Europese Suidelike Sterrewag

Die Europese Suidelike Sterrewag (ESO, amptelik: Europese Organisasie vir Sterrekundige Navorsing in die Suidelike Halfrond) is 'n interregeringsorganisasie van 16 lande vir sterrekundige navorsing.

Dit is in 1962 gestig en het moderne geriewe op die been gebring vir die waarneming van die suidelike naghemel. Die organisasie het 730 personeellede en ontvang jaarlikse lidlandbydraes van sowat €131 miljoen. Sy sterrewagte is in Noord-Chili geleë.

Europese Suidelike Sterrewag
Ruimte-organisasie
Die ESO se Baie Groot Teleskoop in Chili.
Afkorting ESO
Doel Ruimteverkenning in die Suidelike Halfrond
Gestig 1962
Soort Interregeringsorganisasie
Hoofkwartier Garching, Duitsland
Teleskope Verskeie in Noord-Chili
Ledetal 16 (15 Europese lande en Brasilië)
Direkteur-generaal Xavier Barcons
Leuse Reaching New Heights in Astronomy
Webtuiste eso.org
Europese Suidelike Sterrewag
Die ESO se logo.

Die ESO het van die grootste en tegnologies mees gevorderde teleskope gebou. Dit sluit in die New Technology Telescope en die Baie Groot Teleskoop (VLT), wat bestaan uit vier verskillende teleskope elk met 'n primêre spieël van 8,2 m en vier kleiner hulpteleskope. Die Atacama Large Millimeter Array (ALMA) neem die heelal waar in millimeter- en submillimeter-golflengtes en is die wêreld se grootste sterrekundeprojek nog op die grond. Dit is in Maart 2013 voltooi danksy internasionale samewerking deur Europa (verteenwoordig deur die ESO), Noord-Amerika, Oos-Asië en Chili.

Tans in aanbou is die Uiters Groot Teleskoop (ELT). Dit sal 'n gesegmenteerde spieël van 39,3 m gebruik en sal in 2024, wanneer dit in werking gestel word, die grootste optiese reflektorteleskoop ter wêreld wees. Dit sal planete om ander sterre kan bestudeer, asook die eerste voorwerpe in die heelal, supermassiewe swartkolke en die aard en verspreiding van donker materie en donker energie, wat die heelal oorheers.

Wetenskaplikes het met die ESO se waarnemingsgeriewe verskeie sterrekundige ontdekkings gedoen en sterrekundige katalogusse saamgestel Ontdekkings sluit in die verste gammaflits en bewyse van die swartkolk in die middel van die Melkweg. In 2004 het die VLT sterrekundiges in staat gestel om die eerste foto te neem van 'n eksoplaneet (2M1207b) wat 173 ligjare van hier om 'n bruindwerg wentel. Die High Accuracy Radial Velocity Planet Searcher (HARPS)-instrument wat in 'n ander ESO-teleskoop geïnstalleer is, het gelei tot die ontdekking van eksoplanete, insluitende Gliese 581 c, een van die kleinste bekende planete buite die Sonnestelsel.

Geskiedenis

Die idee dat Europese sterrekundiges 'n groot gemeenskaplike teleskoop moet bou, het in 1953 by die Leidense Sterrewag in Nederland ontstaan by Walter Baade en Jan Oort. Oort het 'n saamtrek met 'n groep sterrekundiges in Leiden gereël om dit op 21 Junie dié jaar te oorweeg. Op 26 Januarie 1954 is 'n ESO-verklaring deur sterrekundiges van ses Europese lande onderteken waarin onderneem word om 'n gesamentlike Europese sterrewag in die Suidelike Halfrond te bou.

Europese Suidelike Sterrewag 
Die ESO-hoofkwartier uit die lug gesien.

In dié tyd was alle reflektorteleskope met 'n lensopening van groter as 2 m in die Noordelike Halfrond geleë. Die besluit om dit in die suide te bou, het ontstaan uit die behoefte aan waarnemings van die suidelike hemelruim; sommige voorwerpe soos die middel van die Melkweg en die Magellaanse Wolke kan net uit die Suidelike Halfrond bestudeer word.

Hoewel die aanvanklike plan was om teleskope in Suid-Afrika te bou, waar reeds 'n paar Europese sterrewagte was, het toetse van 1955 tot 1963 getoon 'n terrein in die Andes was verkieslik. Op 15 November 1963 is Chili gekies as die ideale plek. Dit is voorafgegaan deur die ondertekening van die ESO-konvensie op 5 Oktober 1962 deur België, Duitsland, Frankryk, Nederland en Swede.

In 1966 is die eerste ESO-teleskoop op die La Silla-terrein in Chili in werking gestel. Omdat CERN, nes die ESO, gesofistikeerde instrumente het, het die sterrekundevereniging hom al hoe meer tot die kernnavorsingsliggaam gewend vir advies, en 'n samewerkingsooreenkoms is in 1970 deur die ESO en CERN onderteken. 'n Paar maande later het die ESO se teleskoopafdeling in 'n CERN-gebou in Genève ingetrek en die ESO se Lugatlaslaboratorium is op 'n CERN-eiendom gevestig.

Die ESO se Europese afdelings het in 1980 in die nuwe ESO-hoofkwartier in Garching naby München, Duitsland, ingetrek.

