie. Volgens resensies van die episode het dit belangriker gebeure geïgnoreer, soos prinses Anne se troue in 1973 met kaptein Mark Phillips en die poging in 1974 om haar te ontvoer.

Seisoen 4

Vickers meen seisoen 4 lok effens meer kritiek uit en 'n mens hou van feitlik geen karakter nie. "Elke lid van die koninklike familie kom sleg daarvan af, behalwe die Prins van Wallis." Hy noem die seisoen ook die mins akkurate een in die reeks. Die koninklike kommentator Emily Andrews sê "bronne na aan prins Charles" beweer sommige tonele lyk soos iets met 'n Hollywood-begroting. Volgens berigte het prins Charles en Camilla kommentaar op hulle Instagram- en Twitter-profiele afgeskakel weens die negatiewe reaksie op hoe hulle uitgebeeld is.

Deur die hele seisoen is die koningin se privaat sekretaris sir Martin Charteris, hoewel hy in 1977 afgetree het.

Die openingstoneel waar prins Charles Diana die eerste keer ontmoet, is blote fiksie. Prins Charles het haar egter wel die eerste keer ontmoet tydens 'n afspraak met haar suster. Volgens Vickers het prins Charles in die eerste vyf jaar van sy huwelik geen persoonlike kontak met Camilla gehad nie; hulle verhouding het ontwikkel ná 1986, toe sy huwelik reeds misluk het. Die waansin om Charles en Diana se toer deur Australië word akkuraat uitgebeeld, insluitende sy gevoelens dat Diana hom in die skadu stel. Dit is deur verskeie bronne bevestig. Diana se voormalige perssekretaris het bevestig dat hulle weg van die kamers vasgesit het. Hulle skedule is nooit aangepas om prins William te akkommodeer nie; dit is so beplan dat hulle elke aand by hulle seun kon wees. Volgens Dickie Arbiter het die ontmoeting waarin sir John Riddell, die Prins van Wallis se privaat sekretaris, Diana se geestestoestand bevraagteken het voor haar alleentoer na New York nooit plaasgevind nie.

Mountbatten het nie kort voor sy dood aan prins Charles geskryf nie, hoewel hy by vorige geleenthede wel aan hom geskryf het om raad te gee. Die nuusflitse van Noord-Ierland wat met Mountbatten se sluipmoord gewys is, sluit gebeure in wat jare tevore gebeur het of nog nie plaasgevind het nie.

Vickers sê feitlik al die besonderhede van hoe besoekers aan Balmoral behandel word, is onakkuraat, asook dat die Thatchers se eerste besoek uit konteks met Mountbatten se begrafnis uitgebeeld word. Die Thatchers het nie hulle eerste besoek aan Balmoral geniet nie, maar daar is geen bewyse dat sy onvanpas aangetrek het nie. Diana se besoek het 'n jaar later plaasgevind as in die episode, toe die koningin nie teenwoordig was nie. Hy sê Diana was heeltemal vertoud met koninklike etiket en het nie die lesse van lady Fermoy nodig gehad soos dit gewys is nie.

Charles Moore, Margaret Thatcher se biograaf, sê die toneel waarin Thatcher die koningin smeek om die parlement te ontbind sodat sy as premier kan aanbly, is "feitelike nonsens". Dit is egter waar dat sy haar eie strykwerk in Downing Street gedoen het.

Die toneel waarin die koningin raai wie die premier in die kabinet kan aanstel, is blote fiksie, en ook dat die premier 'n koninklike oudiënsie vroeg sou verlaat en die koningin sou kritiseer oor haar privilegie. Volgens Vickers was dit die koningin se perssekretaris wat sy eie mening oor die premier aan die media deurgegee het, en daarvoor moes hy die paleis verlaat.

Die storielyn oor die familie se verhouding met Nerissa en Katherine Bowes-Lyon is grootliks onakkuraat. Prinses Margaret het geen rol gespeel in die ontdekking van hulle bestaan nie en sy het nie haar ma daaroor gekonfronteer nie. John "Jock" Bowes-Lyon is dood ses jaar voor Edward VIII se abdikasie en die susters se ma, Fenella, het hulle in 1941 in die Earlswood-hospitaal laat opneem. Die koninginmoeder het tot in 1982 gedink hulle is dood. Nadat sy ontdek het hulle lewe nog, het sy met hulle verjaardae en Kersfees geld vir speel- en lekkergoed gestuur. Volgens die Bowes-Lyon-familie was daar nooit 'n poging tot 'n toesmeerdery nie.

Seisoen 5

Voor die uitreiking van seisoen 5 het dit oor die algemeen negatiewe reaksie ontlok van die historiese figure wat dit uitbeeld en die mense wat hulle ken, veral deur tonele te skep waarin gesuggereer word prins Charles het 'n verhouding gehad en 'n episode waarin prins Charles probeer om premiers John Major en Tony Blair te oorreed om die koningin se abdikasie ten gunste van hom te steun.

