Johannes Meintjes (Riversdal, 19 Mei 1923 – Molteno, Suid-Afrika, 7 Julie 1980) was ’n Suid-Afrikaanse kunsskilder, beeldhouer, amateur-geskiedkundige, skrywer en dramaturg.
Johannes Meintjes | |
Johannes Meintjes | |
Geboortenaam | Johannes Petrus Meintjes |
---|---|
Geboorte | 19 Mei 1923 Riversdal |
Sterfte | 7 Julie 1980 (op 57) Molteno, Oos-Kaap |
Nasionaliteit | Suid-Afrikaner |
Ouers | Ernest Frederick Meintjes en Valerie Keyter |
Beroep | Kunsskilder en skrywer |
Huweliksmaat | Ronell Rossouw |
Kind(ers) | Geen |
Webblad | Johannes Meintjes |
Meintjes het reeds voor sy 22ste verjaardag bekend geword. Die aantreklike en aangename, maar intense, broeiende jong kunstenaar het die soort openbare ophemeling of heldeverering geniet wat later jare net die jong ikone van die musiek- of rolprentwêreld beskore sou wees. In ’n resensie van John Coetzee se The Message in 1990 skryf Marina le Roux van Johannes Meintjes hy was “byna die ideale bibliotekaris: kundige vakman, kunstenaar, onvermoeide navorser en onderhoudende skrywer, veral oor die Suid-Afrikaanse geskiedenis”. Maar dit was by uitstek as kunsskilder dat hy hom vroeg reeds onderskei het toe hy feitlik oornag roem verwerf. Volgens die kunskenner en skrywer Esmé Berman was so iets ongekend in die Suid-Afrikaanse kultuurgeskiedenis. Vanweë sy voorkoms en sy nonkonformisme word hy soms beskryf as “Molteno se James Dean”.
Helena Theron, ook in Die Burger, sê hy was “merkwaardig” as kunstenaar sowel as letterkundige. Hoewel hy nie in dieselfde asem as groot Suid-Afrikaanse kunsskilders soos Stern, Laubser of Pierneef genoem word nie, word hy beslis as ’n voorste Suid-Afrikaanse skilder van die 20ste eeu beskou. Die hoogste prys wat ’n skildery van Meintjes tot dusver (middel 2014) op ’n veiling behaal het, was R668 400 vir sy Swazi Landscape op ’n veiling deur Strauss & Co in die Vineyard-hotel, Kaapstad, vroeg in Oktober 2012.
In sy kort leeftyd van net oor die 57 jaar is meer as 1 400 koerantberigte en tydskrifartikels oor hom geskryf. Hy het sowat 1 340 skilderye geskilder, tientalle beeldhouwerke geskep asook honderde sketse, grafiese werke en waterverfskilderye. Sy gepubliseerde werke tel 35, terwyl hy ook tallose ongepubliseerde manuskripte nagelaat het, waarvan talle verlore geraak het.
Johannes Meintjes het reeds op ’n baie vroeë ouderdom begin skets, waarskynlik al tydens die eerste vyf sorgelose jare op die familieplaas, Grootzeekoegat, in die distrik Molteno in Noordoos-Kaapland. Hier was sy vader, Ernest Frederick Meintjes (1893–1928), skaapboer. Wanneer hy nie met sy tekeninge besig was nie, het hy saam met sy vader veld toe gegaan, in die skaapkrale gespeel of saam met sy vader op sy perd gery. Sy moeder, Valerie Keyter, spruit uit een van die mees verfynde families van Wes-Kaapland en is ’n nasaat van die bekende ds. Meent Borcherds, aanvanklik van 1785 tot 1786 leraar van die NG gemeente Kaapstad en vanaf 1786 leraar op Stellenbosch, maar ook 'n skrywer en amateurkomponis wat beskryf is as 'n ontwikkelde en belese man met 'n digterlike gevoel, literêre talent, 'n historiese sin en 'n lewendige gees.
Van vaderskant bevind Meintjes se voorgeslagte hulle reeds byna drie en ’n half eeue in Suid-Afrika. Meintjes se vader is skielik op 35-jarige leeftyd oorlede. Volgens Pieter Marincowitz is "dit begryplik dat dit vir die seun die verlies was van 'n vader wat in hoofsaak die held was, en as sodanig was dit 'n groot slag". Mev. Meintjes het noodgedwonge met haar vier kinders, drie seuns en 'n dogter, na haar tuisdorp, Riversdal, verhuis waar Johannes ook vyf jaar tevore gebore is omdat sy moeder telkens vir ’n bevalling daarheen gegaan het. Hier sou hy tot sy vyftiende jaar in 'n een van die oudste huise op die dorp woon, in latere jare die De Doornkraal Boutique Hotel. Op Riversdal het hy hom al hoe meer in teken- en skilderwerk verdiep, veral in studies van mense. Terselfdertyd was skoolgaan vir die jong Meintjes buitengewoon onaangenaam omdat dit inbreuk gemaak het op sy tekenwerk waarin hy merkwaardig bedrewe geword het. Die skool het ook inbreuk gemaak op 'n suiwer verbeeldingswêreld wat sy geloof en vertroue geword het, 'n eensame en private wêreld, maar slegs eensaam weens sy groot skugterheid, as gevolg waarvan hy nie maklik vriende gemaak het nie.
