Sikloon

In meteorologie is 'n sikloon of werwelstorm 'n groot lugmassa wat om 'n sterk kern van lae atmosferiese druk in die rondte draai.

Soos van bo af gesien, draai dit in die Suidelike Halfrond kloksgewys (regsom) en in die Noordelike Halfrond antikloksgewys (linksom), die teenoorgestelde as 'n antisikloon. Siklone word deur winde gekenmerk wat om 'n laagdruksone na binne spiraal.

Sikloon
Orkaan Katrina, 'n seldsame Suid-Atlantiese tropiese sikloon, op 26 Maart 2004 uit die Internasionale Ruimtestasie afgeneem.

Die grootste laagdrukstelsels is poolwerwels en ekstratropiese siklone van die grootste skaal (die sinoptiese skaal). Warmkernsiklone soos tropiese en subtropiese siklone val ook binne die sinoptiese skaal. Mesosiklone, tornado's en stofwarrels lê binne die kleiner mesoskaal.

Siklone is ook al waargeneem op ander planete, soos Mars, Jupiter en Neptunus. Siklogenese is die proses waarvolgens siklone vorm en in intensiteit toeneem.

Weerfronte merk die grens tussen twee massas lug met verskillende temperature, humiditeite en digthede, en word verbind met die prominentste meteorologiese verskynsels. Sterk kouefronte het gewoonlik nou bande van donderstorms en strawwe weer, en kan soms voorafgegaan word deur buielyne of droë lyne. Sulke fronte vorm wes van die sirkulasiekern en beweeg gewoonlik van wes na oos; warmfronte vorm oos van die sikloonkern en word gewoonlik voorafgegaan deur gestratifiseerde reën en mis. Warmfronte beweeg poolwaarts voor die pad van die sikloon uit. Geokkludeerde fronte vorm laat in die sikloon se lewensiklus naby die kern en omhul dikwels die kern.

In die Atlantiese Oseaan en die oostelike Stille Oseaan (waaronder die Hawaise eilande) word daar na siklone verwys as orkane; in die westelike Stille Oseaan staan hulle bekende as tifone en in die suidelike Stille Oseaan en in die Indiese Oseaan as siklone. Laasgenoemde, die generiese term, dek 'n wye verskeidenheid meteorologiese verskynsels, waaronder tropiese siklone, ekstratropiese siklone en tornado's. Dus gebruik weerkundiges "sikloon" selde sonder om dit te spesifiseer.

Term

Henry Piddington het tussen 1836 en 1855 altesaam 40 artikels oor die tropiese storms van Kalkutta in The Journal of the Asiatic Society gepubliseer. Hy het ook die term "sikloon" geskep, bedoelende soos die opkrulling van 'n slang. In 1842 het hy sy landmerktesis, Laws of the Storms, gepubliseer.

Struktuur

Sikloon 
'n Vergelyking tussen ekstratropiese en tropiese siklone.

Daar is 'n paar struktuureienskappe wat alle siklone deel. 'n Sikloon is 'n laagdrukgebied. Die kern, wat dikwels in 'n ontwikkelde sikloon die "oog" genoem word, is die streek met die laagste atmosferiese druk in die gebied. Naby die kern moet die drukgradiëntkrag (van die druk in die middel van die sikloon in vergelyking met die druk buite die sikloon) en die krag van die Corioliseffek in 'n benaderde balans wees, anders sal die sikoon instort as gevolg van die verskil in druk.

Vanweë die Corioliseffek is die vloei om 'n groot sikloon kloksgewys in die Suidelike Halfrond en antikloksgewys in die Noordelike Halfrond. In die Noordelike Halfrond kom die vinnigste winde relatief tot die oppervlak van die Aarde voor aan die oostekant van 'n sikloon wat noordwaarts beweeg, en aan die noordekant van 'n sikloon wat weswaarts beweeg. Die teenoorgestelde gebeur in die Suidelike Halfrond.

In teenstelling met laagdrukgebiede, is die windvloei om 'n hoogdrukstelsel antikloksgewys (antisiklonies) in die Suidelike Halfrond en kloksgewys in die Noordelike Halfrond.

Vorming

Siklogenese is die ontwikkeling of versterking van sikloniese sirkulasie in die atmosfeer. Dit is 'n sambreelterm vir verskeie verskillende prosesse wat almal lei tot die vorming van die een of ander sikloon. Dit kan op verskillende skale gebeur, van die mikro- tot die sinoptiese skaal.

Sikloon 
Die aanvanklike ekstratropiese laagdrukgebied vorm waar die rooi kol op die skets is. Dit is gewoonlik loodreg op die blaarvormige wolkformasie wat op 'n satellietfoto gesien kan word in die vroeë stadium van siklogenese. Die ligging van die as van die boonstevlaklugstroom is ligblou.

Ekstratropiese siklone begin as golwe al langs weerfronte voordat hulle later in hulle lewensiklus okkludeer as kouekernstelsels. Sommige intense ekstratropiese siklone kan egter warmkernstelsels word.

