Joseph Albertus “Rooi Joseph” du Plessis (Strydfontein, Winburg, 7 Junie 1855 – Rietfontein, Theunissen, 11 Januarie 1938) is 'n bekende Suid-Afrikaanse boer, beesteler en persoonlikheid.
Hy is bekend as die “Vader van die Afrikanerbees” vir sy rol in die verfyning van die Afrikanerbeesras en die Suid-Afrikaanse landbougeskiedenis. Hy word ook geken vir sy unieke gesegdes en sê-goed.
Joseph du Plessis | |
---|---|
Gebore | Joseph Albertus du Plessis 7 Junie 1855 Strydfontein, Winburg |
Sterf | 11 Januarie 1938 Rietfontein, Theunissen |
Nasionaliteit | Suid-Afrika |
Beroep | Boer |
Bekend vir | Die verfyning van die Afrikanerbeesras |
Eggenoot | Magdalena Christina "Lenie" Smit (25 September 1868 – 9 November 1943) |
Kinders | 10 |
Joseph Albertus du Plessis is op die plaas Strydfontein in die Theunissen distrik gebore op 7 Junie 1855. Hy is die seun van Jacobus Andries du Plessis (10 November 1825 – 3 Oktober 1901), 'n Volksraadslid van die Oranje Vrystaatse Republiek en Jacoba Maria Jacomina Olivier (31 Oktober 1834 – Mei 1895). Rooi Joseph se oupa, ook Joseph du Plessis, het in 1835 vanaf Humansdorp, Kaap Provinsie, saam met die Potgietertrek na die Vrystaat gekom en langs die Vetrivier gaan vestig. Rooi Joseph het op die ouderdom van 20 die plaas Rietfontein van sy oupa bekom en daar sy ryk gestig. Op 3 Junie 1887 trou hy met Magdalena Christina “Lenie” Smit (25 September 1868 – 9 November 1943). Die huwelik is geseënd met 10 kinders, waarvan net 5 volwassenheid bereik het.
Voor die 20ste eeu was daar nie veel gesaai in die Oranje-Vrystaat nie, en die meeste boere het 'n bestaan gemaak uit vee, en byna elke gevestigde Boere-familie in die Vrystaat het hul eie Afrikanerbeeskudde gehad. Op hierdie edel diere, wat die Voortrekkers en hul besittings oor die berge gedra het en eeue lank die mens getrou gedien het, was die Vrystaatse boere gesteld soos Persiese shahs op hulle Arabiere. Hulle het die beeste bestudeer en geteel, en rykdom en roem uit dié kuddes gekry. Toe die Anglo Boere-oorlog uitbreek, was Rooi Joseph op die ouderdom van 44 al klaar bekend as die fynste kenner van die Afrikanerbees en 'n gevestigde boer.
Met die uitbraak van die Anglo-Boereoorlog is Rooi Joseph opgekommandeer en het saam met die Winburgse kommando na Natal vertrek. Saam met sy groot vriend, swaer en later skoonseun, Helgaard Theunissen (na wie die dorp Theunissen vernoem is), wat die kommandant van die Winburgse, Senekalse en Ventersburgse kommando’s onder hoofkommandant Martinus Prinsloo was, het Joseph die oorlog eerstehands leer ken. Sy vrou, Lenie, het met hul vyf kinders op Rietfontein agtergebly en, soos al die boervroue van die tyd, doodnormaal met die boerdery voortgegaan.
Na die val van Bloemfontein het Rooi Joseph die eed van getrouheid aan Brittanje afgelê. Op die advies van Theunissen, het Rooi Joseph direk daarna sy perd opgesaal, 70 Afrikanerkoeie en 'n bul gekies en saam sy getroue voorman, Bêrend, met die beeskudde die nag in verdwyn. So geheimsinnig was hy oor die omgewing waarheen hy met sy beeste gevlug het, dat mense vandag nog debatteer of dit agter die Soutpansberge was of tussen Butha Bethe en Leribe in Lesotho kon wees. Tot die einde van die oorlog het hulle die land vol rondgevlug en die Britte ontduik.
Met sy terugkeer na Rietfontein teen die einde van die oorlog, het hy die plaas en opstal afgebrand gevind, as gevolg van die Britte se verskroeide aarde beleid. Lenie en haar kinders was in die Winburgse konsentrasiekamp. Op sy skoonouers se plaas het hy nog net sy skoonmoeder gekry, en omdat hy byna geen klere aangehad het nie, het sy haastig vir hom 'n baadjie uit vel en wilgerhoutknope gemaak. Die baadjie word vandag in die Oorlogsmuseum op Bloemfontein bewaar.
Voor Lenie kamp toe is, het sy die skape laat skeer, die wol in die spens laat vastrap en die deur gesluit. Toe die huis afgebrand is, het die wol nie gebrand nie en het later uit die murasie gewaai en oor die hele werf verspreid gaan lê. Met die gesin se terugkoms op Rietfontein, kon die kinders die wol bymekaar maak en na Winburg neem, waar hulle dit verkoop het en Rooi Joseph, met die wol se geld, vir hom 'n perdekar, twee perde en lewensmiddele kon koop.
