Bloedlaster of bloedverdigsels is valse, antisemitiese aantygings dat Jode veral Christelike kinders vang en hulle bloed in Joodse rituele gebruik.
Die beskuldiging soos dit teen Jode gebruik is, is selde in antieke tye aangetref. Volgens die Romeinse skrywer Tertullianus is dit in die laat oudheid begin gebruik teen lede van die vroeë Christendom van die Romeinse Ryk. 'n Millennium later, in die Middeleeue, het Christene dit begin gebruik as 'n aantyging teen Jode. Dié aantyging, tesame met putvergifting en gasheerontheiliging, het van die Middeleeue tot in die moderne tyd 'n belangrike beskuldiging in Europa geword in die vervolging van Jode.
Dikwels word met bloedlaster beweer Jode het menslike bloed nodig vir die maak van matso's, ongesuurde, plat brode wat tydens die Joodse Paasfees (ook Pasga, Pesach) geëet word. In vroeëre weergawes is Jode daarvan beskuldig dat hulle die kruisiging namaak. Die beskuldigings sluit dikwels in dat Christelike kinders veral gesog is, en histories is dit gebruik om die verdwyning van baie kinders te verduidelik. In sommige gevalle is die vermeende slagoffers as heiliges vereer, soos William van Norwich, Hugh van Lincoln en Simon van Trente.
Die term "bloedlaster" word ook soms gebruik in verband met ander skadelike beskuldigings met 'n breër betekenis. Dit is egter omstrede, omdat Joodse groepe daarteen beswaar maak.
Daar was aanvanklik geen beskuldigings dat die bloed van Christelike kinders in matso's gebruik word nie; dit het eers later ontwikkel as 'n groot motivering in die misdaad.
Die vroegste bekende beskuldiging van bloedlaster is deur 'n man met die naam Damokritus of Demokritus (nie die filosoof nie) wat in die Suda genoem word. Hy het beweer "die Jode vang elke sewe jaar 'n vreemdeling, bring hom na die tempel in Jerusalem en offer hom deur sy vlees in stukkies te sny."
Die Grieks-Egiptiese skrywer Apion het beweer die Jode offer Griekse slagoffers in hulle tempel. Hy skryf toe Antiochus IV die tempel in Jerusalem binnegaan, het hy 'n Griekse gevangene ontdek wat vir hom vertel het hy word vetgemaak om geoffer te word. Apion het beweer die Jode offer elke jaar 'n Griek en eet sy vlees terwyl hulle haatspreuke teen die Grieke skree. Apion se bewering weerspieël waarskynlik houdings teenoor die Jode wat toe die rondte gedoen het, want soortgelyke bewerings is in die 1ste eeu v.C. deur Poseidonios en ander gemaak. Later in die geskiedenis berig Sokrates van Konstantinoepel (f. 5de eeu) 'n dronk groep Jode het 'n Christelike kind aan 'n kruis vasgemaak in 'n spottery met die kruisiging en hom gebrand tot hy dood is.
Die Israeliese akademikus Israel Yuval het voorgestel die oorsprong van bloedlaster kom uit die 12de eeu weens Christene se siening van Joodse gedrag tydens die Eerste Kruistog. Sommige Jode het selfmoord gepleeg en hulle kinders doodgemaak sodat hulle nie tot die Christendom bekeer kon word nie. Volgens Yuval het Christene dalk gereken as Jode hulle eie kinders kan doodmaak, kan hulle ook Christelike kinders doodmaak.
In 1144 is die Jode in Norwich, Engeland, valslik beskuldig van die rituele moord op 'n seun, William van Norwich, nadat hy met steekwonde in die woud gekry is. William se hagiograaf, Thomas van Monmouth, het valslik beweer daar is elke jaar 'n internasionale raad van Jode wat kies in watter land 'n kind tydens die Paasfees doodgemaak sal word. Dit sou wees vanweë 'n Joodse voorspelling dat die moord op 'n Christelike kind elke jaar sal verseker dat die Jode na die Heilige Land kan terugkeer. Volgens Monmouth is Engeland in 1144 gekies en het die raad die Jode van Norwich afgevaardig om die moord te pleeg. Hulle het William daarna ontvoer en gekruisig.
