Die Italiaanse Rugbyfederasie (Italiaans: Federazione Italiana Rugby, afgekort “FIR”) is die bestuursliggaam wat rugby en sewesrugby in Italië beheer.
Die beheerliggaam is in 1928 gestig en by die Stadio Olimpico in Rome gesetel. Sedert 1987 verteenwoordig dit Italië by Wêreldrugby en ook by Rugby Europa (“RE”).
Italiaanse Rugbyfederasie | |
---|---|
Kenteken van die Italiaanse Rugbyfederasie | |
Italiaanse naam | Federazione Italiana Rugby |
Afkorting | FIR |
Land | Italië |
Sportsoorte | Rugby, Sewesrugby |
Gestig op | 28 September 1928 |
Gestig in | Rome, Italië |
Lid van | Wêreldrugby |
Aangesluit in | 1987 |
Vastelandse beheerliggaam | Rugby Europa |
President | Marzio Innocenti |
Setel | Stadio Olimpico, Rome, Italië |
Amptelike taal | Italiaans |
Amptelike webwerf | federugby.it |
Die Italiaanse Rugbyfederasie het in 1928 uit die “Propagandakomitee” ontstaan en in 1987 by die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby) aangesluit. Daarbenewens was die Italiaanse Rugbyfederasie in 1934 ’n stigtingslid van die vastelandse beheerliggaam Fédération internationale de rugby amateur (FIRA, nou Rugby Europa).
Die Italiaanse Rugbyfederasie organiseer verskeie nasionale spanne, insluitend Italië se nasionale seniormansrugbyspan (Azzurri), vroue en jeug. Naas die amptelike nasionale span roep die FIR ook ander keurspanne byeen. Italia Emergenti (“Opkomende Italië”) is die tweede nasionale span van Italië. Daarbenewens bestuur die beheerliggaam kinder- en jeugrugby in Italië. Kinders en jongmense word reeds op skool aan rugby bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hul met hul afrigting. Net soos ander rugbylande beskik Italië oor ’n o/20-nasionale span wat aan die o/20-Sesnasies-toernooi en die Wêreldrugby o/20-kampioenskap deelneem. Die FIR hou ook toesig oor sewesrugby in Italië en aangesien dit ’n Olimpiese sportsoort is, werk hulle met die Italiaanse Nasionale Olimpiese Komitee saam.
Saam met die Engelse Rugbyvoetbalunie, die Franse Rugbyfederasie, die Ierse Rugbyvoetbalunie, die Skotse Rugbyunie en die Walliese Rugbyunie organiseer hulle die jaarlikse Sesnasies-toernooi, die vernaamste rugbytoernooi in die Noordelike Halfrond.
Die beheerliggaam reël ook die plaaslike kompetisies. Die hoogste rugbyliga in Italië is die Campionato di Eccellenza, waaraan twaalf spanne deelneem. Van die spanne is veral uit die twee rugbyvestings Lombardye en Veneto afkomstig. Bo die nasionale kampioenskap word die internasionale liga Verenigde Rugbykampioenskap uitgespeel, saam met spanne uit Ierland, Skotland, Suid-Afrika en Wallis, waaraan twee Italiaanse spanne (Benetton Rugby Treviso uit Treviso en Zebre uit Parma) deelneem. Bo die Verenigde Rugbykampioenskap word jaarliks saam met klubs uit Engeland, Frankryk, Ierland, Skotland, Suid-Afrika en Wallis die Europese Rugbykampioenskapbeker en die Europese Rugbyuitdagingsbeker uitgespeel.
Net soos Argentinië is Italië die enigste vlak-een-rugbyland wat tot dusver nog nie ’n wedstryd tydens ’n rugbywêreldbekertoernooi gehuisves het nie, alhoewel hulle vir beide die Rugbywêreldbeker 2015 en Rugbywêreldbeker 2019 aansoek gedoen het.
Van die begin van die Italiaanse rugbyspan tot die einde van die Tweede Wêreldoorlog is die ou embleem op die trui aan die Italiaanse rugbyspan aan die Huis van Savoje se wapen ontleen. Die huidige embleem van Italië herinner aan die Italiaanse vlag (groen, wit en rooi), omring deur lourierblare, wat die grootsheid van die Romeinse geskiedenis en die oorwinnings van Julius Caesar in die oudheid simboliseer. Die lourierkrans is deur die Romeinse keisers gedra. Dit is ook as ’n beloning vir militêre oorwinnings aan die generaals toegeken.
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article Italiaanse Rugbyfederasie, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.
®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.