Seksueel oordraagbare infeksies (SOI's) word deur seksuele kontak van een persoon na 'n ander versprei.
Hierdie infeksies veroorsaak seksueel oordraagbare siektes (SOS'e) wat algemeen voorkom, wat pyn kan meebring en wat onvrugbaarheid en sterfte kan veroorsaak indien dit nie behandel word nie. Van die algemene SOI's is gonorree, trigomoniase, chlamydia en sifilis. Genitale vratte word deur die menslike papilloomvirus veroorsaak en sommige subtipes hiervan is vir die meeste gevalle van servikale kanker verantwoordelik.
Die meeste SOS'e kan behandel en genees word. Die verworwe immuniteitsgebreksindroom (vigs) en die seksueeloordraagbare virus Menslike Immuniteitsgebrekvirus (MIV) wat vigs veroorsaak, kan egter nie genees word nie. MIV kan deur seksuele kontak, deur bloed en deur 'n swanger vrou aan haar kind gedurende swangerskap, geboorte, of borsvoeding oorgedra word. Alhoewel MIV nie genees kan word nie, kan die uitwerking daarvan soms tydelik gestuit word.
Dit is belangrik om te onthou dat ander SOI's soos sifilis en vaginale sproei iemand se kans verhoog om MIV te kry of dit aan ander oor te dra. Mense met SOI's moet dus verkieslik so gou moontlik behandel word, en indien moontlik vir MIV getoets word en berading ontvang. Dit kan by alle primêregesondheidsorgklinieke en -sentrums gedoen word.
Mens kan gewoonlik nie sien dat iemand 'n SOI het nie; mense met SOI's, insluitend MIV, lyk gewoonlik nie siek nie. Dit kan van drie tot tien jaar duur voordat iemand met MIV simptome toon.
Die mees effektiewe manier om SOI's te voorkom is deur nie seks te hê nie. Sommige vaksiene verlaag die risiko's van sekere infeksies soos hepatitis B en sommige soorte MPV. Veiliger sekspraktyke soos die gebruik van kondome en om een seksmaat te hê, kan ook die risiko verlaag. Sekere infeksies kan ook effektief deur manlike besnydenis verminder word.
Nie alle SOI’s is simptomaties nie, en simptome verskyn ook nie noodwendig direk ná besmetting nie. In sommige gevalle kan ’n siekte sonder enige simptome gedra word, wat ’n groter risiko vir oordrag na ’n ander persoon inhou. Na gelang van die siekte kan onbehandelde SOI’s tot onvrugbaarheid, chroniese pyn en selfs die dood lei.
Die teenwoordigheid van ’n SOI in kinders kan op seksuele misbruik dui.
Die volgende geslagsdade verhoog die risiko en waarskynlikheid van seksueel oordraagbare infeksies: orale seks, vaginale seks, anale seks, analingale seks.
Seksueel oordraagbare infeksies sluit in:
Baie SOI’s word (meer dikwels) deur die slymvliese van die penis, vulva, rektum, urienweg en (minder dikwels – afhangende van die soort infeksie) deur die mond, keel, lugweg en oë oorgedra. Alhoewel die kop van die penis deur ’n sigbare slymvlies bedek word, produseer dit geen mukus nie. Slymvliese verskil van vel in die sin dat dit sekere patogene in die liggaam inlaat. Die hoeveelheid kontak met geïnfekteerde bronne wat infeksie veroorsaak, wissel van patogeen tot patogeen, maar selfs ligte kontak tussen ’n slymvlies en vogdraers (soos veneriese vloeistof) kan siekte tot gevolg hê.
Dit is een rede waarom die waarskynlikheid dat infeksies deur seks oorgedra word, baie hoër is as deur meer terloopse, nieseksuele kontak – aanraking, omhelsing, handdruk – maar dit is nie die enigste rede nie. Alhoewel slymvliese in die mond en genitalieë voorkom, blyk dit dat baie SOI’s makliker deur orale seks as deur ’n diep soen oorgedra word. Baie infeksies wat maklik van die mond na die genitalieë en omgekeerd oorgedra word, word moeiliker van een mond na ’n ander oorgedra. By MIV dra genitale vloeistowwe baie meer van die patogeen as speeksel. Sommige infeksies wat as SOI’s geëtiketteer word, soos Herpes simpleks en MPV, kan deur direkte velkontak oorgedra word. KSHV weer, kan deur ’n diep soen oorgedra word, maar ook wanneer speeksel as ’n seksuele smeermiddel gebruik word.