Tropiese siklone vorm as gevolg van 'n aansienlike konveksie en het 'n warm kern. Mesosiklone vorm as warmkernsiklone oor land en kan lei tot die vorming van tornado's. Waterspuiers kan ook uit mesosiklone ontwikkel, maar doen dit meer dikwels uit omgewings van groot onstabiliteit en 'n vertikale skuifwind. Siklolise is die teenoorgestelde van siklogenese en is die hoogdrukstelsel-ekwivalent.

'n Laagdrukgebied op die aardoppervlak kan op verskeie maniere vorm. Topografie kan een skep. Konveksiestelsels op die mesoskaal kan 'n laagdrukgebied op die oppervlak laat ontstaan wat aanvanklik 'n warm kern het. Die versteuring kan tot 'n golfagtige formasie groei al met die front langs. Die laagdrukgebied lê by die kruin. Om die gebied word die vloei siklonies. Dié draaiende vloei beweeg poollug na die ewenaar aan die westekant van die laagdrukgebied, terwyl warm lug aan die oostekant na die pool beweeg. 'n Kouefront vorm aan die westekant, terwyl 'n warmfront aan die oostekant vorm. Die kouefront beweeg gewoonlik vinniger as die warmfront en "haal dit in" vanweë die stadige erosie van lugmassa met 'n hoër digtheid voor die sikloon. Die lugmassa met die hoër digtheid wat agter die sikloon invloei, versterk terselfdertyd die digter koue lugmassa. Die kouefront gaan die warmfront verby en verkort die lengte van die warmfront. In dié stadium vorm 'n okklusiefront waar die warm lug boontoe gedruk word in 'n trog van warm lug bo.

Tropiese siklogenese is die ontwikkeling en versterking van 'n tropiese sikloon. Die meganisme is effens anders as by ander siklone. Daar is ses hoofvereistes vir tropiese siklogenese:

  1. taamlik warm seeoppervlaktemperature,
  2. atmosferiese onstabiliteit,
  3. hoë humiditeit in die laer tot middelste vlakke van die troposfeer
  4. genoeg Corioliskrag om 'n laagdrukkern te ontwikkel
  5. 'n vooraf bestaande laevlakfokus of -versteuring
  6. 'n lae vertikale skuifwind.

Gemiddeld 86 tropiese siklone met die intensiteit van tropiese storms vorm jaarliks wêreldwyd, met 47 wat die krag van 'n orkaan/tifoon bereik en 20 wat intense tropiese siklone word.

Sikloon 
'n Sikloon op Mars, afgeneem deur die Hubble-ruimteteleskoop.

Ander planete

Siklone is nie uniek aan die Aarde nie. Sikloniese storms is algemeen op die gasreuse, soos die Klein Donker Vlek op Neptunus. Sy deursnee is sowat 'n derde van dié van die Groot Donker Vlek en dit het die bynaam "Die Towenaar se Oog" gekry: Dit lyk soos 'n oog vanweë 'n wit wolk in die middel daarvan. Mars het ook al sikloniese storms gehad.

Die Groot Rooi Vlek op Jupiter is nie 'n sikloon nie, maar 'n antisikloon.

Verwysings

Eksterne skakels

  • Sikloon  Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik uit die Engelse Wiki vertaal.

Tags:

Sikloon TermSikloon StruktuurSikloon VormingSikloon Ander planeteSikloon VerwysingsSikloon Eksterne skakelsSikloonMeteorologieNoordelike HalfrondSuidelike Halfrond

🔥 Trending searches on Wiki Afrikaans:

WaatlemoenHeupvervangingBank (finansiële instelling)Persoonlike voornaamwoordLeierPornografiese akteurAkuutReg tot ‘n gesonde omgewingStudievaardighedeKaapstadse waterkrisis 2015-2018Jo BlackDomkragKasteel die Goeie HoopMangelSpysverteringstelselJaarUnie van Suid-AfrikaVerenigde State van AmerikaSatellietfotoKoorsblaarSkaakAbsolute monargieSokkerLys van Griekse mitologiese figureSuurstofKarakteriseringFisiese oefeningAntoniemVraag en aanbodNeurenberg-verhoreVoornaamwoordAustraliëKarooKleurDiarreeDiatomiese molekuulMierKolonoskopieGasLeonardo da VinciGenadedoodBorskankerDuitslandMusieksimboleStilleweMenstruasieVermenigvuldigingKlavierMigrasie van diereGeslagsgelykheidWinnie Madikizela-MandelaLys van visseVulvaHokkieTeologiese Kweekskool (Stellenbosch)MisdaadProteïenBreinSebraGewone breukeBoelieryMobutu Sese SekoAborsie in Suid-AfrikaHartversakingJacques LootsSpelerposisies in rugbyLys van politieke partye in Suid-AfrikaHondeklipbaaiSelGetalRegeringAlliterasieVrouWolf🡆 More