Die nasionale vlag van Albanië (Albanees: Flamuri i Shqipërisë) is op 7 April 1993 amptelik in gebruik geneem.
Die vlag vertoon 'n enkele rooi baan met die silhoeët van 'n tweekopadelaar (in swart) in die middel. Die vlag is gekies in 1912 nadat Albanië sy onafhanklikheid van die Ottomaanse Ryk verkry het.
Bynaam | Flamuri Kombëtar |
---|---|
Gebruik | Nasionale vlag en Staatsvaandel |
Verhouding | 5:7 |
Goedgekeur | 7 April 1993 |
Ontwerp | 'n Rooi agtergrond met 'n swart tweekopadelaar in die middel. |
Ontwerp deur | Sadik Kaceli |
Die rooi verteenwoordig dapperheid en krag, terwyl die tweekopadelaar die soewereine staat van Albanië verteenwoordig. Die tweekopadelaar is 'n ou simbool wat al in die Bisantynse Ryk, die Heilige Romeinse Ryk, Oostenryk-Hongarye en die Russiese Ryk gebruik is. Die adelaar verwys na die Albanese volk, aangesien Albanië in Albanees (Shqipëri of Shqipëria) “land van die adelaar” of “volk van die adelaar” beteken.
Die kleurskema word hieronder gelys:
Kleurskema | Rooi | Swart |
---|---|---|
CMYK | 0/100/100/0 | 0/0/0/100 |
Gedurende Johannes Hunyadi se veldtog in Niš in 1443 het Skanderbeg en 'n paar ander Albanese van die Turkse range weggestap en het hy vir 25 jaar merkwaardige oorwinnings teen die Ottomane behaal. Hy het die Bisantynse dubbelkoparendvlag gebruik en sy sonderlinge oorwinnings het aan hom die titel Athleta Christi, deur die pous toegeken, verleen. Die arend is in die Middeleeue deur 'n aantal Albanese edelfamilies vir heraldiese doeleindes gebruik, en het 'n simbool van die Albanese geword. Die huis van Kastrioti se wapenskild, waarop 'n swart tweekopadelaar op 'n rooi agtergrond verskyn, het bekendheid verwerf toe hy 'n opstand teen die Ottomaanse Ryk gelei het, wat uitgeloop het op die onafhanklikheid van Albanië van 1443 tot 1479. Dit was die vlag van die Liga van Lezhë wat die eerste verenigde Albanese staat in die Middeleeue was, en ook die oudste verteenwoordigende politieke liggaam in die land met nog bestaande rekords.
Die simbool van die tweekopadelaar is gedurende die 18de, 19de en vroeg-20ste eeue deur Albanese nasionaliste gebruik as 'n simbool van hul veldtog vir hulle land se onafhanklikheid van die Ottomaanse Ryk. Op 28 November 1912 is die Albanese onafhanklikheid in Vlorë verklaar en die vlag, wat deur Ismail Qemali gehys is, is as die simbool van die nuwe volk aanvaar.
Die Albanese vlag het deur die jare 'n aantal veranderinge ondergaan soos verskillende bewinde dit aangepas het. Gedurende die heerskappy van Koning Zog (1928 tot 1939) is 'n kroon tot die vlag toegevoeg wat gedurende die Italiaanse besetting van Albanië (1939 tot 1943) deur twee bylbundels vervang is. Na afloop van die Tweede Wêreldoorlog het die kommunistiese regering 'n vyfpuntige goue ster tot die vlag toegevoeg wat weer op 7 April 1992 verwyder is toe dié regering tot 'n val gekom het.
Albanië se maritieme vlae – die burgerlike en vlootvaandels – verskil albei van die nasionale vlag. Die burgerlike vaandel bestaan uit drie horisontale bane in rooi, swart en rooi. Die vlootvaandel is soortgelyk aan die nasionale vlag behalwe dat dit die tweekopadelaar op 'n wit agtergrond is en dat die onderste helfte van dei vlag 'n rooi horisontale baan het. Die adelaar op die Albanese vlag verskyn ook op die muntkant van die Albanese vyflekmunt wat in 1995 en 2000 uitgereik is.
Sedert 1969 is die vlag van Albanië nieamptelik in Kosovo vertoon deur die land se etniese Albanese bevolking. Dit was in die 1990’s die simbool van die nieerkende Republiek Kosovo. Die huidige onafhanklike staat van Kosovo gebruik 'n ander vlag wat ontwerp is om enige simbole te vermy wat met 'n spesifieke etniese groep verbind word (soos die vlae van Bosnië en Herzegowina en Siprus ook doen).
Wiki Commons bevat media in verband met Vlae van Albanië. |
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article Vlag van Albanië, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.
®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.