Hadj

Die hadj of gadj (Arabies: الحجّ) is ’n jaarlikse Islamitiese pelgrimstog, of bedevaart, na Mekka wat elke Moslem wat fistiek en finansieel daartoe in staat is, minstens een keer in sy of haar leeftyd moet onderneem.

Dit is een van die Vyf Pilare van die Islam.

Hadj
Pelgrims in die Al-Masdjid al-Haram op die hadj van 2010.
Hadj
Die Kaäba in die nag.

Die hadj is een van die grootste jaarlikse byeenkomste van mense in die wêreld. Dit is ’n demonstrasie van die solidariteit van Moslems en hul aanbidding van een God (Allah).

Die bedevaart vind plaas van die 8ste tot die 12de (of soms 13de) Dhu'l Hidjdja, die laaste maand van die Islamitiese kalender. Omdat dit ’n maankalender is in teenstelling met die Gregoriaanse kalender, ’n sonkalender, is die Islamitiese jaar sowat 11 dae korter as ’n Gregoriaanse jaar, en daarom verskil die Gregoriaanse datum van die hadj van jaar tot jaar. Ihram is die naam van die spesiale spirituele toestand waarin pelgrims twee wit stukke naatlose materiaal dra en hulle van sekere dade weerhou.

Die hadj word verbind met die lewe van die profeet Mohammed uit die 7de eeu, maar Moslems glo die pelgrimsritueel na Mekka dateer van duisende jare gelede uit die tyd van Abraham. ’n Paar miljoen mense besoek Mekka vir die week van die hadj en voer ’n aantal rituele uit: Hulle loop sewe keer antikloksgewys om die Kaäba (die vierkantige gebou in die middel van Al-Masdjid al-Haram in Mekka, en die rigting van gebed), loop of hardloop heen en weer tussen die heuwels Safa en Marwa, drink uit die Zamzam-put, gaan vir ’n nagwaak na Berg Arafat, bring ’n nag deur op die vlakte van Moezdalifa en voer ’n simboliese steniging van die duiwel uit deur klippe na drie pilare te gooi. Die pelgrims skeer dan hul hare, doen mee aan ’n ritueel van diereoffering en vier die drie dae lange fees Eid-oel-Adha.

Pelgrims besoek Mekka ook ander tye van die jaar om dié rituele uit te voer. Dit word soms oemra, of ’n "mindere pelgrimstog", genoem. Hulle moet egter steeds die hadj onderneem as hulle kan.

Geskiedenis

Vyf Pilare van die Islam

Die huidige patroon van die hadj is deur Mohammed gevestig. Volgens die Koran kan elemente daarvan teruggespoor word na die tyd van Abraham, omstreeks 2000 v.C. Die Islamitiese tradisie vertel God het Abraham beveel om sy vrou Hagar en seun Ismael alleen in die woestyn van antieke Mekka te los. Terwyl Hagar op soek was na water, het sy desperaat sewe keer tussen die twee heuwels Safa en Marwa gehardloop, maar niks gekry nie. Toe sy na Ismael terugkeer, het sy gesien ’n fontein het ontspring op die plek waar die baba se been aan die grond raak.

Later het Abraham opdrag gekry om die Kaäba te bou (of herbou), wat hy met Ismael se hulp gedoen het, en om mense aan te spoor om ’n bedevaart daarheen te onderneem. Die Koran verwys in verse 2:124-127 en 22:27-30 daarna:

Hadj  En toe sy Heer Abraham met sekere opdragte beproef en hy dit uitgevoer het, het Hy gesê: Voorwaar, Ek sal u ’n leier van mense maak! . . . En toe Ons die Huis ’n vergaderplek van mense en ’n toevlugsoord gemaak het, het Ons gesê: Neem die plek van Abraham as ’n plek van gebed! En Ons het Abraham en Ismael gebied en gesê: Reinig My Huis vir hulle wat daar sal omloop in die bedevaartsbesoek, en hulle wat daar vertoef vir aanbidding, en hulle wat vooroorbuig en hul hoofde op die grond eerbiedig neerlê. . . . Toe het Abraham en Ismael die fondamente van die Huis gelê.
— Koran, Soera 2:124-127
Hadj 
Hadj  Verkondig die bedevaart aan die mense. Hulle sal te voet of op elke maer kameel oor lang afstande na u kom: sodat hulle van hulle voordeel mag getuig en die Naam van Allah gedurende die vasgestelde dae uitspreek oor die viervoetige vee waarvan Hy hulle voorsien het. Eet dan daarvan, en voed die behoeftiges, die armes. Laat hulle dan voldoen aan die nodige reinigingshandelinge, en laat hulle hul gelofte nakom en om die ou Huis gaan.
— Koran, Soera 22:27-29
Hadj 
Hadj 
’n Foto uit 1907 van Al-Masdjid al-Haram vol aanbidders.

