Soekkot

Soekkot of Sukkot (Hebreeus: סוכות of סֻכּוֹת, meervoud van soekka, hut; Jiddisj: sukkes of sikkes; letterlik: Huttefees), of die Fees van Insameling (חג האסיף, Chag Ha'asif), is 'n Joodse fees van sewe dae wat jaarliks op 15 Tisjrie gevier word.

Volgens die Gregoriaanse kalender val dit tussen laat September en laat Oktober. Die fees herdenk die 40 jaar lange swerftog van die Israeliete (die voorouers van die Jode) in die Sinaiwoestyn, waartydens hulle in hutte en tente gebly het. Hierdie rondswerwery het na die uittog uit Egipte (wat met Pesach gevier word) plaasgevind. Ná die 40-jarige tydperk het hulle in die beloofde land ingetrek. Soekkot begin op 15 Tisjrie, vyf dae ná Jom Kippoer, en duur tot 21 Tisjrie, volgens die Joodse kalender. Saam met Pesach en Sjavuot is Soekkot een van die drie tradisionele Bedevaartsfeeste (שלוש רגלים, sjalosj reghalim). Tydens die bestaan van die Tweede Tempel het die Jode na Jerusalem getrek om daar offerandes te bring.

Soekkot
Soekkot in die sinagoge, skildery deur Leopold Pilichowski, 1894/95
Soekkot
Gebed tydens Soekkot, skildery deur Paula Gans, 1920
Soekkot
Die Hakafot van die Sefardiese Jode tydens Soekkot in die Portugese sinagoge in Amsterdam (Picart, gravure, 1724)
Soekkot
'n Loofhut, Soeka genoem
Soekkot
'n Aantal Soekkot-dakke, vervaardig uit s'chach (סכך), d.w.s. "dinge wat van die grond groei" soos palms, bamboes of denneboom
Soekkot
Ornamente wat tydens Soekoet gebruik word
Soekkot
Jode bid tydens Soekkot aan die Westelike Muur in Jerusalem
Soekkot
Samaritane vier Soekkot op Berg Gerizim, Wesoewer

Die voorskrifte vir Soekkot is in Wajikra/Levitikus 23,42-43 gedokumenteer:

Soekkot Sewe dae lank moet julle in hutte woon, alle gebore Israeliete moet dan in hutte woon. Die doel daarmee is dat julle nageslag moet weet dat Ek die Israeliete in hutte laat woon het toe Ek hulle uit Egipte laat trek het. Ek is die Here julle God.
Soekkot

Geskiedenis

Die fees word verskeie kere in die Tora genoem en is nes die twee ander Joodse Bedevaartsfeeste Pesach en Sjavuot van landbou- en waarskynlik Kanaänitiese oorsprong en deel met hulle 'n dubbele historiese en landboukarakter. Die fees het reeds in antieke tye deur die eeue heen verder ontwikkel, soos uit Bybelse en na-Bybelse tekste blyk. In Sjemot/Eksodus word dit die "fees van die insameling" (Sjemot/Eksodus 23:16-19 en 34:22) genoem en later in die Wajikra/Levitikus "huttefees" (Chag haSoekkot, Wajikra/Levitikus 23:34) met 'n tydperk van sewe dae: "Jy moet die huttefees sewe dae lank vier nadat jy jou oes van die dorsvloer en die parskuip af ingery het." (Dwarim/Deuteronomium 16:13) Met "hutte" word dalk in hierdie samehang die skaduryke skuilings in die velde bedoel (Jona 4:5), soos hulle vandag nog in die Midde-Ooste tydens die oes gebruik word. Eers ná die Babiloniese ballingskap is die datum op die 15de dag van die sewende maand bepaal en het Soekkot 'n historiese fees geword, wat die woestynmigrasie na die uittog uit Egipte herdenk en die lewe in hutte gedurende die feestyd voorskryf (Wajikra/Levitikus 23:33-43). Volgens die oorlewering het koning Salomo die Eerste Tempel in Jerusalem op Soekkot ingewy (1 Konings 8:2), en in die Messiaanse tyd word volgens die profeet Sagaria (Sagaria 14:16-19) Soekkot 'n universele, met reën geassosieerde fees, waartydens al die omliggende nasies pelgrimstogte na Jerusalem sal onderneem.

