Lyfstraf in skole verwys na doelbewuste pyn of ongemak wat veroorsaak word in reaksie op ongewenste gedrag van studente in skole.
Hierdie artikel is 'n weesbladsy. Dit is nie geskakel of in ander bladsye ingesluit nie. Help Wikipedia deur na moontlike teks te soek en 'n skakel hierheen te plaas. |
Dit behels dat die student óf oor die boude of op die hande, met 'n voorwerp geslaan word - soos 'n rottang, houtplank, pantoffel, leerband of hout maatstok. Dis minder algemeen, maar sluit ook pakslae met die plathand in; veral op laerskool vlak.
In die Engelssprekende wêreld is die gebruik van lyfstraf deur skole histories geregverdig deur die gemene reg teorie in loco parentis, waardeur onderwysers beskou word as gesagsfigure met dieselfde regte as ouers om kinders in hul sorg te straf.
Voorstanders van skool lyfstraf argumenteer dat dit 'n onmiddellike reaksie op die gebrek aan dissipline is en dat die student vinnig terugkeer na die klaskamer , eerder as om skorsing uit die skool toe te pas. Teenstanders, insluitend 'n aantal mediese- en sielkundige verenigings, saam met menseregtegroepe, argumenteer dat fisiese straf oneffektief is oor die langtermyn, inmeng met leer, lei tot anti-sosiale gedrag sowel as verskeie vorms van geestesspanning, en 'n vorm van geweld is wat die regte van kinders skend.
Pole het in 1783 die eerste nasie geword om lyfstraf te verbied in skole. Van 2015 het die meeste ontwikkelde lande die praktyk afgeskaf, met die uitsondering van sommige dele van die VSA, sommige Australiese state en Singapoer. Dit is nog in algemene gebruik in 'n aantal lande in Afrika en Asië. Sedert 1986 is dit verbied in Britse openbare skole.
Lyfstraf in skole binne die konteks van die laat 20ste en vroeë 21ste eeu is onder andere gedefinieer as: doelbewuste pyn wat aan 'n kind toegedien word in reaksie op die kind se ongewenste gedrag en/of taal, "doelbewuste toediening van liggaamlike pyn of ongemak deur 'n amptenaar in die opvoedkundige stelsel op 'n student as 'n straf vir onaanvaarbare gedrag", en "opsetlike toediening van fisiese pyn as 'n middel om gedrag te verander" (nie die gebruik van fisiese beperking wat partykeer toegepas word om studente of ander mense te beskerm teen onmiddelike gevaar nie).
Lyfstraf was algemeen in skole in baie dele van die wêreld, maar in die afgelope dekades het dit is onwettig verklaar in die meeste van Europa, die meeste van Suid-Amerika, sowel as in Kanada, Korea, Suid-Afrika, Nieu-Seeland en verskeie ander lande. Dit bly alledaags in 'n aantal lande in Afrika, Suidoos-Asië en die Midde-Ooste.
Terwyl die meeste state van die VSA lyfstraf verbied in staatskole, word dit hoofsaaklik steeds toegelaat in die Suidelike en Westelike Verenigde State van Amerika. Volgens die Verenigde State se Departement van Onderwys, was meer as 216,000 studente onderworpe aan lyfstraf tydens die 2008–09 skooljaar.
Baie van die tradisionele kultuur rondom lyfstraf in skole, veral in die Engelssprekende wêreld, spruit grootliks uit die Britse gebruik van die 19de en 20ste eeue, veral met betrekking tot die slae van tienerseuns. Daar bestaan 'n groot hoeveelheid literatuur hieroor. Brittanje verbied die praktyk in 1987 vir staatskole en meer onlangs vir alle skole.
Talle skole in Singapoer, Maleisië en sommige Afrika lande gebruik rottangs as roetine straf vir seuns se wangedrag. In sommige Midde-oosterse lande word 'n sweep gebruik.
In die meeste kontinentaal-Europese lande is lyfstraf verban vir baie dekades reeds.
Sedert die 1917 Russiese Rewolusie is lyfstraf verban in die Sowjetunie, omdat dit as teenstrydig beskou is met Sowjetisme. Kommuniste in ander lande soos Brittanje het die leiding geneem om te velde te trek teen lyfstraf – wat hul beskou het as simptomaties van die agteruitgang van kapitalisitiese onderwys stelsels. Gedurende die 1960's het Sowjet besoekers aan westerse skole hul skok uitgespreek oor die lyfstraf van seuns. Ander kommunistiese regerings het gevolg en in Noord Korea was lyfstraf "onbekend" aan studente in 2007. Lyfstraf is afgeskaf op die Sjinese vasteland in , alhowel dit steeds voorkom – veral in landelike areas.
