Anne Frank: Joodse meisie wat postuum bekendheid verwerf met die publikasie van haar dagboek.

Anne Frank (12 Junie 1929 – Maart 1945) was 'n Joodse meisie, gebore in Frankfurt am Main in Duitsland.

Sy het postuum internasionale bekendheid verwerf met die publikasie van haar dagboek, waarin sy haar ervaringe tydens die Duitse besetting van Nederland tydens die Tweede Wêreldoorlog aangeteken het. Die boek is later tot ’n toneelstuk en rolprent verwerk.

Anne Frank
Anne Frank: Vroeë lewe, Tydsverloop in haar dagboek aangeteken, Arrestasie
Gebore
Annelies Marie Frank

12 Junie 1929
SterfVroeë Maart 1945
NasionaliteitDuits tot 1941
Staatloos vanaf 1941
Ouer(s)Otto Heinrich Frank (vader)
Margot Frank (moeder)
Handtekening
Anne Frank: Vroeë lewe, Tydsverloop in haar dagboek aangeteken, Arrestasie

Anne het in 1933 saam met haar familie na Amsterdam verhuis, na die Nazi's se gesag in Duitsland versterk het. Met die Duitse besetting van Nederland, wat in 1940 begin, was hulle daar vasgevang: siende dat die vervolging van die Joodse bevolking toegeneem het, het die familie in Julie 1942 ondergronds gaan skuil in 'n weggesteekte kamer van 'n kantoorgebou van haar vader, Otto Frank. Na twee jaar is hulle, saam met ander mense wat geskuil het, verraai en weggevoer na 'n konsentrasiekamp. Anne Frank het sewe maande ná haar arrestasie aan tifus gesterf in die Bergen-Belsen-konsentrasiekamp in Nedersakse, slegs enkele dae ná die dood van haar suster, Margot Frank. Haar vader, die enigste oorlewende van die groep, het ná die oorlog na Amsterdam teruggekeer, waar hy ontdek het dat haar dagboek behoue gebly het. Sy pogings het in 1947 tot die publikasie daarvan gelei. Dit is uit die oorspronklike Nederlands deur Lina Spies vertaal en vir die eerste keer in 2007 in Afrikaans uitgegee as Die Agterhuis.

Die dagboek, wat Anne op haar dertiende verjaarsdag ontvang het, beskryf haar lewensloop van 12 Junie 1942 tot 1 Augustus 1944. Dit is reeds in baie ander tale vertaal en is een van die wêreld se mees gelese boeke, asook die basis vir verskeie rolprente en toneelstukke. Die kwaliteit van Anne Frank se skryfwerk is ook erken en sy het deur die jare ontwikkel tot een van die bekendste en mees bespreekte slagoffers van die Joodse volksmoord.

Vroeë lewe

Sy is op 12 Junie 1929 as Annelies Marie Frank in Frankfurt, Duitsland gebore, as die tweede dogter van Otto Frank (1889–1980) en Edith Frank-Holländer (1900–1945). Margot Frank (1926–1945) was haar ouer suster. Die Frank-gesin was liberale Jode wat in 'n geassimileerde gemeenskap van Jode en nie-Jode gewoon het: hulle kinders het saam met Rooms-Katolieke, Protestantse en Joodse maats grootgeword. Die gesin het ook nie al die gewoontes en tradisies van Judaïsme nageleef nie. Edith Frank was die meer gelowige ouer, terwyl Otto Frank, 'n gedekoreerde Duitse offisier van die Eerste Wêreldoorlog, geïnteresseer was in akademiese studies en 'n uitgebreide biblioteek besit het; beide ouers het hulle kinders aangemoedig om te lees.

'n Verkiesing vir die munisipale raad is op 13 Maart 1933 in Frankfurt gehou, wat Adolf Hitler se Nazi-party gewen het. Antisemitiese (anti-Joodse) betogings het gou daarna begin plaasvind en die Frank-gesin het gevrees oor hul uiteindelike lot, indien hulle in Duitsland sou vertoef. Later daardie jaar het Edith en die kinders na Aken, op die westelike grens van Duitsland, verhuis, waar hulle saam met Edith se moeder, Rosa Holländer, gebly het. Otto Frank het in Frankfurt gebly, maar na hy 'n aanbod ontvang het om 'n besigheid in Amsterdam te begin, het hy daarheen verhuis om die besigheid te organiseer en blyplek vir sy familie te reël. Die Frank-gesin was deel van sowat 300 000 Jode wat tussen 1933 en 1939 uit Duitsland gevlug het.

Anne Frank: Vroeë lewe, Tydsverloop in haar dagboek aangeteken, Arrestasie 
Die woonstelgebou op die Merwedeplein waar die Frank-gesin van 1934 tot 1942 gewoon het.

Otto het by Opekta begin werk, 'n besigheid wat die vrugte-ekstrak pektien (plantjellie) verkoop het, en 'n woonstel gekry op die Merwedeplein in Amsterdam. Teen Februarie 1934 was Edith en hul kinders ook in Amsterdam. Die twee meisies is by skole ingeskryf: Margot by 'n publieke skool en Anne by 'n Montessori-skool. Margot het vaardigheid in rekenkunde getoon en Anne 'n aanleg vir lees en skryf. Anne se vriendin Hannah Goslar het later onthou hoe Anne van jongs af reeds dikwels geskryf het, maar haar werk met haar hande toegehou het en geweier het om die inhoud van haar werk te bespreek. Margot en Anne het duidelik verskillende persoonlikhede gehad: Margot was goedgemanierd, terughoudend en leergierig, terwyl Anne meer openhartig, energiek en ekstrovert was.

Otto het in 1938 'n tweede bedryf begin: Pectacon, 'n groothandelaar in kruie, pekelsoute en gemengde speserye, wat gebruik is in die vervaardiging van wors. Herman van Pels, wat later saam met die gesin sou wegkruip, was 'n werknemer by Pectacon, waar hy advies gegee het oor speserye. Hy was 'n Joodse slagter wat saam met sy gesin uit Osnabrück, Duitsland, gevlug het. In 1939 het Edith se moeder by die Frank-gesin ingetrek en by hulle gebly tot en met haar dood in Januarie 1942.

Duitsland het Nederland in Mei 1940 binnegeval en die besettingsregering het begin met die vervolging van Jode deur die implementering van beperkende en diskriminerende wette, verpligte registrasie en rasseskeiding het gou gevolg. Margot en Anne het in hulle studies uitgeblink en baie maats gehad, maar 'n edik is uitgevaardig waarkragtens Joodse kinders slegs Joodse skole kon bywoon en die kinders is by die Joodse skool (of Lyceum) ingeskryf. In April 1941 het Otto, in 'n poging om te keer dat Pectacon as 'n Joodse besigheid gekonfiskeer word, sy aandele in die bedryf aan Johannes Kleiman oorgedra en bedank as direkteur. Die besigheid is gelikwideer en alle bates oorgedra aan Gies & Co, onder leiding van Jan Gies. Otto het in Desember 1941 'n soortgelyke proses gevolg om Opekta te red. Die besighede is met min merkwaardige veranderinge voortgesit en hulle voortgang het vir Otto Frank 'n klein inkomste beteken, waarmee hy vir sy gesin kon voorsien.

