Wiki Afrikaans 2022: Tuisblad
AFVietnameseEnglish

Die Vulkaniese Sewe Kruine of Vulkaniese Sewe Spitse is die hoogste vulkane op elk van die sewe kontinente, nes die Sewe Kruine die hoogste bergspitse op elke kontinent is. Om al sewe kruine uit te klim is 'n bergklimuitdaging, wat die eerste keer in 1999 voorgestel is.[1]

Die Vulkaniese Sewe Kruine.
Die kruin van Ojos del Salado.
Die Kibospits van Kilimandjaro.
Die berg Elbroes.
Die berg Damavand.

Twee van die Vulkaniese Sewe Kruine is ook onder die Sewe Kruine: Kilimandjaro en Elbroes, wat as vulkane beskou word, is die hoogste bergspitse op hulle onderskeie kontinente.

Definisies

Vanweë verskillende vertolkings van kontinentale grense (geologies, geografies, geopolities) bestaan verskeie definisies vir die hoogste kruine per kontinent asook die getal kontinente. Die getal van sewe kontinente wat in dié artikel gebruik word, is geskoei op die kontinentmodel wat in Wes-Europa en die Verenigde State gebruik word. Die kontinente word geologies en geografies bepaal, nie geopolities nie.

Nog 'n komplikasie in die vasstelling van die hoogste vulkaniese kruine is die definiëring van wat presies 'n vulkaan is en hoeveel topografiese prominensie dit moet hê om te kan kwalifiseer in vergelyking met enige nabygeleë, nievulkaniese pieke. Vir die doeleindes van dié lys moet 'n kruin 'n uitbarstende vulkaansentrum wees en nie bloot bestaan uit vulkaanrotse wat deur ander geologiese prosesse opgedruk word nie. Daarbenewens word 'n topografiese prominensie van minstens 300 m vereis, sodat die lys net werklike vulkaniese berge insluit en nie uitstortings van lawa wat in hoogliggende gebiede voorkom nie (sien "Asië" hier onder).

Afrika, Noord-Amerika, Antarktika

Geen enstige dispute bestaan oor wat die hoogste vulkane in Afrika, Noord-Amerika en Antarktika is nie. Dit is onderskeidelik Kilimandjaro, Pico de Orizaba die berg Sidley.

Australië

Hoewel 'n paar kleiner en onaktiewe vulkane op die Australiese vasteland voorkom, word die eiland Nieu-Guinee vir dié lys as deel van die kontinent Australië beskou. Verskeie wetenskaplike geskrifte wat in die 1970's en 1980's geskryf is, bevestig dat die berg Giluwe in Papoea-Nieu-Guinee in werklikheid 'n ou, geërodeerde vulkaan is,[2][3][4] anders as die hoër berge van Nieu-Guinee wat almal 'n nievulkaniese oorsprong het.

Selfs as dié kontinent as Oseanië gedefinieer word (wat Nieu-Seeland en Polinesië insluit, en dus ook Hawaii), bly Giluwe die hoogste vulkaan omdat dit 'n groter hoogte bo seespieël het as Mauna Kea in Hawaii en enige vulkaan in Nieu-Seeland.

Europa

Die algemeen aanvaarde geografiese grens tussen Europa en Asië is al langs die kruin van die Oeralgebergte in Sentraal-Rusland en van die Kaukasus aan die suidgrens van Rusland. Aangesien die enorme stratovulkaan Elbroes met sy twee pieke net noord van die kruin uitstyg, is dit die hoogste kruin in Europa en ook die hoogste vulkaan.

Sommige geoloë beskou egter die Koema-Manitsjlaagte as die geologiese grens tussen die twee kontinente. So 'n definisie plaas Elbroes in Asië en maak Elbroes die hoogste vulkaan van dié kontinent (sien hier onder). Dan is die berg Etna ('n aktiewe stratovulkaan van 3 350 m in Sisilië, Italië) die hoogste vulkaan in Europa. Die berg Teide in die Kanariese Eilande, wat aktief en hoër as Etna is en in die gebied van 'n Europese land val, sal nie oorweeg word nie omdat die eilande geologies tot die kontinent Afrika behoort.

