Gereformeerde Kerk Pretoria-Sunnyside

Die Gereformeerde kerk Pretoria-Sunnyside was van 1958 tot 2003 ’n gemeente van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika in die Klassis Suidelike Pretoria, een van vier klassisse (ringe) van dié kerkverband in Suid-Afrika se administratiewe hoofstad.

Gereformeerde Kerk Pretoria-Sunnyside
Di. J.V. Coetzee en T.T. Spoelstra. Laasgenoemde het in 1958 van die moedergemeente Pretoria-Oos af oorgekom en hier gebly tot in 1965.
Gereformeerde Kerk Pretoria-Sunnyside
Die kerkgebou het presies dieselfde gelyk as dié van Noord-Oosrand, tot laasgenoemde vergroot is.
Gereformeerde Kerk Pretoria-Sunnyside
Ds. (later dr.) Victor Edouard d'Assonville was die gemeente se leraar van 1965 tot 1970.

Die gemeente het die voorstede Groenkloof, Lukasrand, Muckleneuk, gedeeltes van Sunnyside, Arcadia en Bryntirion omsluit. In die laaste jaar van sy bestaan het die dooplidmate 55 getel en die belydende lidmate 312. Einde 1997, toe Pretoria-Sunnyside deel was van die Klassis Pretoria-Sentraal, was daar 67 doop- en 444 belydende lidmate. Die laaste predikant was ds. P.W. Kurpershoek.

Die Klassis Pretoria het in 1958 goedkeuring verleen vir die afstigting van die gemeente Pretoria-Sunnyside van Pretoria-Oos. Dit was destyds die enigste klassis in Pretoria en het uit 12 kerke bestaan. Pretoria-Oos het einde 1957 860 belydende lidmate en 325 dooplidmate gehad, die grootste gemeente in die klassis. Die afstigting van Pretoria-Sunnyside was nodig vanweë die groot groei in dié deel van Pretoria waar Sunnyside destyds ontwikkel het in ’n digbevolkte woonstelgebied. So het Pretoria-Sunnyside met nagenoeg 250 belydende en 125 dooplidmate afgestig en die moedergemeente gelaat met onderskeidelik 596 en 191.

Van September 1958 het die nuwe gemeente die saal van die Sewendedagadventiste op die hoek van De Kock- en Verdoornstraat gebruik vir sy eredienste. Kort daarna is grond langs die ou pastorie van Pretoria-Oos in Reitzstraat bekom. Hierdie pastorie en aangrensende tennisbaan het Pretoria-Oos reeds in 1934 aangekoop. Op die tennisbaan, oos van die pastorie, is opmetings in Augustus 1958 vir die oprigting van die kerkgebou afgehandel. Die argitek was Pieter Dykstra, ’n ouderling van die nuwe gemeente wat verantwoordelik was vir talle Gereformeerde kerkgeboue. Op Sondag 14 September 1958, ná die erediens, het ds. T.T. Spoelstra die hoeksteen gelê. Daar is die inskripsie "Aan God alleen die eer" aangebring. J. Zylstra het as bouaannemer opgetree.

Die kerkgebou is reeds op 7 Februarie 1959, net 231 dae ná die afstigting, in gebruik geneem. Weens die beperkte ruimte op die erf het die gebou ’n smal, hoë, reghoekige en eenvoudige vorm aangeneem wat herinner aan die kerkies was die Gereformeerde voorsate in die tweede helfte van die 19de op talle plekke in die land gebou het. Die vensters van gekleurde glas is betreklik hoog teen die mure geplaas en die hoofingang front op Reitzstraat. In 1985 is ’n moederskamer aangebou. Die ou pastorie is herstel en die huis agter die kerk as kerkkantoor en kosterswoonstel ingerig.

In sy hele bestaan van sowat 45 jaar is Pretoria-Sunnyside gekenmerk deur ’n groot wisseling in lidmate weens die baie woonstelbewoners binne sy grense. Ná 1995 het die demografiese veranderinge in Sunnyside, toe wit woonstelbewoners plek gemaak het vir swart mense, die gemeente ál meer nadelig beïnvloed. In 2003 het die kerkraad die besluit geneem om te ontbind. Nogtans is die gebou nie verkoop nie, maar onder toesig van Pretoria-Brooklyn word eredienste vir anderstaliges steeds daarin gehou.

Leraars

  1. Spoelstra, Tjibbe Thomas, 1958–1965 (aanvaar sy emeritaat)
  2. Victor Edouard d'Assonville, 1965–1970
  3. De Bruyn, Paulus Jacobus, 1970–1988
  4. Lindhout, Anthonie, 1976–1984
  5. Snyman, Sarel Daniël, 1989–1995
  6. Stoker, Hendrik Gerhardus, 1995–1999
  7. Kurpershoek, Pieter Willem, 1999–2003

Bronne

  • (af) Harris, C.T., Noëth, J.G., Sarkady, N.G., Schutte, F.M. en Van Tonder, J.M. 2010. Van seringboom tot kerkgebou: die argitektoniese erfenis van die Gereformeerde Kerke. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
  • (af) Van der Walt, dr. S.J. (voorsitter: deputate almanak). 1997. Die Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 1998. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
  • (af) Venter, ds. A.A. 1957. Almanak van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika vir die jaar 1958. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
  • (af) Vogel, Willem (red.). 2014. Die Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 2015. Potchefstroom: Administratiewe Buro.

Tags:

Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika

🔥 Trending searches on Wiki Afrikaans:

Vlag van Suid-AfrikaKlem-in-die-kaakWoordeboek van die Afrikaanse TaalHeks van HexrivierTrappe van vergelykingWaterbesparing in Suid-AfrikaBesoedelingSpreeuFranse RewolusieMeervoudLys van Griekse mitologiese figureBurgerregteInfeksieBipolêre gemoedsteuringVrouMigrasie van voëlsMag (sosiale wetenskappe)Digitale en analogiese tydGrondwetLiefdeGreta ThunbergEierstokOorkruipersHeidelberg, GautengAfro-AmerikanersGemeenskapsorganisasieToekoms van die AardeWortelKoolstofKatTelwoordKasteel die Goeie HoopBeeldspraakMandalaRooms-Katolieke KerkNederlandsStruktuur van die AardeVerkleurmannetjieKoorsblaarKalsiumHoenderBeurtkragWatersuiweringKongo-krisisDuitsOrgasmeDemokrasieViëtnamLimpopo (rivier)XenofobieTuberkuloseLabia (geslagsdele)Wêrelderfenisgebiede in Suid-AfrikaKarpaletonnelsindroomMadison IvyXhosaGrondbesoedelingKolonoskopieVryheidsmanifesWinnie Madikizela-MandelaOu Apostoliese KerkLetsiteleMisdaadAtleetvoetLys van Nasionale Simbole van Suid-AfrikaVerlede tydSeksuele stimulasieRymKletsrymDialoog in fiksieAsiëBolandse aardbewing van 1969SimboolAkkedisSelfstandige naamwoordPussy Riot🡆 More