Ds.
Tjibbe Thomas Spoelstra (13 April 1900 – 28 Augustus 1987) was van 1925 tot 1965 predikant in vier gemeentes van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, naamlik Gereformeerde kerk Johannesburg-Oos (1925–1927), Petrusburg (in kombinasie, 1927–1941), Pretoria-Oos (1950–1958) en Pretoria-Sunnyside (1958–1965). Hy was die eerste predikant van beide Johannesburg-Oos en Pretoria-Sunnyside. Van al vier sy werkkringe bestaan nog net Petrusburg nadat al drie die ander ontbind het. Van 1941 tot 1949 was hy sekretaris-penningmeester van die Administratiewe Buro op Potchefstroom.
Tjibbe Thomas Spoelstra | |
T.T. Spoelstra | |
Naam | Tjibbe Thomas Spoelstra |
---|---|
Geboorte | 13 April 1900 |
Sterfte | 28 Augustus 1987 (op 87) |
Kerkverband | Gereformeerd |
Gemeente(s) | Johannesburg-Oos, 1925–1927 Petrusburg, 1927–1941 Pretoria-Oos, 1950–1958 Pretoria-Sunnyside, 1958–1965 |
Jare aktief | 1927–1965 |
Kweekskool | Potchefstroom |
Spoelstra is tydens die Driejarige Oorlog gebore en het ná laerskoolopleiding deur sy vader ('n onderwyser) gematrikuleer aan die Hoërskool Gimnasium te Potchefstroom en sy teologiese studies in 1924 voltooi.
Spoelstra is in 1925 in sy eerste gemeente, Johannesburg-Oos, bevestig. Omdat predikante destyds skaars was en die jong gemeente net 250 belydende lidmate gehad het, wat nie tot die gegoede stand behoort het nie, was die gemeente in kombinasie met Bethal in Oos-Transvaal, wat ook die verre Swaziland ingesluit het.
Sy tweede werkkring was minder uitgestrek, want in 1927 is hy bevestig as leraar van die kombinasie Petrusburg/Boshof. In 1941 is hy aangestel as sekretaris-penningmeester van die Administratiewe Buro op Potchefstroom, maar in 1950 keer hy terug na die bediening as leraar van Pretoria-Oos, nadat hy in 1949 enkele maande lank die lidmate van die Gereformeerde kerk Eldoret in Kenia bedien het. In dié tyd was hy grondlegger van die Gereformeerde Stigting. In 1958 was hy weer ’n gemeente se eerste leraar, dié keer van Pretoria-Sunnyside, wat in daardie jaar van Pretoria-Sunnyside afgestig het.
Voor hy in 1972 finaal afgetree het, was ds. Spoelstra ook nog van 1965 af sekretaris-penningmeester en later registrateur van die Hammanskraalse Teologiese Skool.
Tydens sy lang bediening het ds. Spoelstra in baie deputategroepe gedien en 'n leidende rol in die kerkverband gespeel. Hy was al in 1930 kurator van die Teologiese Skool Potchefstroom waar hy bykans 35 jaar getroue en vrugbare diens gelewer het. In 1961 het hy die voorsitter geword van die eerste kuratorium van die Hammanskraalse Teologiese Skool. Hy was twee maal voorsitter van die Nasionale Sinode, waarvoor hy uitmuntend toegerus was (hy was geskool in die kerkreg en o.m. medeskrywer van 'n verklaring van die Kerkorde), volgens ds. De Vos.
Op die breëre maatskaplike terrein het hy nie lyf weggesteek nie en was hy (om maar 'n voorbeeld te noem) raadslid en later burgemeester van Potchefstroom. Dit was juis toe dat deur sy bemiddeling die grond waarop die Teologiese Skool vandag staan, van die Raad verkry is.
Spoelstra is trou bygestaan deur sy vrou, Hester Sophia, gebore Van der Walt, met wie hy op 15 Desember 1925 getroud is. Uit die huwelik is sewe kinders gebore en die nageslag het tydens sy afsterwe reeds 32 kleinkinders en 11 agterkleinkinders getel.
Spoelstra het die laaste 15 jaar van sy lewe op Potgietersrus gewoon, waar die predikante en gemeentes oorvloedig kon put uit sy rype ervaring en ryke skat van kennis.
W. de Vos noem ds. Spoelstra in sy lewensberig in die 1989-uitgawe van die GKSA se Almanak ’n "begaafde" en "’n merkwaardige, geëerde en begenadigde dienaar van die Here" en sê dit is onmoontlik om "waarlik reg te laat geskied" aan die "geweldige omvang van sy onbaatsugtige diens en gróót bydrae in belang van die kerk en die koninkryk van God" in die beperkte ruimte tot sy beskikking.
"Almal wat hom geken het," vervolg ds. De Vos, "spreek van hom met die grootste liefde, eerbied en respek."
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article T.T. Spoelstra, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.
®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.