Lidlande

Europese Suidelike Sterrewag 
Die ESO se lidlande.
Europese Suidelike Sterrewag 
Die Melkweg glinster helder bo die ALMA-antennas by Chajnantor.
Land Datum aangesluit
Europese Suidelike Sterrewag  België 1962
Europese Suidelike Sterrewag  Duitsland 1962
Europese Suidelike Sterrewag  Frankryk 1962
Europese Suidelike Sterrewag  Nederland 1962
Europese Suidelike Sterrewag  Swede 1962
Europese Suidelike Sterrewag  Denemarke 1967
Europese Suidelike Sterrewag  Switserland 1981
Europese Suidelike Sterrewag  Italië 24 Mei 1982
Europese Suidelike Sterrewag  Portugal 27 Junie 2000
Europese Suidelike Sterrewag  Verenigde Koninkryk 8 Julie 2002
Europese Suidelike Sterrewag  Finland 1 Julie 2004
Europese Suidelike Sterrewag  Spanje 1 Julie 2006
Europese Suidelike Sterrewag  Tsjeggië 1 Januarie 2007
Europese Suidelike Sterrewag  Oostenryk 1 Julie 2008
Europese Suidelike Sterrewag  Brasilië 29 Desember 2010 (hangende)
Europese Suidelike Sterrewag  Pole 28 Oktober 2014
Europese Suidelike Sterrewag  Ierland vanaf 2018

Chileense sterrewagterreine

Hoewel die ESO se hoofkwartier in Duitsland is, is sy teleskope en sterrewagte in Noord-Chili, waar die organisasie gevorderde, grondgebaseerde sterrekundegeriewe bedien:

  • La Silla, met die New Technology Telescope (NTT);
  • Paranal, met onder meer die Baie Groot Teleskoop (VLT);
  • Llano de Chajnantor, met die APEX (Atacama Pathfinder Experiment, 'n submillimeterteleskoop) en ALMA (Atacama Large Millimeter/submillimeter Array).

Dit is van die beste terreine vir sterrekundige waarnemings in die Suidelike Halfrond. 'n ESO-projek wat tans aan die gang is, is die Uiters Groot Teleskoop (Extremely Large Telescope, ELT), 'n teleskoop van 40 m met vyf spieëls. Dit sal die grootste optiese en naby-infrarooiteleskoop in die wêreld wees. Bouwerk het in Junie 2014 begin. Die ELT word op 'n ander, vierde terrein (Cerro Armazones) gebou en sal na verwagting in 2024 klaar wees.

Elke jaar is daar sowat 2 000 versoeke om die ESO se teleskope te gebruik, vier tot ses keer soveel nagte as wat beskikbaar is. In 2009 is meer as 650 geskrifte gepubliseer wat op ESO-data geskoei was.

ESO-teleskope genereer 'n groot hoeveelheid data teen 'n hoë spoed, en dit word in 'n permanente argief in die ESO-hoofkwartier gebêre. Die argief het sowat 1,01 petagrepe data.

ESO-teleskope
Naam Afk. Grootte Soort Ligging Jaar
 ESO-3,6 m-teleskoop, met HARPS ESO 3,6m 3,57 m Opties en infrarooi La Silla 1977
 MPG/ESO-2,2 m-teleskoop MPG 2,20 m Opties en infrarooi La Silla 1984
 New Technology Telescope NTT 3,58 m Opties en infrarooi La Silla 1989
 Baie Groot Teleskoop VLT 4 × 8,2 m
4 × 1,8 m
Opties tot middel-infrarooi Paranal 1998
 Atacama Pathfinder Experiment APEX 12 m Millimeter-/submillimeter-golflengtes Chajnantor 2005
 Visible and Infrared Survey Telescope for Astronomy VISTA 4,1 m Naby-infrarooi, opname Paranal 2009
 VLT Survey Telescope VST 2,6 m Opties, opname Paranal 2011
 Atacama Large Millimeter/submillimeter Array ALMA 50 × 12 m
12 × 7 m
4 × 12 m
Millimeter-/submillimeter-golflengtes
Interferometer-rangskikking
Chajnantor 2011
 Uiters Groot Teleskoop ELT 39,3 m opties tot middelinfrarooi Cerro Armazones 2024
AALMA is 'n vennootskapsprojek van Europa, die VSA, Kanada, Oos-Asië en Chili.
 • Bykomende ESO-navorsingsgeriewe is in Santiago, Chili, geleë en sluit in 'n biblioteek, rekenaarbronne en programme vir besoekende wetenskaplikes.
 • ESO het ook nou bande met ander sterrewagte en universiteite in die land.
 • Bron: ESO – Telescopes and Instrumentation

La Silla

Europese Suidelike Sterrewag  Europese Suidelike Sterrewag 
Die La Silla-sterrewag: ’n groep teleskope op ’n hoogte van 2 400 m.

La Silla, in die suidelike Atacamawoestyn 600 km noord van Santiago de Chile op 'n hoogte van 2 400 m, is die tuiste van die ESO se aanvanklike sterrewag. Nes ander sterrewagte in die gebied is La Silla ver weg van enige ligbesoedeling en is die naghemel een van die donkerstes op Aarde. Daar is verskeie teleskope, onder meer die ESO-3,6 m-teleskoop, die New Technology Telescope (NTT) en die Max-Planck-ESO-teleskoop van 2,2 m.

