Outisme: Reeks neuro-ontwikkelingsafwykings

Outisme, ook bekend as outismespektrum of outismespektrumsteuring (OSS), is ’n neuro-ontwikkelingsteuring wat vroeg in die lewe begin.

Dit word gewoonlik deur 'n paar eienskappe gekenmerk, onder meer beperkte sosiale interaksie; beperkte verbale en nieverbale kommunikasie; en herhalende en stereotiepe gedrag.

Outisme
Outisme: Eienskappe, Moontlike oorsake, Diagnose
SpesialiteitKliniese sielkunde, psigiatrie, pediatrie, arbeidsgeneeskunde
SimptomeSukkel met sosiale interaksie, beperkte kommunikasie, beperkte belangstellings, herhalende gedrag
KomplikasiesSosiale isolasie, werksprobleme, gesinspanning
Begin gewoonlik opVroeë ontwikkelingstadium
OorsakeGenetika en omgewingsfaktore
Diagnostiese metodeGeskoei op gedrag en ontwikkelingsgeskiedenis
Differensiële diagnoseVerstandelike beperkings, skisofrenie
BehandelingGedragsterapie, spraakterapie, psigotropiese medisyne
MedikasieAntipsigotiese middels, antidepressante, stimulante
Frekwensie1 uit 100 kinders (1%) wêreldwyd
Outisme: Eienskappe, Moontlike oorsake, Diagnose Mediese waarskuwing

Outisme is 'n spektrumsteuring, wat beteken dit kom in elke mens op 'n ander manier tot uiting. Sommige individue praat nie, terwyl ander spraakvermoëns goed bemeester. Daarom is daar 'n groot verskeidenheid steunbehoeftes in die outismespektrum.

Die vyfde uitgawe van die Amerikaanse Psigiatriese Vereniging se Diagnostiese en Statistiese Handleiding van Geestesteurings (DSM-5), wat in 2013 gepubliseer is, het die outismespektrum herdefinieer om die DSM-IV se diagnoses van outisme, Aspergersindroom, ontwykende-ontwikkelingsteuring, kinderdisintegrasiesteuring, hoogfunksionerende outisme en Rettsindroom in te sluit.

Daar is verskeie teorieë oor wat outisme veroorsaak; dit is hoogs oorerflik en hoofsaaklik geneties van aard. Baie gene is egter betrokke en omgewingsfaktore kan ook 'n rol speel. Die steuring kom dikwels saam met ander toestande voor, soos aandagafleibaarheid-hiperaktiwiteitsteuring (AAHS), epilepsie en 'n intellektuele onvermoë.

Verskille bestaan steeds oor kwessies soos wat presies in die diagnose ingesluit moet word, of daar betekenisvolle subtipes is en die betekenis van outismeverwante eienskappe in die breë bevolking.

Die kombinasie van breër kriteria en 'n toenemende bewustheid het gelei tot 'n toename in die raming van die voorkoms van die steuring, en dit het wanopvattings veroorsaak soos dat OSS 'n epidemie is en die mite dat inenting dit kan veroorsaak. Outisme raak na raming 1% van kinders wêreldwyd.

Eienskappe

Outisme is 'n hoogs veelvormige neuro-ontwikkelingsteuring waarvan die simptome tydens die baba- of kinderjare die eerste keer verskyn en gewoonlik 'n bestendige beloop neem sonder remissie. Outistiese mense kan op sekere gebiede kwaai belemmer word, maar op ander gemiddeld of selfs bogemiddeld vaar. Sigbare simptome begin gewoonlik ná die ouderdom van ses maande en neig om deur die volwasse lewe voort te duur, hoewel dikwels in 'n minder ernstige vorm.

Outisme word deur 'n kenmerkende drietal simptome gekenmerk: belemmering in sosiale interaksie, belemmering in kommunikasie en herhalende gedrag. Ander aspekte soos 'n afwyking in eetgedrag is ook algemeen, maar nie noodsaaklik vir diagnose nie.

Sosiale ontwikkeling

Outisme: Eienskappe, Moontlike oorsake, Diagnose 
’n Seun speel deur blikkies opmekaar te pak. As hy dit oor en oor doen, kan dit ’n aanduiding van outisme wees.

Sosiale tekortkominge onderskei outisme en die verwante toestande in die outismespektrum van ander ontwikkelingsteurings. Outistiese mense het sosiale belemmerings en ontbreek dikwels die intuïsie oor ander wat baie mense as vanselfsprekend aanvaar. Die bekende outistiese persoon Temple Grandin het haar onvermoë om die sosiale kommunikasie van neurotipiese mense (mense met tipiese neurale ontwikkeling) te verstaan, beskryf as dat dit haar laat voel "soos 'n antropoloog op Mars".