Die bejaarde kunsskilder Jan Volschenk het toe nog gelewe (hy is in 1936 oorlede) en die jong knaap het dikwels by die oubaas se ateljee ingeloer. Volschenk was toe reeds baie oud, met ’n spierwit kop. Johannes het graag na hom en sy landskappe sit en kyk, maar Volschenk is oorlede toe die seun nog baie jonk was. "My eie werk het ek vir almal gewys wat daarna wou kyk,” het Meintjes in 1963 aan die tydskrif Lantern vertel. “Tot my verbasing moes ek ontdek dat ek beter as my onderwyseres kon teken. Ek het my werk op die kunsafdeling van die jaarlikse landbouskou begin uitstal en feitlik al die pryse verower, ’n prestasie wat my in staat gestel het om my eerste olieverf te koop.”
In mnr. Viljoen het hy ’n goeie kunsonderwyser gehad van wie hy baie kon leer en wat hom deurgaans aangemoedig het. Toe hy vyftien was, het hy met olieverf begin werk, al sukkelend omdat hy tot in daardie stadium hoofsaaklik met waterverf en potlood gewerk het, en met sy twee jongste sussies as onwillige modelle. Mev. Meintjes het in 1938 besluit om met haar kinders - ’n seun en drie dogters – na Kaapstad te verhuis. Hier het die jong Johannes se lewe ingrypend verander. Kaapstad sou ook jare daarna sy woonplek bly.
Mnr. H.A. Rust, later Suid-Afrika se ambassadeur in Nederland, was destyds skoolhoof van die Hoërskool Jan van Riebeeck in Tamboerskloof, en hy het spesiaal gereël dat Meintjes kuns as skoolvak kon neem. Die paar skoliere aan wie dié vergunning gemaak is, het kunsklasse van Florence Zerffi in haar ateljee in Wynberg ontvang. Sy was ’n kunstenares van naam, weduwee van die briljante impressionis Strat Caldecott, en ’n baie bekwame dog strenge onderwyseres. So het Meintjes se eerste akademiese onderrig op 15-jarige ouderdom begin. Zerffi het sy talent uitgeken, want sy het aangebied om hom kosteloos ekstra klasse te gee wat niks met die skoolwerk te doen sou hê nie. Sy het sy vordering krities gevolg. Van haar het Meintjes later gesê: “Zerffi was ’n ongenadige onderwyseres, maar deeglik soos min en ek het baie van haar geleer. Haar goeie smaak, vurige opvattings, skerp kritiese sin en wye belesenheid sou my blywend beïnvloed, hoewel haar werk my koud gelaat het."
Meintjes vertel in dieselfde onderhoud met Lantern van sy ontdekking van Irma Stern en Maggie Laubser: “Instinktief het ek geweet dat dit die rigting was waarin ek moes werk. Irma Stern se kleurgevoel en Maggie Laubser se komposisie het ’n nuwe wêreld vir my oopgesluit – die Ekspressionisme, waarvan ek toe nog maar min geweet het. Ek het geleer hoe om met olieverf te werk en een na die ander doek voltooi – wild en koorsig. Zerffi het haar bes gedoen om my in toom te hou en te dissiplineer. Aan haar kritiek het ek soveel waarde geheg dat ek elke stuk wat sy goedgekeur het, dadelik geraam het.”
Hy het hom veral aangetrokke tot Maggie Laubser se werk gevoel en was sowat 17 jaar oud toe hy ’n bewonderaarsbrief aan haar geskryf het. Uiteindelik het hulle ontmoet aan die huis van die kunsskilder Cecil Higgs op Stellenbosch. Dit was die begin van ’n groot vriendskap. Meintjes het sy hart en siel in die stryd gewerp om erkenning vir Laubser te verkry. Mettertyd het hy baie oor haar geskryf, artikels en ’n boek (toe hy maar 19 was) en radiopraatjies. (Dié boek het die hoogste prys vir 'n werk deur Meintjes behaal toe dit in 2010 op 'n veiling vir R11 200 van die hand gesit is.)
Meintjes het gesê dit het daartoe gelei dat mense verkeerdelik gedink het sy werk is deur haar beïnvloed, maar dat hy eintlik teruggegaan het na haar bron, die Duitse Ekspressionisme. Dit het hom sy eie styl help vind en sou, volgens ’n skrywer in Die Burger, hom “in staat stel om ’n persoonlike simboliek te ontwikkel om uiting aan sy psigo-seksuele fantasieë te gee”.