Daar word gesê die aartsengel Gabriël het die Swart Steen uit die hemel gebring om in die Kaäba te lê.

In voor-Islamitiese Arabië is die Kaäba omring deur heidense afgode. In 630 n.C. het Mohammed sy volgelinge van Medina na Mekka gelei, al die afgode vernietig en die Kaäba weer aan Allah gewy. In 632 n.C. het Mohammed sy enigste bedevaart met ’n groot aantal volgelinge onderneem en hulle onderrig in die rituele van die hadj. Van dié oomblik af was die hadj een van die Vyf Pilare van die Islam.

In die Middeleeue het pelgrims in die groot stede van Sirië, Egipte en Irak byeengekom om in groepe en karavane van tienduisende na Mekka te reis, dikwels onder staatsbeskerming. Hadj-karavane, veral tydens die Mameluk-sultanaat en sy opvolger, die Ottomaanse Ryk, is deur ’n militêre mag en dokters vergesel. Dit was om die karavane teen Bedoeïene-rowers en natuurlike terugslae te beskerm, en om te verseker die pelgrims het alles wat hulle nodig het. Moslemreisigers soos die geograaf en digter Ibn Jubayr en die geleerde Ibn Battuta het gedetailleerde beskrywings van hadj-reise in die Middeleeue gegee. Die karavane het gevestigde roetes soos die Koninklike Weg gevolg.

Tyd van die hadj

Die datum van die hadj word bepaal deur die Islamitiese kalender, wat op die maanjaar gebaseer is. Die gebeure van die hadj vind elke jaar oor vyf dae plaas, wat begin op die 8ste en eindig op die 12de Dhu'l Hidjdja, die laaste maand van die Islamitiese kalender. Van dié vyf dae is die 9de bekend as die Dag van Arafat, en dit is die dag van die hadj. Omdat die Islamitiese kalender ’n maankalender is en die Gregoriaanse kalender ’n sonkalender, is die Islamitiese jaar sowat 11 dae korter as die Gregoriaanse jaar; daarom verskil die Gregoriaanse datum van die hadj van jaar tot jaar. Die bedevaart begin dus elke jaar 11 (soms 10) dae vroeër. Die hadj kan twee keer in een Gregoriaanse jaar voorkom – dit gebeur elke 33 jaar (die laaste keer was in 2006). Die tabel hier onder toon die datums aan van die hadj die afgelope paar jaar (die datum verwys na 9 Dhu'l Hidjdja):

2012 2013 2014 2015 2016 2017 2018 2019 2020 2021 2022 2023
25 Okt. 14 Okt. 3 Okt. 23 Sep. 11 Sept. 31 Aug. 20 Aug. 10 Aug. 30 Jul. 19 Jul. 8 Jul. 26 Jun.

Rituele

Hadj 
Die terreine van die hadj-rituele.

Fikh beskryf in besonderhede die manier waarop die hadj-rituele uitgevoer moet word en pelgrims volg gewoonlik handleidings en gidse om dit reg te doen. In die uitvoering van die rituele volg die pelgrims nie net die voorbeeld van Mohammed nie, maar vier hulle ook gebeure wat met Abraham verbind word.

Ihram

Wanneer die pelgrims die regte mikat of pelgrimsgrens bereik (afhangend van waar hulle kom), gaan hulle ’n gewyde toestand in. Dit behels die dra van twee wit naatlose stukke materiaal vir mans – met die een om die middel gebind en wat tot onder die knie afhang, en die ander om die linkerskouer gedrapeer en aan die regterkant vasgemaak; die dra van vroueklere wat voldoen aan die Islamitiese kode vir openbare drag, met die hande en gesig onbedek; reiniging; die verklaring van die voorneme om die pelgrimstog af te lê en hom- of haarself te weerhou van sekere dade.