Met die ingebruikneming van 'n Duitse wet uit 1941 is alle Jode wat uit Duitsland gevlug het, insluitende die Frank-gesin, van burgerskap ontneem. Anne Frank sou die res van haar lewe staatloos bly.

Tydsverloop in haar dagboek aangeteken

Voor onderduiking

Anne het op 12 Junie 1942 'n dagboek vir haar dertiende verjaardag ontvang; dit was 'n boek wat sy 'n paar dae vantevore aan haar vader in 'n winkelvenster uitgewys het. Dit was in werklikheid 'n handtekeningboek, gebind met rooi-en-groen geruite wol en met 'n klein slot op die voorkant, maar Anne het besluit om dit as 'n dagboek te gebruik en byna onmiddellik haar eerste inskrywing gemaak. Alhoewel baie van haar vroeë inskrywings die meer alledaagse aspekte van haar lewe beskryf, bespreek sy ook sommige van die veranderinge wat in Nederland plaasgevind het sedert die Duitse besetting. In die inskrywing van 20 Junie 1942 noem sy baie van die beperkings wat op die lewens van die Nederlandse Joodse bevolking geplaas is en vertel sy ook van haar smart rondom die dood van haar ouma, vroeër daardie jaar. Anne het daarvan gedroom om 'n aktrise te word. Sy was mal oor rolprente, maar toegang tot rolprentteaters is die Nederlandse Jode op 8 Januarie 1941 verbied.

In Julie 1942 het Margot Frank 'n mededeling van die Zentralstelle für jüdische Auswanderung ("Sentrale departement vir Joodse emigrasie") ontvang, waarin sy beveel word om te rapporteer vir verplasing na 'n werkkamp. Otto het aan Anne vertel dat die gesin sou wegkruip in 'n kamer bo en agter die Opekta-gebou in Prinsengracht, 'n straat langs een van Amsterdam se kanale, waar sommige van sy mees vertroude werknemers hulle sou help. Die rapporteringsbevel aan Margot het beteken dat hulle 'n aantal weke vroeër moes verhuis as wat hulle verwag het.

Lewe in die Achterhuis

Anne Frank: Vroeë lewe, Tydsverloop in haar dagboek aangeteken, Arrestasie 
Heropbouïng van die boekrak wat die ingang na die geheime solder verberg het.

Die gesin het op Maandagoggend, 6 Julie 1942, na die geheime skuiling te Prinsengracht 263 verhuis; Anne was 13 jaar oud. Hulle woonstel is in wanorde agtergelaat, om die indruk te skep dat hulle skielik weggegaan het. Otto het 'n nota agterlaat waarop daar geïnsinueer word dat hulle na Switserland gevlug het. Die behoefte aan geheimsinnigheid het genoodsaak dat hulle Anne se kat, Moortje, moes agterlaat. Siende dat Jode nie toegelaat is om van openbare vervoerstelsels gebruik te maak nie, het hulle etlike kilometers ver moes loop. Elke lid van die gesin het 'n aantal lae klere gedra, aangesien hulle dit nie kon waag om met bagasie gesien te word nie. Die "achterhuis" was 'n drieverdieping ruimte, met die ingang op 'n soldervloer bo die kantore van Opekta. Twee klein kamers, met 'n aangrensende badkamer en toilet, was op die eerste verdieping; bo dié kamers was 'n groter oop ruimte, met 'n klein kamer langs dit. 'n Klein leer het vanuit die kleiner kamer tot die solder gelei. Die deur na die agterhuis is later deur 'n boekrak verberg, om seker te maak dat dit nie ontdek word nie. Die hoofgebou, ongeveer 'n blok vanaf die Westerkerk, was onmerkwaardig: 'n ou gebou, tipies soos die ander geboue in die westelike dele van Amsterdam.

Victor Kugler, Johannes Kleiman, Miep Gies, en Bep Voskuijl was die enigste werknemers wat geweet het dat die gesin daar geskuil het en was, saam met Miep se man, Jan Gies, en Voskuijl se vader, Johannes Hendrik Voskuijl, die gesin se "helpers" tydens hul onderduiking. Hierdie kontakpersone was die enigste verbinding tussen die bewoners van die agterhuis en die buitewêreld en hulle het die Frank-gesin ingelig oor oorlogsnuus en politieke ontwikkelings. Daar is aan hulle behoeftes voorsien, hulle is veilig gehou en van kos voorsien, iets wat mettertyd al hoe moeiliker geword het. Anne het oor hulle toewyding geskryf en oor hulle pogings om almal in die huis op te beur tydens die gevaarlikste tye. Almal het geweet dat, indien hulle gevang word, hulle die dood in die gesig sou staar: die verskuiling van Jode was strafbaar met die dood.

Anne Frank: Vroeë lewe, Tydsverloop in haar dagboek aangeteken, Arrestasie 
Die huis (links) in Prinsengracht in Amsterdam.

Die Pels-gesin het op 13 Julie 1942 by die Frank-gesin aangesluit; Hermann, Auguste en 16-jaar oue Peter van Pels. In November het Fritz Pfeffer, 'n tandarts en vriend van die familie, ook daar skuiling kom soek. Anne het geskryf oor haar genoeë rakende nuwe mense om mee te gesels, maar dit het nie lank geduur voor daar spanning ontwikkel het tussen mense wat geforseer word om in sulke beperkte ruimtes te woon nie. Na Anne haar kamer met Pfeffer moes deel, het sy hom as onuitstaanbaar geag en 'n hekel gehad aan sy indringing. Sy het ook rusies gehad met Auguste van Pels, wie sy as dwaas beskou het. Sy het Hermann van Pels en Fritz Pfeffer as selfsugtig beskou, veral ten opsigte van die hoeveelheid voedsel wat hulle geëet het. Alhoewel sy aanvanklik nie ten gunste van die skaam en lomp Peter van Pels was nie, het sy later 'n affiniteit vir hom ontwikkel en die twee het 'n romantiese verhouding begin. Sy het haar eerste soen van hom ontvang, maar die kalwerliefde het gekwyn namate sy haarself afgevra het of haar gevoelens vir hom eg is, of bloot ontstaan het vanweë hul gedeelde gevangenisskap. Anne het 'n noue band met elk van die helpers ontwikkel en Otto Frank het later onthou hoe sy hulle daaglikse besoeke met ongeduldige entoesiasme afgewag het. Hy het genoem dat Anne 'n besonders gehegte vriendskap met Bep Voskuijl gehad het, "die jong tikster... die twee van hulle het dikwels in die hoekie gestaan en fluister".