Die legende is in 'n kultus omskep, met William wat die status van 'n heilige verkry het en pelgrims wat offerandes na die plaaslike kerk gebring het.
Dit is gevolg deur soortgelyke bewerings in Gloucester (1168), Bury Sint Edmunds (1181) en Bristol (1183). In 1189 is die Joodse afvaardiging wat die kroning van Richard Leeuehart bygewoon het, deur die skare aangeval. Slagtings in Londen en York (1189-'90) het gou daarna gevolg. Op 16 Maart 1190 is 150 Jode in York aangeval en vermoor toe hulle in die koninklike kasteel gaan skuil. Sommige het selfmoord gepleeg eerder as om deur die skare gevang te word. Die oorblyfsels van 17 liggame wat tussen die 12de en 13de eeu in 'n put in Norwich gegooi is, was hoogs waarskynlik deel van dié vervolging. (DNS-toetse het gewys vyf van hulle was waarskynlik lede van dieselfde Joodse gesin.)
Ná die dood van klein sint Hugh van Lincoln was daar verhore en die teregstelling van Jode. Die agtjarige Hugh het op 31 Julie 1255 in Lincoln verdwyn. Sy liggaam is op 29 Augustus in 'n put ontdek. 'n Jood met die naam Copin of Koppin het beken hy was betrokke. Hy het beken die Jode het die seun gekruisig nadat hulle vir dié doel in Lincoln byeengekom het. Koning Hendrik III, wat begin Oktober in Lincoln aangekom het, het Copin laat teregstel. Altesaam 91 Jode van Lincoln is gevange geneem en na Londen gestuur, waar 18 van hulle tereggestel is. Die res is kwytgeskeld ná die ingryping van monnike. Binne 'n paar dekades sou Jode uit die hele Engeland verban word. Hulle is eers in 1657 toegelaat om terug te keer.
Nes in Engeland bestaan baie van die bloedlastersake op die Europese vasteland uit onbewese aantygings oor die lyke van Christelike kinders. Daar was na bewering dikwels bonatuurlike gebeurtenisse wat met die verdwynings en lyke verbind is, gebeure wat destyds dikwels as wonderwerke beskou is. Ook, nes in Engeland, het dié beskuldigings gewoonlik gelei tot die teregstelling van talle Jode – soms al die of byna al die Jode op die dorp.
Thomas van Monmouth se storie oor die jaarlike Joodse vergadering om te besluit watter gemeenskap 'n Christelike kind moet vermoor, het vinnige na die vasteland versprei. 'n Vroeë weergawe verskyn in Bonum Universale de Apibus ii. 29, § 23, deur Thomas van Cantimpré ('n klooster naby Cambray in Frankryk). Thomas skryf omstreeks 1260: "Dit is feitlik seker dat die Jode van elke provinsie elke jaar met lootjies besluit watter gemeente of stad Christelike bloed na die ander gemeentes moet stuur." Thomas het ook geglo sedert die tyd toe die Jode na Pontius Pilatus uitgegroep het "Laat die skuld vir sy bloed op ons en ons kinders rus!" (Matteus 27:25, 1983-vertaling) ondervind hulle bloedings, wat gelyk gestel kan word aan manlike menstruasie. Volgens hom het die Jode geglo net Christelike bloed ("solo sanguine Christiano") sou dit kon genees. Volgens Thomas het die Jode egter dié voorspelling verkeerd verstaan: Die uitdrukking "solo sanguine Christiano" het nie beteken die bloed van enige Christen nie, maar van Jesus – die enigste ware genesing van alle fisieke en geestelike lyding.