Mans mag nie enige knope of gestikte klere dra nie. Sandale moet ook nie gestik wees nie, en die enkels en agterkant van die voete moet oop wees. Hulle mag nie enige reukmiddels aan die lyf of klere dra of hul naels, hare of baard knip nie. Eersgenoemde sluit gegeurde seep in. Geen seks, rokery of vloekery is toelaatbaar nie. Ander verbode handelinge sluit in die beskadiging van plante, die doodmaak van diere, ’n bakleiery, die aflê van ’n eed, huwelikbevestigings of die dra van wapens. Mans mag ook nie vir vroue kyk of onedele gedagtes hê nie.

Vroue se gesig moet onbedek wees. ’n Boerka of nikaab is verbode, maar ’n hijab en doepatta is verpligtend. Hulle moet beskeie lyk en mag nie grimering of parfuum dra nie.

Die bedoeling van die ihram is dat alle pelgrims gelyk is voor God: daar is geen onderskeid tussen ryk en arm nie.

Tawaf en saj

Hadj 
Die rigting van die tawaf om die Kaäba en die saj tussen Safa en Marwa.

Die tawaf-ritueel behels dat sewe keer antikloksgewys om die Kaäba geloop word. Wanneer pelgrims by Al-Masdjid al-Haram aankom, voer hulle ’n eerste tawaf uit as deel van die verwelkomingseremonie. Tydens die tawaf sluit pelgrims ook Hateem in: ’n gebied noord van die Kaäba. Elke omsirkeling begin met die soen of aanraking van die Swart Steen (al-Ḥajar al-Aswad). Wanneer dit nie moontlik is nie weens die groot skare, kan daar met elke omsirkeling met die hand na die Swart Steen gewys word. Pelgrims mag nie eet nie, maar wel water drink om dehidrasie te voorkom. Mans word aangemoedig om die eerste drie omsirkelings vinnig af te lê en die laaste vier teen ’n meer gemaklike pas.

Nadat sewe keer om die Kaäba geloop is, volg twee gebede by die Plek van Abraham (Maqām Ibrāhīm), ’n plek in die moskee naby die Kaäba. Die gebede kan egter, weer eens vanweë die groot skare, elders in die moskee plaasvind. Ná die gebede drink pelgrims water uit die Zamzam-put, wat oral in die moskee beskikbaar is.

Hoewel die omsirkeling van die Kaäba tradisioneel op die grondverdieping plaasvind, kan dit ook op die eerste verdieping of die dak van die moskee gedoen word weens die skares.

Tawaf word gevolg deur saj, die loop of hardloop (sewe keer) tussen die heuwels Safa en Marwa, wat naby die Kaäba geleë is. Dit was voorheen in die ope lug, maar is deesdae heeltemal onderdak. Pelgrims word aangeraai om te loop, maar hulle kan ook hardloop. Daar is ook ’n laan vir gestremdes. Ná saj skeer die mans hul hare en vroue knip gewoonlik ’n stuk van hul hare af. Dit voltooi die oemra.

Eerste dag van die hadj: 8 Dhu'l Hidjdja

Hadj 
Tente by Mina.

Op 8 Dhu'l Hidjdja word die pelgrims aan hul pligte herinner. Hulle gaan die gewyde toestand ihram binne nadat hulle reinigingsrituele ondergaan en die ihram-klere aangetrek het. Dit moet gebeur voordat hulle die mikat betree.

Die beperkings van ihram begin nou. Pelgrims moet vergeet van studies, besigheid en verhoudings, en op God fokus.

    Mina
Hadj 
Pelgrims dra ihram op die vlakte van Arafat op die dag van die hadj.
Hadj 
Berg Arafat tydens die hadj.

Ná die oggendgebed op 8 Dhu'l Hidjdja beweeg die pelgrims na Mina, waar hulle die hele dag deurbring en noen-, namiddag-, aand- en naggebede doen. Die volgende dag verlaat hulle Mina ná die oggendgebed en beweeg na Arafat.

Tweede dag: 9 Dhu'l Hidjdja

Dié dag is die Dag van Arafat; dit is die heiligste dag in die Islam en bekend as die Dag van die Hadj. Dit is sowat 70 dae ná die einde van die maand Ramadan en ’n dag voor die heilige fees Eid-oel-Adha. Moslems glo ’n deel van die Koran se inhoud wat aangekondig het die godsdiens van Islam is vervolmaak, is op dié dag onthul.