Nadat hy die matriek-eksamen afgelê het, was dit ’n probleem om te weet wat om te doen omdat hy eintlik net wou skilder. Destyds was daar min goeie kunsskole en Meintjes se kunstenaarsvriende het hom aangeraai om hom voorlopig liewer aan sy tweede liefde te wy, naamlik die letterkunde. Hy het na die Universiteit van Kaapstad gegaan met Afrikaans-Nederlands en Engels as hoofvakke en hom as letterkunde-student onderskei.
Tog het hy intensief met sy skilderwerk voortgegaan, in so ’n mate dat hy later sou sê hy weet nie hoe hy ooit sy graad behaal het nie. Tydens sy studie aan die U.K. het hy sy werk vir tallose gesiene kunstenaars in Kaapstad gaan wys, onder wie Lippy Lipshitz, Ruth Prowse, Charles Peers, Gregoire Boonzaier, Jean Welz, Nerine Desmond, Freida Lock en May Hillhouse. Zerffi se invloed het geleidelik begin afneem, Maggie Laubser s’n het toegeneem, nie wat styl en onderwerp betref nie, maar werkmetode. Nietemin sou hy later sê: “(D)ie een van wie ek die meeste geleer het, was May Hillhouse”. Hillhouse was destyds ere-sekretaresse van die K-klub en Meintjes het gemeen dat hy die jongste lid was wat die klub nog ooit gehad het. Sy was ’n aantreklike, donker vrou met ’n diepgaande tegniese kennis van die skilderkuns. Soos in die geval van Zerffi, het May Hillhouse se werk hom “koud gelaat”, maar hy het geglo hy het die meeste van almal by haar geleer. Sy het jare lank elke skildery gesien wat hy gemaak het en elkeen deeglik gekritiseer.
Daar was ook Cecil Higgs van wie hy baie aangaande verfhantering en tekstuurwaarde geleer het.
Op 20-jarige ouderdom het hy die graad B.A. behaal. Hy was onwillig om sy literêre studie voort te sit, want ’n doktorsgraad in die letterkunde sou maar min betekenis vir ’n kunsskilder hê. Die probleem was om ’n verdienste te vind en tog met skilderwerk voort te gaan. Gerrit Bakker, wat destyds by ’n Kaapstadse boekhandel werksaam was, het besluit om sy eie boekhandel in Johannesburg te begin en het Meintjes gevra om sy assistent te word. Dit was ’n tydelike uitkoms en vir die eerste keer in sy lewe beland Meintjes in Johannesburg waar hy gou die kunskenners en kunstenaars van die Noorde leer ken het: Anton Hendriks, Elsa Dziomba, Alexis Preller, Walter Battiss en baie ander. Sommige van hulle het sy vriende geword, veral Preller. Die ou Gainsborough-galery, destyds in die Lennon-gebou in Pritchardstraat, was destyds die bymekaarkomplek van die avant garde. Johannes Meintjes het dié galery bespreek vir sy eerste tentoonstelling in Augustus daardie jaar (1944).
Hy het die boekhandel verlaat en na Kaapstad teruggekeer om hom op sy tentoonstelling voor te berei, vasbeslote om sy bestaan as beroepskunsskilder te regverdig. Sy familie het hierdie waaghalsige besluit ondersteun, blykbaar met die wete dat daar geen keer meer aan hom was nie. Platsak en met sy hele toekoms op die spel, is hy met sy skilderye terug na Johannesburg vir die opening van die tentoonstelling. Hy was toe een-en-twintig. Die tentoonstelling het groot opspraak verwek en Meintjes oornag feitlik landswye bekendheid besorg.
Artikels oor sy werk het in verskeie tydskrifte en blaaie verskyn en honderde belangstellendes het die uitstalling bygewoon. Gideon Horn het in Die Transvaler na hom verwys as “’n jong kunstenaar . . . wat hom aan ’n mens openbaar as moontlik die belowendste onder die jongeres. Van die opvallendste kenmerke van sy werk is sy besondere beheer van kleure, sy tegniese vaardigheid, die selfstandigheid van gees wat daaruit spreek . . .” In die tydskrif Forward, soos aangehaal in die brosjure vir 'n tentoonstelling van Meintjes se skilderye van 29 Mei tot 10 Junie 1945 in die Argus-galery in Burgstraat, Kaapstad, het Ronald Morris verklaar: "Mr. Meintjes has achieved a 'mature expression of immaturity'. He has a dynamic and dramatic sense of colour and composition, combined with a tenderness that is almost feminine, but never effeminate; he is expressionistic but intelligible; versatile because he is sensitive to mood, atmosphere, phantasy and character, and not because he wants to create an impression. In most of his work there is poetry, the loneliness and the longing of youth. Meintjes' métier is not the mask or the puppet, but the vitality of life and the phantasies of the mind and the spirit ...”
Daar was aanvallende kritiek ook, maar dit het Meintjes verwag en in elk geval was dit baie minder en minder neerhalend as wat die skilders wat hy die meeste bewonder het, moes verduur. Gelukkig het hy genoeg werke verkoop om byna ’n jaar lank onafhanklik te kon lewe.