Ongewone sosiale gedrag raak vroeg in die kinderjare opvallend. Outistiese kinders skenk minder aandag aan sosiale stimulusse, glimlag minder en kyk minder na ander, en reageer minder as hulle by die naam genoem word. Outistiese kleuters verskil die meeste van sosiale norme: Hulle het minder oogkontak, neem minder spraakbeurte in besprekings en het nie die vermoë om eenvoudige bewegings te gebruik om hulleself uit te druk, soos om na iets te wys, nie.

Outistiese kinders van tussen drie en vyf jaar sal minder waarskynlik tekens van sosiale begrip toon, ander spontaan nader en op emosies reageer, nieverbaal kommunikeer en beurte met ander maak. Hulle vorm egter 'n band met hulle primêre versorger.

Ouer kinders en volwassenes met OSS vaar slegter in toetse in gesigs- en emosie-erkenning, hoewel dit deels kan wees weens 'n kleiner vermoë om 'n mens se eie emosies te definieer.

Kinders met hoogfunksionerende outisme beleef eensaamheid intenser en gereelder as ander mense, ondanks die mening dat outistiese kinders verkies om alleen te wees. Om vriendskappe aan te knoop en te behou is moeilik vir outistiese mense. Die gehalte van vriendskappe, en nie die getal vriende nie, bepaal hoe eensaam hulle is.

Daar is baie verslae, maar min stelselmatige studies, oor aggressie en geweld in individue met ASS. Volgens die beperkte data word outisme by kinders met verstandelike beperkings verbind met aggressie, die vernietiging van eiendom en instortings (meltdowns).

Kommunikasie

Sowat 'n derde tot die helfte van outistiese mense ontwikkel nie natuurlike spraak genoegsaam om in hulle daaglikse kommunikasiebehoeftes te voorsien nie.

Verskille in kommunikasie kan van die eerste lewensjaar al teenwoordig wees, en kan insluit 'n vertraging in die gebruik van babataal, ongewone gebare, 'n kleiner geneigdheid om te reageer en stempatrone wat nie met die versorger s'n gesinchroniseer is nie. In die tweede en derde lewensjaar het outistiese kinders minder gereelde en minder uiteenlopende babataal, woorde, konsonante en woordkombinasies; hulle gebare stem minder dikwels ooreen met hulle woorde.

Outistiese kinders is minder geneig om versoeke te rig of van hulle ondervindings te vertel, en meer geneig om bloot ander se woorde te herhaal of voornaamwoorde om te ruil. Gedeelde aandag blyk nodig te wees vir funksionele spraak, en belemmerings in gedeelde aandag onderskei blykbaar kinders met OSS van ander. Hulle sal byvoorbeeld na 'n hand kyk wat na iets wys in plaas van na die voorwerp waarna gewys word, en hulle wys feitlik nooit self na voorwerpe om kommentaar te lewer of 'n ondervinding te deel nie. Dit kan vir outistiese kinders moeilik wees om op verbeeldingstogte te gaan wanneer hulle speel en om simbole in taal om te skakel.

In twee studies het hoogfunksionerende outistiese kinders tussen 8 en 15 jaar oud net so goed, en as volwassenes beter, as mense in kontrolegroepe gevaar in basiese taaltake wat woordeskat en spelling getoets het. Albei outistiese groepe het slegter as die kontrolegroepe gevaar in komplekse taaltake wat verband hou met figuurliketaal-, begrips- en gevolgtrekkingstoetse. Omdat mense dikwels aanvanklik getakseer word op hulle basiese taalvermoëns, dui dié studies daarop dat mense wat met outistiese mense praat, meer as andersins geneig is om te oorskat wat hulle gehoor verstaan.

Herhalende gedrag

Outisme: Eienskappe, Moontlike oorsake, Diagnose 
'n Jong seun met outisme het al sy speelgoed in 'n ry gepak.

Outistiese individuele kan baie vorme van herhalende gedrag openbaar, wat die Repetitive Behavior Scale-Revised (RBS-R) soos volg kategoriseer:

  • Stereotiepe gedrag: Herhalende bewegings soos van die hand, die rol van die kop of die wieg van die liggaam.
  • Kompulsiewe gedrag: Tydrowende gedrag wat daarop gemik is om die angs te verminder wat 'n individu ervaar wanneer hy gedwing word om herhaaldelike aksies uit te voer of volgens streng reëls op te tree, soos om voorwerpe in 'n spesifieke volgorde te plaas of hande te was.
  • Eendersheid: Weerstand teen veranderings, soos om daarop aan te dring dat meubels nie geskuif word nie of weiering om onderbreek te word.
  • Rituele gedrag: Onveranderlike patroon van daaglikse handelings, soos dieselfde spyskaart of aantrekritueel. Dit word nou verbind met eendersheid, en 'n onafhanklike studie het voorgestel dat die twee faktore gekombineer word.
  • Beperkte belangstellings: Belangstelling of fiksasies wat abnormaal is wat tema of intensiteit van fokus betref, soos 'n preokkupasie met 'n enkele televisieprogram, speelding of speletjie.
  • Selfbesering: Gedrag van 'n persoon soos om homself in die oog te steek, sy eie vel te knyp, hand te byt en kop te stamp.