    Arafat

Op die oggend van 9 Dhu'l Hidjdja kom die pelgrims by Arafat aan – ’n droë stuk grond sowat 20 km oos van Mekka. Hier bid hulle, toon berou en doen boete oor hul sondes van die verlede, en vra genade by Allah. Hulle luister ook na preke deur Islamitiese geleerdes vanaf Berg Arafat (Jabal ‘Arafah), waar Mohammed na berig word sy laaste preek gelewer het. Dit duur van die middag tot met sonsondergang en is een van die belangrikste rituele van die hadj. ’n Pelgrim se hadj word as ongeldig beskou as hy nie die middag op Arafat deurgebring het nie. Dit dui op die belangrikheid daarvan om deur Allah vergewe te word.

    Moezdalifa
Hadj 
’n Toneel by Moezdalifa

Pelgrims moet na Moezdalifa vertrek ná sonsondergang, maar sonder om die aandgebed te doen. Moezdalifa is ’n gebied tussen Arafat en Mina. Wanneer hulle daar aankom, doen pelgrims die aand- en naggebed tegelykertyd en bring die nag daar deur onder die ope lug. Hulle maak ook klippies bymekaar vir die volgende dag se steniging van die duiwel.

Derde dag: 10 Dhu'l Hidjdja

Nadat hulle van Moezdalifa af teruggekeer het, bring pelgrims die nag in Mina deur.

    Steniging van die duiwel
Hadj 
Die steniging van die duiwel in 2006.

Wanneer hulle terug is in Mina, voer die pelgrims ’n simboliese steniging van die duiwel (Ramī al-djamarāt) uit deur van sonsopkoms tot sonsondergang sewe klippies na die grootste van die drie pilare (djamarat) te gooi. Hulle gooi nie dié dag klippe na die ander twee pilare nie. Die drie pilare verteenwoordig Satan.

Die djamarat (enkelvoud: djamra) van oos na wes word genoem:

  • Die kleinste djamra (الجمرة الصغرى, al-jamrah aṣ-ṣughrā);
  • Die middelste djamra (الجمرة الوسطى, al-jamrah al-wusṭā);
  • Die grootste djamrah (الجمرة الكبرى, al-jamrah al-kubrā).

Die steniging is ’n simboliese daad wat Abraham se hadj weerspieël, toe hy klippe na drie pilare gegooi het wat die duiwel verteenwoordig: die grootste pilaar verteenwoordig Abraham se versoeking om Ismael nie te offer nie; die middelste een Hagar se versoeking om hom te keer; en die kleinste een Ismael se versoeking om te keer dat hy geoffer word. Die duiwel is elke keer verslaan.

Dit verteenwoordig ook die mens se wegbeweeg van sy self en die handeling om sy lae begeertes en wense te verwerp en hom aan God te onderwerp.

Die klippies kan vanaf die veelvlakkige Djamarat-brug of op die grondvlak gegooi word. Om veiligheidsredes is die pilare in 2004 deur lang mure vervang, waar die klippe opgevang word nadat hulle gegooi is; baie pelgrims het voorheen mense aan die oorkant per ongeluk raakgegooi.

    Diere-offering

Ná die steniging word diere geslag om die storie van Abraham en Ismael te gedenk. Tradisioneel het die pelgrims self diere geslag, maar vandag koop hulle ’n bewys in Mekka en die diere word dan op die 10de namens hulle geslag sonder dat hulle teenwoordig hoef te wees. Moderne slagplase verwerk die vleis en dit word na arm mense regoor die wêreld gestuur. Terselfdertyd offer Moslems regoor die wêreld diere tydens ’n driedaagse fees, Eid-oel-Adha.

    Haarverwydering

Nadat ’n dier geslag is, volg nog ’n belangrike ritueel van die hadj: die skeer of knip van hare. Die mans skeer of knip hul hare op die dag van Eid al-Adha, en vroue knip die punte van hul hare af.

    Tawaf al-Ifaada
Hadj 
Pelgrims voer die tawaf om die Kaäba uit.

Op dieselfde of die volgende dag besoek pelgrims weer Al-Masdjid al-Haram in Mekka vir nog ’n tawaf, bekend as Tawaf al-Ifaada, ’n verpligte deel van die hadj. Dit simboliseer ’n haas om op God te reageer en liefde teenoor Hom te betoon. Die nag van die 10de word weer in Mina deurgebring.

Vierde dag: 11 Dhu'l Hidjdja

Van die middag tot met sonsondergang gooi pelgrims weer klippe na elk van die drie pilare in Mina.