In haar skrywes het Anne haar verhoudings met die lede van haar gesin en die duidelike verskille in hulle persoonlikhede ondersoek. Volgens Anne was sy die meeste geheg aan haar vader; dié het later opgemerk dat hy "beter oor die weg gekom het met Anne as met Margot, wie meer geheg was aan haar moeder. Die rede daarvoor is miskien dat Margot byna nooit haar gevoelens gewys het nie en nie so baie ondersteuning nodig gehad het nie, aangesien sy nie so baie aan gemoedskommelings soos Anne gely het nie."

Anne Frank: Vroeë lewe, Tydsverloop in haar dagboek aangeteken, Arrestasie 
Die geheime solder met die liggekleurde mure en oranje dak (onder) en die Anne Frank-boom in die tuin agter die huis (regs, onder), soos gesien van die Westerkerk.

Anne het dikwels geskryf oor haar moeilike verhouding met haar moeder en oor haar gemengde gevoelens jeens haar. Op 7 November 1942 het sy haar "minagting" vir haar moeder beskryf en haar onvermoë om haar met "haar sorgloosheid, haar sarkasme en haar onhartelikheid" te konfronteer en afgesluit "Sy is nie 'n moeder aan my nie". Later, toe Anne haar dagboek hersien het, het sy haar geskaam vir haar houding en geskryf "Anne, is dit regtig jy wat haat genoem het, o Anne, hoe kon jy?". Sy het tot die besef gekom dat sy ook 'n aandeel in die misverstande gehad het wat uit hulle verskillende persoonlikhede gespruit het en dat sy tot haar moeder se lyding bygedra het. Na hierdie bewuswording het sy begin om haar moeder met respek en verdraagsaamheid te behandel.

Die meisies het gehoop om so gou as wat hul kon na skool terug te keer en hulle studies voort te sit. Margot het 'n kursus in snelskrif gevolg, onder Bep Voskuijl se naam, en 'n hoë punt gekry. Sy het ook 'n dagboek gehad, maar dit blyk verlore te wees. Anne het die meeste van haar tyd spandeer aan lees en studies en sy het dikwels aan haar dagboek gewerk: sy het nie alleen nuwe inskrywings gemaak nie, maar ook bestaandes hersien. Sy het nie slegs oor daaglikse gebeure verhaal nie, maar ook geskryf oor haar gevoelens, opvattings en ambisies, onderwerpe wat sy gevoel het sy nie met ander kon bespreek nie. Namate haar vertroue in haar skryfvaardigheid gegroei het en sy meer volwasse geword het, het sy oor meer abstrakte dinge begin skryf, soos haar geloof in God en hoe sy die aard van die mens definieer. Sy het volgehou met haar reëlmatige inskrywings tot met haar finale inskrywing op 1 Augustus 1944.

Arrestasie

Anne Frank: Vroeë lewe, Tydsverloop in haar dagboek aangeteken, Arrestasie 
'n Rekonstruksie van die kaserne in die Westerbork-konsentrasiekamp, waar Anne van Augustus tot September 1944 gebly het.

Die agterhuis is vroeg op 4 Augustus 1944 deur die Duitse Sekuriteitspolisie bestorm. Dis was moontlik na 'n wenk van 'n anonieme aandraer, maar dit kan ook ander redes gehad hê. Die groep was onder leiding van Karl Silberbauer, Oberscharführer ("Oppertroepvoerder") van die Schutzstaffel en lid van die Sicherheitsdienst, en het ten minste drie ander lede van die Sekuriteitspolisie ingesluit. Pfeffer, die Frank- en Van Pels-gesin is na Gestapo-hoofkwartiere geneem waar hulle oornag aangehou en ondervra is. Hulle is op 5 Augustus vervoer na die Huis van Bewaring, 'n propvol gevangenis in Weteringschans, 'n straat in Amsterdam. Hulle is twee dae later na die Westerbork-kamp naby Hooghalen, in die noorde van Nederland, verplaas. Westerbork was in prinsiep 'n tydelike verblyfkamp; met die aankoms van die Frank-gesin het reeds 100 000 Jode daardeur gestroom na ander konsentrasiekampe. Siende dat hulle onderduikers was, is hulle as kriminele beskou en na die Strafkaserne gestuur vir harde arbeid.

Victor Kugler en Johannes Kleiman is ook gearresteer en gevange geneem by die strafkamp vir vyande van die regime te Amersfoort. Kleiman is na 'n aantal weke vrygestel, maar Kugler is in verskeie werkkampe aangehou tot aan die einde van die oorlog. Miep Gies en Bep Voskuijl is deur die polisie ondervra, maar nie aangehou nie. Hulle het die volgende dag na die agterhuis teruggekeer, waar hulle Anne se bladsye gevind het – oor die vloer versprei. Hulle het die bladsye versamel, saam met verskeie foto-albums van die familie, en Gies het haar voorgeneem om hulle na die oorlog aan Anne terug te gee. Gies het op 7 Augustus 1944 Silberbauer gekonfronteer en hom probeer omkoop om die gevangenes vry te laat, maar hy het geweier.

Deportasie en dood

Op 3 September 1944 is die groep gedeporteer tydens die laaste deportasie van Westerbork na die Auschwitz-konsentrasiekamp; die reis het drie dae geneem. In die chaos wat die ontlading van die treine omring het, is die mans met geweld van die vroue en kinders geskei; ook Frank Otto is van sy gesin geruk. Uit die 1 019 passasiers is 549 (onder wie alle kinders jonger as vyftien) direk na die gaskamers gestuur. Anne het vyftien maande vroeër haar vyftiende verjaardag gevier en was een van die jongste van die nuwe aankomelinge wat die gaskamers op daardie oomblik gespaar is. Sy het gou agtergekom dat die meeste mense met hulle aankoms na die gaskamers gestuur word en het nooit geweet dat die hele groep uit die agterhuis hierdie vonnis vrygespring het nie. Sy het aanvaar dat haar vader, in sy middel vyftigs en nie besonders sterk of fiks nie, onmiddellik ná hulle skeiding vermoor is.