Afhangende van die SOI kan ’n persoon die infeksie oordra as daar geen tekens van die siekte teenwoordig is nie. ’n Persoon is baie meer geneig om die herpesinfeksie oor te dra wanneer daar blase is, maar ’n geïnfekteerde persoon kan die MIV-infeksie egter enige tyd versprei, selfs al het hy/sy nog nie vigssimptome ontwikkel nie.
Alle seksuele gedrag wat kontak met liggaamsvloeistowwe van ’n ander persoon behels, hou ’n risiko vir die verspreiding van seksueel oordraagbare siektes in. Alhoewel die bekamping van MIV, wat tot vigs lei, tot dusver die meeste aandag ontvang het, verskil elke SOI se situasie.
Soos uit die naam afgelei kan word, word seksueel oordraagbare siektes deur sekere seksuele aktiwiteite van een persoon na ’n ander oorgedra, en nie soseer deur daardie seksuele aktiwiteite veroorsaak nie. Bakterieë, fungi, protosoë of virusse is steeds die oorsaaklike agente. Dit is nie moontlik om enige seksueel oordraagbare siekte op te doen deur enige seksuele kontak met ’n persoon wat nie ’n draer is nie; aan die ander kant het ’n persoon wat ’n SOI het, dit opgedoen deur kontak (seksueel of andersins) met iemand wat dit reeds gehad het. Sommige SOI’s soos MIV kan tydens swangerskap of borsvoeding van die ma na die kind oorgedra word.
Alhoewel die waarskynlikheid van die oordrag van verskeie seksuele aktiwiteite baie wissel, behoort alle seksuele aktiwiteite tussen twee (of meer) mense oor die algemeen as ’n tweerigtingpad vir die oordrag van SOI’s beskou te word. Om te “gee” of te “ontvang” is dus albei gevaarlik, maar om te “ontvang” hou ’n groter risiko in.
Alhoewel gesondheidsorgpraktisyns veiliger seks voorstaan, soos die gebruik van kondome as die betroubaarste manier om die risiko vir seksueel oordraagbare siektes gedurende seksuele aktiwiteit te verlaag, mag veiliger seks onder geen omstandighede as ’n absolute vrywaring gesien word nie. Die oordrag van en blootstelling aan liggaamsvloeistowwe soos deur bloedoortappings en ander bloedprodukte, die deel van naalde, naaldsteekbeserings (wanneer mediese personeel tydens prosedures per ongeluk gesteek of geprik word), die deel van tattoeëernaalde en geboorte is ander maniere waarop die infeksie oorgedra kan word. Hierdie verskillende maniere stel veral sekere groepe soos mediese werkers, bloeiers en dwelmgebruikers in gevaar.
Onlangse epidemiologiese studies het sosiale netwerke ondersoek wat deur seksuele verhoudings tussen individue gedefinieer word, en daar is ontdek dat die eienskappe van seksuele netwerke deurslaggewend vir die verspreiding van seksueel oordraagbare siektes is. Sogenaamde assortative mixing tussen mense met 'n groot hoeveelheid seksmaats blyk veral ’n belangrike faktor te wees.
Dit is moontlik om ’n asimptomatiese draer van seksueel oordraagbare siektes te wees. Seksueel oordraagbare siektes kan veral by vroue die ernstige pelviese inflammatoriese siekte veroorsaak.
Voorkoming is van sleutelbelang in die bestuur van ongeneeslike SOI’s soos MIV en herpes. Klinieke vir seksuele gesondheid staan die gebruik van kondome voor en versprei dit in hoërisiko-gemeenskappe.
Die mees effektiewe manier om seksuele oordrag van SOI’s te voorkom, is om kontak met liggaamsdele of vloeistowwe te vermy wat tot oordrag vanaf ’n geïnfekteerde persoon kan lei. Nie alle seksuele aktiwiteite behels kontak nie: kuberseks, foonseks of masturbasie is alles metodes waar kontak vermy word. Die behoorlike gebruik van kondome verminder kontak en risiko. Alhoewel ’n kondoom blootstelling effektief beperk, is dit wel moontlik dat siekteoordrag met ’n kondoom kan plaasvind.
Albei maats moet vir SOI’s getoets word voordat seksuele kontak geïnisieer word of voordat kontak hervat word as ’n maat seksuele kontak met iemand anders gehad het. Baie infeksies word nie onmiddellik ná blootstelling waargeneem nie, en daar moet genoeg tyd tussen moontlike blootstelling en toetsing verloop voordat daar ’n akkurate uitslag sal wees. Dis moontlik dat sekere SOI’s, veral sekere hardnekkige virusse soos MPV, nie met die huidige mediese prosedures ontdek sal word nie.
