Avatar

’n Avatar (Sanskrit: अवतार avatāra) is ’n begrip in Hindoeïsme wat neerdaling beteken; dit verwys na die verskyning of inkarnasie van ’n godheid op aarde.

Die term verwys ook in die algemeen na "’n verskyning maak" en word soms vir enige ghoeroe of mens gebruik.

Avatar
Tien avatars van Vishnu (Matsya, Kurma, Varaha, Vamana, Krishna, Kalki, Boeddha, Parshurama, Rama en Narasimha). Skildery in die Victoria and Albert-museum.

Die woord "avatar" verskyn nie in Vediese geskrifte nie, maar wel as werkwoord in post-Vediese tekste, en ná die 6de eeu veral in die Puranas as selfstandige naamwoord. Volgens die Rigveda het Indra die geheimsinnige krag om willekeurig enige vorm aan te neem. Die Bhagavad Gita verduidelik die begrip, maar gebruik nie die woord "avatar" nie.

Teologies word die woord meestal verbind met die Hindoegod Vishnu, hoewel die idee ook al op ander gode toegepas is. Verskeie lyste van Vishnu se avatars verskyn in Hindoegeskrifte, onder meer die 10 "Dashavatara" van die Garuda Purana en die 22 in die Bhagavata Purana, hoewel laasgenoemde byvoeg Vishnu se inkarnasies is ontelbaar. Die avatars van Vishnu is belangrik in die teologie van Vaishnavisme. In die godingebaseerde Shaktisme-tradisie word verskillende avatars van Devi soos Tripura Sundari, Durga en Kali algemeen aangetref. Hoewel avatars van ander gode soos Ganesha en Shiva ook in Middeleeuse geskrifte genoem word, gebeur dit net sporadies. Die inkarnasieleerstelling is een van die belangrikste verskille tussen die Vaishnavisme- en Shaivisme-tradisie.

Inkarnasiebegrippe soortgelyk aan avatars word ook aangetref in Boeddhisme, die Christendom en ander gelowe. Die geskrifte van Sikhisme sluit die name van talle Hindoegode in, maar verwerp die idee van die inkarnasie van verlossers; volgens hulle is daar ’n vormlose ewige god in die menslike hart, en is die mens sy eie verlosser.

Etimologie en betekenis

Die Sanskrit selfstandige naamwoord avatāra is afgelei van die Sanskrit stamme *ava ("af, neer") en *tṛī ("oorgaan"). Die woord beteken letterlik "neerdaling" of "’n verskyning maak", en verwys na die verskyning van ’n superwese of godheid in ’n ander vorm. Dit impliseer ook "oorkom", "verwyder", "afbring", "oorgaan".

Die woord "avatar" verskyn nie in Vediese geskrifte as ’n selfstandige naamwoord nie. Die stam en vorme van die werkwoord, soos avatarana, verskyn wel in post-Vediese Hindoegeskrifte, maar as ’n daad van neerdaling en nie inkarnasie nie. Die werkwoord beteken ook die "neerlegging van die las van die mens", wat ly onder die magte van die bose.

Die term word meestal aangetref met betrekking tot die Hindoegod Vishnu. Die vroegste geskrifte wat vertel van Vishnu se aanneming van menslike vorme om die goeie te laat seëvier, gebruik ander woorde soos sambhavāmi, tanu, akriti en rupa. Die woord "avatar" as selfstandige naamwoord wat na die inkarnasie van gode verwys, kom eers ná die 6de eeu in Middeleeuse geskrifte voor. Daarna word dit al hoe meer in die Puranas vir baie gode gebruik, saam met idees van ansha-avatar, of gedeeltelike verpersoonlikings.

Avatars van Vishnu

Die begrip "avatar" word in Hindoeïsme meestal verbind met Vishnu, die bewaarder van goddelike aspekte binne die Hindoe-drie-eenheid, Trimurti of Brahma, Vishnu en Shiva. Vishnu se avatars het neergedaal om die goeie te bemagtig en die bose te beveg, en so dharma te herstel. ’n Paragraaf uit die Bhagavad Gita wat dikwels in Engels aangehaal word, beskryf die tipiese rol van ’n avatar van Vishnu:

Whenever righteousness wanes and unrighteousness increases I send myself forth.
For the protection of the good and for the destruction of evil,
and for the establishment of righteousness,
I come into being age after age.

Bhagavad Gita 4.7–8

Vishnu se avatars verskyn in die Hindoemitologie wanneer die kosmos ook al deur ’n krisis bedreig word, gewoonlik omdat die bose sterker geword en die kosmos uit balans gegooi het. Die avatar verskyn dan in ’n materiële vorm om die bose en sy hulpbronne te vernietig en die kosmiese balans tussen die ewige magte van goed en kwaad te herstel.

Sy algemeenste en bekendste avatars in die Vaishnavisme-tradisie is Krishna, Rama, Narayana en Vasudeva. Elk het sy eie eienskappe en legendes, asook kuns wat met hom verbind word. Die lyste van sy avatars verskil; die Mahabharata sluit byvoorbeeld Krishna in, terwyl die Ramayana Rama insluit.