Vyfde dag: 12 Dhu'l Hidjdja

Op 12 Dhu'l Hidjdja volg dieselfde prosedure van die steniging van die duiwel. Pelgrims mag voor sonsondergang van Mina na Mekka reis.

Laaste dag by Mina: 13 Dhu'l Hidjdja

As hulle nie op die 12de kon vertrek nie of self besluit het om langer te bly, moet die perlgrims weer die steniging van die duiwel uitvoer voordat hulle na Mekka terugkeer.

    Tawaf al-Wadaa

Eindelik, voordat hulle Mekka verlaat, moet pelgrims ’n laaste tawaf, Tawaf al-Wadaa, uitvoer. "Wadaa" beteken "om tot siens te sê". Die pelgrims loop sewe keer antikloksgewys om die Kaäba en as hulle kan, soen hulle die Kaäba of raak daaraan.

Reis na Medina

Hoewel dit nie deel van die hadj is nie, kan pelgrims nou na Medina en Al-Masdjid an-Nabawi (Moskee van die Profeet) reis. Laasgenoemde bevat Mohammed se graftombe. Die Quba-moskee en Moskee van die Twee Kieblas word ook gewoonlik besoek.

Reëlings en geriewe

Hadj 
’n Saoedi-veiligheidswag aan diens tydens die hadj.

Om elke jaar die nodige reëlings vir die toenemende getal pelgrims te tref is ’n logistieke probleem vir die regering van Saoedi-Arabië, wat sedert die 1950's meer as $100 miljard bestee het om geriewe te verbeter.

Belangrike kwessies soos huisvesting, vervoer, sanitasie en gesondheidsorg is grootliks verbeter deur die instelling van verskeie ontwikkelingsprogramme deur die regering, met die gevolg dat daar deesdae moderne geriewe is en verskeie rituele maklik uitgevoer kan word. Kwotas word dikwels vir verskillende lande vasgestel om die getal besoekers te beheer en veiligheidsmagte en kameras sorg vir algehele veiligheid tydens die hadj.

Verskeie instellings en regeringsprogramme soos hadj-subsisies help pelgrims hul koste dek.

Vervoer

Pelgrims reis gewoonlik in groepe na die hadj. In die vroeë 19de eeu is reise in karavane oor land onderneem, en later het hulle meestal met stoomskepe gereis. Dit het ’n tyd lank geduur tot lugvervoer die mees algemene manier van reis geword het; Egipte het in 1937 die eerste lugdiens vir hadj-reisigers ingestel.

Vandag bied baie reisagente en lugdienste hadj-pakkette aan wat reisreëlings en huisvesting insluit. Lughawens in Djedda en Medina het spesiale terminale vir pelgrims. Baie lughawens in ander lande het ook spesiale terminale wat die vertrek en terugkeer van pelgrims vergemaklik. Baie lugdienste het ekstra vlugte tydens die hadj om die groot getal pelgrims te akkommodeer.

Tydens die hadj reis pelgrims per bus of te voet tussen die verskillende terreine. Die Saoedi-regering beheer voertuigtoegang tot dié besige gebiede streng. Soms duur ’n reis ure weens die swaar voertuig- of voetgangerverkeer. In 2010 het die Saoedi-regering ’n enkelspoor ingestel tussen Arafat, Moezdalifa en Mina. Dit verkort die reis tydens die kritieke "Nafra" van Arafat na Moezdalifa tot minute. Dit is egter nie toeganklik vir alle pelgrims nie en word streng beheer. Tans kan dit sowat 500 000 mense vervoer.

Moderne probleme met skarebeheer

Die getal pelgrims het die afgelope jare geweldig toegeneem, en dit het gelei tot verskeie ongelukke en sterftes weens verdringing. Die eerste groot ongeluk in moderne tye het in 1990 plaasgevind, toe ’n toeloop in ’n tonnel by Medina die dood van 1 462 mense veroorsaak het. Daarna is verskeie skarebeheermaatreëls in werking gestel om veiligheid te verseker.

Weens die groot skares het party van die rituele meer simbolies geword. Dit is byvoorbeeld nie meer nodig om die Swart Steen te soen nie. Pelgrims kan bloot daarna wys in elke omsirkeling van die Kaäba. Die pilare vir die gooi van klippe is ook in 2004 verander in lang mure met plekke daaronder waar die die klippe opgevang word. Nog ’n voorbeeld is die offering van diere wat nou deur aangewese slagplase hanteer word sonder dat pelgrims self teenwoordig hoef te wees.