Saam met die ander vroulike gevangenes wat nie na hulle onmiddellike dood gestuur is nie, is Anne geforseer om te ontklee en ontsmet te word. Haar kop is geskeer en sy het 'n tatoeëermerk met 'n identifiserende nommer op haar arm ontvang. Deur die dag is die vroue vir slawearbeid gebruik: Anne is gedwing om rotse te vervoer en grassooie te spit. Snags is hulle in 'n beknopte kaserne geprop. Ooggetuies het later vertel dat Anne teruggetrokke en huilerig geword het wanneer sy gesien het hoe kinders na die gaskamers gelei word. Ander vertel weer dat sy meer dikwels sterkte en moed getoon het en dat haar vriendelikheid en selfversekerde karakter dit moontlik gemaak het om ekstra broodrantsoene vir haar, Margot en Edith te kry. Siekte was wydverspreid en dit was nie lank voor Anne se vel met scabies besmet is nie. Sy en Margot is na 'n siekeboeg geskuif, wat in konstante donker gehul is en gewemel het van muise en rotte. Edith het opgehou met eet en elke happie kos vir haar dogters gespaar, wat sy deur 'n selfgemaakte gat onder in die muur van die siekeboeg aan hulle gegee het.

Anne Frank: Vroeë lewe, Tydsverloop in haar dagboek aangeteken, Arrestasie 
'n Gedenksteen vir Margot en Anne by die voormalige Bergen-Belsen-konsentrasiekamp, saam met blom- en beeldhuldeblyke.

Daar is op 28 Oktober begin met 'n seleksie van die vrouens wat na Bergen-Belsen-konsentrasiekamp geskuif sou word. Meer as 8 000 vrouens, onder wie Anne, Margot en Auguste van Pels, is na Bergen-Belsen vervoer. Edith Frank is agtergelaat en het later aan verhongering gesterf. By Bergen-Belsen is tente opgerig om die instroming van gevangenes te akkommodeer en namate die bevolking gegroei het, het die dodetal ook toegeneem weens die vinnige verspreiding van siektes. Twee van Anne se vriendinne, Hanneli Goslar en Nanette Blitz, is gevange geneem in 'n ander deel van die kamp en Anne is vir 'n kort tydjie met die twee herenig. Sowel Goslar as Blitz het die oorlog oorleef en het later die vlugtige gesprekke wat hulle deur 'n heining met Anne gevoer het, bespreek. Blitz het haar as kaalkop, uitgeteer en bibberend beskryf en Goslar het opgemerk dat Auguste van Pels saam met Anne en Margot was. Margot was ernstig siek en Auguste het na haar omgesien. Blitz en Goslar het egter nie Margot self gesien nie, aangesien sy te swak was om haar slaapbank te verlaat. Anne het aan hulle vertel dat sy geglo het dat haar ouers dood was en daarom nie langer wou leef nie. Goslar het later geskat dat hulle ontmoetings laat in Januarie of vroeg in Februarie 1945 plaasgevind het.

In Maart 1945 het 'n tifusepidemie deur die kamp versprei en ongeveer 17 000 gevangenes het gesterf. Ooggetuies het later vertel dat Margot in haar verswakte toestand uit haar slaapbank geval het en dat die skok van die val haar doodgemaak het. 'n Paar dae ná Margot se afsterwe is Anne ook oorlede. Volgens die getuies het dit slegs 'n paar weke plaasgevind voor die bevryding van die kamp deur Britse troepe op 15 April 1945, hoewel die presiese datum nie aangeteken is nie. Ná die bevryding is die kamp afgebrand om die verspreiding van siekte stop te sit; Anne en Margot is op 'n onbekende plek in 'n massagraf begrawe.

Daar is ná die oorlog beraam dat, van die 107 000 Jode wat tussen 1942 en 1944 uit Nederland gedeporteer is, slegs 5 000 oorleef het. Daar is ook beraam dat tot 30 000 Jode in Nederland gebly het met hulp van die Nederlandse ondergrondse beweging. Omtrent twee derdes van hierdie groep het die oorlog oorleef.

Otto Frank het sy gevangenisskap in Auschwitz oorleef. Ná die oorlog het hy na Amsterdam teruggekeer, waar hy onderdak gevind het by Jan en Miep Gies. Hy het probeer om sy familie op te spoor en uitgevind van Edith se dood in Auschwitz. Hy was steeds hoopvol dat sy dogters die oorlog oorleef het, maar het ná 'n aantal weke ontdek dat Anne en Margot ook gesterf het. Hy het ook probeer uitvind wat met sy dogters se maats gebeur het en vasgestel dat baie van hulle vermoor is. Sussane Lederman, wat dikwels in Anne se dagboek genoem word, is saam met haar ouers vergas. Haar suster, Barbara, 'n gehegte vriendin van Margot, het egter oorleef. Dit het geblyk dat 'n aantal van die Frank-susters se skoolmaats wel oorleef het, asook ander Frank-familielede: hulle het in die middel van die dertigerjare uit Duitsland gevlug en in Switserland, die Verenigde Koninkryk en die Verenigde State toevlug gevind.

Die Agterhuis

Publisering

Nadat die Rooi Kruis die dood van Anne en Margot bevestig het, het Miep Gies in Julie 1945 Anne se dagboek aan haar vader teruggegee, saam met 'n bondel los aantekeninge wat sy ook bewaar het, in die hoop om dit eendag weer aan Anne te kan oorhandig. Otto Frank het later genoem dat hy nie besef het dat Anne so 'n akkurate en goed geskrewe rekord van hulle onderduiking gehou het nie. In sy gedenkskrif beskryf hy wat 'n pynlike proses dit was om die dagboek te lees, om die beskrewe gebeurtenisse te onthou en te herroep hoe Anne sommige van die amusante hoofstukke vir hom voorgelees het. Hy het nou ook vir die eerste keer die private kant van sy dogter ontdek, in die dele van haar dagboek wat sy met niemand bespreek het nie. Vir hom was dit "'n openbaring... ek het geen idee gehad dat haar gedagtes en gevoelens so diepgaande was nie... Sy het al hierdie gevoelens vir haarself gehou". Hy was aangegryp deur haar herhaalde, aangetekende begeerte om 'n skryfster te wees en het dit oorweeg om die dagboek te publiseer.

