Die nasionale vlag van Armenië is op 24 Augustus 1990 amptelik in gebruik geneem.
Die vlag vertoon ’n horisontale driekleur in rooi, blou en oranje. Armenië het hierdie ontwerp van die nasionale vlag tussen 1918 en 1921 gebruik en weer in 1990 die vlag aanvaar.
Bynaam | Եռագույն (Yeřaguyn) |
---|---|
Gebruik | Nasionale vlag en vaandel |
Verhouding | 1:2 |
Goedgekeur | 24 Augustus 1990 |
Ontwerp | ’n Horisontale driekleur in rooi, blou en oranje. |
Ontwerp deur | Stepan Malkhasyants |
Gebruik | Staatsvlag en vaandel en Oorlogsvlag |
Verhouding | 1:2 |
Ontwerp | ’n Horisontale driekleur in rooi, blou en oranje. |
Gebruik | Staatsvlag en vaandel en Oorlogsvlag |
Verhouding | 1:2 |
Ontwerp | ’n Horisontale driekleur in rooi, blou en oranje met die wapen van Armenië in die middel. |
Die huidige vlag is deur die Armeense Opperste Sowjet goedgekeur. Op 15 Junie 2006 is die Wet op die Nasionale Vlag van Armenië deur die Armeense Nasionale Vergadering gepromulgeer, waardeur die gebruik van die vlag gereguleer word.
Deur die geskiedenis was daar baie variasies van die Armeense vlag in gebruik. In antieke tye is die Armeense dinastieë voorgestel deur verskillende simboliese diere wat op die vlae gepryk het. In die twintigste eeu is verskeie Sowjetvlae gebruik om Armenië te verteenwoordig.
Vandag se driekleurvlag herinner nie juis aan die vroegste Armeense ‘vlae’ nie; in die antieke tyd is oorlog gevoer met ’n leër wat ’n paal met gravures in, geloop. Die gravures was iets in die styl van ’n draak, arend, leeu of “een of ander geheimsinnige voorwerp van die gode.” Met die opkoms van Christendom het die Armeense Ryk talle verskillende vlae aangeneem wat die verskillende dinastieë voorgestel het. Die vlag van die Artaxiad-dinastie het byvoorbeeld bestaan uit ’n rooi baan met twee arende wat oor die rug na mekaar kyk met ’n blom tussen die twee arende.
Nadat Armenië opgedeel is tussen die Persiese en Ottomaanse Ryke, het die idee van ’n Armeense vlag vir ’n wyle uitgesterf. Die Armeens Katolieke priester Vader Ghevont Alishan het in 1885 ’n nuwe vlag vir Armenië geskep nadat die Armeense Studentevereniging van Parys ’n vlag versoek het vir die begrafnis van die Franse skrywer Victor Hugo. Alishan se eerste ontwerp was baie soortgelyk aan vandag se Armeense vlag: ’n horisontale driekleur. Dit het baie gelyk soos ’n onderstebo weergawe van die huidige vlag van Bulgarye. Die boonste baan was rooi wat die eerste Paassondag (ook genoem “Rooisondag”) voorgestel het, die groen baan het die “Groen“ Paassondag voorgestel en die wit is ingesluit om die kleurkombinasie te voltooi. Terwyl hy in Frankryk was het Alishan ’n tweede vlag ontwerp. Dit staan vandag as die “Nasionalistiese Armeense Vlag” bekend. Dit was ook ’n driekleur, hierdie keer vertikaal en soortgelyk aan die vlag van Frankryk. Die kleure van hierdie tweede vlag was rooi, groen en blou wat die reënboog wat Noag gesien het nadat hy Berg Ararat gesien het.
In 1828 is Persarmenië na die Russies-Persiese Oorlog deur die Russiese Ryk geannekseer en bekend geword as Russies-Armenië. Toe Russiese Ryk verkrummel het, het Russies-Armenië sy onafhanklikheid verklaar en aangesluit by die kortstondige Transkaukasiese Demokraties-Federatiewe Republiek saam met Georgië en Azerbeidjan. Hierdie verenigde staat het skaars ’n jaar bestaan waarna dit ontbind het. Omdat die Republiek so ’n kort bestaan gehad het, het dit geen vlae of simbole gebruik nie. Sommige historici beskou ’n horisontale goud, swart en rooi driekleur, soortgelyk aan die vlag van Duitsland met die kleure wat anders gerangskik is, egter as ’n vlag van vir Transkaukasië gebruik is. Die federasie is op 26 Mei 1918 ontbind toe Georgië sy onafhanklikheid verklaar het as die Demokratiese Republiek van Georgië. Armenië en Azerbeidjan het twee dae later, op 28 Mei 1918, ook hul onafhanklikheid verklaar as die Demokratiese Republiek van Armenië en die Demokratiese Republiek van Azerbeidjan onderskeidelik.
