Die Groep van Sewe (kort G7) is 'n informele forum van die Westerse wêreld se leidende nywerheidslande wat in 1975 in die lewe geroep is.
Die G7 se staats- en regeringshoofde kom gereeld vir spitsberade byeen om ekonomiese en ander kwessies te bespreek. Die G7 bestaan tans uit Duitsland, Frankryk, Italië, Japan, Kanada, die Verenigde Koninkryk en die Verenigde State. Die Russiese Federasie, wat in 1998 tot die forum toegetree het wat vervolgens as Groep van Agt bekendgestaan het, is ná die anneksasie van die Krim-skiereiland op 25 Maart 2014 uitgesluit. Die forum het sodoende na sy oorspronklike formaat teruggekeer.
Die lidlande van die Groep van Sewe (G7) en hulle verteenwoordigers tydens spitsberade. |
---|
Duitsland – Bondskanselier Olaf Scholz |
Frankryk – President Emmanuel Macron |
Italië – Eerste Minister Mario Draghi |
Japan – Eerste Minister Fumio Kishida |
Kanada – Eerste Minister Justin Trudeau |
Verenigde Koninkryk – Eerste Minister Boris Johnson |
Verenigde State – President Joe Biden |
Die Europese Gemeenskap (sedert 1993 die Europese Unie) neem sedert 1977 aan die spitsberade deel en word deur die Europese Kommissie en die land, wat op dié tydstip die roterende presidentskap van die Europese Unie beklee, verteenwoordig.
Die forum het hom aanvanklik op die koördinasie van die lidlande se ekonomiese beleid toegespits, maar het later ook begin om internasionale vraagstukke soos die stryd teen armoede in die ontwikkelende lande, werkloosheid, die stryd teen misdaad en terrorisme en die proliferasie van massavernietigingswapens te behandel.
Die eerste internasionale ekonomiese spitsberaad van die (destyds ses) leidende nywerheidslande het in 1975 as G6-spitsberaad op inisiatief van die Franse regering in die kasteel van Rambouillet (Frankryk) plaasgevind.
Die G7-spitsberade word veral gekenmerk deur die geleidelike uitbreiding van hulle agenda's. Terwyl hulle in die 1970's nog deur ekonomiese vraagstukke oorheers is, het ook die internasionale politiek in die 1980's meer aandag gekry. In die negentigerjare het dit saam met kwelvrae soos die bestryding van terrorisme tot die hoofonderwerp van die spitsberade ontwikkel.
Wiki Commons bevat media in verband met Groep van Sewe. |
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article Groep van Sewe, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.
®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.