Die Perdekopnewel (ook bekend as Barnard 33) is ’n donker newel in die sterrebeeld Jagter.
Dit is geleë net suid van die ster Alnitak, wat die verste oos is aan die Jagter se Belt, en is deel van die veel groter Orion- Molekulêre Wolkkompleks. Die newel is die eerste keer in 1888 aangeteken deur die Skotse sterrekundige Williamina Fleming op fotoplate B2312 wat deur die Harvardkollege-sterrewag geneem is.
Perdekopnewel | ||||
Die omgewing van die newel. Die refleksienewel NGC 2023 is links onder en die newel self naby die middel, in die vorm van die kop van ’n perd. | ||||
Soort newel | Donker | |||
Sterrebeeld | Jagter | |||
Tipe | Diffusienewel | |||
Waarnemingsdata (Epog J2000) | ||||
Regte klimming | 05h 40m 59.0s | |||
Deklinasie | -02° 27′ 30.0" | |||
Besonderhede | ||||
Afstand (ligjaar) | 1 500 | |||
Skynbare grootte | 8 × 6 boogminute | |||
Ander name | ||||
Barnard 33, LDN 1630 | ||||
|
Die Perdekopnewel is sowat 1 500 ligjare van die Aarde af. Dit is een van die herkenbaarste newels vanweë die vorm van sy draaiende wolk donker stof en gas wat byna soos ’n perd se kop lyk wanneer dit van die Aarde af gesien word.
Die donker stof-en-gaswolk is ’n streek in die Orion- Molekulêre Wolkkompleks, waar stervorming plaasvind. Dit is geleë in die sterrebeeld Jagter, wat in die somer duidelik in die Suidelike Halfrond sigbaar is en in die winter in die Noordelike Halfrond. Dié teelaarde vir nuwe sterre kan tot meer as 100 bekende soorte organiese en anorganiese gasse sowel as stof bevat; van die stof bestaan uit groot en komplekse organiese molekules.
Die rooi of pienkerig gloed kom van waterstofgas agter die newel wat deur die nabygeleë helder ster Sigma Orionis geïoniseer word. Magneetvelde kanaliseer die gasse wat die newel verlaat in strome, wat as strepe in die agtergrondgloed sigbaar is. ’n Gloeiende strook waterstofgas dui die kante van die massiewe wolk aan, en die digthede van nabygeleë sterre verskil weerskante opmerklik.
Die hoë konsentrasies stof in die omgewing van die Perdekop- en Orionnewel verskil van plek tot plek en dit het afwisselende seksies van algehele deursigtigheid en ondeursigtigheid tot gevolg. Die donker deel van die newel word hoofsaaklik veroorsaak deur dik stofwolke wat die lig van die sterre daaragter blokkeer. Die onderkant van die perd se nek gooi ’n skadu na links. Die sigbare donker newel wat uit die gaskompleks spruit, is ’n aktiewe ligging vir die vorming van sterre met ’n klein massa. Helder kolle in die basis van die newel is jong sterre wat besig is om te vorm.
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article Perdekopnewel, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.
®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.