By die sterrewag is besoekerinstrumente wat vir besoeke aan 'n teleskoop vasgemaak word. La Silla het ook nasionale teleskope, soos 'n Switserse teleskoop van 1,2 m en 'n Deense teleskoop van 1,5 m.

Sowat 300 publikasies per jaar gaan oor werk van dié sterrewag. Ontdekkings hier sluit in die High Accuracy Radial Velocity Planet Searcher (HARPS)-waarneming van die planeetstelsel van die ster Gliese 581, wat die eerste bekende rotsplaneet in 'n bewoonbare sone buite die Sonnestelsel bevat. Verskeie teleskope by La Silla het 'n rol gespeel in die verbinding van gammaflitse met die ontploffing van enorme sterre. Die sterrewag het ook 'n rol gespeel in die bestudering van die supernova SN 1987A.

Die ESO-3,6 m-teleskoop.
Die New Technology Telescope.

ESO 3,6 m-teleskoop

Die ESO 3,6 m-teleskoop is in 1977 in werking gestel. Dit is intussen opgradeer met onder meer die installering van 'n nuwe sekondêre spieël. Die konvensioneel ontwerpte stiebeuelmontering is hoofsaaklik vir infrarooi-spektroskopie gebruik; dit bevat nou die HARPS-spektrograaf wat gebruik word in die soeke na eksoplanete en vir asteroseismologie. Die teleskoop is ontwerp vir radialesnelheidsakkuraatheid oor baie lang tydperke (in die orde van 1 m/s).

New Technology Telescope

Die New Technology Telescope (NTT) het 'n asimutale montering. Dit is 'n Ritchey-Chrétien-teleskoop van 3,58 m wat in 1989 in gebruik geneem is en die eerste in die wêreld met 'n rekenaarbeheerde hoofspieël. Die buigbare vorm word tydens waarnemings aangepas om optimale fotogehalte te verseker. Die sekondêre spieël se posisie kan ook in drie rigtings verstel word. Hierdie tegnologie (wat deur die ESO ontwikkel is en bekend is as "aktiewe optika") word nou in alle groot teleskope gebruik, insluitend die VLT en die toekomstige ELT.

Die ontwerp van die agthoekige omhulsel van die NTT is innoverend. Die teleskoopkoepel is relatief klein en word deur 'n stelsel flappe geventileer wat egalige lugvloei oor die spieël stuur wat turbulensie verminder en skerper beelde tot gevolg het.

MPG/ESO-2,2 m-teleskoop

Dié 2,2 m-teleskoop word sedert vroeg in 1984 by La Silla gebruik en word onbepaald aan die ESO geleen deur die Max Planck-geselskap (MPG). Die gebruik daarvan word gedeel deur die MPG en ESO, terwyl die onderhoud die ESO se verantwoordelikheid is.

Sy instrumente sluit in 'n 67 miljoen-pieksel-wyeveldbeelder met 'n sigveld so groot soos die volmaan. Dit het al talle foto's van hemelliggame geneem. Ander instrumente is GROND (Gamma-Ray Burst Optical Near-Infrared Detector), wat soek na die nagloed van gammaflitse, en die hoëresolusie-spektrograaf FEROS (Fiber-fed Extended Range Optical Spectrograph), wat gebruik word om gedetailleerde studies van sterre te doen.

Ander teleskope

Die Euler-teleskoop en die ESO-3,6 m-teleskoop het al baie eksoplanete ontdek.
Die Rapid Eye Mount-teleskoop.

By La Silla is verskeie nasionale en projekteleskope wat nie deur die ESO bedryf word nie. Onder hulle is die Switserse Euler-teleskoop en die Deense Nasionale Teleskoop, asook die REM-, TRAPPIST- en TAROT-teleskoop.

  • Die Euler-teleskoop is 'n 1,2 m-teleskoop wat deur die Geneefse Sterrewag in Switserland gebou is en bedryf word. Dit word gebruik vir hoëpresisie-radialesnelheidsmetings wat hoofsaaklik belangrik is in die soeke na groot eksoplanete in die Suidelike Halfrond. Sy eerste ontdekking was 'n planeet om Gliese 86. Ander waarnemingsprogramme fokus op veranderlike sterre, asteroseismologie, gammaflitse, die monitering van aktiewe sterrestelselkerns en gravitasielense.
  • Die Deense Nasionale Teleskoop van 1,54 m word sedert 1979 gebruik. Dit het aansienlike beperkings weens sy montering en die beperkte ruimte in sy koepel.
  • Die Rapid Eye Mount-teleskoop is 'n klein outomatiese teleskoop met 'n vinnige reaksie en 'n primêre spieël van 60 cm. Die altasimut-teleskoop is sedert Oktober 2002 in werking. Die hoofdoel daarvan is om die nagloed van gammaflitse dop te hou wat deur die Swift Gamma-Ray Burst Mission-satelliet waargeneem word.
  • Die Belgiese TRAPPIST is 'n gesamentlike projek deur die Universiteit van Luik en die Geneefse Sterrewag. Die 0,6 m-teleskoop spesialiseer in komete en eksoplanete, en was een van die min teleskope wat 'n stelêre okkultasie van die dwergplaneet Eris waargeneem het; dit het gelei tot die onthulling dat Eris kleiner as Pluto kan wees.
  • Die Quick-action telescope for transient objects (TAROT) is 'n vinnig bewegende optiese robotteleskoop wat 'n gammaflits van sy begin af kan waarneem. Satelliete wat gammaflitse opspoor, stuur seine na TAROT, wat die presiese posisie daarvan aan sterrekundiges kan aandui. Data van die TAROT-teleskoop is ook nuttig in die bestudering van die evolusie van gammaflitse, die aard van vuurballe en hul omringende materiaal. Dit word bedryf vanaf die Haute-Provence-sterrewag in Frankryk.

