Die term Kwartêre Uitwissing verwys na die uitsterwing van verskeie groot dierespesies tydens die Kwartêre Periode, veral met die oorgang van die Pleistoseen- na die Holoseen-epog.
Periode/ sisteem | Epog/ serie | Tydsnede/ etage | M. jaar gelede | ||
---|---|---|---|---|---|
Kwartêr | Holoseen | 0–0,0117 | |||
Pleistoseen | Tarantium | 0,0117–0,126 | |||
Ionium | 0,126–0,781 | ||||
Kalabrium | 0,781–1,806 | ||||
Gelasium | 1,806–2,588 | ||||
Neogeen | Plioseen | Piasensium | ouer | ||
Die verdeling van die Kwartêr (IKS). |
Die uitwissing het nie aan die einde van die Pleistoseen geëindig nie, maar het voortgegaan in die Holoseen, veral op geïsoleerde eilande.
Onder die baie teorieë deur paleontoloë oor wat dit kon veroorsaak het, is natuurlike klimaatsveranderings en die doodmaak van diere deur mense, wat in die Middel-Pleistoseen hul verskyning gemaak en in die Laat Pleistoseen en Holoseen na ander streke gemigreer het. Die verspreiding van siektes word ook as ’n moontlike oorsaak beskou.
Die Laat Pleistoseen-uitwissing behels die uitsterwing van baie soogdiere van swaarder as 40 kg. In Noord-Amerika het 33 van 45 genera groot soogdiere uitgesterf, in Suid-Amerika 46 van 58, in Australië 15 van 16, in Europa 7 van 23 en in Afrika suid van die Sahara 2 van 44.
In die Amerikas het al die soogdiere van Suid-Amerikaanse oorsprong wat swaarder as 100 kg geweeg het, uitgesterf – insluitende dié wat noord gemigreer het. In Noord- en Suid-Amerika asook Australië het uitwissings voorgekom op familievlak of hoër.
Daar is veral drie hipoteses oor die oorsake van die Pleistoseen-uitwissing:
Volgens die jaghipotese het mense groot plantvretende soogdiere gejag totdat hulle heeltemal uitgewis was. As gevolg hiervan het karnivore en aasdiere wat van hulle geleef het, ook uitgesterf weens ’n gebrek aan prooi. Van die bewyse daarvoor is die fossiele van groot diere wat saam met menslike oorskotte gevind is, met pyle in die lyf en merke wat deur gereedskap gemaak is aan die bene. Daar is ook grottekeninge wat dié jagtogte uitbeeld. Volgens sekere teorieë het dié uitwissing in ’n redelike kort tyd gebeur.
Die noue verband tussen die tye van uitsterwing en tye waarin die mens in sekere streke aangekom het, is verdere bewyse vir die jaghipotese. Groter diere op sekere eilande het nog vir duisende jare voortbestaan ná die verdwyning van hul eweknieë op die vasteland. Reuseluidiere het byvoorbeeld in die Antille oorleef lank ná dié in Noord- en Suid-Amerika. Die latere verdwyning van die eilandspesie stem ooreen met die tydperk waarin die eilande deur mense betrek is. Net so het dwergwolhaarmammoete op Wrangel-eiland naby Siberië en St. Paul-eiland in Alaska duisende jaar langer as dié op die vasteland oorleef.
Die vroegste uitsterwings in Australië word geraam op sowat 50 000 jaar gelede in die tyd toe mense daarheen gemigreer het, lank voor die laaste glasiale maksimum en voor temperatuurstygings. In Tasmanië het groot spesies soos die reusekangaroo baie langer oorleef, waarskynlik omdat die mens daar eers ’n paar duisend jaar later as in Australië aangeland het.
Uitsterwing van groot diere in Noord- en Suid-Amerika en Madagaskar het ook tegelykertyd toegeneem – dit is plekke sonder enige gemeenskaplike klimaatstoestande. Die enigste gemeenskaplike faktor was die aankoms van die mens in dié gebiede.