Terug in Kaapstad het hy ’n ateljee gehuur van Marie Gravett, wat later getroud is met die kunstenaar Gregoire Boonzaier, en hom gereedgemaak vir sy eerste tentoonstelling daar. Meintjes het later gesê die Kaapse kritici was meer konserwatief as hul eweknieë in Johannesburg; tog het hulle sy werk goed ontvang.
Prebble Rayner het geskryf (koerant onbekend): “Johannes Meintjes … is an ardent young painter of considerable promise, tackling his fellowman as subject-matter. There is apparent in his work a deep-seated awareness of individual character …” David Gamble (koerant eweneens onbekend): “Mr. Meintjes is a strong and direct painter with a pronounced sense of drama, together with a most interesting feeling for colour and a sensitive appreciation of personality. A strong vein of fantasy is another of his qualities.” Magda Sauer (waarskynlik Die Burger): “Hy is een van die talentvolste jong skilders. Ten spyte van sy jeug het hy al ’n styl van sy eie ontwikkel. Hy het ’n sterk en dramatiese gevoel vir kleure en ’n goeie en oorspronklike gevoel vir komposisie.”
In Trek het Prebble Rayner verder verklaar: “I am no Nostradamic sooth-sayer, but I have every faith in the future of Johannes Meintjes.” Geldelik was hierdie tentoonstelling so suksesvol dat Meintjes nou sy groot begeerte kon verwesenlik, naamlik om sy studie oorsee voort te sit.
Die Tweede Wêreldoorlog het pas ten einde geloop en intussen was hy deeltyds kunsonderwyser aan die Hoërskool Jan van Riebeeck en SACS. Ná ’n tweede tentoonstelling in Johannesburg teen die einde van 1945 is hy nog in dieselfde jaar aan boord van die Aquitania, ’n troepeskip met seweduisend mense aan boord, na Southampton. In Londen het hy sowat agtien maande studeer en diep gedrink aan die Europese kultuur. Een van sy doelwitte met dié besoek was om regstreeks kennis te maak met die werk wat hy vroeër slegs in afbeeldings kon ken. Op sy soektog deur die galerye het hy Rembrandt, El Greco en die Vlaamse Primitiewe sowel as Henry Moore, Picasso en Graham Sutherland van die grootste betekenis vir hom gevind. Deeltydse radiowerk as omroeper en vertaler die Afrika-diens van die British Broadcasting Corporation (saam met Arnold van Wyk) het hom aan die lewe gehou.
Intussen het belangstelling in sy werk steeds toegeneem en met sy terugkeer na Suid-Afrika in 1947 het sy tweede tentoonstelling in Kaapstad buitengewone sukses gehad. Almal het groot vordering in Meintjes se werk gesien en het hul dankbaarheid uitgespreek dat hy hom nie te veel deur buitelanders laat beïnvloed het nie. Hy is beskryf as ’n “pionier” en ’n “Voortrekker” in die nuwe tradisie van die Suid-Afrikaanse skilderkuns.
In Kaapstad het hy ’n ateljee in ’n ou Kaaps-Hollandse huis gehuur en verskeie tentoonstellings elders gehou. Hy het die tekenklasse van gekleurde studente aan die Kaapse Tegniese Kollege behartig en heelwat uitsaaiwerk gedoen, insluitende die eerste kunsprogram vir die jeug wat ooit in die land uitgesaai is. In hierdie tyd het hy ook drama aan die Kaapse Tegniese Kollege en die Worcesterse Dramaskool doseer. Hy het onder meer vir die Eoan-groep dekorstelle geskilder en kostuums ontwerp.
Intussen het hy ook begin skryf en talle artikels, essays en kortverhale uit sy pen het verskyn. Sy eerste boek, ’n monogram oor Maggie Laubser, geskryf toe hy pas 19 of 20 was, het in 1944 verskyn. Volgens die tydskrif Lantern was dit een van die besversorgde boeke wat ooit in die land gedruk is en was dit skaars 20 jaar ná publikasie reeds gesogte Africana. In 1947 het ’n bundel kortverhale, Kamerade, deur homself geïllustreer gevolg en waarvan net 500 gedruk is, en in 1948 ’n boek oor sy liriese skilderye, Liriese Werk / Lyrical Work.
In 1949 het Meintjes Kaapstad verlaat en hom op die familieplaas, Grootzeekoegat, gevestig. Hier het hy begin Kaapse koloniale meubels versamel, asook Africana-boeke, porseleinware en koper. In sy versameling het hy kunswerke van Bowler, Samuel Daniell en Harris gehad, en hy was ook ’n ywerige versamelaar van ou afdrukke, kaarte en etse. Daar het hy vyf jaar in feitlik eensame afsondering deurgebring, hoewel hy glo nooit afgesonder gevoel het nie, en die plaas slegs verlaat om sy werk in verskeie sentra ten toon te stel en ook kort besoeke gebring aan die Staatsargief en die Africana-biblioteke in Johannesburg en Pretoria vir navorsingsdoeleindes tot 1954 of 1955, toe hy weer na Johannesburg teruggekeer het.