Die eerste bekende geval buite Engeland was in 1171 in Blois, Frankryk. Die beskuldiging was teen die dorp se hele Joodse gemeenskap, en het daartoe gelei dat sowat 31-33 Jode (onder andere 17 vroue) op 29 Mei dié jaar doodgebrand is. Die bloedlaster het gehandel oor R. Isaac, 'n Jood wat deur 'n Christelike dienskneg daarvan beskuldig is dat hy 'n vermoorde Christen in die Loire gegooi het. Die kind se liggaam is nooit gevind nie. Die graaf het sowat 40 volwasse Jode van Blois laat arresteer en hulle is eindelik verbrand. Die verbrande liggame van die veroordeelde Jode het na bewering deur die verbranding ongeskonde gebly, en dit is 'n bekende wonderwerk en heiligemite vir beide Jode en Christene. In dié geval was daar nog nie 'n bewering dat Jode die bloed van Christene nodig gehad het nie.
In 1235, nadat die liggame van vyf seuns op Kersdag in Fulda, Hesse, Duitsland, ontdek is, het die dorp se inwoners beweer die Jode het hulle vermoor om hulle bloed te drink. Hulle het 34 Jode verbrand met die hulp van Kruisvaarders wat in dié tyd daar vergader het. Selfs nadat keiser Frederik II die Jode kwytgeskeld het ná 'n ondersoek, het bloedlaster in Duitsland voortgeduur. Op Pforzheim, Baden, het 'n vrou na bewering in 1267 'n meisie aan die Jode verkoop. Hulle het haar glo oopgesny en in die rivier gegooi, waar bootsmanne haar gekry het; die meisie het om wraak geskree en toe gesterf. Die liggaam het na bewering gebloei toe die Jode daarheen geneem is. Die vrou en die Jode het skuld beken en is daarna vermoor.
In 1270 het 'n beweerde wonderwerk in Weissenburg, Elsas, die Jode glo geïmpliseer. 'n Kind se lyk is in die rivier gekry. Die Jode het haar na bewering oopgesny om haar bloed te kry, en sy het vyf dae lank bly bloei.
Op Oberwesel was beweerde wonderwerke naby Paasfees van 1287 ook die enigste bewyse teen die Jode. In dié geval is beweer die lyk van die 16-jarige Werner van Oberwesel (ook "Goeie Werner" genoem) het wonderwerke verrig, veral medisinale wonderwerke. Lig het glo uit die liggaam geskyn. Die seun is na bewering onderstebo opgehang en oopgesny. Die gevolg was dat die Jode van Oberwesel en baie ander omliggende dorpe in die jare 1286-'89 kwaai vervolg en vermoor is.
Daar was al baie voorstelle oor hoekom dié beskuldigings gedoen en versprei is. Daar is byvoorbeeld gereken die weergawe van Thomas van Monmouth en ander soortgelyke valse beskuldigings het grootliks te doen gehad met die ekonomiese en politieke belange van leiers, wat in werklikheid dié mites versprei het. Verder is algemeen in Europa geglo Jode gebruik Christelike bloed vir medisinale en ander doeleindes.
Een van die kinderheiliges in die Russies-Ortodokse Kerk is die sesjarige seun Gawriil Belostokski van die dorp Zwerki (nou in Pole). Volgens die legende wat die Kerk ondersteun, is die seun tydens Paasfees uit sy huis ontvoer terwyl sy ouers weg was. Sjoetko, 'n Jood van Białystok, is daarvan aangekla dat hy die seun na Białystok gebring, nege dae lank met skerp voorwerpe gesteek en sy bloed dreineer het. Hy het daarna die lyk teruggeneem na Zwerki en in 'n veld gelos. 'n Kultus het ontwikkel en die seun is in 1820 'n heilige gemaak. Op Allerheilige, 27 Julie 1997, het die Belarussiese staatstelevisie 'n rolprent gewys waarin beweer is die verhaal is waar. Die herlewing van die kultus in Belarus is in internasionale verslae oor menseregte en godsdiensvryhede aangehaal as 'n gevaarlike uitdrukking van antisemitisme.
{{cite web}}
: AS1-onderhoud: ander (link) This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article Bloedlaster, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.
®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.