Anne se dagboek het begin as 'n private uitdrukking van haar gedagtes en sy het telkemale geskryf dat sy nooit sou toelaat dat enige iemand dit lees nie. Sy het haar lewe, familie, metgeselle en situasie openhartig beskryf en ook besef dat sy 'n groeiende ambisie het om fiksie te skryf wat later gepubliseer sal word. In Maart 1944 het sy 'n radio-uitsending deur Gerrit Bolkestein gehoor, 'n lid van die Nederlandse regering in ballingskap; Bolkestein het vertel hoe hy na die oorlog 'n openbare rekord van die Nederlandse mense se verdrukking onder Duitse besetting sou skep. Hy het genoem dat hy ook briewe en dagboeke wil publiseer en Anne het besluit dat sy haar werk sal instuur wanneer die tyd aanbreek. Sy het begin om haar werk te redigeer, sommige dele het sy verwyder of herskryf, met die oog op die uiteindelike publisering daarvan. Haar oorspronklike aantekeninge is voorsien van addisionele notaboeke en los velle papier. Sy het skuilname vir die mense in haar huishouding en hul helpers bedink. Die Van Pels-gesin het Hermann, Petronella en Pieter van Daan geword en Fritz Pfeffer is as Albert Düssell voorgestel. In die geredigeerde weergawe is elke inskrywing aan ene "Kitty" gerig, 'n fiktiewe karakter in Cissy van Marxveldt se reeks romans oor Joop ter Heul, 'n reeks wat Anne graag gelees het. Otto het haar oorspronklike dagboek ("weergawe A") en haar geredigeerde weergawe ("weergawe B") gebruik om die eerste gepubliseerde weergawe saam te stel. Hy het sommige gedeeltes verwyder, met name dié waar Anne krities teenoor haar ouers (veral haar moeder) is, sowel as dele waarin sy haar groeiende seksualiteit bespreek. Hy het ook die ware name van sy eie familielede teruggeplaas, maar die skuilname van die ander persone behou.

Otto het die dagboek aan die geskiedkundige Annie Romein-Verschoor gegee, wie nie daarin kon slaag om 'n uitgewer te vind nie. Sy het dit aan haar man, Jan Romein, gegee, wie 'n artikel daaroor geskryf het. Die artikel, "Kinderstem", het op 3 April 1946 in die koerant Het Parool verskyn en daarin het Romein geskryf dat die dagboek "in 'n kind se stem gestotter en al die afskuwelikheid van fascisme verpersoonlik, soveel te meer as al die bewyse by Neurenbereg tesame". Sy artikel het die aandag van uitgewers getrek en die dagboek is in 1947 in Nederland as Het Achterhuis gepubliseer, gevolg deur 'n tweede druk in 1950.

Die boek is in 1950 vir die eerste keer in Duitsland en Frankryk gepubliseer en in 1952 in die Verenigde Koninkryk, ná dit deur verskeie uitgewers afgekeur is. Die eerste Amerikaanse weergawe het in 1952 verskyn, waar dit suksesvol was en positiewe resensies ontvang het. Die dagboek was ook suksesvol in Frankryk en Duitsland, maar dit het nie daarin geslaag om 'n leserskring te vind nie en teen 1953 was dit uit druk. Dit was besonders suksesvol in Japan, waar die kritici dit aangeslaan het en die eerste uitgawe meer as 100 000 kopieë verkoop het. Anne Frank is daar geïdentifiseer as 'n belangrike kulturele figuur wie die verwoesting van die jeug tydens die oorlog verteenwoordig het. Die eerste Afrikaanse uitgawe het in 2007 verskyn, getiteld Die Agterhuis.

Frances Goodrich en Albert Hackett het 'n toneelstuk geskryf wat op die boek gebaseer is. Die toneelstuk het sy eerste opvoering op 5 Oktober 1955 in New York gehad en het later die Pulitzer-prys vir drama gewen. Die toneelstuk is deur 'n 1959-rolprent gevolg, The Diary of Anne Frank, 'n kritiese en kommersiële sukses. Die lewensbeskrywer Melissa Müller het later geskryf dat die dramatisering "grootliks bygedra het tot die romantisering, sentimentalisering en veralgemening van Anne se verhaal". Met die loop van die jare het die gewildheid van die dagboek gegroei en in baie skole vorm dit deel van die kurrikulum en word Anne Frank telkens aan 'n nuwe generasie lesers voorgestel. In Nederland is Anne Frank opgeneem in die "Canon van Nederland": 'n lys van vyftig chronologiese onderwerpe wat nie in die geskiedenisles op 'n Nederlandse skool mag ontbreek nie.

Die Nederlandse Instituut vir Oorlogsdokumentasie het in 1986 die "Kritiese Uitgawe" van die dagboek gepubliseer. Dit sluit vergelykings van alle bekende geredigeerde en ongeredigeerde weergawes in. Dit sluit ook 'n bevestiging van die dagboek se egtheid in, sowel as ekstra geskiedkundige inligting oor die familie en dagboek self.

Cornelis Suijk, 'n voormalige direkteur van die Anne Frank-stigting en die president van die United States Holocaust Memorial Museum, het in 1999 aangekonding dat hy oor vyf bladsye besit wat deur Otto Frank verwyder is voor die eerste publikasie van die dagboek. Volgens Suijk het Otto die bladsye aan hom gegee kort voor sy dood in 1980. Die inskrywings bevat onder meer kritiese aanmerkings oor Otto en Edith se gespanne huwelik en bespreek Anne se tekort aan liefde jeens haar moeder. Omstredenheid het gevolg toe Suijk verklaar het dat hy die publiseringsregte oor hierdie vyf bladsye besit en dat hy van plan was om hulle te verkoop om geld in te samel vir sy Amerikaanse stigting. Die Nederlandse Instituut vir Oorlogsdokumentasie, die amptelike eienaar van die dagboek, het Skuijk beveel om die bladsye te oorhandig. In 2000 het die Nederlandse Ministerie van Opvoeding, Kultuur en Wetenskap ingestem om VS$300 000 aan Suijk se stigting te skenk en die bladsye is in 2001 teruggegee. Hulle is sedertdien by nuwe uitgawes van die dagboek gevoeg.

Ontvangs

Die dagboek is vir sy letterkundige meriete geprys. Die dramaturg Meyer Levin het Anne vir haar skryfstyl geprys, menende dat sy daarin geslaag het om die spanning van 'n goed gekonstrueerde roman vol te hou. Hy was verder so beïndruk met die kwaliteit van haar werk dat hy kort na die publisering daarvan, in samewerking met Otto Frank, 'n dramatisering daarvan geskep het. Die digter John Berryman het geskryf dat dit 'n unieke uitbeelding was, nie slegs van adolessensie nie, maar ook van die "omvorming van 'n kind tot 'n persoon, soos dit plaasvind, in 'n presiese, vertroude, ekonomiese styl, verbluffend in die eerlikheid daarvan".

In haar inleiding van die dagboek se eerste Amerikaase uitgawe beskryf Eleanor Roosevelt dit as "een van die wysste en ontroerendste aantekeninge oor die oorlog en die impak daarvan op menslike wesens wat ek ooit gelees het". John F. Kennedy het Anne tydens 'n 1961-toespraak bespreek en gesê dat "van al die skares wat deur die geskiedenis opgekom het vir menslike waardigheid in tye van groot lyding en verlies, is geen stem meer meeslepend as dié van Anne Frank nie". In dieselfde jaar het die Sowjetse skrywer Ilya Ehrenburg van haar geskryf: "een stem praat namens ses miljoen – nie die stem van 'n wyse of 'n digter nie, maar van 'n gewone klein meisie".