In dié tyd het sy boek oor Anton Anreith, Suid-Afrika se eerste beeldhouer, verskyn, asook ’n toneelstuk (in medewerking met Uys Krige) wat die letterkundige prys van die Nasionale Adviesraad van die destydse Afdeling Volwassene-onderwys verower het. Die Blanke Stilte, 'n toneelstuk in drie bedrywe, was een van die bekroonde stukke in die 300-jarige Van Riebeeck-herdenkingstoneelwedstryd wat deur die Nasionale Adviserende Raad van Onderwys vir Volwassenes gereël is. Erika Terblanche skryf: "Hertzog Venter het geskryf dat daar in hierdie drama nie ’n hoofkarakter in die normale sin van die woord is nie. In die drama word die spanning wat in ’n organies verbonde groep mense voorkom, uitgebeeld: die Vorster-gesin van die plaas Zevenfontijn en enkele vriende.
"Hierdie spanning word deur twee faktore veroorsaak: die neerdrukkende, 'deprimerende' invloed van ’n genie en sterk persoonlikheid op dié wat hom omring, en die stabiliserende uitwerking van die geslagstradisie en familiegrond op die nageslag. Vir Venter is dit ’n 'allesins lesenswaardige drama'; ook met die eise van die toneel is terdeë rekening gehou, maar volgens hom sou dit by opvoering hoë eise aan die regie, die spelers en die gehoor stel vanweë die aard van die dialoog en die dekor.".
Vroeg in die jare vyftig het hy ook ’n kunstentoonstelling op ’n lesingstoer deur die Vrystaat geneem. In 1954, toe hy sy vyf jaar lange afsondering beëindig, keer hy terug na die Goudstad en hou uitstallings daar en in Pretoria. In dié tyd woed ’n openbare debat tussen hom en Laurence van der Post oor die Afrikaner se houding jeens Suid-Afrika se ander bevolkingsgroepe. In 1955 ontmoet hy die Brits-Suid-Afrikaanse skrywer William Plomer, met wie hy lewenslank bevriend sou bly.
Meintjes verdeel nou sy tyd tussen Johannesburg en die plaas naby Molteno, met gereelde tentoonstellings in al die groot stede.
In 1955 het daar nog twee boeke van hom verskyn, een oor sy plaasondervindings, Frontier Family, en ’n roman, Storm(s)vlei, wat die eerste prys in ’n wedstryd wat deur die Stadsraad van Pretoria gereël is ter viering van die stad se honderdste bestaansjaar, verower het. Daarna verskyn ook sy Complex Canvas, met veertig van sy tekeninge en daarna Dagboek 1, aantekeninge uit sy joernaal (wat Meintjes 20 jaar vantevore begin hou het) wat ’n boeiende prentjie van die kunslewe in Suid-Afrika skets. Dagboek 2 en Dagboek 3 het later gevolg.
Meintjes stal deur die loop van 1956 uit in Kaapstad, Pretoria en Johannesburg. Hy skilder die Britse aktrise dame Sybil Thorndike (1882–1976) op haar versoek en dié skildery ontketen ’n storm in die Suid-Afrikaanse pers. 1957 bring sy gebruiklike uitstallings, nou in Bloemfontein, Johannesburg en op Heidelberg (waarskynlik Gauteng). Kunskenners beskryf Meintjes in dié jare as die Suid-Afrikaanse Cézanne, Gauguin of Chagall. Die volgende jaar kom uitstallings in Pretoria en Johannesburg weer aan die beurt asook ’n besoek aan Europa waartydens hy studeer in Londen, Amsterdam en Parys.
’n Besonderse projek wat Meintjes aangepak het in 1960, was die bewaring van die foto’s van die dorpsfotograaf Ambrose Lomax. Vyftig jaar nadat Lomax, die apteker, uit Molteno weg is, is sy negatiewe in sy ou apteek gekry. Meintjes het dit laat ontwikkel en ’n besonderse boek met ’n aantal van die foto’s – baie daarvan is voor en tydens die Anglo-Boereoorlog geneem – in 1964 uitgegee.
In 1963 volg nog uitstalling in Pretoria, Johannesburg en Kaapstad asook ’n uitstalling van sy werk in die VSA. Die pers verwys na Meintjes as die “Goue Seun” van die Suid-Afrikaanse kunstoneel. Op letterkundige gebied verskyn sy roman “Gister en vandag” en “Jeugjare”. Die volgende jaar kom uitstallings op Molteno, in Johannesburg en Washington aan die beurt asook ’n groepsuitstalling saam met onder meer George Boys, Gordon Vorster, Cecily Sash en Dirk Meerkotter op uitnodiging van die Rembrandt-kunsstigting.