Volgens die American Academy of Pediatrics bestaan daar drie basiese beweegredes vir lyfstraf in skole: oortuigings, gebaseer in tradisionele godsdienstighed dat ouers die reg het – indien nie 'n plig nie – om kinders fisies te straf wanneer hul wangedrag vertoon; 'n dissiplinêre filosofie dat lyfstraf help om karakter te bou en nodig is vir die ontwikkeling van 'n kind se gewete en respek vir gesagsfigure; en oortuigings rakende die behoeftes en regte van onderwysers – veral dat lyfstraf belangrik is om orde en beheer te handhaaf in die klaskamer.
Skoolbeamptes en beleidsmakers gebruik dikwels persoonlike staaltjies as redenasie waarom lyfstraf bydra tot leerders se gedrag en prestasie. Daar is egter nie empiriese bewyse dat lyfstraf bydra tot beter beheer in die klaskamer nie. Bewyse dui nie daarop dat lyfstraf moraliteit ontwikkel nie; of leerders se respek vir gesagsfigure verhoog nie ; of dat dit groter sekuriteit aan onderwysers bied nie.
'n Aantal mediese, pediatriese en sielkundige verenigings het verklarings uitgereik wat alle vorme van lyfstraf in skole teenstaan. Die gevolge word gelys as swakker akademiese prestasie; verhoogde anti-sosiale gedrag; beserings van studente en 'n onvriendelike onderrigomgewing. Dit sluit onder meer in die American Medical Association, die American Academy of Child and Adolescent Psychiatry, die American Academy of Pediatrics, die Society for Adolescent Medicine, die American Psychological Association, die Royal College of Paediatrics and Child Health, die Royal College of Psychiatrists, die Canadian Paediatric Society en die Australian Psychological Society, asook die Verenigde State se National Association of Secondary School Principals.
Volgens die Amerikaanse Akademie vir Pediaters (AAP) dui navorsing daarop dat lyfstraf minder effektief is as ander metodes om gedrag te bestuur, en dat gesprekke oor waardes, positiewe rolmodelle en die uitdeel van lof baie meer vermag om karakter, respek en waardes te ontwikkel. Volgens hulle is daar bewyse dat lyfstraf aanleiding gee tot negatiewe gevolge soos byvoorbeeld aggressiewe en vernietigende gedrag, ontwrigtende gedrag in die klaskamer, vandalisme, swak akademiese prestasie, swak konsentrasie, skool fobie, meer leerders wat skool vroeg verlaat, lae selfbeeld, angstigheid, somatiese klagtes, depressie, selfmoord en vergelding teenoor onderwysers. Die AAP beveel 'n aantal alternatiewe aan vir lyfstraf wat insluit nie-geweldadige gedragsbestuur strategieë, wysigings aan die skool omgewing en groter ondersteuning aan onderwysers.
'n Beraamde 1 tot 2 persent van die studente wat fisiese straf ontvang, word ernstig beseer – tot so 'n mate dat hul mediese aandag moet ontvang. Volgens die AAP en die Society for Adolescent Medicine sluit hierdie beserings kneusplekke, skrape, gebreekte bene, sweepslagbeserings, spierbeserings, breinbeserings en selfs sterftes in. Ander beserings wat aangemeld is sluit in heupsenuwee beserings" aansienlike hematome en lewensbedreigende bloeding.
Die AAP waarsku dat daar 'n risiko bestaan dat lyfstraf in skole die indruk onder studente bevorder dat geweld 'n gepaste wyse is vir die bestuur van ander se gedrag. Volgens die American Academy of Child and Adolescent Psychiatry dra lyfstraf die boodskap aan 'n kind oor dat die fisiese geweld en die toedien van pyn 'n geskikte manier is om interpersoonlike konflik te hanteer. En volgens die Society for Adolescent Medicine bevorder die gebruik van lyfstraf 'n gevaarlike boodskap dat geweld 'n aanvaarbare verskynsel is in ons samelewing. Dit bevestig die idee dat dit verdienstelik is om gewelddadig te wees teenoor ons kinders, en daardeur verminder hulle waarde in die gemeenskap se oë. Dit moedig kinders aan om hul te wend tot geweld, omdat hulle sien dat hul gesagsfigure of plaasvervangende ouers dit doen. Geweld is nie aanvaarbaar nie en ons moet dit nie ondersteun deur die gebruik daarvan te bekragtiging deur sodanige gesagsfigure soos skool amptenare nie.
