Die vlag van Stellaland was die amptelike vlag van die kortstondige Republiek Stellaland wat vanaf 1883 tot 1885 bestaan het.
Verhouding | 2:3 |
---|---|
Goedgekeur | 1883 |
Ontwerp | ’n Groen vlag met ’n wit ster in die middel. |
Stellaland het ontstaan uit 'n oorlog tussen die Korana en die Batlapin in die destydse Brits-Betsjoeanaland in 1882. Met behulp van 'vrybuiters' (huursoldate) uit die Kaapkolonie en die Zuid-Afrikaansche Republiek het die Koranna gewen. Die Batlapin moes deel van hulle grondgebied aan hulle oorhandig, wat die Koranna toe vir die vrybuiters gegee het. Hulle het dit 'Stellaland' ("land van die ster") genoem na aanleiding van 'n komeet wat destyds sigbaar was.
'n Bestuur is in Januarie 1883 daargestel om Stellaland te administreer. In Augustus 1883 verklaar die bestuur Stellaland tot 'n onafhanklike republiek. Onafhanklikheid was van korte duur want in Februarie 1885, na meer as 'n jaar van politieke knoeiery, het Britse magte die gebied beset. Stellaland en die hele Betsjoeanaland is toe tot 'n Britse protektoraat verklaar.
Sedertdien is Stellaland 'n administratiewe distrik, wat tans deel van die Noordwesprovinsie uitmaak. Die naam 'Stellaland' word nie meer amptelik gebruik nie, alhoewel dit nog die naam is van die plaaslike koerant, die rugbyunie, 'n skool, en ander instellings.
Stellaland se vlaggeskiedenis is ietwat ingewikkeld en het tot verwarring onder 20ste-eeuse skrywers gelei.
Gedurende die kort tyd toe die vrybuiters aan bewind was was daar drie vlae:
Die bestaan van hierdie vlag word in Januarie 1883 'n berig in die Diamond Fields Advertiser gemeld.
Daar is vele bewyse dat hierdie die landsvlag was o.a.:
Sommige moderne naslaanwerke meld ander weergawes van hierdie vlag b.v. groen met 'n 6- of 8-puntige ster, of groen met 'n geel ster. Nie een van die betrokke skrywers noem die bronne van sy inligting nie, en hierdie weergawes blyk onakkuraat te wees.
Stellaland wou met die buurstaat Land Goosen saamsmelt om 'n 'Verenigde State van Stellaland' te vorm, maar alhoewel die twee regerings wel 'n verdrag onderteken het is dit nooit in werking gestel nie. As die samesmelting wel plaasgevind het sou die vlag dan twee sterre gehad.
Hierdie vlag, wat as 'die standaard' bekend gestaan het, is deur die bestuur gebruik en het buite die landdroskantoor op Vryburg gewapper.
Op 21 Augustus 1885, nadat die Britse magte Stellaland beset het, het die bestuur besluit om die standaard aan koningin Victoria te stuur, met die versoek dat dit haar sou behaag om hulle onder haar beskerming te neem. Die standaard het toe in Windsorkasteel gehang tot koning George V dit in 1934 aan Suid-Afrika terugbesorg het. Die standaard is in 1935 in die Vryburgse stadsaal geplaas.
Daar bestaan ook 'n ander historiese vlag (groen en rooi met 'n wit ster daarop) wat sedert 1952 deur verskeie skrywers as die vlag van die republiek beskryf word. Die herkoms daarvan is egter onduidelik maar dit blyk nie 'n amptelike vlag te wees nie.
Die vlag is eers in 1952 in Raoul Gerard se boek Vlae oor Suid-Afrika onder die publiek se aandag gebring. Volgens hom het iemand in Engeland dit in 1934 vir generaal Jan Smuts gegee, en na die generaal se dood (in 1950) het mev Smuts die vlag aan die Transvaalse Museum geskenk. Aangesien Gerard van geen ander Stellalandse vlag melding gemaak het nie is die indruk toe geskep dat dit die enigste Stellalandse vlag was. Latere skrywers het dit so aanvaar en dit in verskeie boeke en artikels as die vlag van die Republiek Stellaland beskryf.
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article Vlag van Stellaland, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.
®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.