In 1964 verskyn nie minder nie as drie boeke uit sy pen: die roman “Mallemeule”, “Manor House” en “Portret van ’n Suid-Afrikaanse Dorp deur A Lomax: Molteno 1894 – 1909”, oor die apteker en fotograaf wat op Molteno gewoon het tydens die opbloei wat teweeggebring is deur ontdekking van steenkool in die Stormbergreeks.
In 1965 ontvang Meintjes ’n letterkundeprys van PEN en gaan woon heeltyds op die familieplaas, Zeekoegat, saam met sy vrou, Ronell Rossouw (gebore 9 Februarie 1932), met wie hy op 25 Maart 1960 getroud is. Sy is drie jaar vantevore van haar eerste man, Michael Schönberg, geskei en het ’n dogter, Lynn, gehad wat by Ronell se ouers in Parow gewoon het. Ronell het by die munisipaliteit op Molteno gewerk in die tyd toe sy en Meintjes getroud is. Nadat Lynn st. 8 geslaag het, het sy in die apteek op Molteno begin werk. Sy het later by haar pa, Schönberg, in Johannesburg gaan woon. Johannes en Ronell het nie kinders gehad nie, al was sy grootste oorweging om met haar te trou omdat hy wou 'n erfgenaam wou hê wat kon verseker Grootzeekoegat bly in die Meintjes-familie. Ronell was wel swanger, maar het die baba verloor.
Hy hou weer uitstallings in Kaapstad en Pretoria en publiseer die biografie van Olive Schreiner, Olive Schreiner Portrait of a South African Woman. Die voorsitter van die South African English Academy beskryf dit as die “beste studie tot dusver oor Olive Schreiner”. ’n Tweede boek, “The Silent Conspiracy” verskyn in 1965. Ook hou hy ’n groepsuitstalling saam met onder meer Lukas Sithole, Christo Coetzee, Maggie Laubser, Armando Baldinelli en Maud Sumner.
In 1966 volg solo-uitstallings in Johannesburg en op Molteno asook deelname aan die Republiekfees-uitstalling (die Republiek van Suid-Afrika was toe vyf jaar oud) in Pretoria en die opening van die Hester Rupert-kunsmuseum op Graaff-Reinet in ’n gebou wat Anton Rupert in 1965 gered het toe dit bekend word dat ’n petroleummaatskappy dit wou sloop vir die oprigting van ’n vulstasie. In dieselfde jaar verskyn die opdrag-biografie oor genl. Koos de la Rey, “De la Rey Lion of the West” (in Engels), wat as ’n vervolgverhaal in The Star verskyn.
In 1967 volg die publikasie, ook as ’n vervolgverhaal, van die biografie oor genl. De la Rey in ’n Afrikaanse koerant. Meintjes word nou aangestel as erekurator van die George Vice-gedenkmuseum op Molteno en hou uitstallings in Kaapstad en Johannesburg.
In 1969 volg nog uitstalling in Johannesburg en op Molteno en verskyn sy biografie van genl. Gideon Scheepers, Sword in the Sand Gideon Scheepers, asook ’n Engelse biografie van pres. M.T. Steyn, wat in 1970 in Afrikaans sou verskyn as Steyn Vader van sy volk, en ’n boek oor die Slag van Stormberg, Stormberg A Lost Opportunity. Die jaar daarna kom ’n biografie van genl. Louis Botha aan die beurt, wat gunstig ontvang word, ook deur oorsese media. Die boek oor pres. Steyn word oor die radio uitgesaai en in dieselfde jaar verskyn The Round Table in South Africa.
Meintjes se eerste uitstalling van die jare sewentig was in Johannesburg. Ook in 1971 verskyn nog ’n biografie van ’n held van die Anglo-Boereoorlog, dié keer genl. Piet Joubert: The Commandant General PJ Joubert asook Sandile – The Fall of the Xhosa Nation, die eerste groot biografie oor 'n swart leier in Suid-Afrika, en die bundel kortverhale en essays Siembamba. Oor Sandile het Meintjes self gesê: "This is the first full-length study of a Xhosa prince or chief. The Xhosas are resident in the eastern part of the Cape Province of South Africa, and their history is studded with a galaxy of remarkable men of royal blood. These were the first black people to come into contact with the white man in Southern Africa. Of the chiefs I have chosen Sandile for various reasons. His life-span covers the glory of Xhosa nationhood, the more important wars with the British Colonial Government, the national suicide of the Xhosas and the tragedy of his personal story. Thanks too to the artists Frederick I’Ons and Thomas Baines, we have more portraits of Sandile than of any other chief."
In 1972 hou hy weer ’n uitstalling in Kaapstad en verskyn die tweede aflewering van sy outobiografie, Dagboek 2. Hy vier in 1973 sy vyftigste verjaardag met ’n uitstalling in Johannesburg en word aangestel as uitvoerende lid van die Burgersdorpse museum. Die enigste boek uit sy pen in daardie jaar was The Voortrekkers, wat later voorgeskryf is aan die Universiteit van Oxford.
Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns benoem hom in 1974 as ’n lid. Hy hou uitstallings in Kaapstad en op Molteno en publiseer ’n biografie oor pres. Paul Kruger asook ’n gedenkboek ter viering van sy tuisdorp se eeufeesviering, Dorp van drome: Molteno 1874–1974, in opdrag van die dorp se munisipaliteit.
In 1975 kom nog ’n opdragwerk, Sasol:1950 – 1975 (wat in Afrikaans sowel as Engels uitgegee is), aan die beurt en publiseer hy Dagboek 3, wat die laaste van die drie dele van sy outobiografie sou wees. Ook in dié jaar stal hy uit in Bloemfontein en Johannesburg.
Kort op die hake van die boek oor Sasol, volg in 1976 ’n uitstalling van Meintjes se kunswerke op Sasolburg. Sy The Anglo Boer War 1899–1902: A Pictorial History verskyn tegelykertyd in Afrikaans en Engels en is later in Duits en Nederlands vertaal. In dieselfde jaar verskyn ook oor die driejarige oorlog The Great War: Arthur Conan Doyle 1. In 1977 volg nog ’n uitstalling op Molteno, maar ook op Stellenbosch en in Bellville, en verskyn With Bobs and Kruger: Frederic William Unger 2, die laaste boek van hom wat in sy leeftyd sou verskyn.
’n Solo-uitstalling op Lichtenburg in 1978 word gevolg deur ’n prestige-groepsuitstalling in die destydse Rhodesië se vernaamste stede, Salisbury en Bulawayo asook in Johannesburg saam met Geoffrey Armstrong, Armando Baldinelli, Maud Sumner, Gordon Vorster, Walter Battiss en Rhona Stern.
In sy twee laaste lewensjare, 1979 en 1980, stal hy net by die destydse Universiteit van Natal in Pietermaritzburg, op Ficksburg en by die Universiteit van Port Elizabeth uit. Hy voltooi ook die manuskrip van ’n gedenkbundel oor die 100ste bestaansjaar van die NG gemeente Molteno, Eeu van Genade: NG Kerk Molteno 1881–1981 (wat in 1981 verskyn het), die kerk waaruit hy begrawe is. Sulke opdragwerke was dikwels sy vernaamste inkomste. Sy werkywer het blykbaar nooit afgeneem nie, ten spyte van moeilike omstandighede, want twee dae voor sy dood in die hartjie van die ysige Noordoos-Kaapse winter skryf hy in sy dagboek: “My werkproduksie is baie deur Ronell se siekte gestrem, want ek moes regstaan vir alles. Die koue het ook nie gehelp nie. Ek voel heeltemal lam.” Op 7 Julie 1980 skryf sy in haar man se dagboek: “Maandag 7 Julie 1980. Johannes vanoggend oorlede.”
Ronell Meintjes is op 26 Junie 1996 in 'n hospitaal in Port Elizabeth oorlede nadat sy die laaste jare van haar lewe op Graaff-Reinet gewoon het waar sy 'n tyd lank kuratrise was van die Hester Rupert-kunsmuseum, wat enkele van haar man se werke besit. Sy is op 1 Julie langs haar man in die Molteno-begraafplaas ter ruste gelê. Die skilderye, beeldhouwerke en kosbare boeke uit sy omvattende Africana-versameling wat sy ná haar man se afsterwe aan die Hoërskool Molteno geskenk het, word vandag nog in die Meintjies-kamer uitgestal.
Van sy manuskripte word in die Thomas Pringle-versameling van die National English Literary Museum in Grahamstad bewaar, terwyl sy vrou ook werke aan die Sasol-kunsmuseum van die Universiteit Stellenbosch nagelaat het.
In 1982 is 'n TV-opname op veral Grootzeekoegat gemaak oor die lewe en werk van Johannes Meintjes. Op 16 Januarie 1983 het 'n artikel deur Madelein van Biljon met kleurfoto's daarby in die Sunday Times Magazine verskyn oor Grootzeekoegat onder die opskrif "Ashes to Ashes". Van Biljon skryf: "The old house survived pestilence and three Border Wars. But the fear is that the next few months may destroy it." In die artikel het Ronell Meintjes gesê dis onprakties om alleen daar te woon en dat die koste om dit bewoonbaar te hou, voortdurend aan die toeneem was, maar dat sy haar nie daartoe kon bring om dit te verkoop nie. "When I go," sê sy in die artikel, "it will be a ruin within a year or two." Toe reeds het die plafon in die vertrek waarin sy sit en gesels het, begin insak en daar was klammigheid en krake in die mure.
In 1983 het die Vrystaatse Universiteit 'n gedenkuitstalling in Bloemfontein gehou en in 1986 is die Johannes Meintjes-kamer in die Hoërskool Molteno deur W.A. de Klerk geopen as 'n permanente uitstalling van Meintjes se belangrikste werk. In 1990 volg 'n prestige-gedenkuitstalling (huldetentoonstelling) van 7 Junie tot 6 Julie in Johannesburg by die destydse Randse Afrikaanse Universiteit. Dit het tien jaar ná sy dood plaasgevind en was die eerste keer sedert 1973 dat Meintjes se olieverfskilderye in Johannesburg vertoon is. Dié uitstalling is geopen deur dr. Hermien McCaul-Dommisse, wat ook Meintjes se eerste uitstalling in Augustus 1944 geopen het.