The Society for Adolescent Medicine beveel aan dat 'n milieu van effektiewe kommunikasie ontwikkel word waarin die onderwyser 'n houding van respek teenoor die studente openbaar, en dat hul instruksies gee wat stimulerend en van toepassing is op studente se vermoëns. Hierdie kommunikasie behels verskeie nie- geweldadige gedragsveranderingstegnieke en betrek ouers en studente by besluite oor skoolsake soos die reëls en opvoedkundige doelwitte. Hulle stel voor dat die studente deur middel van self-bestuur 'n doeltreffende alternatief vir die bestuur van ontwrigtende klaskamer gedrag kan bied, terwyl daar klem geplaas word op die belangrikheid van voldoende opleiding en ondersteuning vir onderwysers.
Die AAP maak die opmerking dat daar "geen toename in die dissiplinêre probleme in skole aangemeld is sedert die afskaffing van lyfstraf nie", aldus die getuienis.
'n Aantal internasionale menseregte-organisasies, insluitend die UN Committee on the Rights of the Child, die Parliamentary Assembly of the Council of Europe en die Inter-American Commission on Human Rights het bepaal dat fisiese straf van enige aard 'n skending is van die kinders se menseregte.
Volgens die Committee on the Rights of the Child verloor kinders nie hulle menseregte bloot omdat hulle by die skoolhekke instap nie; en die toepassing van lyfstraf respekteer nie die inherente waardigheid van die kind of die streng beperkings op skool dissipline nie. Die Komitee interpreteer Artikel 19 van die Konvensie oor die regte van die kind wat "lidlande verplig om alle gepaste wetgewende, administratiewe, sosiale en opvoedkundige maatreëls toe te pas om die kind te beskerm teen alle vorme van fisiese of geestelike geweld, beserings of misbruik terwyl hy in die sorg van die ouer(s), wettige voog(de) of enige ander persoon is wat die versorging van die kind behartig", om 'n verbod op alle vorme van lyfstraf te impliseer.
Ander internasionale menseregteliggame wat die verbod op lyfstraf van kinders in al die instellings ondersteun, insluitend skole, sluit in die European Committee of Social Rights en die African Committee of Experts on the rights and Welfare of the Child. Daarbenewens is die verpligting van die lidstate om lyfstraf in skole en elders te verbied, bevestig in die 2009 Kaïro Verklaring op die Konvensie oor die Regte van die Kind en die Islamitiese Regswetenskap.
Volgens die Global Initiative to End All Corporal Punishment of Children is alle vorme van lyfstraf in skole verbied in 125 lande vanaf Mei 2015 (46 van hierdie lande verbied ook lyfstraf van kinders in die huis).
In Canadian Foundation for Children, Youth and the Law v. Canada (2004) het die Hoër Hof skool lyfstraf verbied. In openbare skole was 'n rubber gordel die algemene manier om lyfstraf toe te pas op die hande, terwyl private skole dikwels 'n plank of rottang gebruik het op die kind se agterstewe. In baie dele van Kanada is die gordel nie gebruik sedert die 1970's of selfs vroeër nie: daar word beweer dat dit nie gebruik is in Quebec sedert die 1960's nie, en Toronto het dit verban in 1971. Sommige skole in Alberta het die gordel gebruik tot met die verbod in 2004.
Die sistematiese gebruik van lyfstraf is afwesig in Franse skole sedert die 19de eeu. Daar is geen uitdruklike wetlike verbod daarop nie, maar in 2008 is 'n onderwyser 'n boete van €500 opgelê vir, wat sommige mense beskryf as, die klap van 'n student.
By skole in Ierland is lyfstraf verban deur regulasie in 1982 en die gebruik daarvan het 'n kriminele oortreding geword in 1996.
Die gebruik van lyfstraf in skole is verbied deur die Suid-Afrikaanse Skolewet, 1996. Volgens artikel 10 van die wet:
In die geval van Christian Education South Africa v Minister van Onderwys het die Konstitusionele Hof 'n eis verwerp dat die grondwetlike reg tot vryheid van godsdiens aan privaat Christelike skole die reg verleen om lyfstraf toe te pas.
'n Federale wet is in 1998 geïmplementeer wat lyfstraf in skole verban. Die wet is van toepassing op alle skole, beide openbare en privaatskole. Enige onderwyser wat betrokke is by die praktyk sou nie net hul werk en onderriglisensie verloor nie, maar sal ook kriminele vervolging in die gesig staar vir die beoefening van geweld teen minderjariges en sal ook klagtes van kindermishandeling moet trotseer.
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article Lyfstraf in skole, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.
®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.