Dit lyk nie of enige spesifieke herhalende of selfbeserende gedrag tipies van outisme is nie, maar dit lyk of outisme lei tot 'n gereelder voorkoms en erger graad van dié soort gedrag.

Ander simptome

Outistiese individue kan simptome hê wat nie oor die algemeen gediagnoseer word nie, maar wat hom of sy gesin kan raak. 'n Geraamde 0,5% tot 10% van individue met OSS het ongewone vermoëns; dit wissel van besonderse vaardighede, soos die memorisering van onbenullighede, tot die buitengewoon seldsame talente van briljante outistiese savants.

Baie individue met OSS toon besonderse vermoëns in waarneming en aandag, relatief tot die algemene publiek. Sintuiglike abnormaliteite word aangetref in meer as 90% van outistiese mense en word deur sommige beskou as kerneienskappe, hoewel daar geen goeie bewyse is dat sintuiglike simptome outisme van ander ontwikkelingsteurings onderskei nie.

Daar is groter verskille wat betref onderreaksies (soos om in goed vas te loop) as oorreaksies (soos stres oor harde geluide) of die soek van sensasie (soos ritmiese bewegings). 'n Geraamde 60-80% van outistiese mense het motoriese aanduidings, wat insluit swak spiertonus, swak motoriese beplanning en om op die tone te loop; belemmerings in motoriese koördinasie kom algemeen voor by alle vorme van OSS en meer dikwels by ware outisme.

Ongewone eetpatrone kom voor by sowat driekwart van kinders met ASS, in so 'n mate dat dit voorheen 'n diagnostiese aanduider was. Selektiwiteit is die algemeenste probleem, hoewel eetrituele en weiering om te eet ook voorkom.

Daar is tentatiewe bewyse dat genderdisforie meer dikwels by outistiese mense voorkom.

Probleme van die spysverteringstelsel is een van die algemeenste verwante mediese steurings by outistiese mense. Dit word verbind met groter sosiale belemmerings, irriteerbaarheid, gedrags- en slaapprobleme, taalbelemmerings en buiwisselings.

Die ouers van kinders met OSS ervaar hoër stresvlakke. Sibbes van kinders met OSS sê hulle het 'n groter bewondering vir en minder konflik met dié kinders as die sibbes van onaangetaste kinders; dit stem ooreen met die mening van sibbes van kinders met Downsindroom. Hulle dink egter hulle het laer vlakke van nabyheid en intimiteit as die sibbes van kinders met Downsindroom. As volwassenes het die sibbes van mense met OSS 'n groter risiko van negatiewe welsyn en swakker verhoudings met hulle sibbes.

Moontlike oorsake

Dit is steeds onbekend presies wat outisme veroorsaak. Daar is lank veronderstel dat die drie belangrikste simptome 'n gemeenskaplike oorsaak op die genetiese, kognitiewe en neurale vlak het. Die vermoede raak egter al hoe sterker dat outisme eerder 'n komplekse steuring is waarvan die belangrikste aspekte verskillende oorsake het wat dikwels saam voorkom.

Outisme: Eienskappe, Moontlike oorsake, Diagnose 
Uitwissing (1), duplisering (2) en omkering (3) is alles chromosoomafwykings wat dalk 'n rol in outisme speel.

Outisme het 'n sterk genetiese basis, hoewel die genetika van outisme ingewikkeld is. Dit is ook onduidelik of OSS beter verduidelik kan word aan die hand van seldsame mutasies met ernstige gevolge, of van seldsame multigeenwisselwerkings van algemene genetiese variante. Kompleksiteite ontstaan vanweë interaksies tussen verskeie gene, die omgewing en epigenetiese faktore wat nie DNS-volgorde verander nie, maar oorerflik is en geenuitdrukking beïnvloed. Baie gene is al met outisme verbind deur die volgordebepaling van die genome van outistiese mense en hulle ouers.

Studies met tweelinge dui daarop dat oorerflikheid 0,7 vir outisme en so hoog as 0,9 vir OSS is, en sibbes van outistiese kinders se kans om ook outisties te wees is 25 so hoog as dié van die algemene publiek. Die meeste van die mutasies wat die risiko op outisme verhoog, is egter nog nie geïdentifiseer nie. Outisme kan gewoonlik nie teruggespoor word na 'n enkelgeenmutasie of 'n enkele chromosoomafwyking nie, en daar is nie bewyse dat enige van die genetiese sindrome wat met OSS verbind word, op sy eie OSS veroorsaak nie. Verskeie kandidaatgene is al gevind, met net 'n klein invloed wat aan 'n besondere geen toegeskryf kan word.