Paranal

Die Paranal-sterrewag is op Cerro Paranal in die Atacamawoestyn in Noord-Chili geleë. Cerro Paranal is 'n berg van 2 635 m, sowat 120 km suid van Antofagasta en 12 km vanaf die kus van die Stille Oseaan.

Die sterrewag het sewe groot teleskope wat in sigbare en infrarooilig werk: die vier 8,2 m-teleskope van die Baie Groot Teleskoop, die VLT Survey Telescope (VST) van 2,6 m en die Visible and Infrared Survey Telescope for Astronomy van 4,1 m. Daar is ook vier hulpteleskope van 1,8 m wat vir interferometriese waarnemings gebruik kan word. In Maart 2008 was Paranal die verhoog vir verskeie tonele van die 22ste James Bond-fliek, Quantum of Solace.

Europese Suidelike Sterrewag 
'n 360-grade- panoramiese uitsig op die suidelike naghemel vanaf Paranal, met teleskope op die voorgrond.

Baie Groot Teleskoop

Die Baie Groot Teleskoop (VLT): ’n versameling van vier hoof- en vier hulpteleskope.
Die VLT se kunsmatige gidsster; die laserstraal word vir aanpassingsoptika gebruik.

Die hoofterrein van Paranal bevat die Baie Groot Teleskoop (VLT), wat uit vier byna identiese 8,2 m-teleskope bestaan wat elk twee of drie instrumente het. Dié vier groot teleskope kan ook saam in groepe van twee of drie gebruik word as 'n groot interferometer (VLTI). Dit laat sterrekundiges toe om detail te sien van tot 25 keer so skerp as met die individuele teleskope. Die ligstrale in die VLTI word gekombineer met 'n ingewikkelde stelsel spieëls in ondergrondse tonnels. Die VLTI kan 'n hoekresolusie van milliboogsekondes bereik, wat gelyk is aan die vermoë om die kopligte van 'n motor op die Maan te sien.

Vier 1,8 m-hulpteleskope wat tussen 2004 en 2007 aangebring is, kan vir die VLTI gebruik word as die hoofteleskope met ander projekte besig is.

Data van die VLT het gelei tot die publikasie van omtrent een wetenskaplike artikel per dag – in 2007 het amper 500 artikels die lig gesien. Die VLT se ontdekkings sluit in die neem van die eerste foto van 'n eksoplaneet, die volging van individuele sterre wat om die supermassiewe swartkolk in die middel van die Melkweg wentel en die waarneming van die nagloed van die verste bekende gammaflits.

Met die inwyding van die Paranal-sterrewag in Maart 1999 is die name van hemelliggame in die plaaslike taal, Mapudungun, gekies om die tegniese name van die vier hoofteleskope te vervang. 'n Opstelkompetisie is vooraf onder skoolkinders in die streek gereël oor die betekenis van die name. 'n 17-jarige van Chuquicamata, naby Calama, het die wenopstel ingeskryf en 'n teleskoop gewen. Die vier teleskope, voorheen bekend as UT1, UT2, UT3 en UT4, heet sedertdien Antu ("Son"), Kueyen ("Maan"), Melipal ("Suiderkruis") en Yepun ("Aandster").

Opnameteleskope

Die gebou wat VISTA huisves.
Die VST op die agtergrond en twee van die koepelvormige hulpteleskope voor.

VISTA (Visible and Infrared Survey Telescope for Astronomy) is geleë op die piek langs die een waar die VLT staan, en het dieselfde waarnemingstoestande. Die hoofspieël is 4,1 m breed; dit is 'n hoogs geboë spieël vir sy grootte en gehalte. Sy afwykings van 'n perfekte oppervlak is 'n paar duisendstes van die dikte van 'n menslike haar.

Die teleskoop is ontwikkel deur 'n konsortium van 18 universiteite in Brittanje. Die ESO gebruik dit van Desember 2009 af, en gehaltefoto's word sedertdien daarmee geneem.

Die VLT Survey Telescope (VST) is 'n moderne 2,6 m-teleskoop toegerus met OmegaCAM, 'n 268-megapieksel-CCD-kamera met 'n sigveld vier keer so groot soos die volmaan. Dit vul VISTA aan in opnames van die lug in sigbare lig. Die VST, wat sedert 2011 gebruik word, is 'n gesamentlike projek van die ESO en die Sterrewag van Capodimonte in Napels, 'n navorsingsentrum by die Italiaanse Nasionale Instituut vir Astrofisika.