Vir 2016 se hadj het die Saoedi-regering ook elektroniese GPS-opsporingsarmbande beskikbaar gestel.

Ondanks dié veiligheidsmaatreëls kan voorvalle steeds voorkom tydens die hadj wanneer daar ’n toeloop is of platforms meegee onder die gewig van die baie besoekers. In 2015 het ’n toeloop die dood van 769 mense en die besering van 934 mense veroorsaak, volgens die Saoedi-owerhede. In ’n verslag van Associated Press is die dodetal op 1 470 geraam na aanleiding van amptelike verslae van ander lande, en dit maak dit die grootste sodanige ramp tot op datum.

Kommer is in 2013 en 2014 uitgespreek oor die verspreiding van Midde-Oosterse asemhalingsindroom weens die groot skares. Volgens die Saoedi-minister van gesondheid is geen gevalle van dié siekte nog onder pelgrims bespeur nie.

Betekenis

Die hadj het vir Moslems ’n godsdienstige sowel as sosiale betekenis. Buiten dat dit ’n godsdiensplig is, hou dit vir hulle ’n spirituele belang in wat hulle ’n geleentheid tot selfvernuwing gee. Die hadj dien as ’n herinnering aan die Oordeelsdag, wanneer mense voor God te staan sal kom. Hadit-geskrifte (aanhalings van Mohammed) lê klem op verskeie voordele wat ’n pelgrim geniet as hy die hadj suksesvol afgelê het. Ná hul terugkeer kan pelgrims die titel "Al-Hadji" voor hul naam skryf en word hulle met respek in die Moslemgemeenskap bejeën.

Islam-geleerdes meen egter die hadj behoort ’n aanduiding van ’n persoon se godsdiensverbintenis te wees en nie beskou te word as ’n meting van sy sosiale status nie. Die hadj bring Moslems van oor die hele wêreld bymekaar en verenig hulle ongeag hul ras, kleur en kultuur, en dit dien as ’n simbool van gelykheid.

Volgens ’n studie van 2008 oor die uitwerking van die deelname aan die hadj onder Islam-pelgrims word Moslemgemeenskappe positiewer en verdraagsamer ná die hadj. Die studie, met die titel Estimating the Impact of the Hajj: Religion and Tolerance in Islam's Global Gathering, wat in samewerking met die Harvard-universiteit se John F. Kennedy-regeringskool gedoen is, dui aan die hadj "verhoog die geloof in gelykheid en harmonie onder etniese groepe en Islamitiese seksies en lei tot gunstiger houdings jeens vroue, insluitende ’n groter aanvaarding van hul opvoeding en werkneming", en "hadjies glo meer geredelik in vrede, en in gelykheid en harmonie onder aanhangers van verskillende gelowe".

Die Amerikaanse menseregte-aktivis Malcolm X het die sosiologiese atmosfeer wat hy in die 1960's op sy hadj ervaar het, as volg beskryf:

Daar was tienduisende pelgrims, van oor die hele wêreld. Hulle was van alle kleure, van blonde mense met blou oë tot swart Afrikane. Maar ons het almal aan dieselfde ritueel deelgeneem, en ’n gees van eenheid en broederskap ervaar wat my ondervindings in Amerika my laat glo het nooit kan bestaan tussen wit en nie-wit nie. Amerika behoort Islam te verstaan, want dit is die een geloof wat die rasseprobleem uit sy gemeenskap uitwis. Jy kan geskok wees dat ek dié woorde uiter. Maar wat ek op hierdie pelgrimstog gesien en ervaar het, het my oorreed om baie van my vorige gedagtepatrone te wysig.
Hadj 
’n Panoroma van Al-Masdjid al-Haram tydens die hadj van 2007.