Uittreksels wat hy in 1963 aan die tydskrif Lantern uitgelig het omdat dit vir hom “pertinent” was, is onder meer:
In 1963 het Meintjes self sy credo opgesom toe hy sê: “Gertrude Stein het eens verklaar dat ’n kunstenaar nie kritiek nie maar waardering nodig het. Dis in ’n groot mate waar. Hy moet deurgaans getrou bly aan sy visie, aan sy eie idioom, al sê wie ook wat, sy integriteit behou, geestelik ontwikkel en werk vanuit sy hart. Dis wat ek nog gedoen het, en hopelik sal doen tot die dag van my dood.” 'n Ander keer het hy gesê: "My visie het sy oorsprong in die bodem van Afrika en ek het daaraan 'n persoonlike stempel gegee wat moontlik eendag in die hart en verbeelding van 'n ander generasie ’n reaksie mag vind."
Skilderwerke van Johannes Meintjes is vroeg reeds deur baie instellings en bekende versamelaars dwarsdeur Suid-Afrika en ook in die buiteland aangeskaf. In 1963 het hy gesê: “Wanneer ek kyk na die massa materiaal wat in die afgelope sestien jaar oor my werk geskryf is, staan mens verbaas dat daar nog soveel uiteenlopende menings daaroor kan bestaan. Die bewonderaars en die vyande wat ek aan die begin gehad het, het ek vandag nog; daar is net meer van hulle.”
Meintjes het in sy leeftyd meer as 1 336 olieverfskilderye gemaak, tientalle beeldhouwerke geskep asook honderde sketse, temperas, grafiese werke en waterverfskilderye. Uit sy pen het 35 boeke verskyn en ook nog talle ongepubliseerde manuskripte. Tydens sy leeftyd is meer as 1 400 koerantberigte en tydskrifartikels oor hom geskryf. Ná sy dood is sy belangrikste manuskripte, briewe, dagboeke ensovoorts aan die National English Literary Museum in Grahamstad geskenk waar dit in die Johannes Meintjes-gedenkkamer gehuisves sou word.
Volgens die digter Johann de Lange, in ’n referaat oor “gay bevryding” tydens ’n literatuurseminaar in Port Elizabeth in 1990, bied Meintjes se skryfwerk van die vroegste voorbeelde in die Afrikaanse letterkunde “van die hantering van die gay tema”, wat “aanvanklik báie verskuild en omsigtig” was. De Lange het gesê: “Op die gebied van die prosa was daar byvoorbeeld heel vroeg reeds die sterk versweë, soms sentimentele hantering daarvan in die romans en verhale van Johannes Meintjes.” Ook in sy kunswerk kom die homoërotiese vroeg ter sprake (dermate dat hy ná sy dood as 'n "baanbreker gay kunstenaar" beskryf is en 'n werk van hom in 1993 opgeneem is in "The invisible ghetto: Lesbian and gay writing from South Africa") in byvoorbeeld sy sketse vir die versverhaal "Sebastiaan" van Pieter Marincowitz, ’n bundel wat slegs in ’n oplaag van ’n honderd gedruk is en nou byna onverkrygbaar is.
Prof. John Kannemeyer skryf in 1998 in Die Burger: “Vir sy digterlike waarde hoef ’n mens dié verwarde versverhaal, indien jy dit ’n verhaal sou kan noem, nie te lees nie. Wat ’n mens boei, is die illustrasies van week manlike figure deur Johannes Meintjes en die enkele momente in die gedig waarin vir die eerste keer ná I.D. du Plessis se “Vreemde liefde” van ’n homoërotiese tendens in Afrikaans sprake is. Dis jammer dat Marincowitz, wat in die sewentigerjare deur selfdood aan sy einde gekom het, dié tendens nie beter kon verwoord nie.”
Tien jaar ná sy dood het die koerantredakteur Tertius Myburgh van Meintjes gesê: “Johannes was something of a Renaissance man. First of all, artist. Then author, historian, activist and even sort-of farmer. Above all, he was a thoughtful, loving and loveable human being who thought very deeply about the human condition.”
In 'n buurt van die Kaapse township Mitchells Plain waarin strate die name van Suid-Afrikaanse kunstenaars dra, is 'n straat ook na Johannes Meintjes genoem, weliswaar verkeerd gespel as "Meintjies".
Johannes Meintjes se wye belangstellingsveld het neerslag gevind in die uiteenlopende onderwerpe waaroor hy geskryf het, veral die vaderlandse geskiedenis. Hier is ’n volledige lys van sy gepubliseerde werke:
Wiki Commons bevat media in verband met Johannes Meintjes. |
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article Johannes Meintjes, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.
®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.