Wiki Afrikaans 2022: Carles Puigdemont
AFVietnameseEnglish

Mercury-Atlas 3

Mercury-Atlas 3: Ruimtevlug en ruimtetuig

Mercury-Atlas 3 (MA-3) was 'n onbemande ruimtevlug wat deel was van die Mercury-program. Dit is op 25 April 1961 om 16:165 UTC vanaf Kaap Canaveral, Florida gelanseer. Die Mercurykapsule het 'n meganiese ruimteman bevat. Mercurykapsule #8 en Atlasvuurpyl # 8 100-D is gebruik vir die sending.[1]

MA-3 begin te lig tydens lansering

Die Atlasvuurpyl wat vir die vlug gebruik is (missiel 100D), het 'n paar verbeteringe gehad voor dit gebruik is, die bedekking van die vuurpyl is dikker gemaak om die massa van die Mercurykapsule te hanteer. Dit is gedoen om die probleem wat met die Mercury-Atlas 1 ondervind is, te oorkom. Dit het ook 'n nuwe verbeterde, telemetrie-eenheid (die vakuumbuise is met transistors vervang) aan boord gehad. Die voordele van die nuwe stelsel is dat dit minder krag gebruik het, kleiner en ligter was en die seinsterke was baie meer konstant, veral met lansering. Dié telemetriestelsel is oorspronklik vir die Atlas-Centaurvuurpyl ontwerp, en is gou aangepas vir die Mercury-program.

Vlug MA-3 het egter bewys dat die Atlasvuurpyl nog nie gereed is vir gebruik om mense te vervoer nie. Die lansering het glad verloop tot T+20 sekondes toe die rol-en-rigtingprosedure nie gevolg is nie en die vuurpyl net reguit opwaarts gevlieg het. Die Mercury-vlugdirekteur, Gene Kranz, beskryf die oomblik as volg: Seconds after the launch, a note of anxiety crept into the Welsh accent of Tec Roberts, the flight dynamics officer (FIDO) responsible for launch and orbital trajectory control, as he reported, "Flight, negative roll-and-pitch program." Skielik het almal in die beheerkamer besef wat aangaan. Die rol-en-rigtingprogram verander die baan van die ruimtetuig na 'n meer horisontale baan wat die vuurpyl oor die Atlantiese Oseaan sou stuur. MA-3 was egter besig om steeds reguit op te vlieg en dit was 'n bedreiging vir die inwoners van Kaap Canaveral en omliggende plekke. Die grootste risiko was dat die ruimtetuig terug land toe sou val of ontplof. Hoe hoër dit gaan voordat dit ontplof hoe groter is die gebied waar al die wrakstukke sou val. Die veiligheidsbeampte wat die lansering dopgehou het, het die ruimtetuig se verontagsaming van die rol-en-rigtingprogram bevestig, en dit nog 'n kans gegee om te herstel en sy vlug oor die Atlantiese Oseaan te begin. Drie-en-veertig sekondes na lansering het die veiligheidsbeampte die vernietig instruksie gestuur omrede die ruimtetuig buite die aanvaarbare veilige beperkings was. Daar is gerapporteer dat die radar meer as een voorwerp wys, wat bevestig het dat die vuurpyl ontplof het.

Lot

Dus het die Mercury-Atlas 3 sending geëindig in 'n reën van wrakstukke wat teruggeval het na die Aarde. Die lanseerontsnapstelsel is geaktiveer die oomblik toe die vernietig instruksie gestuur is, en het die Mercurykapsule na veiligheid geskiet. Dit het 'n apogee van 7,2 km bereik en 1,8 km ver gevlieg. Die vlug van die Mercurykapsule was 7 minute en 19 sekondes lank; die meeste van die tyd het die kapsule aan sy valskerm gehang terwyl dit teruggedaal het Aarde toe. Die tuig is 20 minute na lansering geberg en hergebruik vir die Mercury-Atlas 4 vlug. Die een positiewe gevolg van die sending was dat dit bewys het dat die lanseerontsnapstelsel werk, en betroubaar is. Dit was ook die eerste Mercury-Atlasvlug met 'n aktiewe lanseerontsnapstelsel.

Ondersoek

'n Ondersoek van die telemetriedata het gou gewys dat die oorsaak van die afwyking iewers in die navigasiestelsel was, maar die presiese oorsprong kon nooit bepaal word nie. Dit blyk dat die vuurpyl se rekenaar òf afgeskakel het net na lansering òf 'n kragonderbreking ondervind het, homself weer aangeskakel het en toe nie die rol-en-rigtingprosedure uitgevoer het nie. Twee maande na die ongeluk is die Atlas se rekenaar in diep modder op 'n strand ontdek, nie ver van die lanseerplatform af nie, en deeglik ondersoek. Die presiese oorsaak kon nog nie vasgestel word nie maar verskeie moontlike oorsake is ondersoek. Dit sluit moontlike kontaminasie van pennetjies van die rekenaar in, of 'n oorgangspanning wat kon veroorsaak het dat die rekenaar homself afskakel. Daar was ook bevind dat die rekenaar verskeie ontwerpfoute gehad het wat reggestel moes word.

Verwysings

  1. Loyd S. Swenson Jr., James M. Grimwood, Charles C. Alexander (1966). "10". This New Ocean: A History of Project Mercury - NASA SP-4201. NASA Special Publication-4201 in the NASA History Series. p. 9. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 2009-04-07. Besoek op 26 Junie 2013.AS1-onderhoud: gebruik authors-parameter (link)


Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik vanuit die Engelse Wiki vertaal.