Met die siening van Anne as 'n erkende skrywer en mensliewende persoon, is daar na haar verwys as 'n simbool van die Joodse Volksmoord en as 'n verteenwoordiger van vervolging in die algemeen. Hillary Clinton het tydens haar ontvangingstoespraak vir die Elie Wiesel-filantropiese toekenning in 1994 uit Anne Frank se dagboek voorgelees en vertel dat sy "ons wakker maak tot die dwaasheid van onverskilligheid en die verskriklike tol wat dit van ons jeug eis", met verwysing na meer onlangse gebeure in Sarajevo, Somalië en Rwanda. Na hy 'n filantropiese toekenning van die Anne Frank-stigting in 1994 ontvang het, het Nelson Mandela aan 'n skare in Johannesburg vertel dat hy Anne Frank se dagboek in die tronk gelees het en dat hy baie aanmoediging daaruit verkry het. Hy het haar worsteling teen die Naziïsme vergelyk met sy worsteling teen apartheid en 'n parallel tussen die twee filosofieë getrek met die kommentaar: "omdat hierdie gelowe duidelik vals is en omdat hulle deur mense soos Anne Frank betwis is en altyd betwis sal word, is hulle bestem om te misluk". Die Tsjeggiese skrywer en politikus Václav Havel het in 1994 gesê dat "Anne Frank se erfenis springlewend is en ons ten volle kan aanspreek" in verhouding met die politiese en sosiale veranderings wat in dié tyd in die voormalige Oosbloklande plaasgevind het.

Primo Levi, die Joods-Italiaanse chemikus en skrywer, het voorgestel dat die rede hoekom Anne Frank dikwels geïdentifiseer word as die enkele verteenwoordiger van diegene wat soos sy gely en gesterf het, is omdat "Een enkele Anne Frank vir ons meer aangrypend is as die tallose ander wie net soos sy gely het, maar wie se gesigte in die skadu's bly … miskien is dit beter so; as ons daartoe in staat was om die lyding van al hierdie mense in te neem, sou ons nie daartoe in staat wees om te lewe nie". In haar slotboodskap in Melissa Müller se biografie oor Anne Frank het Miep Gies 'n soortgelyke gedagte uitgespreek, maar sy het juis probeer om die nosie van Anne as 'n simbolisering van die ses miljoen slagoffers van die Joodse Volksmoord te verdryf: "Anne se lewe en dood was haar individuele lot, 'n individuele lot wat ses miljoen keer oor en oor gebeur het. Anne kan nie, en behoort nie, te staan vir die baie individue wat deur die Nazi's van hulle lewens beroof is nie... Maar haar lot help ons om die ontsaglike verlies wat die wêreld as gevolg van die Joodse Volksmoord gely het, te begryp".

Otto Frank het die res van sy lewe gespandeer as die voog van sy dogter se nalatenskap: "Dit is 'n vreemde rol. In die normale familieverhouding is dit die kind van die beroemde ouer wat die eer en die las het om die taak voort te sit. In my geval is die rol omgedraai". Hy het ook onthou hoe sy uitgewer sy mening oor die sukses van Anne se dagboek gegee het, menende dat "die dagboek so baie areas van die lewe omvat, dat elke leser iets kan vind wat hom aangryp". Die Oostenrykse Nazi-jagter Simon Wiesenthal het later 'n soortgelyke opinie gelug, toe hy gemerk het dat Anne Frank se dagboek die wêreld se bewussyn van die Volksmoord wyer versprei het as wat die geval was tydens die Neurenberg-verhore, omdat "mense met hierdie kind geïdentifiseer het … dít was die impak van die Joodse Volksmoord, hierdie was 'n familie soos my familie, soos jou familie en so kon jy dit verstaan".

In Junie 1999 het die tydskrif Time 'n spesiale uitgawe uitgegee getiteld Time 100: The Most Important People of the Century. Anne Frank is gekies as een van die "Helde en Ikone" en die skrywer Roger Rosenblatt het haar erfenis met die volgende kommentaar beskryf: "Die passies wat die boek vlam laat vat, stel voor dat almal Anne Frank besit, dat sy bo die Joodse Volksmoord, Judaïsme, meisiewees en selfs goedheid gestyg het en 'n totemistiese gestalte van die moderne wêreld geword het – die morele individuele verstand, omring deur die masjinerie van verwoesting, wat aandring op die reg om te lewe en die toekoms van die mensdom te bevraagteken, maar ook daarvoor te hoop". Hy meld ook dat, alhoewel haar moed en pragmatisme bewonder word, haar vermoë om haarself te analiseer en die kwaliteit van haar werk die sleutelkomponente van haar aanloklikheid is. Hy skryf dat "die rede vir haar onsterflikheid is basies letterkundig; sy is 'n uitsonderlike skryfster, vir enige ouderdom, en die kwaliteit van haar werk blyk die direkte resultaat van 'n genadeloos eerlike gemoedstoestand te wees".

Ontkennings en regstappe

Na die dagboek laat in die 1950's wye bekendheid verwerf het, is verskeie aantygings teen die dagboek gepubliseer, waarvan die eerste in Swede en Noorweë. Onder die aantygings was dat die dagboek eintlik deur die Amerikaanse romanskrywer Meyer Levin geskryf is en dat Anne Frank nie werklik bestaan het nie.

In 1958 is Simon Wiesenthal tydens 'n opvoering van The Diary of Anne Frank in Wene deur 'n groep protesteerders aangekeer. Hulle het beweer dat Anne Frank nooit bestaan het nie en Wiesenthal uitgedaag om haar bestaan te bewys deur die man te vind wie haar gearresteer het. Wiesenthal het sy soektog na Karl Silberbauer begin en hom uiteindelik in 1963 gevind. Tydens 'n onderhoud het Silberbauer sy rol erken en Anne Frank deur middel van 'n foto geïdentifiseer as een van die mense wat hy gearresteer het. Hy het 'n volledige verslag van die gebeurtenisse gelewer en onthou hoe hy 'n tas vol papier op die vloer uitgegooi het. Sy verslag het vorige getuienisse deur onder andere Otto Frank beaam.

Teenstanders van die dagboek het volgehou dat dit nie deur 'n kind geskryf is nie, maar as pro-Joodse propoganda geskep is en Otto Frank is van bedrog beskuldig. Frank het in 1959 in Lübeck, Duitsland regstappe teen Lothar Stielau geneem. Stielau, 'n onderwyser en voormalige lid van die Hitlerjeug, het 'n skoolkoerant gepubliseer waarin die dagboek as 'n vervalsing beskryf word. Die aanklag is later gewysig om Heinrich Buddegerg in te sluit. Buddegerg het 'n brief ter ondersteuning van Stielau geskryf, wat in 'n Lübeck-koerant gepubliseer is. Die hof het die dagboek ondersoek en in 1960 verklaar dat die handskrif ooreenstem met dié in briewe wat deur Anne Frank geskryf is en dat die dagboek die ware Jakob is. Stielau het sy bewering herroep en Otto Frank het die saak gestaak.