In die Misjnatraktat Soeka word die seremonies tydens die bestaan van die Tweede Tempel genoem, veral die waterseremonie wat nes die optogte met vrugte en boom- en palmtakke, die "vier soorte" (Hebreeus: אַרְבָּעָה מִינִים, Arba'a minim), waartydens psalms gesing is, met reën geassosieer word. In die Evangelie volgens Johannes roep Jesus op die laaste dag van die Huttefees almal wat dors het na hom toe (Johannes 7:37), wat in verband met die waterseremonie geïnterpreteer word wat in daardie stadium van die eerste tot die laaste dag van die fees gebruik is. Die historikus Flavius Josephus beskryf die fees as 'n agtdaagse feesviering waartydens hulle in hutte woon en in die tempel offers bring, Philo van Alexandrië beskryf dit as 'n oesdankfees van sewe dae waarby 'n agtste dag as kroning bygevoeg word, as 'n teken van gelykheid en geregtigheid.

Na die verwoesting van die tempel het die volgende oorgebly: die sewedaagse fees van Soekkot, die atséret op die agtste dag, die soeka, die Hallel-gebed en die versoek om reën op die agtste dag, asook die arba'a minim. Laasgenoemde is bekend as die "vier soorte": etrogh (אֶתְרוֹג; 'n soort sitrusvrug), loelaw (לולב; 'n palmtak), hadasim (הדסים; drie mirttakke) en arawot (ערבות; twee wilgertakke).

Datums

Die eerste dag is volgens die Joodse kalender op 15 Tisjrie, maar die werklike viering begin altyd met sonsondergang op die vorige aand (omdat 'n dag met sononder begin). Aangesien maande in die Joodse kalender altyd volgens die maan bereken word, wissel die datum van hierdie dag volgens die Gregoriaanse kalender. Die laaste dag van Soekkot is bekend as Hosjana Rabba (הושענא רבה) wat "groot smeking" beteken. Op die volgende dag sluit Sjmini Atséret (שְּׁמִינִי עֲצֶרֶת, "agtste [dag] van die vergadering") en Simgat Tora (שִׂמְחַת תּוֹרָה, "Toravreugde") aan. In Israel word albei feeste op 22 Tisjrie gevier, terwyl in die Joodse diaspora Sjmini Atséret op 22 Tisjrie en Simgat Tora op 23 Tisjrie gehou word.

Jaar in die Joodse kalender Datum in die Gregoriaanse kalender
5778 4–11 Oktober 2017
5779 23–30 September 2018
5780 13–20 Oktober 2019
5781 2–9 Oktober 2020
5782 20–27 September 2021
5783 9–16 Oktober 2022
5784 29 September – 6 Oktober 2023
5785 16–23 Oktober 2024
5786 6–13 Oktober 2025
5787 25 September – 2 Oktober 2026
5788 15–22 Oktober 2027
5789 4–11 Oktober 2028
5790 23–30 September 2029
5791 11–18 Oktober 2030

Sien ook

Verwysings

Verdere leesstof

  • (en) Chumney, Edward (1994). The Seven Festivals of the Messiah. Treasure House. ISBN 1-56043-767-7.
  • (en) Howard, Kevin (1997). The Feasts of the Lord God's Prophetic Calendar from Calvary to the Kingdom. Nelson Books. ISBN 0-7852-7518-5.

Eksterne skakels

Tags:

Soekkot GeskiedenisSoekkot DatumsSoekkot Sien ookSoekkot VerwysingsSoekkot Verdere leesstofSoekkot Eksterne skakelsSoekkotEgipteGregoriaanse kalenderHebreeusHeilige LandIsraelJerusalemJiddisjJodeJom KippoerJoodse kalenderJudaïsmePesachSinaiSjavuotTweede Tempel

🔥 Trending searches on Wiki Afrikaans:

SkaapVleilandDonkieRob HersovLys van Suid-Afrikaanse voëls (alfabeties)SeekoeiBateEksponentRivierEkonomiese kwessies in Suid-AfrikaSpysverteringstelselMensPlantReënspinnekopAarde se atmosfeerKurt-Lee ArendseSirkelLimpopo (rivier)Carles PuigdemontMeningsverskil oor aardverwarmingVaalrivierArabiesHoenderInternetSteve BikoWitbloedselWaterMagsverheffingPers3D-rolprent2001Racheltjie de BeerJan van TonderDiskriminasieSaartjie BaartmanGoeie VrydagMaroela MediaElon MuskElektrode16 NovemberStadSuid-Afrikaanse WeermagSelfstandige naamwoordKindersiektesRookgewoontePlastiekHerpes simplexTrappe van vergelykingSeksposisieWet op Bantoe-onderwysWebwerfBewussynIdioomNetbalMikro-ekonomieAborsieHeupvervangingArmoedeverligtingSanskritWaarheid-en-versoeningskommissieBeurtkragWapen van Suid-AfrikaLoodVioolMuishondKolorektale kankerLondenSeksualiteitPoësieZoeloeJSESean CombsHoofletterSkool🡆 More