’n Vlag is ’n stuk doek/lap, wat dikwels van ’n paal of mas gehang word en word gewoonlik gebruik om ’n boodskap oor te dra of vir identifikasie.
Die mees algemene gebruik van vlae is om lande te verteenwoordig.
Die eerste vlae is gebruik om militêre koördinasie op slagvelde by te staan en sedertdien het dit ontwikkel in ’n algemene instrument vir identifisering en seingewing, veral in omgewings waar kommunikasie moeilik is (soos in skeepvaartomgewing waar semafore gebruik word). Nasionale vlae is patriotiese simbole met uiteenlopende interpretasies wat dikwels ’n sterk militêre verwantskap het weens die aanhoudende militêre gebruike van vlae. Vlae word ook gebruik in die oordra van boodskappe, advertensies of vir ander dekoratiewe doelwitte.
Een van die mees gewilde gebruike van ’n vlag is om ’n nasie of land te simboliseer. Sommige nasionale vlae was baie inspirerend vir ander nasies, lande of subnasionale entiteite in die ontwerp van hul eie vlae. ’n Paar prominente voorbeelde sluit in:
’n Siviele of burgerlike vlag is ’n weergawe van die nasionale vlag wat gebruik word deur burgerlikes op nie-regeringsinstellings of -tuie. Die gebruik van siviele vlae was in die verlede meer algemeen en het gedien as aanduiding op geboue en skepe wat nie onder beheer van die weermag was nie. In sommige lande is die siviele vlag dieselfde as die oorlogsvlag of die staatsvlag maar sonder die landswapen soos in die geval van Spanje en in ander gevalle is dit ’n gewysigde weergawe van die oorlogsvlag.
Verskeie lande wat die Verenigde Koninkryk en die Sowjetunie insluit, het unieke vlae wat deur hul onderskeie weermagte gebruik word, eerder as die nasionale vlag.
Die weermagte van ander lande, waaronder dié van die Verenigde State en Switserland, gebruik hul standaard nasionale vlag. Die weermag van die Filippyne gebruik hul standaard nasionale vlag, maar in tye van oorlog word die vlag onderstebo gehang — dit is die enigste geval waar ’n onderstebo nasionale vlag ’n oorlogstoestand aandui— nie net ’n noodtoestand nie. Hierdie vlae staan ook as oorlogsvlae bekend maar die terminologie is slegs van toepassing op die militêre gebruik van die vlae.
Die vlag van die Verenigde Nasies, die Olimpiese vlag en die Wêreldvlag is voorbeelde van internasionale vlae.
In baie lande het subnasionale eenhede soos provinsies en stede hul eie vlae. Die reëls en tradisies rondom die gebruik van sulke vlae verskil van land tot land, maar in baie Wes-Europese lande soos Frankryk, België, Nederland en Duitsland is dit algemeen om die nasionale vlag, die provinsiale vlag en die plaaslike munisipale vlag vanaf die stadsaal te wapper. In baie gevalle word die EU-vlag saam met die nasionale vlag en die vlae van plaaslike entiteite gewaai.
Ter see is vlae van besondere belang en kan dit die verskil tussen lewe en dood beteken en die reëls en regulasies vir die vertoon van ’n vlag ter see word streng gereguleer. ’n Nasionale vlag wat op see vertoon word staan bekend as ’n vaandel. ’n Beleefde vredeliewende koopvaartskip of -jag toon dikwels sy vaandel (in die gewone vaandelposisie) saam met die vlag van die plek waar hy besoek aflê (bekend as die beleefdheidsvlag). Indien die vaandel op sy eie in vreemde waters, ’n vreemde hawe of in die aanwesigheid van ’n buitelandse oorlogskip vertoon word, is dit gewoonlik ’n teken van gewilligheid om te veg. In moderne tye word hierdie tradisie steeds ernstig opgeneem deur baie vloot- en hawe-owerhede en word dit vinnig bekragtig in baie wêrelddele deur entering, konfiskering en ander siviele boetes.
In party lande verskil jagvaandels van koopvaartvaandels as ’n aanduiding dat die jag nie ’n vrag dra wat doeaneklaring verlang nie. Wanneer ’n kommersiële vrag egter op ’n boot met ’n jagvaandel gevind word, word dit gewoonlik in baie regsgebiede beskou as smokkelary.
Daar is ’n stelsel van internasionale vlootseinvlae vir getalle en die letters van die alfabet. Elke vlag of wimpel het ’n spesifieke betekenis wanneer dit op sy eie gehang word.
’n Seintoestel (semafoor) kan ook gebruik word om te kommunikeer op ’n ad hoc basis van een skip na ’n ander oor kort afstande.
Vlae is gewoonlik reghoekig in vorm (dikwels in die verhouding 2:3, 1:2 of 3:5), maar kan enige vorm of grootte aanneem wat prakties is om op te hang. Dit sluit vierkante, driehoeke of swaelstertvlae in. ’n Ongewone vorm kan gevind word in die vlag van Nepal wat in die vorm is van twee driehoeke wat op mekaar gestapel is.