Die 10 avatars

Die Bhagavata Purana beskryf Vishnu se avatars as ontelbaar, hoewel 10 inkarnasies genoem word as sy grootste verpersoonlikings. Die 10 name word in die Agni Purana, Garuda Purana en Bhagavata Purana aangetref; die Pañcaratra noem 39.

Die 10 bekendste avatars vir Vishnu word die Dashavatara (Sanskrit vir "10 avatars") genoem. Daar is vyf verskillende lyste in die Bhagavata Purana, waar die enigste verskil die volgorde is – moontlik met opset om aan te dui dat nie een belangriker as die ander is nie.

  1. Matsya, halfvis, halfman. Hy red die wêreld van ’n kosmiese vloed met behulp van ’n boot wat van die Vedas (kennis) gemaak is; hy red daarop ook Manu (die voorsaat van die mens) en alle lewende wesens. ’n Demoon steel die Vedas en probeer dit vernietig, maar Matsya vind hom, maak hom dood en bring die Vedas terug.
  2. Kurma, die skilpad. Hy ondersteun die kosmos terwyl die gode en demone die kosmiese oseaan karring om nektar vir onsterflikheid te vervaardig. Dit stel die goeie en die slegte vry, insluitende gif en die onsterflikheidsnektar. Niemand wil die gif hê nie; almal soek die nektar. Die demone probeer die nektar steel, maar Vishnu verskyn as die verleidster Mohini. Almal word deur haar verlei en gee vir haar die nektar.
  3. Varaha, die wildevark. Hy red die godin aarde toe die demoon Hiranyaksha haar ontvoer en haar in die dieptes van die kosmiese oseaan wegsteek. Die wildevark vind haar en maak die demoon dood, en die godin hou aan sy slagtande vas terwyl hy haar na die oppervlak oplig.
  4. Narasimha, halfleeu, halfman. Die demoonkoning Hiranyakashipu word baie magtig, kry speiale kragte wat maak dat geen mens of dier hom kan doodmaak nie, en boelie en vervolg almal wat nie met hom saamstem nie, insluitende sy eie seun. Die man-leeu maak die kragte ongedaan, maak Hiranyakashipu dood en red die demoon se seun, Prahlada.
  5. Vamana, die dwerg. Die demoonkoning Bali kry ongekende mag, regeer oor die hele heelal en misbruik sy mag. Die dwerg nader hom in die vorm van ’n monnik toe Bali probeer spog deur aalmoese by ’n offerande uit te deel. Bali bied die dwerg enige rykdom aan wat hy wil hê, maar dié weier en vra drie treë grond. Bali ken dit aan hom toe. Die dwerg groei en groei tot reusagtige afmetings en tree met drie treë oor al drie wêrelde; in sy eerste tree neem hy die aarde, in sy tweede die hemel en in sy derde die onderwêreld.
  6. Parashurama, wyse man met ’n byl. Die vegtersklas raak te magtig en lê vir hul plesier beslag op ander mense se eiendom. Die avatar verskyn as ’n wyse man met ’n byl, en maak die koning en al sy vegters dood.
  7. Rama, ’n avatar in die Ramayana.
  8. Krishna, ’n avatar in die Mahabharata en die Bhagavad Gita.
  9. Boeddha, uit die Boeddhisme. Sommige Hindoegeskrifte vervang Boeddha met Balarama (’n broer van Krishna) of met Rishabhanatha, die eerste geestesleier van Djainisme.
  10. Kalki, die laaste avatar wat verskyn as ’n man met ’n wit perd met vlerke. Hy sal die Kali Yuga (tydperk van die demoon) beëindig sodat die kosmos kan vernuwe en oorbegin.

Avatars van Ganesha

Volgens die Linga Purana inkarneer Ganesha hom om demone te vernietig en die gode en vroom mense te help. Die twee upapurana – Ganesha Purana en Mudgala Purana – gee besonderhede oor sy avatars. Albei is sleutelgeskrifte van die Ganapatya-sekte, wat uitsluitlik vir Ganesha aanbid.

Vier avatars word in die Ganesha Purana genoem: Mohotkata, Mayureshvara, Gajanana en Dhumraketu. Elk behoort tot ’n ander yuga (epog) en het ’n ander rydier en velkleur, maar hulle het een ding in gemeen: om demone dood te maak.

Die Mudgala Purana beskryf agt avatars van Ganesha:

  1. Vakratunda ("gedraaide slurp"); sy rydier is ’n leeu.
  2. Ekadanta ("enkelslurp"); rydier: muis.
  3. Mahodara ("groot maag"); rydier: muis.
  4. Gajavaktra ("olifantgesig"); rydier: muis.
  5. Lambodara ("hangmaag"); rydier: muis.
  6. Vikata ("buitengewone vorm", "misvorm"); rydier: pou.
  7. Vighnaraja ("koning van hindernisse"); rydier: die slang Sesa.
  8. Dhumravarna ("grys kleur") stem ooreen met Shiva; rydier: perd.