In episode een lees prins prins Charles in 1991 'n meningspeiling in The Sunday Times waarin gesê word die koningin word as "irrelevant", "oud" en "duur" beskou en waarin gemeen word die monargie is onder bedreiging. Charles soek die steun van Major om die koningin te oorreed om te abdikeer. Volgens Major het so 'n gesprek nooit plaasgevind nie en is die inhoud van die episode "nonsens".

Volgens die koerantberig het nege uit tien mense glo destyds "baie gunstig" of "hoofsaaklik gunstig" gevoel ten opsigte van die koningin, terwyl vier uit tien gevoel het sy "moet die een of ander tyd in die toekoms abdikeer", in plaas daarvan om aan te hou regeer tot met haar dood.

Seisoen 6

Die sesde en finale seisoen is in twee volumes uitgereik: die eerste een, van vier episodes, op 16 November 2023 en die tweede een, van ses episodes, op 14 Desember. Produksie het begin kort voor die dood van Elizabeth II op 8 September 2022.

Die seisoen dek van 1997 tot 2005, tydens die premierskap van Tony Blair. Gebeure sluit in die dood van Diana, Prinses van Wallis, die Goue Jubileum van Elizabeth II, die dood van prinses Margaret en van die koninginmoeder, die vroeë verhouding van prins William en Kate Middleton en die troue van prins Charles en Camilla Parker Bowles.

Kort nadat die voorskou van seisoen 6 op 9 Oktober 2023 uitgereik is, was daar omstredenheid oor iemand in die binnekring wat 'n toneel beskryf het waarin Diana as 'n spook voor haar eksman, Charles, en sy moeder, die koningin, verskyn. 'n Woordvoerder van Netflix het gesê: "Dié sensitiewe en sorgsaam verfilmde gesprekke was bedoel om die diepe emosie in herinnering te roep wat gevoel is nadat so 'n aardskuddende tragedie die hart van die familie getref het." Peter Morgan het van die tonele gesê: "Ek het dit nooit beskou as die "spook" van Diana in die tradisionele sin nie – dit was sy wat bly voortleef het in die gedagtes van die mense wat sy agtergelaat het."

Feite wat as fiksie uitgewys is, is die datum waarop William en Catherine begin uitgaan het, William se verdwyning ná sy moeder se dood en die stelling dat Mohamed Al-Fayed Brittanje verlaat het.

Ontvangs

Tv-Reeks The Crown: Rolverdeling, Seisoene, Vervaardiging 
John Lithgow het verskeie pryse gewen vir sy uitbeelding van Winston Churchill.

The Crown is as 'n drama geprys. The Telegraph het dit beskryf as "TV se beste sepie" en het dit 5/5 gegee. Ander resensente, soos in The Times, het egter kommer daaroor uitgespreek dat sommige episodes op valse aannames geskoei is. Die reeks het op Rotten Tomatoes 'n algehele punt van 90% gekry en op Metacritic 84%.

Seisoen Rotten Tomatoes Metacritic
1 88% (74 resensies) 81% (29 resensies)
2 89% (83 resensies) 87% (27 resensies)
3 90% (100 resensies) 84% (30 resensies)
4 97% (107 resensies) 85% (27 resensies)
5 73% (67 resensies) 66% (34 resensies)
6 56% (82 resensies) 61% (29 resensies)

Rotten Tomatoes het vir die eerste seisoen 'n punt van 88% aangeteken uit 74 resensies, met 'n gemiddelde punt van 8,61/10. Sy bydraers se konsensus was: "Kragtige vertolkings en goeie kinematografie maak The Crown 'n produksie uit die boonste rakke wat sy deftige onderwerp waardig is". Op Metacritic het die seisoen 'n punt van 81 uit 100 gekry, geskoei op 29 resensies, wat dui op "algemene byval".

Die tweede seisoen het by Rotten Tomatoes 89% van kykers gekry (83 resensies), met 'n gemiddelde van 8,35/10. Metacritic het 'n telling van 87 uit 100 gegee, geskoei op 27 resensies ("algemene byval"). Vir die derde seisoen het Rotten Tomatoes 'n punt van 90% aangeteken, geskoei op 100 resensies, met 'n gemiddelde van 8,54/10. Olivia Colman het veral lof ontvang. Metacritic het 'n punt van 84 uit 100 gegee, geskoei op 30 resensies ("algemene byval"). Die vierde seisoen het by Rotten Tomatoes 97% gekry, geskoei op 107 resensies, met 'n gemiddelde van 8,62/10. Gillian Anderson as Thatcher en Emma Corrin as 'n jong prinses Diana het veral lof gekry. Op Metacritic het die seisoen 'n punt van 85 uit 100 gekry, geskoei op 27 resensies ("algemene byval").

Die reeks is egter gekritiseer deur Britse resensente en die koninklike familie. Britse resensente het gemeen die vierde seisoen is "onakkuraat" en "teen die monargie". Simon Jenkins het in The Guardian geskryf die reeks is "vals geskiedenis" en 'n "lafhartige misbruik van artistieke lisensie", met opgemaakte geskiedenis om sy eie voorafopgestelde verhaal te pas. Hy het gemeen "Morgan kon sy punt met die waarheid oorgebring het".