Albei opnames ondersoek van die aard van donker energie tot naby-aarde-voorwerpe. VISTA en die VST sal na verwagting groot hoeveelhede data produseer; 'n enkele foto wat deur VISTA geneem word, het 67 megapieksels, en foto's deur OmegaCam (op die VST) sal 268 megapieksels hê. Die twee opnameteleskope sal elke nag meer data versamel as al die instrumente op die VLT saam – ongeveer 100 teragrepe data per jaar.

Llano de Chajnantor

Die APEX-submillimeter-teleskoop van 12 m.
Drie ALMA-antennas by Chajnantor.
Groot antennas op geel voertuie.

Die Llano de Chajnantor is 'n plato van 5 100 m hoog in die Atacamawoestyn. Die terrein is 750 m hoër as dié van die Mauna Kea-sterrewag en 2 400 m hoër as dié van die Baie Groot Teleskoop op Cerro Paranal. Dit is droog en onherbergsaam vir mense, maar 'n goeie terrein vir submillimeter-sterrekunde. Omdat waterdampmolekules in die Aarde se atmosfeer submillimeterstraling absorbeer en verswak, is 'n droë plek nodig vir hierdie soort radiosterrekunde. Die teleskope is:

  • Atacama Cosmology Telescope (ACT; nie deur die ESO bedryf nie)
  • Atacama Pathfinder Experiment (APEX)
  • Atacama Large Millimeter Array (ALMA)
  • Q/U Imaging Experiment (QUIET; nie deur die ESO bedryf nie)
  • POLARBEAR (op die Huan Tran-teleskoop; nie deur die ESO bedryf nie)

APEX en ALMA is teleskope wat ontwerp is vir millimeter- en submillimeter-sterrekunde. Dit is 'n relatief onontginde veld wat ondersoek instel na 'n heelal wat nie in sigbare of infrarooilig gesien kan word nie – die "koue heelal". Lig by hierdie golflengtes kom van groot, koue gebiede in die interstellêre ruimte by temperature van net-net bo absolute nul. Sterrekundiges gebruik dié lig om die chemiese en fisiese toestande in hierdie molekulêre wolke te bestudeer; dit is die digte streke van gas en ruimtestof waar nuwe sterre gevorm word. In sigbare lig is dié streke dikwels donker en onduidelik weens stof; hulle is egter helder in die millimeter- en submillimeter-dele van die elektromagnetiese spektrum. Dié golflengtes is ook ideaal vir die bestudering van sommige van die vroegste (en verste) sterrestelsels in die heelal waarvan die lig weens rooiverskuiwing vanweë die uitdying van die heelal langer golflengtes het.

Atacama Pathfinder Experiment

Die Atacama Pathfinder Experiment-teleskoop word deur die ESO bedryf in samewerking met die Max Planck-geselskap vir Radiosterrekunde in Bonn, Duitsland, en die Onsala-sterrewag in Onsala, Swede. Dit is 'n 12 m-teleskoop en die grootste een in die Suidelike Halfrond wat by millimeter- en submillimeter-golflengtes werk.

Atacama Large Millimeter/submillimeter Array

ALMA is 'n astronomiese interferometer met 'n innoverende ontwerp. Dit was aanvanklik saamgestel uit 66 hoëpresisie-antennas en het by golflengtes van 0,3 tot 3,6 mm gewerk. Die hoofteleskoopreeks het vyftig 12 m-antennas wat as 'n enkele interferometer dien. Daar is ook 'n kompakte reeks van vier 12 m- en twaalf 7 m-antennas. Die teleskope kan die heelal fynkam met ongekende sensitiwiteit en resolusie, met sig van tot 10 keer dié van die Hubble-ruimteteleskoop. Hierdie beelde vul dié van die VLT-interferometer aan. ALMA is 'n samewerkingsprojek van Oos-Asië, Europa, Noord-Amerika en Chili.

Die doelwitte van ALMA sluit in die bestudering van die oorsprong en vorming van sterre, sterrestelsels en planete met waarnemings van molekulêre gas en stof, die bestudering van verafgeleë sterrestelsels aan die kante van die sigbare heelal en van die oorblywende straling ná die Groot Knal.

Soeke na eksoplanete

Europese Suidelike Sterrewag 
'n Kunstenaarsvoorstelling van 'n ysige eksoplaneet.

Die ESO se sterrewagte is toegerus met talle instrumente vir die opsporing, bestudering en monitering van eksoplanete. Sterrekundiges soek veral na planete wat met die Aarde ooreenstem. In 2004 het die Baie Groot Teleskoop die dowwe gloed waargeneem van 'n oënskynlike planeet wat om 'n ster sowat 200 ligjare van die Aarde af wentel. 'n Jaar later is bevestig dat dit inderdaad die heel eerste foto van 'n eksoplaneet is. Hoewel die planeet groot is (sy massa is vyf keer dié van Jupiter) was hierdie waarneming 'n eerste stap in die bepaling van die fisiese struktuur en chemiese samestelling van eksoplanete.

Al lyk dit of planete baie algemeen in die heelal is, is hulle relatief klein en dowwe voorwerpe; dit maak hul opsporing moeilik met ons huidige tegnologie. Om dié rede is die meeste eksoplanete met behulp van indirekte metodes opgespoor. Hiervan is die suksesvolste die radialesnelheidsmetode. HARPS het gehelp met die opsporing van 'n aantal planete met massas kleiner as dié van Neptunus wat om nabygeleë sterre wentel.