In ’n poging om die vervaardigingskoste van vlae so laag as moontlik te hou word baie vlae op so ’n manier gemaak dat dit van albei kante af dieselfde lyk. Dit bied twee moontlikhede:
Sommige ingewikkelde vlagontwerpe is nie bedoel om van agter gesien te word nie en het dus ’n agterkant nodig wat verskil van die voorkant. In sulke gevalle is daar ’n ontwerpelement (dikwels teks) wat nie simmetries is nie en van agter ook leesbaar behoort te wees, ongeag of die hyskant van die vlag links of regs is. Daar is twee tipes gevalle:
Algemene ontwerpe van vlae sluit kruise, strepe en verdelings van die oppervlak in kwarte of stroke in — patrone en beginsels wat dikwels afgelei is van die heraldiek. ’n Heraldiese wapenskild kan ook as ’n skildbanier gebruik word, soos wat die deelstaat Maryland en Kiribati doen.
Die vlag van Libië, wat bestaan uit ’n reghoekige groen baan, is die enigste nasionale vlag wat net een kleur en geen ontwerp of insinjes bevat nie.
Kleure word normaalweg in algemene name beskryf soos “rooi” en “blou” maar kan verder gespesifiseer word deur ’n kolorimeter (kleurmeter) te gebruik.
Die vermeende grootste vlag is ’n 60,409.78 m2 vlag van Marokko. Dit is ontvou in die suid-Marokkaanse stad Dakhla in Wes-Sahara in Mei 2010.
Die kleinste vlag is blykbaar ’n vlag van Turkye wat 700 nm breed is (in vergelyking met ’n gemiddelde menshaar wat 50,000 nm in deursnee is). Dit is vervaardig deur die Departement van Nanofisika van die Bilkent Universiteit.
Baie mense, veral dié van adellike geboorte, wat hul eie wapens het, het ook persoonlike vlae. In die algemeen word sulke vlae slegs vanaf 'n gebou of 'n voertuig waar die betrokke persoon werklik teenwoordig is, gehys. Die etiket rondom die gebruik van sulke vlag is geïllustreer toe koningin Elizabeth II gesterf het. Beide sy en prins Charles was teenwoordig by Balmoral Paleis. Toe haar dood aangekondig is, is haar vlag, die koninklike standaard verlaag en aangesien prins Charles koning geword het, is sy standaard (wat hy van sy ma geërf het) dadelik verhoog.
Vlae kan verskillende rolle in geloof vertolk. In Boeddhisme word gebedsvlae gebruik, gewoonlik in stelle van vyf verskillende kleure. Baie nasionale vlae en ander vlae sluit religieuse simbole soos ’n kruis, ’n Turkse maan of ’n verwysing na ’n beskermheilige in. Vlae word ook deur geloofsgroeperinge aangeneem, soos die Jaïn-vlag en die Christenvlag wat gebruik word om ’n hele geloof te verteenwoordig.
Aangesien tale selde ’n vlag het wat dit verteenwoordig, is dit algemeen aanvaarde praktyk, dikwels nie-amptelik, om nasionale vlae te gebruik om tale te identifiseer. Voorbeelde hiervan sluit in:
Dit word dikwels met goeie bedoelinge gedoen maar kan maklik lei tot probleme vir sekere tale:
In hierdie tweede geval sluit die simbolisering van hierdie tale dikwels die volgende in:
Op die internet is dit dus die algemeenste om die Engelse taal geassosieer te sien met die vlag van die Verenigde Koninkryk, maar soms met die vlag van Engeland, die Verenigde State of ’n VS-VK-gemengde vlag wat diagonaal verdeel is.
Weens die gemak waarmee vlae tekens kan gee en geïdentifiseer kan word, word dit dikwels in sport gebruik.
In Australië, Nieu-Seeland, die Filippyne en die Verenigde Koninkryk word twee rooi/geel vlae gebruik om die grense van die swemarea op ’n strand wat deur lewensredders bewaak word, aan te dui. Indien die strand gesluit is word die vlagpale gekruis. Die vlae bestaan uit ’n rooi en geel driehoek wat saam ’n vierkant vorm, of dit kan ’n rooi reghoek op ’n geel reghoek wees. Op baie Australiese strande is daar ’n effense variasie in die sinjalering van strandtoestande. ’n Rooi vlag dui ’n geslote strand aan (of in die VK ’n ander tipe gevaar), geel dui op ’n sterk seestroom of moeilike swemtoestande en groen dui op ’n veilige strand vir swemdoeleindes. In Ierland dui ’n rooi en geel vlag daarop dat dit veilig is om te swem, ’n rooi vlag dui aan dat dit gevaarlik is om te swem en geen vlag beteken dat daar geen lewensredders is. Blou vlae kan ook gebruik word weg van die rooi-geel lewensredderarea om ’n area vir branderplankry en ander klein, nie-gemotoriseerde watertuie aan te dui.