Die koninklike biograaf Sally Bedell Smith het die onakkuraathede en negatiewe uitbeelding van die koninklike familie gekritiseer en gesê: "Omdat The Crown so 'n uitspattige en duur produksie is, met sulke goeie toneelspel en so slim geskryf, en so baie aandag aan visuele besonderhede van historiese gebeure, word kykers om die bos gelei om te dink wat hulle sien, het werklik gebeur". Sy het gesê "terwyl vroeëre seisoene periodestukke is, is dié een onlangse geskiedenis; daarom lyk dit wreder in sy vals uitbeeldings". Ná die negatiewe reaksies op seisoen 4 het die Britse minister van kultuur, Oliver Dowden, voorgestel die reeks behoort 'n waarskuwing te bevat wat aandui dit is fiksie.

In 'n TV-verskyning in 2021 het prins Harry gesê hy is gemaklik met The Crown se uitbeelding van die koninklike familie. As 'n fiktiewe werk is dit nie "heeltemal akkuraat" nie, maar dit gee 'n "rowwe idee" van die druk daarvan "om plig en diens te stel voor jou familie of enigiets anders".

Ná die koningin se dood in 2022 het versoeke toegeneem dat die vyfde seisoen 'n vrywaring bevat omdat dit so gou ná die monarg se afsterwe uitgereik word. In Oktober 2022 het die voormalige Oscarwenner dame Judi Dench die reeks gekritiseer in 'n ope brief aan The Times waarin sy sê dit is "wreed en onregverdig teenoor die individue, en berokken die instelling wat hulle verteenwoordig skade". Sy het die vervaardigers ook gekritiseer dat hulle alle beroepe verontagsaam het om 'n vrywaring aan die begin van elke program te vertoon". Sy het Netflix gevra om dit te heroorweeg – "ter wille van 'n familie en 'n nasie wat so onlangs iemand verloor het, as 'n teken van respek aan 'n monarg wat haar volk 70 jaar lank so getrou gedien het, en om sy reputasie in die oë van sy Britse intekenare te bewaar". Netflix het eindelik 'n vrywaring geplaas by die opsomming van die reeks op sy webtuiste, asook by die YouTube-beskrywing van die voorskou van seisoen 5. Daarin word die reeks beskryf as 'n "fiktiewe dramatisering" wat "op ware gebeure geskoei is".

Moontlike voorvolgreeks

In April 2022 is berig dat Netflix en Left Bank aanvanklike samesprekings voer oor 'n voorvolgreeks. Die reeks sal moontlik oor 'n tydperk van sowat 50 jaar strek, van die dood van koningin Victoria in 1901 tot met die troue van koningin Elizabeth II in 1947.

Die reeks sal na berig word ook handel oor die bewind van die vier konings wat in dié tyd regeer het: Edward VII, George V, Edward VIII en George VI.

Verwysings

Skakels

  • Tv-Reeks The Crown: Rolverdeling, Seisoene, Vervaardiging  Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik uit die Engelse Wiki vertaal.

Tags:

Tv-Reeks The Crown RolverdelingTv-Reeks The Crown SeisoeneTv-Reeks The Crown VervaardigingTv-Reeks The Crown Historiese akkuraatheidTv-Reeks The Crown OntvangsTv-Reeks The Crown Moontlike voorvolgreeksTv-Reeks The Crown VerwysingsTv-Reeks The Crown SkakelsTv-Reeks The CrownElizabeth II van die Verenigde KoninkrykNetflixTV

🔥 Trending searches on Wiki Afrikaans:

Om-te-infinitiefkonstruksieTennisAssonansieShakaHannes van WykChristendomGeallieerdes van die Tweede WêreldoorlogHeuningbyVulkanismeAsemhalingUitwerking van klimaatsveranderingOntwerpWikimedia-stigtingTswanaXenofobieWitrenosterVleilandSoortnaamMuskietDroomVerkragtingKaapstadJeugdagEnkelvoudige sinVrystaatHernubare energieRina HugoDoelwitVormNazi-DuitslandStilleweProteaKlimaatveranderingKatoenTafelbergMaagDramaWikipediaEthiopiëSuid-Afrikaanse InkomstediensHoofkarakterEuropaBedreigde spesieMierGeskiedenis van Suid-AfrikaBesnydenisSkarlakenkoorsHoopKlimaatsverandering in Suid-AfrikaGoogle TranslateGoudkus (streek)Handré PollardWaterbesoedelingTamboraTweede VryheidsoorlogAfrikaanse WikipediaAndrew DavisGroepsdrukRoemeens3D-rolprentVolhoubaarheidTsoenamiGeografie van Suid-AfrikaAnilingusArabiesHomoniemPropagandaMenstruasieVeelvoudige sinTienerBlaarAdolf HitlerHandwoordeboek van die Afrikaanse TaalSmeltpuntVioolMensVierde Industriële Revolusie🡆 More