Nadat onafhanklikheid verkry is, het die Demokratiese Republiek van Armenië die moderne driekleur aanvaar. Met Stepan Malkhasyants se verskyning in die Nasionale Vergadering het die onafhanklike Armeense regering op die kleure besluit wat gedurende die laaste tydperk van die Rubenid-dinastie gebruik is. ’n Vroeëre prototipe, wat uiteindelik verwerp is, was ’n reënboogvlag. Hierdie prototipe kan by die Martiros Saryan Huismuseum in Jerewan gesien word. Daar is besluit om die geel met oranje te vervang “omdat dit beter met die ander twee kleure geskakel het en ’n meer bevredigende samestelling gebied.” Die vlag van Armenië het toe ’n verhouding van 2:3 gehad. Op 24 Augustus, toe die Armeense Opperste Sowjet hierdie vlag aanvaar het as die vlag van die Republiek Armenië, is die verhouding na 1:2 verander.
Op 29 November 1920 het die Bolsjewiste die Armeense SSR gestig. ’n Nuwe vlag is aanvaar en in die grondwet vasgelê wat op 22 Februarie 1922 goedgekeur is deur die Eerste Sowjetkongres van die Armeense SSR. Daardie vlag het slegs vir ’n maand bestaan want op 12 Maart het die Armeense SSR met die Georgiese SSR en die Azerbeidjanse SSR saamgesmelt om die Transkaukasiese SFSR tot stand te bring. Op 30 Desember 1922 het die Transkaukasiese SFSR een van die vier Sowjetrepublieke geword wat saamgesmelt het om die USSR te vorm. Die vlag van die republiek het ’n hamer en sekel in ’n ster gehad met die letters “ЗСФСР” (ZSFSR) in Russies daarop. Hierdie letters staan vir Закавказская Советская Федеративная Социалистическая Республика (Zakavkazskaja Sovjetskaja Federativnaja Sotsalistitsjeskaja Respoeblika, "Transkaukasiese Sowjet Federatiewe Sosialistiese Republiek"). In 1936 het die TSFSR ontbind in sy drie samestellende gebiede, onderskeidelik die Georgiese, Armeense en Azerbeidjanse SSR’e.
As ’n republiek van die USSR is die Armeense SSr se vlag in 1936 aanvaar. Dit is baie soortgelyk aan die vlag van die Sowjetunie in dat dit ’n rooi vlag was met ’n hamer en sekel in die skildhoek. Daaronder het gestaan “H-Kh-S-H” in Armeensse skrif. Hierdie letters, in Wes-Armeens, staan vir “Haygagan Khorhurtayin Sodzialistakan Hanrabedutyun,” of die “Armeense Sosialistiese Sowjetrepubliek.” In die 1940’s is die vlag aangepas om die Oos-Armeens wat in die Republiek gepraat is, te akkommodeer. Die letters is verander na “H-S-S-R” vir “Hayastani Sovetakan Sotsialistikakan Respublika” in die Oos-Armeense uitspraak. In 1952 is ’n nuwe vlag bekendgestel. Die letters is geheel en al verwyder en ’n horisontale blou baan is in die middel aangebring.
Laat in Mei 1988, te midde van groeiende nasionalistiese spanning, het die nuwe leier van Armenië se kommunistiese party die vertoon van die verbande driekleur van die DRA in Jerewan toegestaan vir die eerste maal in sestig jaar. ’n Jaar later, na die massabetoging vir Nagorno-Karabach waar die driekleur vertoon is, het hy amptelike erkenning daarvoor versoek. Op 24 Augustus 1990 is amptelike erkenning aan die vlag gegee, ’n dag nadat die Armeense Opperste Sowjet die republiek se soewereiniteit verklaar het en die land hernoem het na die Republiek Armenië. Op daardie tydstip, het Armenië net meer as ’n jaar van tevore sy formele onafhanklikheid van die USSR verklaar en die driekleur het die vlag van 1952 vervang.