Getal pelgrims per jaar

Hadj 
Piktografiese wêreldkaart wat die grootste periodieke menslike migrasie-gebeurtenisse vergelyk

Daar was die afgelope 92 jaar ’n aansienlike toename in die getal pelgrims, en die getal buitelandse pelgrims het met sowat 2 824 persent toegeneem, van 58 584 in 1920 tot 1 752 932 in 2012. Vanweë ontwikkelings en uitbreidings by Al-Masdjid al-Haram het die Saoedi-regering die getal pelgrims in 2013 beperk. Die getalle het sedert 1920 soos volg toegeneem:

Jaar AH Plaaslik pelgrims Buitelandse pelgrims Totaal
1920 1338 58 584
1921 1339 57 255
1922 1340 56 319
1950 1369 (sowat) 100 000
1995 1415 910 157
1996 1416 784 769 1 080 465 1 865 234
1997 1417 774 260 1 168 591 1 942 851
1998 1418 699 770 1 132 344 1 832 114
1999 1419 775 268 1 056 730 1 831 998
2000 1420 466 430 1 267 355 1 733 785
2001 1421 440 808 1 363 992 1 804 800
2002 1422 590 576 1 354 184 1 944 760
2003 1423 493 230 1 431 012 1 924 242
2004 1424 473 004 1 419 706 1 892 710
2005 1425 (sowat) 1 030 000 1 534 769 (sowat) 2 560 000
2006 1426 573 147 1 557 447 2 130 594
2006 1427 724 229 1 654 407 2 378 636
2007 1428 746 511 1 707 814 2 454 325
2008 1429 1 729 841
2009 1430 154 000 1 613 000 2 521 000
2010 1431 989 798 1 799 601 2 854 345
2011 1432 1 099 522 1 828 195 2 927 717
2012 1433 1 408 641 1 752 932 3 161 573
2013 1434 (sowat) 700 000 1 379 531 (sowat) 2 061 573
2014 1435 (sowat) 700 000 1 389 053 (sowat) 2 089 053
2015 1436 (sowat) 615 059 1 384 941 (sowat) 2 000 000
2016 1437 (sowat) 537 537 1 325 372 (sowat) 2 000 000
2017 1438 600 108 1 752 014 2 352 122
2018 1439 612 953 1 758 722 2 371 675

Galery

Notas

Verwysings

Verdere leesstof

  • Bianchi, Robert R. (2004). Guests of God: Pilgrimage and Politics in the Islamic World. Oxford University Press. ISBN 978-0-19-517107-5.
  • Hammoudi, Abdellah (2006). A Season in Mecca: Narrative of a Pilgrimage. Hill and Wang. ISBN 978-0-8090-7609-3.
  • Khan, Qaisra, "Hajj & 'Umra", in Muhammad in History, Thought, and Culture: An Encyclopedia of the Prophet of God (2 vols.), reds. C. Fitzpatrick en A. Walker, Santa Barbara, ABC-CLIO, 2014, Vol I, bl. 239–245.
  • Trojanow, Ilija (2007). Mumbai To Mecca: A Pilgrimage to the Holy Sites of Islam. Haus Publishing. ISBN 978-1-904950-29-5.

Eksterne skakels

Tags:

Hadj GeskiedenisHadj Tyd van die hadjHadj RitueleHadj Reëlings en gerieweHadj VervoerHadj Moderne probleme met skarebeheerHadj BetekenisHadj Getal pelgrims per jaarHadj GaleryHadj NotasHadj VerwysingsHadj Verdere leesstofHadj Eksterne skakelsHadjArabiesIslamMekkaMoslemVyf Pilare van die Islam

🔥 Trending searches on Wiki Afrikaans:

VersoeningsdagMenslike seksuele gedragTsongaLetterlike en figuurlike taalgebruikSelfoonNoord-KaapRosa ParksImpakte van toerismePaasfeesLongontstekingCeresTydSportOsoonlaagSuid-SothoTransatlantiese slawehandelHidroulikaHaaieKangogrotteToerismeSnaarinstrumentHulpwerkwoordJuraKoos BekkerWoestynProvinsies van Suid-AfrikaBesoedelingGoogle MapsLys van Suid-Afrikaanse voëls (alfabeties)KokerboomGroepsdrukPirow BekkerKoolhidraatMiljardToekoms van die AardeMynbouMonopolyByung-Chul HanAppelHandwoordeboek van die Afrikaanse TaalWillie JoubertPeriodieke tabelVleilandBorskankerErfenisRuslandGroot vyfKaapstadBywoordVergelykings (taalkunde)Poes19de eeuGalileo GalileiWerkwoordNiemetaalKarpaletonnelsindroomLenteGesondheidMieliestronkAntoniemWoordeboek van die Afrikaanse TaalWalvisGloeilampLeestekenSuid-Afrikaanse algemene verkiesing van 1994Anneli van RooyenSonja HerholdtWaarheid-en-versoeningskommissieHomofoonKommunikasieAartappelSeisoen🡆 More