Redes waarom ’n strand gesluit sal word kan die volgende insluit:
Die seevaartseinvlag “India” (’n swart kol op ’n geel agtergrond) word dikwels gebruik om ’n “swartbal”-sone aan te dui waar branderplankryers nie aktief mag wees nie, maar alle ander aktiwiteite word toegelaat.
Spoorweë gebruik ’n aantal gekleurde vlae. Wanneer dit as spoorwegseine gebruik word het dit gewoonlik ongeveer die volgende betekenis (presiese betekenisse kan verskil tussen verskillende spoorwegmaatskappye):
Snags word die vlae met lanterns van dieselfde kleure vervang.
Vlae wat vooraan ’n bewegende lokomotief vertoon word is ’n aanvaarde vervanging vir klassifikasieligte en het gewoonlik die volgende betekenisse (presiese betekenis mag verskil tussen verskillende spoorwegmaatskappye):
Spoorwegwerkers sal dikwels ook ’n rooi vlag saamdra om te verseker dat hul handseine meer sigbaar vir die drywer is. Spoorwegseine is ’n ontwikkeling van spoorwegvlae.
Sosiale en politieke bewegings het vlae aangeneem om hul sigbaarheid te verbeter en om te dien as ’n eenheidsimbool.
Die sosialistiese beweging gebruik rooi vlae om hulle saak te verteenwoordig. Die anargistiese beweging gebruik ’n verskeidenheid van vlae maar die primêre vlag wat met hulle geassosieer word is die “swart vlag”. In die 1970’s is die “Reënboogvlag” deur die LGBT (Lesbies/Gay/Bi-seksueel/Transvestiet) sosiale bewegings as simbool aanvaar. Biseksuele- en transgeslags-trotsheidsbewegingsvlae is later ontwerp in ’n poging om die sukses van die reënboogvlag na te boots.
Sommige politieke vlae het nasionale vlae geword soos die rooi vlag van die Sowjetunie en nasionaal-sosialistiese baniere vir Nazi-Duitsland. Die huidige vlag van Portugal is gebaseer op wat die politieke vlag van die Portugese Republikeinse Party was voor die Revolusie van 1910 wat die bewind van dié party ingelyf het.
’n Vlagpaal of toring kan ’n eenvoudige hout- of metaalstruktuur wees. Indien dit so lank is dat dit moeilik is om die vlag te bereik word ’n tou gebruik wat met behulp van ’n katrol bo-aan die vlagpaal gewerk kan word. Die vlag word vasgemaak aan een van die punte van die tou en word opgetrek deur aan die ander punt van die tou te trek. Die tou word dan styfgetrek en onder aan die paal vasgemaak. Die vlagpaal is gewoonlik bo-aan afgerond met ’n plaatjie of ’n bal (dit is oorspronklik bedoel vir ’n houtpaal om te voorkom dat dit versplinter).
Baie hoë vlagpale verlang dikwels ’n struktuur wat meer ingewikkeld is as ’n eenvoudige paal, soos op geboue of dit moet as ’n toring gebou word. Die hoogste vlagpaal ter wêreld (met ’n hoogte van 160 m (525 vt)) is by die Koreaanse Gedemilitariseerde Sone (Gijeon-dong) in Noord-Korea en die vlag wat daaraan hang weeg ongeveer 270 kg (600 lb) wanneer dit droog is.
Sedert 2008 is die hoogste vrystaande vlagpaal (133 m; 436 vt) in die wêreld die Ashgabat Vlagpaal in Turkmenistan. Die vorige hoogste vrystaande vlagpaal was die Aqaba Vlagpaal in Jordanië (132 m; 433 vt). Daar word egter gebou aan ’n Nasionale Vlagvierkant in Azerbeidjan en sal ’n hoogte van 162 m (531 vt) bereik. Die Raghadan Vlagpaal in Amman is tans die derse hoogste vrystaande vlagpaal in die wêreld met ’n hoogte van 126 m (410 vt) en die vlag wat daaraan hang is 60 m by 40 m (200 by 130 vt); dit word snags verlig en kan op ’n afstand van 25 km gesien word.
Seintoestelle (semafore) is ’n manier van kommunikasie wat van vlae gebruik maak. Die sinjalering vind plaas deur een persoon wat twee vlae (of verligte stawe snags) gebruik met die posisies van die vlae wat ’n simbool aandui. Hierdie manier van kommunikasie word primêr deur skeepvaartseingewers gebruik. Hierdie tegniek van sinjalering is in die vroeë 1800’s aangeneem en word steeds in verskeie vorme gebruik, soos op lughawens se parkeer- en aanloopbane.
Die kleure van die vlae kan ook gebruik word om te kommunikeer. ’n Wit vlag beteken gewoonlik oorgawe of vrede, ’n rooi vlag kan gebruik word as ’n waarskuwingsteken en ’n swart vlag kan oorlog beteken of doelgerigtheid om ’n vyand te verslaan.
Wiki Commons bevat media in verband met Vlae. |
Sien vlag in Wiktionary, die vrye woordeboek. |
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article Vlag, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.
®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.