Die NG gemeente Windhoek is die oudste gemeente van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in die Namibiese hoofstad, maar slegs die vyfde oudste gemeente in die land naas Mariental (1898), Otjiwarongo (1902), Keetmanshoop (1924) en Warmbad (1928).
Met die stigting van die gemeente Gibeon in 1898, het Windhoek en distrik 'n buitewyk van die ontsaglike groot gemeente geword, waarvan die hoofdorp Gibeon en later Mariental was. Die Afrikaanse bevolking in dié deel van die land het egter vinnig aangegroei en so was dit nodig om in 1925 'n kerksaaltjie op Windhoek te bou en eerw. Leonard vanaf Gibeon hierheen te verskuif. In die loop van 1928 het die kerkraad van Gibeon besluit om Windhoek, Gobabis en Okahandja as 'n aparte gemeente af te stig. Op hulle beurt is NG gemeente Gobabis en NG gemeente Okahandja in onderskeidelik 1939 en 1946 van Windhoek afgestig. In die noorde van die land het die NG gemeente Otjiwarongo (vroeë Moria genoem) toe al van 1902 bestaan.
Ds. K.W. le Roux is van Gibeon af beroep en aan die begin van Mei 1929 hier bevestig. Die gemeente se stigting het saamgeval met die moeilike jare van droogte en armoede tydens die Groot Depressie. Die arm gemeente moes onmiddellik groot kapitaaluitgawes aangaan en hom diep in die skuld dompel. 'n Leegstaande huis van die South West African Mines is teen £2 750 as 'n pastorie aangekoop. 'n Verband van £2 000 is op die huis geneem. Boonop moes kerksaaltjies op Okahandja, Gobabis en elders opgerig word.
Die ekonomiese ineenstorting aan die begin van die dertigerjare het dit vir die gemeente onmoontlik gemaak om sy verpligtinge na te kom en aan die einde van die jaar 1931 was daar 'n tekort van £200 op die lopende uitgawe, terwyl die gemeente se skuld reeds £2 500 beloop het. Ondanks spesiale insamelings kon die gemeente nie die geld vind nie en die skriba en orrelis is gevra om hul diens gratis te lewer.
Na 1933 het die depressie begin opklaar en die gemeente se geldsake het langsamerhand begin verbeter. Daarop besluit die kerkraad om 'n tydelike hulpprediker aan te stel. Weens die uitgestrektheid van die gemeente en die groot afstande, kon een predikant nie die herderlike werk behartig nie. 'n Hulppredikersfonds is in die lewe geroep en prop. S.H. van der Spuy vir ses maande aangestel.
Vandag hierdie tydperk is ds. Le Roux agtereenvolgens deur verskillende hulppredikers bygestaan. Teen 1944 was die gemeente se inkomste sodanig dat hulle die salaris van 'n medeleraar kon dra en teen die einde van die jaar is ds. A.P. Morgenthal as medeleraar beroep. Na 'n getroue dienstyd van 18 jaar in die gemeente het ds. Le Roux in 1947 afgetree en is opgevolg deur ds. J.H. Steenkamp. Ds. Morgenthal is in Maart 1950 opgevolg deur ds. J.H. van Rooyen.
Die gemeente het in die veertigerjare begin geld insamel vir die bou van 'n nuwe kerkgebou. In 1950 is begin met die bou van die nuwe kerk en dit is in Maart 1951 ingewy.
Met die jare het agt NG gemeentes in die hoofstad regstreeks of onregstreeks van die moedergemeente afgestig.
Windhoek-Noord en -Hoogland het later as Windhoek-Noordland saamgesmelt en is uiteindelik ingelyf by Windhoek-Wes, wat die getal NG gemeentes in die stad op sewe, pleks van die hoogtepunt van nege, te staan gebring het.
Elders is Windhoek-gemeente se dogters:
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article NG gemeente Windhoek, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.
®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.