Biogeografiese bewyse dui daarop dat gebiede waar die mens sy oorsprong het, tans meer van sy groot Pleistoseense diere oorhet (soos die olifante en renosters van Afrika en Asië) as streke soos Australië, die Amerikas, Madagaskar en Nieu-Seeland waar in dié tyd geen mense was nie. Dit dui daarop dat diere in gebiede waar hulle saam met die mens ontwikkel het, ’n vrees vir hulle ontwikkel het en geleer het om hulle te ontwyk. In gebiede waarheen die mens eers later gemigreer het, was die diere naïef en sonder vrees vir die mens, en dus makliker om te jag.
Die grootste argumente teen die jaghipotese is:
Aan die einde van die 19de en begin van die 20ste eeu, toe wetenskaplikes vir die eerste keer besef het daar was glasiale en interglasiale tye en dat hulle op die een of ander manier verbind kan word met die oorlewing of uitsterwing van sekere diere, het hulle gedink die einde van die Pleistoseense ystyd kan ’n rede wees vir die uitsterwing van groot diere.
Die mees vanselfsprekende verandering aan die einde van ’n glasiale tyd is die toename in temperatuur. Tussen 15 000 en 10 000 jaar gelede het die wêreldwye gemiddelde temperatuur met 6 °C toegeneem. Daar is aanvanklik geglo dit het die uitwissing veroorsaak. Dit sou groot genoeg druk op soogdiere wat by die koue aangepas het, geplaas het om te vrek. Hul warm pelse, wat hulle in die glasiale tyd teen die koue beskerm het, kon verhoed het dat hulle van oortollige hitte ontslae raak en dan sou hulle van hitte-uitputting doodgegaan het. Die groter soogdiere sou erger getref gewees het weens die kleiner verhouding tussen hul oppervlakgrootte en volume.
Kritici het gemeen daar was verskeie glasiale en interglasiale tye in die evolusiegeskiedenis van baie van die groot diere, en die temperatuurstygings ná die Pleistoseen was nie hoër as met vroeëre interglasiale tye nie. Daarom is dit onwaarskynlik dat diere net ná die laaste glasiale tyd uitgesterf het. Dit verduidelik ook nie hoekom spesies op eilande soos Wrangel- en St. Paul-eiland langer oorleef het nie, want hul bevolkings sou kleiner gewees het en hulle sou nie na ander, gunstiger gebiede kon trek soos dié op die vasteland nie.
’n Onlangse studie het egter getoon die uiteindelike bevolkingsamestelling van die Pleistoseense groot diere kon aansienlik verskil het van dié van groot diere in die vroeëre interglasiale tye, veral wat betref die oorvloed en geografiese omvang van Pleistoseense bisons aan die einde van die epog. In vroeëre interglasiale tye was bisons nie so volop nie.
Daar is veral bewyse teen die klimaathipotese wat Australië betref. Die klimaat tydens die uitwissing daar (40 000 – 50 000 jaar gelede) was soortgelyk aan dié van vandag, en daar is bewyse die diere was goed aangepas by ’n droë klimaat. Die uitsterwings het ook in ’n baie kort tydperk plaasgevind, wat ooreenstem met die tyd dat mense op die kontinent aangekom het. Die hoofrede vir uitwissing was waarskynlik brande (wat deur die mens veroorsaak is) omdat brande vroeër nie so algemeen was nie. Isotopiese bewyse bestaan dat daar veranderings in die dieet van oorlewende spesies was, wat te doen kon gehad het met die stres wat hulle voor die uitwissing ondervind het.
Bewyse bestaan ook dat klimaatsveranderings en ’n toenemende seevlak in Suidoos-Asië belangrike faktore was in die uitwissing van verskeie plantvretende spesies, in teenstelling met Europa, Australië en die Amerikas. Veranderings in plantegroei en nuwe toegangsroetes vir mense en soogdiere na voorheen geïsoleerde ekostelsels was nadelig vir sekere diergroepe.