Die kleure is gereeld verskillende betekenisse toegedig. Die rooi het byvoorbeeld vir die bloedvergieting deur die Armeense soldate in oorlog voorgestel, die blou het die Armeense lug voorgestel en die oranje die moed van die land.
Die amptelike definisie van die kleure, soos vasgestel deur die Grondwet van die Republiek van Armenië is:
In 2012 het die Armeense Nasionale Instituut vir Standaarde (SARM) spesifikasies vir die samestelling en kleure van die nasionale vlag uitgereik:
Kleurskema | Rooi | Blou | Oranje | |||
---|---|---|---|---|---|---|
RGB-kleursisteem | 217-0-18 | 0-51-160 | 242-168-0 | |||
CMYK | 0-100-100-0 | 100-80-0-0 | 0-35-100-0 | |||
Heksadesimaal | D90012 | 0033A0 | F2A800 | |||
Pantone | 485 | 286 | 1235 |
Die wetgewing van 2006 oor die Nasionale Vlag van Armenië vereis dat die vlag op die volgende openbare geboue gehys moet word:
Die wet vereis ook dat die vlag halfstok moet hang op dae wanneer daar gerou word of gedurende roudienste. ’n Swart lint moet dan bo-aan die vlagpaal geplaas word; die lengte van die lint moet gelyk wees aan die lengte van die vlag. Die wapperende vlag moet in sy geheel, skoon en onverwelk gehys word; verder moet die onderste gedeelte van die vlag ten minste 2,5 meter van die grond af wees.
Die dag van die Nasionale vlag van Armenië word jaarliks op 15 Junie gevier. Die dag is gekies om die rede dat die Armeense wet oor die Nasionale Vlag van Armenië op 15 Junie 2006 deurgevoer is. Die dag van die Armeense driekleur is vir die eerste keer op 15 Junie 2010 in Jerewan gevier.
Die daaglikse vertoon van die Armeense vlag word aangemoedig maar slegs wetlik vereis op die volgende dae:
Die nasionale vlag word genoem in die “Mer Hayrenik”, die volksied van Armenië. Die tweede en derde strofes verwys spesifiek na die skepping van die nasionale vlag:
|
|
Gebruik | Nasionale vlag |
---|---|
Verhouding | 1:2 |
Goedgekeur | 2 Junie 1992 |
Ontwerp | ’n Horisontale driekleur in rooi, blou en oranje met ’n wit sigsagstyl chevron op die wapperkant. |
Op 2 Junie 1992 het die selfverklaarde Republiek Artsach, ’n de facto onafhanklike republiek in Suid-Kaukasië wat deur Azerbeidjan opgeëis word, ’n vlag aangeneem wat afgelei is van die vlag van Armenië met ’n wit patroon op die wapperkant toegevoeg. ’n Wit sigsagstyl chevron wat op die verste punt van die wapperkant begin en in die middel van die blou baan bymekaar kom. Die chevron is een derde van die lengte van die vlag lank. Die wit patroon stel die huidige afsondering van Artsach (Nagorno-Karabakh) van Armenië en hul aspirasie vir uiteindelike unifikasie met “die Moederland”. Dit stel die Armeense erfenis, kultut en populasie van die omgewing voor. Dit stel ook Nagorno-Karabakh voor as ’n afgesonderde gebied van Armenië deur die driehoekige vorm en die sigsag wat deur die vlag sny. Die patroon is ook soortgelyk aan die ontwerp wat op matte gebruik word. Die vlag se hoogte-breedteverhouding is 1:2, dieselfde as die Armeense driekleur.
Benewens die vlag van Nagorno-Karabach, het die vlag van Armenië ook die ontwerp van die vlag vir die Pan-Armeense Spele beïnvloed. In die middel van die ligblou vlag is ses ineengeskakelde ringe, afgelei van die Olimpiese Ringe. Die sesde is ’n oranje ring, wat Armenië voorstel, en is ineengeskakel met die blou en groen ringe. Bo die ringe is ’n vlam in die kleure van die Armeense vlag.
Wiki Commons bevat media in verband met Vlae van Armenië. |
Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik vanuit die Engelse Wiki vertaal. |
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article Vlag van Armenië, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.
®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.