Die groot aantal outistiese individue met onaangeraakte familielede kan die resultaat wees van spontane struktuurvariasies – soos uitwissings, duplikasies of omkerings in genetiese materiaal tydens meiose. 'n Aansienlike deel van outismegevalle is dalk terugspoorbaar na genetiese oorsake wat hoogs oorerflik is maar nie oorgeërf word nie; dit beteken die mutasie wat die outisme veroorsaak, is nie in die ouers aanwesig nie.

Die ma se voeding en ontsteking voor bevrugting en tydens swangerskap beïnvloed fetale neuro-ontwikkeling. Intra-uteriene groeibelemmering word met OSS verbind. Ontsteking en outoïmmuunsiektes in die ma kan fetusweefsel beskadig en 'n genetiese probleem vererger of die senuweestelsel beskadig.

Blootstelling aan lugbesoedeling tydens swangerskap, veral swaar metale en stof, kan die risiko van outisme verhoog. Omgewingsfaktore wat al sonder bewyse daarvoor blameer is dat hulle outisme veroorsaak of vererger, sluit in skere kossoorte, aansteeklike siektes, oplosmiddels, stowwe wat in plastiekprodukte voorkom, insekdoders, alkohol, rook, dwelms en voorgeboortelike stres. Sekere beweerde oorsake, soos die MMR-entstof, is heeltemal verkeerd bewys. Ouers kan dalk die eerste keer van hulle kinders se outismesimptome bewus raak min of meer in die tyd van 'n roetine-inenting. Dit het gelei tot onbewese teorieë waarin entstof-"oorlading", 'n preserveermiddel in entstof of die MMR-entstof vir die outisme blameer word. Laasgenoemde teorie is ondersteun deur 'n studie wat, soos intussen bewys is, 'n bedrogspul was.

Hoewel daar geen wetenskaplike bewyse vir sulke teorieë bestaan nie en hulle biologies onwaarskynlik is, het ouers se kommer oor 'n moontlike verband tussen outisme en inenting gelei tot 'n afname in inentings van kinders, die hernude uitbreek van kindersiektes wat voorheen in sommige lande onder beheer was en die dood van verskeie kinders wat voorkom kon gewees het.

Diagnose

'n Diagnose word geskoei op gedrag, nie oorsaak nie. Volgens DSM-5 word outisme gekenmerk deur volhardende agterstande in sosiale kommunikasie en interaksies in verskeie verbande, sowel as beperkte, herhalende gedragspatrone, belange of bedrywighede. Dié agterstande is teenwoordig in die vroeë kinderjare, gewoonlik voor die ouderdom van drie jaar, en lei tot aansienlike funksionele belemmering. Voorbeelde van simptome sluit in 'n gebrek aan sosiale en emosionele wisselwerking, stereotiepe en herhalende of ongewone taalgebruik en die volhardende preokkupasie met ongewone voorwerpe. Die gedrag moenie beter verduidelik kan word aan die hand van Rettsindroom, verstandelike beperkings of 'n algemene ontwikkelingsagterstand nie. ICD-10 gebruik wesentlik dieselfde definisie.

Outisme: Eienskappe, Moontlike oorsake, Diagnose 
'n Outistiese kind se uitbeelding van vriendskap.

Verskeie diagnostiese instrumente is beskikbaar. Twee wat algemeen in navorsing oor outisme gebruik word, is die Autism Diagnostic Interview-Revised (ADI-R), 'n halfgestruktureerde onderhoud met ouers; en die Autism Diagnostic Observation Schedule (ADOS), wat waarnemings en interaksie met die kind behels. Die Childhood Autism Rating Scale (CARS) word algemeen in kliniese omgewings gebruik om die graad van outisme te bereken aan die hand van waarnemings van kinders. Die Diagnostic interview for social and communication disorders (DISCO) word ook soms gebruik.

'n Pediater doen gewoonlik 'n voorafondersoek deur na die ontwikkelingsgeskiedenis van die kind te kyk en hom te ondersoek. Indien nodig, word 'n diagnose en evaluasie gedoen met die hulp van ASS-spesialiste en gestandaardiseerde meganismes. Enige verwante mediese toestande word ook in ag geneem. 'n Pedriatiese neurosielkundige word dikwels gevra om gedrag en kognitiewe vermoëns te takseer – om 'n diagnose te help maak en om opvoedkundige ingrypings te help aanbeveel. Nog faktore wat in ag geneem kan word, is verstandelike beperkings, gehoorgebreke en 'n spesifieke taalbelemmering soos Landau-Kleffner-sindroom. Die teenwoordigheid van outisme kan die diagnose van verwante sielkundige steurings soos depressie bemoeilik.

Genetiese evaluasies word ook gedoen as OSS eers gediagnoseer is, veral as simptome daarop dui dat die oorsaak geneties kan wees. Hoewel 'n geraamde 40% van gevalle met genetikategnologie aan genetiese oorsake verbind kan word, is riglyne vir konsensus in die VSA en VK beperk tot hoëresolusie-chromosoom- en fragiele X-toetsing. Namate nuwe genetikatoetse ontwikkel word, sal verskeie etiese, regs- en sosiale kwessies ontstaan. Die kommersiële beskikbaarstelling van toetse kan ook lei tot 'n onvoldoende begrip oor hoe om die toetsresultate te gebruik in die lig van die kompleksiteit van outisme se genetika.