Min van hierdie planete is egter klein of in hul ster se bewoonbare sone. Die Deense 1,54 m-teleskoop by La Silla het deel gehad aan die ontdekking van een van die planete wat die meeste soos die Aarde is. Die eksoplaneet, omtrent vyf keer so groot soos die Aarde, wentel elke 10 jaar om sy ster en het vir seker 'n oppervlak van rots en ys.

Europese Suidelike Sterrewag 
Die Baie Groot Teleskoop en die sterregroep Alpha Centauri.

In Augustus 2016 het die ESO die ontdekking van Proxima Centauri b, 'n planeet om ons naaste ster, Proxima Centauri, aangekondig.

Ouderdom van die heelal

Europese Suidelike Sterrewag 
Die sterreswerm 47 Tucanae.

Met die Baie Groot Teleskoop het sterrekundiges 'n onafhanklike bepaling gedoen van die ouderdom van die heelal en nuwe lig is gewerp op die vroegste stadiums van die Melkweg. Hulle het vir die eerste keer die hoeveelheid van die radioaktiewe isotoop uraan-238 gemeet in 'n ster wat ontstaan het terwyl die Melkweg nog besig was om te vorm.

Nes radiokoolstofdatering, wat vir korter tydperke gebruik word, is die hoeveelheid uraan 'n aanduiding van die ouderdom van 'n ster. Dit wys dié ster is 12,5 miljard jaar oud. Omdat 'n ster nie ouer as die heelal kan wees nie, beteken dit die heelal moet ouer as dit wees. Dit stem ooreen met die kosmologie, waarvolgens die heelal sowat 13,8 miljard jaar oud is. Die ster (en die Melkweg) moes dus kort ná die Groot Knal gevorm het.

Nog 'n resultaat was die eerste meting van die berillium-inhoud van twee sterre in 'n Melkweg-bolswerm. Met dié meting het sterrekundiges bevind die eerstegenerasiesterre in ons sterrestelsel moes gevorm het kort ná die einde van die "donkereeue", minder as 200 miljoen jaar ná die Groot Knal.

Melkweg se swartkolk

Sterrekundiges vermoed al lank daar is 'n swartkolk in die middel van die Melkweg, maar hulle kon dit nie bewys nie. Bewyse is gevind nadat die galaktiese sentrum 16 jaar lank met ESO-teleskope by La Silla en Paranal bestudeer is.

Sterre in die middel van die Melkweg is so dig dat spesiale beeldtegnieke (soos aanpassingsoptika) nodig was om die resolusie van die VLT te verbeter. Danksy dié tegnieke kon sterrekundiges individuele sterre met ongekende akkuraatheid dophou terwyl hulle om die galaktiese sentrum sirkel. Hul bane het onteenseglik bewys hulle wentel in die enorme swaartekraggreep van 'n supermassiewe swartkolk met 'n massa van byna drie miljoen keer dié van die Son. Die VLT-waarnemings het ook getoon flitse infrarooilig kom met gereelde tussenposes uit die streek. Hoewel die oorsaak van dié verskynsel onbekend is, is al voorgestel die swartkolk tol baie vinnig.

Die VLT het ook na die middel van ander sterrestelsels gekyk en duidelike tekens gesien van die aktiwiteit wat deur supermassiewe swartkolke veroorsaak word. In die aktiewe sterrestelsel NGC 1097 is 'n komplekse netwerk filamente wat uit die hoofdeel van die sterrestelsel na sy sentrum spiraal, in fyn besonderhede waargeneem.

Gammaflitse

Gammaflitse is hoë-energieflitse van gammastrale wat van minder as 'n sekonde tot verskeie minute kan duur. Hulle kom ver van die Aarde af voor, naby die grense van die sigbare heelal.

Die VLT het die nagloed van die verste bekende gammaflits waargeneem. Met 'n gemete rooiverskuiwing van 8,2 het die lig van dié bron meer as 13 miljard jaar geneem om die Aarde te bereik. Die flits het plaasgevind toe die heelal minder as 600 miljoen jaar oud was (minder as 5% van sy huidige ouderdom). Meer energie is in 'n paar sekondes vrygestel as wat die Son in sy hele bestaan (meer as 10 miljard jaar) sal vrystel.

Europese Suidelike Sterrewag 
Die ESO se wetenskapargief.

Gammaflitse kan kort of lank wees, en tot in 2003 is vermoed hulle word deur verskillende gebeurtenisse veroorsaak. In dié jaar het ESO-teleskope die nagloed van 'n ontploffing 'n maand lank dopgehou. Volgens hul data het die lig soortgelyke eienskappe as dié wat deur 'n supernova vrygestel word, en dit het sterrekundiges lang flitse laat verbind met die ontploffing van swaar sterre (hipernovas). In 2005 het ESO-teleskope sigbare lig van 'n kort flits waargeneem en dit drie weke lank dopgehou. Die gevolgtrekking was dat kort gammaflitse nie deur hipernovas veroorsaak word nie, maar eerder ontstaan in die gewelddadige samesmelting van neutronsterre en swartkolke.