Ontledings van die tande van mastodons uit die Amerikaanse Groot Mere-gebied weerspreek skynbaar ’n klimaathipotese hier. Oor verskeie duisende jare voor hul uitwissing in dié gebied het mastodons ’n afname in ouderdom met volwassewording getoon. Dit is die teenoorgestelde van wat ’n mens sou verwag as hulle stres weens verswakkende omgewingstoestande ervaar het, maar stem ooreen met ’n afname in intraspesie-kompetisie wat veroorsaak sou kon word deur die verkleining van die bevolking deur jagpraktyke.
Ander wetenskaplikes het voorgestel dat toenemende seisoenverskille – warmer somers en kouer winters, bekend as "kontinentaliteit" – of verwante veranderings in reënval die uitwissing kon veroorsaak het
Daar is bewyse dat die plantegroei verander het van gemengde gras-en-woudlande tot aparte prêries en woude. Dit kon ’n invloed gehad het op die soort kos wat beskikbaar was. Korter groeiseisoene kon die uitwissing van groot plantvreters en die verkleining van baie ander veroorsaak het. Bisons en ander groot herkouende diere is minder geraak as diere soos perde en olifante omdat diere wat herkou, meer voedingstowwe uit beperkte hoeveelhede hoëveselkos kan onttrek en plantgifstowwe beter kan hanteer. As die plantegroei meer gespesialiseerd raak, sal plantvreters met ’n kleiner dieetaanpasbaarheid in die algemeen minder in staat wees om in ’n spesifieke gebied die nodige mengsel van plante in te kry om te kan voortbestaan.
Die groter seisoenverskille het gelei tot ’n kleiner en minder voorspelbare reënval, en dit het die beskikbaarheid verminder van plante wat nodig is vir energie en voeding. Axelrod en Slaughter het voorgestel die verandering in reënval het die tyd verkort wat gunstig was vir voortplanting. Dit kon groter diere weer eens erger getref het omdat hulle langer, meer onbuigsame paringstydperke het – en daarom het baie van hulle kleintjies gekry op ongunstige tye (wanneer daar byvoorbeeld nie genoeg kos, water of skuiling beskikbaar was nie weens veranderings in die groeiseisoen). Kleiner soogdiere het korter lewens-, voortplantings- en dragtigheidsiklusse en kon daarom makliker by die toenemende onvoorspelbaarheid van die klimaat aanpas – as individue én saam as ’n spesie, wat hul voortplantingsmetodes met veranderende toestande kon sinchroniseer.
Kritici se besware teen dié hipotese sluit in:
Die uitwissing van groot diere kon gelei het tot die verdwyning van die mammoetsteppe. Alaska het deesdae grond met min voedingstowwe en sal nie mammoete, bisons en perde kan onderhou nie. Dit kan wees dat die gebrek aan groot plantvreters om die ysgrond op te breek, die koue grond tot gevolg het wat die oorlewing van groot plantvreters onmoontlik maak. In die Noordpoolgebiede, waar groot vragmotors die ysgrond vandag opbreek, kan grasse en uiteenlopende flora en fauna oorleef.
Sommige geleerdes meen nie die jag- of die klimaathipotese kan die uitwissing van groot diere heeltemal verduidelik nie. Die twee hipoteses sluit mekaar nie uit nie. Daar kon ’n kombinasie van faktore gewees het, soos dat die aantal diere reeds weens klimaatsveranderings afgeneem het en dit dus vir mense makliker was om ’n groot uitwissing onder die reeds sterwende soogdierbevolkings te veroorsaak.
Die siektehipotese skryf die uitwissing van groot soogdiere in die Laat Pleistoseen toe aan indirekte invloede van die mens wat na nuwe gebiede gemigreer het. Daarvolgens het die mens en mak diere (soos hoenders en honde) skadelike siektes oorgedra aan kwesbare bevolkings plaaslike soogdiere. Die groter diere is swaarder getref omdat kleiner spesies talryker was en korter dragtigheidsperiodes gehad het. Volgens die hipotese was mense die oorsaak omdat vroeëre migrasies van soogdiere na Noord-Amerika nie uitwissings veroorsaak het nie.