Hoewel die simptome van OSS en outisme in die vroeë kinderjare begin, word hulle soms misgekyk. Jare later kan volwassenes mediese hulp soek om hulle en hulle vriende en familie te help om hulle te verstaan, om werkgewers te help om aanpassings te maak of om op sommige plekke aansoek te doen om 'n werkloosheidstoelaag. Tekens van outisme kan moeiliker wees om in vroue raak te sien as in mans, omdat hulle dit blykbaar beter verdoesel. Dit kan insluit om dit te laat lyk of jy normaal optree deur jou gesigsuitdrukkings en oogkontak te beheer. 'n Aansienlike persentasie van vroue met outisme kan verkeerd of baie later gediagnoseer word, of glad nie.

Klassifikasie

Die vyfde uitgawe van die Amerikaanse Psigiatriese Vereniging se Diagnostiese en Statistiese Handleiding van Geestesteurings (DSM-5), wat in 2013 gepubliseer is, was die eerste uitgawe wat OSS as 'n enkele diagnose gedefinieer het. Dit is steeds die geval in die nuutste, hersiene uitgawe, DSM-5-TR, wat in 2022 uitgereik is. OSS sluit vorige diagnoses soos Aspergersindroom, ontwykende-ontwikkelingsteuring, kinderdisintegrasiesteuring, hoogfunksionerende outisme en Rettsindroom in, asook die reeks diagnoses wat die woord "outisme" bevat. Binne dié kategorie word 'n raamwerk ingesluit wat 'n onderskeid tref tussen die graad van die simptome, sowel as verwante eienskappe (byvoorbeeld die teenwoordigheid van ander steurings of faktore wat waarskynlik tot die simptome bydra, ander neuro-ontwikkelings- of geestesteurings, intellektuele onvermoë of probleme met taal). Die simptoomdomeine is sosiale kommunikasie en en beperkte, herhalende gedrag en die graad van negatiewe impak op die individu. Voor die DSM-5 het die DSM sosiale en kommunikasiegebreke in twee domeine verdeel.

Verder het die DSM-5 die aanvangsouderdom verskuif na 'n ouderdom in die vroeë ontwikkelingstydperk met 'n aantekening dat simptome later tot uiting kan kom wanneer sosiale eise vermoëns oorskry – eerder as die vroeëre, beperkender ouderdom van drie jaar. Dit bly dieselfde in die DSM-5-TR.

Toetse

Sowat die helfte van ouers met outistiese kinders merk ongewone gedrag teen die ouderdom van 18 maande op, en sowat vier vyfdes teen 24 maande. Volgens een artikel is dit 'n "absolute aanduiding dat verdere toetse gedoen moet word" as 'n kind aan enige van die kriteria hier onder voldoen. "Uitstel kan 'n vroeë diagnose en behandeling onmoontlik maak en die lantermynresultate belemmer."

  • Geen reaksie op naam (of oogkontak) teen 6 maande nie.
  • Geen babataal teen 12 maande nie.
  • Geen wys- of waaibewegings teen 12 maande nie.
  • Geen enkele woord teen 16 maande nie.
  • Geen (spontane) tweewoordfrases teen 24 maande nie.
  • 'n Verlies van enige taal- of sosiale vermoëns, op enige ouderdom.

In Amerika is in 2016 bevind dit is onduidelik of toetsing vir OSS voor- of nadelig vir kinders is as daar geen rede tot kommer is nie. In Japan word alle kinders op 18 en 24 maande vir OSS getoets met formele, outismespesifieke metodes. In Brittanje word kinders getoets as hulle ouers of dokters moontlike tekens oplet.

Bestuur

Outisme: Eienskappe, Moontlike oorsake, Diagnose 
'n Driejarige kind met outisme wys na 'n vis in 'n akwarium as deel van 'n proefneming om die sukses van behandeling te meet.

Die hoofdoel van die behandeling van outistiese kinders is om die verwante agterstande te verklein en gesinstres te verminder, asook om lewensgehalte en funksionele onafhanklikheid te bevorder. 'n Hoër IK word oor die algemeen verbind met 'n groter reaksie op behandeling en beter resultate. Geen enkele behandeling is die beste nie en behandeling word gewoonlik by die kind se behoeftes aangepas.

Studies oor ingryping het metodologiese probleme wat definitiewe gevolgtrekkings oor die doeltreffendheid daarvan verhoed. Nogtans kan intensiewe spesiale-onderwysprogramme en gedragsterapie vroeg in die kind se lewe hom help om vir homself te sorg, beter te kommunikeer en werksbekwaamhede aan te leer. Dit verbeter ook dikwels funksionaliteit en en verminder die omvang van die simptome en wanaanpassende gedrag; bewerings dat ingrypings teen sowat drie jaar noodsaaklik is, kan nie bewys word nie.