Digitale argief

Die ESO se wetenskapargief ontvang en versprei data en verskaf argiefhulp. Sowat 200 teragrepe (TB) openbare data word elke jaar versprei. Die argief is sowat 1,01 petagrepe (PB) groot, met inligting van sowat 131 TB per jaar wat bykom.

Danksy deurbrake in teleskope en rekenaartegnologie kan sterrekundige opnames 'n groot aantal beelde, spektrums en katalogusse voortbring. Dié data dek die lug by alle golflengtes, van gamma- en X-strale tot infrarooi- en radiogolwe. Maniere word ontwikkel om hierdie groot hoeveelheid data maklik toeganklik te maak. Aangesien elke sterrewag teleskope met unieke instrumente het, is daar datasentrums met unieke versamelings sterrekundige data, sagtewarestelsels en prosesseringsvermoëns. Dié wêreldwye, gemeenskapsgebaseerde inisiatief word deur die International Virtual Observatory Alliance ontwikkel en in Europa as deel van die EURO-VO-projek.

Groot ontdekkings

Die ESO se top-10-ontdekkings.
Die heel eerste foto van 'n eksoplaneet (links onder), wat in 2004 deur die Baie Groot Teleskoop geneem is. Dit wentel om die bruindwerg 2M1207.
Die verste gammaflits (kunstenaarsvoorstelling).
  • Proxima Centauri b, die naaste moontlik bewoonbare eksoplaneet
    'n ESO-span onder Guillem Anglada-Escudé het Proxima Centauri b ontdek. Die ontdekking is op 24 Augustus 2016 in Nature aangekondig.
  • Sterre se wenteling om die Melkweg se swartkolk
  • Vinniger uitdyende heelal
    Twee onafhanklike navorsingspanne het bewyse gekry dat die heelal al hoe vinniger uitdy, geskoei op waarnemings van ontploffende sterre met teleskope by La Silla. Hulle het in 2011 die Nobelprys vir fisika daarvoor gewen.
  • Oudste bekende ster in die Melkweg
    Sterrekundiges het met die VLT die ouderdom gemeet van die oudste ster in die Melkweg wat toe bekend was. Op 13,2 miljard jaar is die ster gebore in die vroegste fases van die heelal se ontstaan. Dit lyk egter of die oudste ster wat nou bekend is 13,6 miljard jaar oud is, en die Metusalag-ster kan selfs ouer wees.
  • Die meting van eksoplaneetspektrums en -atmosfere
    Die atmosfeer om 'n eksoplaneet is die eerste keer met die VLT bestudeer. Die planeet, GJ 1214b, is dopgehou terwyl dit voor sy moederster verbybeweeg het en sterlig deur die planeet se atmosfeer geskyn het.
  • Die eerste foto van 'n eksoplaneet
    Die VLT het die eerste foto van 'n planeet buite die sonnestelsel geneem. Die planeet, wat vyf keer so groot soos Jupiter is, wentel om 'n bruindwerg ('n ster wat nie warm genoeg is om te brand nie) op 'n afstand van 55 AE. ('n AE is die afstand tussen die Aarde en die Son.)
  • Groot planeetstelsel
    Sterrekundiges het met behulp van HARPS 'n planeetstelsel met minstens vyf planete om 'n Sonagtige ster, HD 10180, ontdek. Daar kan nog twee planete wees, waarvan een die kleinste bekende massa het.
  • Supermassiewe swartkolk in die Melkweg vlam op
    Die VLT en APEX het saamgespan om gewelddadige opvlammings uit die massiewe swartkolk in die middel van die Melkweg te bestudeer. Daar is gevind materiaal rek uit terwyl dit in die intense swaartekragveld naby die swartkolk wentel.
  • Gammaflitse
  • Sterbeweging in die Melkweg
    Ná meer as 1 000 nagte van waarnemings oor 15 jaar by La Silla het sterrekundiges die beweging van meer as 14 000 Sonagtige sterre in die nabyheid van die Son waargeneem, en dit het gewys die Melkweg is onstuimiger en chaotieser as wat voorheen geglo is.
  • Metings van kosmiese temperatuur
    Die VLT het vir die eerste keer koolstofmonoksied-molekules in 'n sterrestelsel byna 11 miljard ligjare van hier waargeneem. Dit het sterrekundiges in staat gestel om 'n presiese meting van kosmiese temperatuur op sulke verafgeleë plekke te kry.

Programme en opvoeding

Europese Suidelike Sterrewag 
'n Kunstenaarsvoorstelling van die ESO se nuwe Supernovaplanetarium en Besoekersentrum.

Uitreikingsbedrywighede word behartig deur die ESO education and Public Outreach Department (ePOD). Dit sluit in 'n reeks programme en produkte om te voorsien in die behoeftes van die media, wetenskaplikes en publiek – soos nuusvrystellings, beelde, video's en gedrukte materiaal.

Die afdeling berig oor gebeure soos die Internasionale Jaar van Sterrekunde in 2009 (saam met die IAU en Unesco), VLT First Light, Astronomy Online en die impak van die komeet Shoemaker-Levy 9. ePOD reël ook uitstallings en opvoedingsveldtogte, soos Venus Transit, Science on Stage en Science in School.

ePOD sal ook die ESO se Supernovaplanetarium en Besoekersentrum by hul hoofkwartier in Garching bei München behartig wat tans in aanbou is en na verwagting in 2018 sal open.