Hy het egter in 1976 weer regstappe geneem, die keer teen Heinz Roth in Frankfurt, Duitsland. Roth het pamflette gepubliseer waarin beweer word dat die dagboek 'n vervalsing is. Die regter het bepaal dat Roth 500 000 Duitse Mark beboet sou word en vir ses maande in gevangenis geneem sou word, indien enige verdere pamflette gepubliseer sou word. Roth het appèl aangeteken, maar is in 1978 oorlede, 'n jaar voor die appèl afgewys is.

Otto Frank het in 1976 ook regstappe teen Ernst Römer geneem, na dié 'n pamflet getiteld "Die Dagboek van Anne Frank, Blitsverkoper, 'n Leuen" versprei het. Tydens die verhoor het Edgar Geiss dieselfde pamflet in die hofsaal versprei – hy is ook vervolg. Römer is met 1500 Mark beboet en Geiss tot ses maande gevangenis gevonnis. Die vonnis is tydens Geiss se appèl verkort, maar die saak teen hom is tydens 'n volgende appèl laat vaar, siende dat die statutêre beperking op laster reeds verval het.

Met Otto se dood in 1980 is die oorspronklike dagboek en los velle aan die Nederlandse Instituut vir Oorlogsdokumentasie gelaat en die Instituut het die Nederlandse Ministerie van Geregtheid in 1986 opdrag gegee om 'n forensiese studie van die dagboek uit te voer. Die handskrif in die dagboek is met bekende voorbeelde vergelyk en daar is gevind dat die handskrif met Anne s'n ooreenkom en dat die papier, gom en ink beskikbaar was in die tyd wat die dagboek na bewering geskryf is. Die uiteindelike besluit was dat die dagboek eg is en hulle bevindings is gepubliseer in wat tans bekend staan as die "kritiese weergawe" van die dagboek. Op 23 Maart 1990 het die Hamburgse Streekhof ook die egtheid van die dagboek bevestig.

In 1991 het die Volksmoord-ontkenners Robert Faurisson en Siegfried Verbeke 'n boekie saamgestel onder die titel The Diary of Anne Frank: A Critical Approach ("Die Dagboek van Anne Frank: 'n Kritiese Benadering"). Hulle het beweer dat Otto Frank die dagboek geskryf het; hulle aantygings het berus op 'n aantal beweerde weersprekings in die dagboek, dat skuiling in die agterhuis onmoontlik sou wees en dat die styl en handskrif van die werk nie dié van 'n tiener is nie. Die Anne Frank-huis in Amsterdam en die Anne Frank-fonds in Basel het 'n burgerlike regsaak in Desember 1993 begin, om enige verdere verspreiding van The Diary of Anne Frank: A Critical Approach in Nederland stop te sit. Die Amsterdamse Streekhof het op 9 Desember 1998 hul uitspraak ten gunste van die eisers gelewer en enige verdere ontkenning van die egtheid van die dagboek en enige ongevraagde publikasies in dier voege verbied, met 'n boete van 25 000 gulde per oortreding.

Nalatenskap

Anne Frank: Vroeë lewe, Tydsverloop in haar dagboek aangeteken, Arrestasie 
'n Ry mense wag voor die ingang van die Anne Frank-huis in Amsterdam.

Op 3 Mei 1957 het Otto Frank, saam met 'n groep burgers, die Anne Frank Stichting gestig, in 'n poging om die Prinsengracht-gebou van sloping te red en toeganklik vir die publiek te maak. Die Anne Frank-huis is op 3 Mei 1960 geopen. Dit bestaan uit die Opekta-warehuis, die Opekta kantore en die Achterhuis. Al die vertrekke is oningerig, sodat besoekers maklik deur die kamers kan loop. Sommige persoonlike besittings van die voormalige inwoners is wel agtergelaat, soos foto's van rolprentsterre wat Anne teen 'n muur geplak het, 'n deel muurpapier waarop Otto telkens die lengtes van sy groeiende dogters gemerk het en 'n kaart op een van die mure waarop hy die vooruitgang van die Geallieerdes genoteer het. Dié besittings word nou almal agter Perspex-velle bewaar. Vanaf die klein kamer, waarin Peter van Pels gewoon het, is toegang tot 'n loopweg, wat die gebou aan die buurgebou verbind. Dié geboue is ook deur die stigting aangekoop en word gebruik om die dagboek te huisves, sowel as wisselende tentoonstellings wat die verskillende aspekte van die Joodse Volksmoord weergee asook ander bestuderings van rassistiese onverdraagsaamheid die wêreld oor. Dit het ontwikkel tot een van Amsterdam se gewildste toeriste-bestemmings en het in 2005 'n rekordgetal van 965 000 besoekers gehad. Die Huis verskaf ook inligting oor die internet, sowel as reisende tentoonstellings, vir diegene wat nie in staat is om die huis te besoek nie. In 2005 het sulke tentoonstellings na 32 lande in Europa, Asië, Noord- en Suid-Amerika gereis.

Anne Frank: Vroeë lewe, Tydsverloop in haar dagboek aangeteken, Arrestasie 
Standbeeld van Anne Frank, deur Mari Andriessen, buite die Westerkerk in Amsterdam.

In 1963 het Otto Frank en sy tweede vrou, Elfriede Geiringer-Markovits, die Anne Frank-fonds opgestel as 'n liefdadigheidsorganisasie gebaseer in Basel, Switserland. Die fonds samel geld in om te skenk "soos dit goeddink". Met sy dood is die dagboek se kopiereg, soos beveel in Otto se testament, oorgedra aan die fonds, met die voorwaarde dat die eerste 80 000 Switserse franke aan sy erfgename gegee word. Enige verdere inkomste kan deur die fonds gebruik word vir ander waardige projekte soos deur die administrateurs besluit. Die fonds bied op 'n jaarlikse basis finansiële ondersteuning vir die mediese sorg van die Regverdiges onder Volke. Dit het tot op hede onder meer gepoog om jong mense oor rassisme op te voed en het sommige van Anne Frank se skrywes aan die United States Holocaust Memorial Museum in Washington, D.C. uitgeleen vir 'n tentoonstelling in 2003. Die fonds se jaarlikse verslag van 2003 gee 'n aanduiding van die bestuurders se pogings om op 'n globale vlak hulp te verleen, met die ondersteuning van projekte in Duitsland, Israel, Indië, Switserland, die Verenigde Koninkryk en die Verenigde State van Amerika.