Hoewel medisynes blykbaar nie help met kernsimptome nie, kan dit gebruik word vir verwante simptome, soos irriteerbaarheid, 'n gebrek aan aandag of patrone van herhalende gedrag.

Prognose

Daar is geen bekende geneesmiddel of -metode nie. Die omvang van die simptome kan afneem, soms in so 'n mate dat die persoon nie meer met OSS gediagnoseer kan word nie; dit kan gebeur ná intensiewe behandeling of nie. Dit is nie bekend hoe dikwels dit gebeur nie, maar die aangemelde suksessyfer in ongekeurde voorbeelde wissel tussen 3% en 25%. Die meeste outistiese kinders het teen vyf jaar of vroeër taal aangeleer, hoewel sommige in latere jare kommunikasievermoëns ontwikkel het. Baie outistiese kinders het 'n gebrek aan sosiale steun, 'n uitsig op toekomstige indiensneming en selfbeskikking. Hoewel kernprobleme voortduur, word simptome dikwels minder ernstig namate die persoon ouer word.

As taal voor ses jaar aangeleer is, die kind se IK bo 50 is en hy 'n bemarkbare bekwaamheid het, is die resultate van behandeling waarskynlik beter. In gevalle van ernstige outisme kan die persoon nie op sy eie woon nie.

Struikelblokke is algemeen in die oorgang van outistiese kinders na volwassenheid. In vergelyking met die algemene publiek is outistiese mense minder geneig om 'n werk te kry; volgens een studie is sowat die helfte van outistiese mense in hulle 20's werkloos.

Mense met outisme het ook dikwels verhoogde stresvlakke wat met sielkundig-sosiale faktore verband hou, soos stigma, en dit kan die omvang van geestelikegesondheidsprobleme laat toeneem.

Epidemiologie

Die aantal aangemelde gevalle van outisme het in die 1990's en vroeë 2000's drasties toegeneem. Dié toename is grootliks vanweë veranderings in diagnostiese praktyke, verwysingspatrone, die beskikbaarheid van dienste, ouderdom met diagnose en openbare bewustheid, hoewel ongeïdentifiseerde omgewingsrisikofaktore nie uitgeskakel kan word nie. Die beskikbare bewyse sluit nie die moontlikheid uit dat die werklike gevalle van outisme toegeneem het nie; 'n werklike toename sou daarop dui dat meer aandag en geld aan sielkundig-sosiale faktore en die verandering van omgewingsfaktore bestee moet word eerder as om op genetika te bly fokus.

Daar is vasgestel inenting is nie 'n risikofaktor vir outisme nie en is nie die oorsaak van 'n toename in gevalle, indien daar wel 'n toename is, nie.

Mans het 'n groter risiko om OSS te kry as vroue. Die verhouding van mans tot vroue is 4,3:1. Verskeie teorieë oor dié verskil tussen mans en vroue is al ondersoek, maar die oorsaak kon nie vasgestel word nie. Een teorie is dat vroue minder gereeld gediagnoseer word.

Hoewel daar nie bewyse is dat enige enkele swangerskapsverwante faktor outisme kan veroorsaak nie, word die risiko van outisme verbind met 'n gevorderde ouderdom van een van die ouers, asook met diabetes, bloeding en die gebruik van sielkundemedisyne deur die moeder gedurende swangerskap. Die risiko is groter by ouer vaders as by ouer moeders; twee moontlike verduidelikings is 'n toename op die mutasielas in ouer sperma en die hipotese dat mans later trou as hulle geneties vatbaar is en tekens van outisme toon. Die meeste kenners glo nie ras, etnisiteit of sosiaal-ekonomiese agtergrond beïnvloed die voorkoms van outisme nie.

Verskeie ander toestande is aanwesig by kinders met outisme. Dit sluit in:

  • Genetiese aandoenings. Sowat 10-15% van mense met outisme het 'n identifiseerbare Mendeliaanse (enkelgeen-)toestand, chromosoomafwyking of ander genetiese aandoening, en OSS word met verskeie genetiese steurings verbind.
  • Verstandelike beperkings. Die persentasie van outismegevalle wat ook aan die kriteria vir verstandelike beperkings voldoen, is na berig word tussen 25% en 70%: Die groot variasie illustreer hoe moeilik dit is om die intelligensie van individue op die outismespektrum te bepaal. In vergelyking daarmee is die verbintenis van mense met atipiese outisme met verstandelike beperkings baie kleiner, en per definisie sluit die diagnose van Aspergersindroom verstandelike beperkings uit.
  • Angssteuring is algemeen onder kinders met ASS; daar is geen vaste data nie, maar studies dui op 'n voorkoms van tussen 11% en 84%. Baie angssteurings het simptome wat beter verduidelik kan word deur OSS self of is moeilik om van ASS-simptome te onderskei.
  • Epilepsie, met variasies van risiko volgens ouderdom, kognitiewe vlak en soort taalsteuring.
  • Verskeie metaboliese aandoenings, soos fenielketonurie, word verbind met simptome van outisme.
  • Klein fisieke afwykings kom aansienlik meer gereeld by outistiese mense voor.
  • Uitgeslote diagnoses. Hoewel die DSM-IV die gelyktydige diagnose van baie ander toestande saam met outisme uitsluit, is die volle kriteria vir aandaggebrek-hiperaktiwiteitsteuring (AGHS), Tourettesindroom en ander sulke toestande dikwels teenwoordig en dié onderliggende diagnoses word al hoe meer aanvaar.
  • Slaapprobleme affekteer sowat twee derdes van individue met OSS die een of ander tyd tydens hulle kinderjare. Dit sluit meestal simptome van slapeloosheid in soos probleme om aan die slaap te raak en om dikwels snags of vroeg soggens wakker te word. Slaapprobleme word vereenselwig met slegte gedrag en gesinstres, en is dikwels 'n fokuspunt van kliniese aandag benewens die primêre ASS-diagnose.

Geskiedenis

Outisme: Eienskappe, Moontlike oorsake, Diagnose 
Victor van Aveyron.

'n Paar voorbeelde van outismesimptome en -behandelings is beskryf lank voordat outisme 'n naam gekry het. Die Tafelpraatjies van Martin Luther, wat deur sy aantekenaar Mathesius saamgestel is, bevat die verhaal van 'n 12-jarige seun met kwaai outisme.

Die eerste goed aangetekende geval is dié van Hugh Blair van Borgue in 'n hofsaak in 1747 waarin sy broer suksesvol aansoek doen dat Blair se huwelik ongeldig verklaar word sodat hy Blair se besittings kon erf. Victor, die Wilde Seun van Aveyron wat in 1798 gevang is, het tekens van outisme getoon. Die mediese student Jean Itard het hom met 'n gedragsprogram behandel wat ontwerp was om hom sosiale bande te help vorm.

Die Latynse woord autismus is in 1910 deur die Switserse sielkundige Eugen Bleuler geskep terwyl hy simptome van skisofrenie gedefinieer het. Hy het dit van die Griekse woord αὐτός autós, "self", afgelei en het dit gebruik om te beteken morbiede selfbewondering, in verwysing na "outistiese onttrekking van die pasiënt in sy fantasieë, waarteen enige invloed van buite 'n onuitstaanbare steuring word".

'n Sowjet-kindersielkundige, Groenja Soecharewa, het 'n soortgelyke sindroom beskryf wat in 1925 in Russies en in 1926 in Duits gepubliseer is.

Kliniese ontwikkeling en diagnoses

Outisme: Eienskappe, Moontlike oorsake, Diagnose 
Leo Kanner het die term vroeë kinderoutisme in 1943 geskep.

Die woord "outisme" het in 1938 sy moderne betekenis gekry toe Hans Asperger van die Weense Universiteitshospitaal Bleuler se term "outistiese psigopate" in 'n lesing in Duits oor kindersielkunde gebruik het. Asperger het 'n OSS wat nou as Aspergersindroom bekend is, ondersoek, hoewel dit tot 1981 om verskeie redes nie algemeen as 'n aparte diagnose aanvaar is nie. Leo Kanner van die Johns Hopkins-hospitaal het in 1943 die term outisme die eerste in sy moderne betekenis in Engels gebruik toe hy die term "vroeë kinderoutisme" gebruik het in 'n verslag oor 11 kinders met gedrag wat baie ooreenstem. Feitlik al die eienskappe wat Kanner in sy eerste verslag beskryf het, soos "outistiese alleenheid" en "aandrang op eendersheid", word steeds as tipies van die outismespektrum beskou. Dit is onbekend of Kanner die term onafhanklik van Asperger uitgedink het.

Kanner se hergebruik van "outisme" het gelei tot dekades lange verwarrende terminologie soos "kinderskisofrenie", en die fokus in kindersielkunde op moederlike verwaarlosing het gelei tot wanindrukke soos dat outisme kinders se reaksie op "yskasmoeders" is. In die laat 1960's is outisme as 'n aparte sindroom gevestig.

Terminologie en onderskeiding van skisofrenie

Selfs tot die middel 1970's was daar min bewyse dat genetika 'n rol in outisme speel, terwyl daar in 2007 geglo is dit is een van die oorerflikste sielkundige toestande. Hoewel die toename in ouerorganisasies en die destigmatisering van kinder-OSS beïnvloed het hoe mense OSS beskou, voel ouers steeds sosiale stigma in situasies waar hulle kind se outistiese gedrag as negatief ervaar word. Baie primêresorg- en mediese personeel se opinies spreek ook nog van verouderde outismenavorsing.