Avatars van Shiva

Avatar 
Sharabha (regs) saam met Narasimha (18de-eeuse skildery, Pahari/Kangra-skool).

Hoewel die Puranas wel soms na avatars van Shiva verwys, word dié leerstelling nie algemeen in Shaivisme aanvaar nie. Die sienings oor inkarnasie is een van die belangrikste verskille tussen Vaishnavisme en Shaivisme, benewens hul verskille oor die rol van ’n huis- teenoor ’n kloosterlewe. Shaivisme is ’n bosintuiglike teologie waarin die mens, met die hulp van sy ghoeroe, sy eie verlosser is.

Die Linga Purana lys 28 avatars van Shiva. In die Shiva Purana is daar ’n spesifiek Shaivistiese weergawe van ’n tradisionele avatar-mite: Shiva bring Virabhadra, een van sy skrikwekkende vorme, voort om Narasimha, ’n avatar van Vishnu, te kalmeer. Toe dit nie werk nie, verander Shiva in die mens-leeu-voël Sharabha, wat Vishnu se leeu-voël-avatar Narasimha kalmeer, en Shiva gee Vishnu ’n chakra present.

’n Soortgelyke verhaal word in die laat-Middeleeuse Sharabha Upanishad vertel. Die Vaishnava-skool verwerp egter hierdie siening van Narasimha.

Die aap-god Hanuman, wat Rama gehelp het, word ook soms as ’n avatar van Rudra (Shiva) beskou, so ook ’n paar streeksgode soos Khandoba. In die Dasam Granth noem ghoeroe Gobind Singh twee avatars van Rudra: Dattatreya en Parasnath.

Avatars van Devi

Avatar 
Durga
Avatar 
Kali
Avatar 
Sita
Avatar 
Parvati

Daar is ook avatars in Shaktisme, die sekte wat die Godin (Devi) aanbid, maar dit word nie deur almal aanvaar nie. Die Devi Bhagavata Purana beskryf die neerdaling van Devi-avatars soos Durga, Kali en Parvati om die bose te straf en die regverdiges te verdedig – dit stem in ’n groot mate ooreen met die Bhagavata Purana se beskrywings van die avatars van Vishnu. Nes Vishnu, inkarneer sy metgesel, Lakshmi, haar as Sita en Radha – die metgeselle van sy Rama- en Krishna-avatar. Nilakantha, ’n 18de-eeuse kommentator oor die Devi Bhagavata Purana, wat die Devi Gita insluit, het gemeen die verskeie avatars van die Godin sluit Shakambhari in, en selfs die manlike Krishna en Rama wat gewoonlik as avatars van Vishnu beskou word.

Avatars van Lakshmi

Sridevi en Bhudevi is twee verskillende vorme van die godin Lakshmi. Dharini, die metgesel van Parashurama; Sita, die metgesel van Rama; en Yashodhara, die metgesel van Boeddha; asook die metgeselle van die vorige inkarnasies van Vishnu word almal as volle inkarnasies van Lakshmi beskou. Baie ander metgeselle word beskou as gedeeltelike inkarnasies van Lakshmi.

Avatars van Brahma

In die Dasam Granth, sekondêre geskrifte deur ghoeroe Gobind Singh, word sewe avatars van Brahma genoem:

  1. Valmiki
  2. Kashyapa
  3. Shukra
  4. Bachesa
  5. Vyasa
  6. Khata Rishi
  7. Kalidasa

Verwysings

Nog bronne

Eksterne skakels

Tags:

Avatar Etimologie en betekenisAvatar s van VishnuAvatar s van GaneshaAvatar s van ShivaAvatar s van DeviAvatar s van LakshmiAvatar s van BrahmaAvatar VerwysingsAvatar Eksterne skakelsAvatarGhoeroeGodheidHindoeïsmeSanskrit

🔥 Trending searches on Wiki Afrikaans:

BuffelSlangRomeinse RykLuiperdYouTubeLugbesoedelingVoedingElana AfrikaSuikersiekteCurly HowardHaasKlereVolksrepubliek ChinaVaalrivierMaselsJo BlackOntdekking van goud in Suid-AfrikaKalenderNetbalDataverwerkingSuid-Afrikaanse algemene verkiesing van 1994MuskietLys van Suid-Afrikaanse skrywersHidroulikaBreedtegraadDelft, KaapstadAarverkalkingGoogleJagluiperdVleilandVolhoubaarheidKindermishandelingMusiekVaginaInternetWaterkringloopPriemgetalEnsiklopedieLys van chemiese elemente volgens atoomgetalMaagsweerVarkEreksieMorfologie (taalkunde)VersoeningsdagDrinkwatervoorsieningNederlandsResensieVerkleurmannetjieNagmaalPenisInligtingSeksualiteitEuropaViëtnamNazi-DuitslandKindersiektesHulpwerkwoordJeuksiekteEendbekdierMarie AntoinetteOrthopteraWêreld- Ekonomiese ForumGrondwetGraaff-ReinetIsraelSwangerskapKoorsToestand van materieOranjerivierGeweldPolisieSpeelkaartMiltSwitserland🡆 More