Suid-Amerika

Hoewel Aconcagua, die hoogste piek in Suid-Amerika en in die Westelike Halfrond, 'n vulkaniese oorsprong het, het sy huidige hoogste punt ontstaan vanweë geologiese prosesse en streng gesproke nie omdat dit vulkanies is nie.[5] Daarom word Aconcagua vir dié lys nie as 'n vulkaan op sy eie beskou nie.

Topografiese kaarte van die Argentynse en Chileense grensgebied wat die hoogste kruine bevat, is nie baie akkuraat nie, met in baie gevalle foute in hoogtes van meer as 100 m. Die huidige konsensus, wat geskoei is op die mees onlangse metings, maak Ojos del Salado die tweede hoogste kruin en die hoogste vulkaan in Suid-Amerika. Dit is aansienlik hoër as Monte Pissis.[6]

Asië

Die 5 610 m hoë berg Damavand is 'n baie groot, geïsoleerde stratovulkaan met 'n topografiese prominensie van meer as 4 600 m.

In Tibet is daar meer as 70 vulkaanopeninge bekend as die Kunlun-vulkaangroep wat hoër as Damavand se kruin is (die hoogste een het na berig word 'n hoogte van 5 808 m bo seespieël). Pieke in dié groep word nie as vulkaniese berge beskou nie, maar as 'n soort piroklastiese keël.[7] Inligting oor die keëls is uiters skaars en die betroubaarheid van hulle beweerde hoogtes en prominensies is onbekend. Dit is onwaarskynlik dat enige van die keëls 'n prominensie van meer as 300 m sal hê (wat vir dié lys nodig is).

Die lys

Vulkaniese Sewe Kruine (volgens hoogte bo seespieël)
VulkaanHoogteProminensieKontinentBergreeksLand
Ojos del Salado6 893 m3 688 mSuid-AmerikaAndes  Argentinië
  Chili
Kilimandjaro *5 895 m5 885 mAfrika-  Tanzanië
Elbroes *5 642 m4 741 mEuropaKaukasus  Rusland
Pico de Orizaba5 636 m4 922 mNoord-AmerikaTrans-Mexikaanse Vulkaangordel  Meksiko
Damavand5 610 m4 667 mAsiëAlborz  Iran
Giluwe4 368 m2 488 mOseaniëSuidelike Hoogland  Papoea-Nieu-Guinee
Sidley4 285 m2 517 mAntarktikaExecutive Committee RangeAntarktika
  • Nota: Twee van die Vulkaniese Sewe Kruine, Kilimandjaro en Elbroes, val ook onder die Sewe Kruine.

Verwysings

  1. "The Volcanic "Seven Summits"". November 1999. Besoek op 2007-02-28.
  2. Blake, D. H.; Löffler, E. (1971). "Volcanic and Glacial Landforms on Mount Giluwe, Territory of Papua and New Guinea". Geological Society of America Bulletin. 82 (6): 1605–1614. Bibcode:1971GSAB...82.1605B. doi:10.1130/0016-7606(1971)82[1605:VAGLOM]2.0.CO;2. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 2012-02-17.
  3. Löffler, E.; Mackenzie, D. E.; Webb, A. W. (1980). "Potassium-argon ages from some of the Papua New Guinea highlands volcanoes, and their relevance to Pleistocene geomorphic history". Journal of the Geological Society of Australia. 26 (7–8): 387–397. Bibcode:1979AuJES..26..387L. doi:10.1080/00167617908729105.
  4. Mackenzie, D. E. (1985). "Giluwe and Hagen; glaciated volcanoes in the rain forests of western PNG". Volcano News. 19–20: 7.
  5. "Geology of Aconcagua | Volcano | Plate Tectonics". Scribd (in Engels). Besoek op 2017-12-01.
  6. Biggar, John (2005). The Andes: A Guide for Climbers (3rd Ed.). Andes. ISBN 0-9536087-2-7.
  7. "Kunlun Volcanic Group". Global Volcanism Program. Smithsonian Institution. Besoek op 2007-02-28.

Skakels

  •   Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik uit die Engelse Wiki vertaal.