Siektes wat deur mense veroorsaak is, was verantwoordelik vir uitwissings in die onlangse verlede, soos die oordrag van voëlmalaria na Hawaii.
Dié streek se diere het die Kwartêre Uitwissing grootliks vrygespring. Afrika en Suidoos-Asië is die enigste streke wat vandag aardsoogdiere het wat meer as 1 000 kg weeg. ’n Paar groot diere het egter in die vroeë, middel- en laat Pleistoseen hier verdwyn sonder dat hulle deur ander soortgelyke spesies vervang is. Klimaatsveranderings is die mees waarskynlike oorsaak daarvan in Suidoos-Asië.
Groot diere wat in die Pleistoseen in Afrika en Asië verdwyn het, sluit in:
Groot diere wat in dele van Afrika en Asië verdwyn het, is:
Die skielike vlaag uitwissings het in dié streek vroeër plaasgevind as in die Amerikas. Die meeste bewyse vir die oorsaak dui op die aankoms van die mens, vermoedelik net minder as 50 000 jaar gelede, maar daar is verskille oor die presiese tydperk. Die Australiese uitwissing sluit in:
(80 000 – 4 000 jaar gelede)
In die laaste 60 000 jaar, insluitende die einde van die laaste glasiale tyd, het sowat 33 genera groot soogdiere in Noord-Amerika uitgesterf. Van hulle kan 15 genera se uitsterwing verbind word met ’n kort periode van 11 500 tot 10 000 radiokoolstofjare gelede, kort ná die aankoms van die Clovis-volk op die kontinent. Die tydperke waarin die meeste ander uitsterwings plaasgevind het, is minder bekend, hoewel sommige beslis buite dié periode plaasgevind het . In vergelyking hiermee het net sowat ses klein soogdiere in dié tyd verdwyn. Van die groot soogdiere wat uitgesterf het, is:
Suid-Amerika was miljoene jare lank afgeslote as ’n kontinent-eiland en het ’n groot verskeidenheid soogdiere gehad wat nêrens anders voorgekom het nie. Baie van hulle het egter uitgesterf tydens die Groot Amerikaanse Fauna-uitruiling sowat 3 miljoen jaar gelede. Dié wat die uitwisseling oorleef het, sluit in die reuseluidier, Glyptodontidae, Pampatheriidae en Notoungulata. In die Pleistoseen het Suid-Amerika grootliks ysvry gebly behalwe in die Andes, en die groot diere is nie juis geraak nie. Aan die begin van die Holoseen het al die groot diere uitgesterf, terwyl kleiner spesies oorleef het. Van dié wat uitgesterf het, sluit in:
Onlangse navorsing, wat geskoei is op argeologiese en paleontologiese uitgrawings op 70 verskillende eilande, het getoon verskeie spesies het uitgesterf namate die mens oor die Stille Oseaan getrek het. Dit het 30 000 jaar gelede in die Bismarckargipel en Solomoneilande begin (Steadman & Martin 2003). Daar word tans geraam 2 000 voëlspesies van die Stille Oseaan het uitgesterf sedert die aankoms van die mens (Steadman 1995). Onder die uitgestorwe diere is:
Vanaf die aankoms van die mens op die eiland sowat 2 000 jaar gelede het feitlik alle groot soogdiere uitgesterf, onder meer:
Van sowat 500 jaar gelede af, toe mense op die eilande van die Indiese Oseaan aangekom het, het verskeie spesies uitgesterf, onder meer:
Proterosoïkum | Fanerosoïese Eon | |||||||||||
---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|
Neoproterosoïkum | Paleosoïese Era | Mesosoïese Era | Kainosoïese Era | |||||||||
Ediacarium | Kambrium | Ordovisium | Siluur | Devoon | Karboon | Perm | Trias | Jura | Kryt | Paleogeen | Neogeen | Kwartêr |
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article Kwartêre Uitwissing, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.
®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.