Baie siektes wat permanente infeksies laat posvat, kan die immuunstelsel in so ’n mate in beslag neem dat ander siektes makliker oorgedra word. Die aangebore immuunstelsel wat teen MIV weerstand bied, kan oordrag van MIV voorkom wanneer virustellings baie laag is, maar wanneer die stelsel met ander virusse besig of oorweldig is, kan MIV posvat. Sekere SOI’s verhoog MIV-geïnfekteerde pasiënte se sterfterisiko.
Strategieë vir die uitbreiding van toetsing vir MIV en SOI’s blyk suksesvol te wees. Sommige behandelingsfasiliteite gebruik tuistoetse en laat persone die toets vir die opvolgbesoek terugbring. Ander fasiliteite beveel aan dat persone wat voorheen geïnfekteer was, terugkom om te verseker dat die infeksie geëlimineer is. Nuwe strategieë om hertoetsing aan te moedig is die gebruik van sms’e en e-posboodskappe. Hierdie aanmanings word nou bo en behalwe telefoonoproepe en briewe gebruik.
Daar is inentings (vaksiene) beskikbaar wat teen sommige virus-SOI’s soos Hepatitus A, Hepatitus B en sommige soorte MPV beskerming bied. Daar word aanbeveel dat persone hulle laat inent voordat seksuele kontak geïnisieer word ten einde maksimale beskerming te verseker. Daar word tans aan die ontwikkeling van vaksines teen gonorree gewerk.
Kondome en vroulike kondome bied slegs beskerming wanneer dit behoorlik gebruik word, en slegs vir die areas wat daardeur bedek word. Onbedekte areas is steeds vatbaar vir baie SOI’s.
In die geval van MIV is die penis amper altyd die seksuele oordragroete aangesien MIV nie deur velkontak versprei kan word nie; om ’n penis dus met ’n kondoom wat korrek gedra word, van die vagina of anus te beskerm, kan MIV-oordrag effektief voorkom. MIV wat via geïnfekteerde vloeistof op stukkende direk oorgedra word, sal nie as “seksueel oorgedra” beskou word nie, maar kan teoreties steeds tydens seks plaasvind. Dit kan voorkom word deur seksuele kontak te vermy wanneer daar oop, bloeiende wonde is.
Ander SOI’s, selfs virusinfeksies, kan met die gebruik van lateks-, poli-uretaan- of poli-isopreenkondome voorkom word. Sommige mikro-organismes en virusse is steeds klein genoeg om deur die porieë in natuurlike velkondome te dring, maar te groot om deur lateks of sintetiese kondome te dring.
Vir maksimum beskerming moet daar aanvaar word dat 'n gebruikte kondoom en die inhoud daarvan geïnfekteer is. Daar moet dus met die kondoom weggedoen word. ’n Nuwe kondoom moet vir elke afsonderlike geslagsdaad gebruik word aangesien dit met veelvoudige gebruik kan skeur en die effektiwiteit as beskermer belemmer word.
Navorsers het gehoop dat nonxynol-9, ’n vaginalemikrobe-doder, die risiko vir SOI's sou verlaag. Bewyse het egter getoon dat dit oneffektief is en vroue se kans op MIV-infektering verhoog.
’n Persoon kan vir ’n enkele infeksie getoets word, of daar kan ’n reeks toetse vir verskeie SOI’s gedoen word, insluitend toetse vir sifilis, trigomoniasa, gonorree, chlamydia, herpes, hepatitis en MIV. Daar is nie ’n prosedure wat vir alle besmetlike agente toets nie.
Vroeë identifisering en behandeling lei tot ’n kleiner kans om die siekte te versprei en kan by sommige infeksies die uitkoms van die behandeling verbeter. Daar is dikwels ’n vensterperiode ná aanvanklike infektering waartydens ’n SOI-toets negatief kan wees. Gedurende hierdie tyd kan die infeksie oordraagbaar wees. Die duur van hierdie tydperk wissel afhangende van die infeksie en die toets. ’n Diagnose kan ook vertraag word indien die geïnfekteerde persoon onwillig is om ’n mediese praktisyn te besoek. Meer mense raadpleeg die internet in plaas van 'n dokter oor SOI's as oor ander seksuele probleme.
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article Seksueel oordraagbare infeksie, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.
®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.