Die woonstel op Merwedeplein, waarin die Frank-gesin van 1933 tot 1942 gewoon het, was in privaatbesit tot vroeg in die 2000's, toe 'n dokumentêre program die publiek se aandag daarop gevestig het, waaruit dit duidelik was dat die gebou vervalle geraak het. 'n Nederlandse woningkorporasie het die gebou gekoop en, met behulp van foto's geneem deur die Frank-gesin en beskrywings van die woonstel en meubels in briewe deur Anne, het hulle die woonstel se 1930-gedaante herstel. Teresien da Silva van die Anne Frank-huis en Anne Frank se neef, Bernhard Elias, het ook tot die projek bygedra. Die gebou is in 2005 heropen met die doel om 'n toevlugsoord te bied vir 'n gekose skrywer wie nie daartoe in staat is om vrylik in sy eie land te skryf nie. Elke gekose skrywer word een jaar gegee, waartydens hulle in die woonstel mag woon en werk. Die eerste skrywer wat hiervoor gekies is, was die Algeriese romanskrywer en digter, El-Mahdi Acherchour.

Anne Frank: Vroeë lewe, Tydsverloop in haar dagboek aangeteken, Arrestasie 
Die Anne Frank-boom in die tuin agter die Anne Frank-huis.

In Junie 2007 het Elias, Anne se neef, sowat 25 000 famliedokumente aan die Anne Frank-huis geskenk. Tussen hulle was foto's van die Frank-familie wat in Duitsland en Nederland geneem is, asook die brief wat Otto in 1945 aan sy moeder gestuur het, om haar in te lig dat sy vrou en dogters in Nazi-konsentrasiekampe gesterf het.

In November 2007 was daar sprake dat die Anne Frank-boom gevel sou word: Anne het 'n uitsig op 'n kastanjeboom in die erf van Keizersgracht 188 gehad en hom in haar dagboek beskryf. 'n Skimmelsiekte het die stam van die boom in 2007 getref en daar was 'n gevaar dat dit op een van die bystaande geboue sou val. Die Nederlandse ekonoom, Arnold Heertje, wie ook tydens die Tweede Wêreldoorlog ondergeduik het, het gesê: "Dit is nie sommer enige boom nie. Die 'Anne Frank-boom' het alles te maak met die vervolging van die Jode.' Die Tree Foundation, 'n groep boombewaringsaktiviste, het 'n siviele saak ingestel in 'n poging om die boom te red. Die saak het internasionale media-aandag ontvang. 'n Nederlandse hof het die stadsamptenare en bewaringsaktiviste beveel om alternatiewe oplossings te ondersoek en saam 'n oplossing te vind. Die partye het op 'n staalkonstruksie besluit, wat die boom se lewe met tot 15 jaar sal verleng.

Deur die jare is daar 'n aantal rolprente oor Anne Frank vervaardig en haar lewe en skrywes het 'n uiteenlopende groep kunstenaars en sosiale kommentators geïnspireer om na haar te verwys in letterkunde, musiek, televisieprogramme en ander media. In 1999 het die tydskrif Time haar genoem as een van die helde en ikone van die 20ste eeu, in hul lys van "Die Belangrikste Mense van die Eeu". Haar inskrywing begin: Sy het die Nazi's getrotseer met haar dagboek wat in 'n geheime solderkamer gehou is en 'n brandende stem verleen aan die stryd om menslike waardigheid.

Aantekeninge en verwysings

    Hierdie artikels, of gedeeltes daarvan, is vertaal vanaf die Engelse Wikipedia-artikel, "Anne Frank"

Bronnelys

  • Frank, Anne; Massotty, Susan (vertaling); Frank, Otto H. & Pressler, Mirjam (editors) (1995). The Diary of a Young Girl – The Definitive Edition. Doubleday. ISBN 0-553-29698-1.
  • Frank, Anne and Netherlands State Institute for War Documentation (1989). The Diary of Anne Frank, The Critical Edition. Doubleday. ISBN 0-385-24023-6.
  • Lee, Carol Ann (2000). The Biography of Anne Frank – Roses from the Earth. Viking. ISBN 0-7089-9174-2.
  • Müller, Melissa; Kimber, Rita; Kimber, Robert (vertalers); With a note from Miep Gies (2000). Anne Frank – The Biography. Metropolitan books. ISBN 0-7475-4523-5.
  • van der Rol, Ruud; Verhoeven, Rian; Quindlen, Anna (Inleiding); Langham, Tony & Peters, Plym (vertaling) (1995). Anne Frank – Beyond the Diary – A Photographic Remembrance. Puffin. ISBN 0-14-036926-0.
  • Westra, Hans; Metselaar, Menno; Van Der Rol, Ruud; Stam, Dineke (2004). Inside Anne Frank's House: An Illustrated Journey Through Anne's World. Overlook Duckworth. ISBN 1-58567-628-4.

Eksterne skakels

Tags:

Anne Frank Vroeë leweAnne Frank Tydsverloop in haar dagboek aangetekenAnne Frank ArrestasieAnne Frank Deportasie en doodAnne Frank Die AgterhuisAnne Frank NalatenskapAnne Frank Aantekeninge en verwysingsAnne Frank BronnelysAnne Frank Eksterne skakelsAnne Frank12 Junie19291945DuitslandFrankfurt am MainJoodsNederlandPostuumTweede Wêreldoorlog

🔥 Trending searches on Wiki Afrikaans:

BeroerteAppel (sanger)GemeenskapsorganisasieBeesBlomLudwig van BeethovenMagda van BiljonEkostelselAtleetvoetHoërskool Sentraal, BloemfonteinTobie CronjéVierkleurGrondsoortePenisBoerboelMenseregteGeskiedenis van AfrikaansDrie-eenheidKolgansBipolêre gemoedsteuringKrieketEreksiePlat AardeLys van chemiese elemente volgens atoomgetalHartPapegaaieVirginia LeeTropiese huisgeitjieDie GelofteOorkruipersPSekretarisvoëlOrgasmeAbstraksie (rekenaarwetenskap)BorsteBruin huisslangGlobaliseringChow-chowKappie (skryfteken)Pols-oksimeterSuid-Afrikaanse algemene verkiesing van 2024Wayde van NiekerkAardeRenosterAngkor WatJan BlohmGroot vyfAtriale fibrillasieSeksuele opwekkingAdolessensieAfrikaanse TaalmonumentKoos du PlessisTandbederfHartversakingSabbat7de LaanVergelykings (taalkunde)Anale kankerPalmsondagIntensiewe vormPwasaDermpoliepBrittany Ashton HolmesSeksualiteitOnse VaderOudtshoornNG gemeente Drie RiviereTon VoslooMondSuiderkruisEkotoerismeWaterbesoedelingNagapieSwitserlandAartappel🡆 More