Eers in 1980 het die DSM-III tussen outisme en kinderskisofrenie onderskei. In 1987 het die DSM-III-R 'n aftiklys gepubliseer vir die diagnosering van outisme. In Mei 2013 is die DSM-5 uitgereik, en daarin is die klassifikasie vir deurdringende ontwikkelingsteurings bygewerk. Steurings soos outisme, Asperger- en Rettsindroom en atipiese outisme is verwyder en vervang deur die algemene term outismespektrumsteurings. Die twee kategorieë wat bestaan, is belemmerde sosiale kommunikasie en/of interaksie, en beperkte en/of herhalende gedrag.

Die internet het mense met outisme gehelp om nieverbale aanduidings en emosionele boodskappe, wat hulle sukkel om te verwerk, mis te kyk en het hulle 'n manier gegee om aanlyn gemeenskappe te vorm en afgesonderd te werk. Gemeenskaps- en kulturele aspekte van outisme het ontwikkel: Sommige in die gemeenskap soek 'n kuur, terwyl ander glo outisme is bloot nog 'n lewenswyse.

Gemeenskap en kultuur

Outisme: Eienskappe, Moontlike oorsake, Diagnose 
Bewustheid (links, negatief) van outisme teenoor aanvaarding (regs, positief).
Outisme: Eienskappe, Moontlike oorsake, Diagnose 
Strikkies vir bewustheid van outisme.

'n Outismekultuur het ontstaan wat gepaardgaan met outismeregte- en neurodiversiteitsbewegings. Geleenthede sluit in wêreldoutismebewustheidsdag, Outisme-Sondag, Pride-dag vir Outisme, Autreat en ander.

Geleerdes in die sosiale wetenskappe bestudeer mense met outisme in die hoop dat hulle meer sal leer oor "outisme as 'n kultuur, transkulturele vergelykings ... en navorsing oor sosiale bewegings".

Die outismeregtebeweging is 'n sosiale beweging binne die verband van regte vir gestremdes wat klem lê op 'n begrip van neurodiversiteit: om outismespektrum te beskou as die gevolg van natuurlike variasies in die menslike brein eerder as 'n steuring wat genees moet word. Die outismeregtebeweging beywer hom vir groter aanvaarding vir outistiese gedrag, terapieë wat fokus op oorlewingsvaardighede eerder as 'n nabootsing van die gedrag van mense sonder outisme, asook die erkenning van die outistiese gemeenskap as 'n minderheidsgroep.

Voorstanders van outismeregte en neurodiversiteit bepleit 'n siening dat die outismespektrum geneties is en aanvaar moet word as 'n natuurlike uitdrukking van die menslike genoom. Dit verskil van ander menings dat outisme deur omgewingsfaktore veroorsaak word. 'n Algemene kritiek teen outistiese aktiviste is dat die meeste van hulle "hoogfunksionerend" is of Aspergersindroom het, en nie die menings van laagfunksionerende outismelyers verteenwoordig nie.

Verwysings

Eksterne Skakels

  • Outisme: Eienskappe, Moontlike oorsake, Diagnose  Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik uit die Engelse Wiki vertaal.

Tags:

Outisme EienskappeOutisme Moontlike oorsakeOutisme DiagnoseOutisme ToetseOutisme BestuurOutisme PrognoseOutisme EpidemiologieOutisme GeskiedenisOutisme Gemeenskap en kultuurOutisme VerwysingsOutisme Eksterne SkakelsOutisme

🔥 Trending searches on Wiki Afrikaans:

ViëtnamBruin menseSlag van Cuito CuanavaleGeslagSpreeuMusieksimboleFrankrykBosluisbytkoorsStrykysterSkildklierBoelieryLugbesoedelingKarakteriseringEkotoerismeCheslin KolbeKinkhoesDiatomiese molekuulRooibokErns GrundlingNierAfvalbestuurAardePlaattektoniekWaarheid-en-versoeningskommissieRubik se kubusPseudowetenskapSwart menseSpierPornografieWaterbesparing in Suid-AfrikaKoue OorlogKlein-KarooApartheidWaterpokkiesRefentse MorakeWaterkringloopKweekhuisgasMahatma GandhiKlein vyf diereDeelwoordMassaStellenboschSpysverteringstelselOlimpiese SomerspeleSkoenlapperKoerantDoopWêreld- Ekonomiese Forum2001JudaïsmeWoestynBeesvleisToerismeVersamelnaamNaaldekokerLiesbreukLetterkundeKonsentrasiekampLys van nedersettings in Suid-AfrikaOranje-VrystaatTsoenamiDieremishandelingNetbalHeidelberg, GautengAfro-AmerikanersNag van die lang messeWetenskaplike klassifikasieGesondheidSomerMartin Luther King jr.KinderregteEskomVingerseksPapierEkonomiese kwessies in Suid-AfrikaWiki🡆 More