'n Versameling foto's en video's kan gesien word in die ESO se fotogalery en videobiblioteek. Produkte met opvoedingsmateriaal kan van die ePOD se webtuiste afgelaai of van hulle af bestel word.

Nog 'n deel van hul bedrywighede is die beskikbaarstelling van inligting oor Nasa/ESA se Hubble-ruimteteleskoop en sy wetenskaplike ontdekkings. Die Internasionale Astronomiese Unie (IAU) se perskantoor word ook by ePOD gehuisves.

Publikasies

Europese Suidelike Sterrewag 
Die ESO-publikasie The Messenger.

ESO-nuusverklarings beskryf wetenskaplike, tegniese en organisatoriese ontwikkelings en prestasies asook resultate wat wetenskaplikes met die ESO se geriewe verkry het. Die organisasie reik drie soorte nuusverklarings uit. Wetenskapverklarings beskryf die resultate van data wat deur die ESO se personeel of sterrewagte verkry is. Organisatoriese vrystellings dek verskeie temas wat met ESO-operasies te doen het, onder meer nuus oor onlangse en toekomstige sterrewagte, nuwe sterrekundige instrumente en wêreldwye uitstallings. Die ESO kies ook sy beste foto's en maak hulle deur middel van nuusvrystellings aan die publiek bekend. Alle vrystellings (sedert 1985) is aanlyn beskikbaar. Daar is kindervriendelike weergawes en verklarings wat in die tale van die ESO se lidlande vertaal is.

The Messenger is 'n kwartaalblad wat sedert Mei 1974 die ESO se bedrywighede aan die publiek bekend maak. Alle uitgawes van die verlede kan aanlyn afgelaai word. Die ESO publiseer ook aankondigings en 'n Foto van die Week op sy webtuiste. Aankondigings is korter as nuusvrystellings (gewoonlik korter as 200 woorde) en fokus op stories en gebeure van belang. Foto's van die Week wys pragtige (of interessante) beelde deur ESO-teleskope, of lê klem op onlangse gebeure of argieffoto's. Alle vorige inskrywings is op die webtuiste beskikbaar.

ESOcast is 'n podsending-videoreeks oor nuus en navorsing van die ESO. Die heelal se grense word verken deur "Doctor J" (dr. Joe Liske, 'n Duitse sterrekundige by die ESO). Liske se wetenskaplike belangstellings is in kosmologie, veral kwasars en die evolusie van sterrestelsels.

In 2013 is die IMAX-dokumentêr Hidden Universe 3D vervaardig in samewerking met Cinema Productions, Film Victoria, die Swinburne-universiteit en die ESO.

Galery

Hierdie foto's kom uit die ESO se top-100-lys.

Sien ook

Verwysings

Bibliografie

  • Shaw, E. N. (1976). "The European Southern Observatory". The Observatory. London: Royal Astronomical Society.
  • Council of Europe (2010). European Yearbook / Annuaire Européen. Vol. 58. Martinus Nijhoff Publishers. p. cdxliii. ISBN 9004206795.
  • Lodewijk, Woltjer (2012). Europe's Quest for The Universe. EDP Sciences. ISBN 9782759801671.
  • Schilling, Govert; Christensen, Lars Lindberg (2013). Europe to the Stars: ESO's first 50 years of exploring the southern sky. John Wiley & Sons. ISBN 9783527671670.

Eksterne skakels

Tags:

Europese Suidelike Sterrewag GeskiedenisEuropese Suidelike Sterrewag Chileense sterrewagterreineEuropese Suidelike Sterrewag Navorsing en ontdekkingsEuropese Suidelike Sterrewag Programme en opvoedingEuropese Suidelike Sterrewag GaleryEuropese Suidelike Sterrewag Sien ookEuropese Suidelike Sterrewag VerwysingsEuropese Suidelike Sterrewag BibliografieEuropese Suidelike Sterrewag Eksterne skakelsEuropese Suidelike Sterrewag1962Chili

🔥 Trending searches on Wiki Afrikaans:

ProksemikaAtoomVreesWaterLien se lankstaanskoeneKookpuntMaanWeer (meteorologie)HerfsAdolessensieMantisDemokrasieHartLys van Afrikaanse skrywersMieliestronkWerkwoordGroot TrekWoordsoortBalletKerngeneeskundeDigvormLys van musiekinstrumentePampoentjiesBeurtkragEngelsTegnologieRobert SobukweHoofpynGrondbesoedelingRudi ClaasePoesOopbroninhoudSirkus3D-rolprentVarkLys van politieke partye in Suid-AfrikaSendelingposisieMierBreinkaartWinnie Madikizela-MandelaTopsy SmithKolitisNamibwoestynNoord-KaapHerpes simplexLuiperdWêreldboekedagGalblaasGriekwa-AfrikaansDawidStikstofMark (ekonomie)Angina pectorisBlaarZoeloeArabiesLys van kinderspeletjiesGrondPenisNasiebouGroot-VisrivierSonnestelselWisselkoersYslandSwawelGoudTamboraBedreigde spesieVryheidsdagKasteel die Goeie HoopLys van slangeVlag van Suid-AfrikaNoord-Sotho (taal)Carles PuigdemontLetterlike en figuurlike taalgebruik🡆 More