Eugene Marais se verhaal “Afrikanerbeeste” in sy bundel Die Leeus van Magoeba is waarskynlik op Rooi Joseph se oorlogsondervindinge gebasseer. Vir die eerste 20 jaar na die oorlog was Joseph die beeskoning van Suid-Afrika, met sy visie, kennis, ervaring en 71 beeste. Baie mense en Afrikanerbeesboere glo steeds dat dit alleen aan Joseph se oorlogsdade te danke is dat die Afrikanerbees nie uitgesterf het nie.
Na die Verdrag van Vereeniging, is die Departement van Landbou gestig. Hulle het landbou in Suider-Afrika gemoderniseer en die bedryf wetenskaplik en ekonomies verbeter met die stigting van landboukolleges en -skoue. Daar is toe besef dat 'n stamboekregister opgestel moet word asook 'n vereniging vir die beskerming van die Afrikanerbees. 'n Vergadering is toe op 19 Junie 1912 van die land se bekendste Afrikanerbeestelers op Potchefstroom deur Mnr. Alex Holm, prinsipaal van die Potchefstroomse Landboukollege, belê. Na die stigting van die vereniging het Joseph en 5 ander vooraanstaande beestelers (Ferdinand Pieterse, S.P. Erasmus, F. de Wet, A. Greyling en S.P. Fouché) die regeringskudde op die Potchefstroomse Landboukollege se proefplaas beoordeel en hierna 'n standaard van volmaaktheid opgestel. Een van die standaarde was die behoud van die ranker bees se oorspronklike, beeldskone lenigheid.
Joseph het ten nouste saam gewerk met die Vereeniging, die vergaderings bygewoon en aan hul praktiese eise gehoor gegee, maar al het Joseph die “papierboerdery” se riglyne opgestel, het hy homself nie daaraan gesteur nie en sy beeste geteel en met hulle geboer soos hy goed gedink het. Die jong teler het net geweet dat as hy 'n Du Plessis-bul onder sy kaiings bring, ruk dit hulle soos hase orent, en die saaiboer van die Oos-Vrystaat het jaar na jaar sy osse by Rietfontein langs die Vetrivier kom uitsoek. Daardie osse het 14 dae oor land getrek, onmiddellik daarna voor 'n drieskaarploeg gaan inval en na die ploegseisoen weer so vet geword dat hulle broeke dra. Toe Amerikaanse voerresepte om beeste met die maksimum hoeveelheid gewig vleis te belaai, die mode begin word het, het Rooi Joseph 'n teenwoord, “lyfskoon”, geskep en tot in die 21ste eeu is daar nog geen ander term om die elegansie van die fikse, veldgeteelde Afrikanerkoei te tipeer nie. Geleerdes en boere het van regoor Suider-Afrika hom besoek met die hoop om sy meestersformule te identifiseer. Almal kon met 'n brokkie wysheid daar wegstap, maar niemand kon beeste soos die met die J.P. brandmerk op hul boude teel nie.
Vir die laaste 2 jare van sy lewe was hy bedlêend, en op 11 Januarie 1938 kom Rooi Joseph du Plessis tot sterwe op die ouderdom van 83. In 1942, 4 jaar na sy dood koop die Regering Rietfontein van die Du Plessis-familie en bou die Erfenisdam daarop. Herbegrafnis van al die Rietfontein grafte vind op 12 Januarie 1942 by Theunissen plaas. Op Rooi Jozeph se graf is 'n veelbesproke Afrikanerbul uit rooi marmer gekerf. Die graf van hierdie groot man word nou nog besoek.
Behalwe vir sy kennis en raad rakende Afrikanerbeeste, het mense van regoor die land Joseph besoek op Rietfontein, al was dit net om hom te hoor praat of filosofeer. In haar bundel Amper my mense doop Dot Serfontein hom as “Die Profeet van Rietfontein” in die verhaal met die selfde naam. Sy verwys ook na hom as die “Grote van Winburg” en “Die Ou Man van die Vrystaat”.
Joseph en sy familie het jaarliks met 'n wa, osse en skoubeeste na Bloemfontein se skou vertrek. As die wa met Maitlandstraat afgegaan het langs Hoffman-plein, het al wat buite gestaan het nader gekom, en daar was gegroet en voorgestel. Wie lus gehad het, kon op die wa klim, en as die wa die skouterrein binnegaan, was die wa so belaai dat die osse dit skaars kon trek. Nadat Rooi Joseph vir sy vrou Lenie en sy dogters in die Bloemfontein Hotel gereserveer het, het hy, sy seuns en gevolg kamp by die skouterrein opgeslaan, vleis gebraai en ankertjies wyn oopgemaak. Met die Prins van Wallis se besoek aan Suid-Afrika is Rooi Joseph en Prins Edward saam by die treinstasie afgeneem, die skougronde besoek en daarna het die Prins vir hom op Rietfontein gaan kuier.
So geliefd was “Die Ou man van die Vrystaat” gewees, dat sy spreekwoorde nou nog gebruik word. Die bekende skrywer en opvoeder, N.A. Coetzee, het van die bekendstes in Die du Plessis Familieboek opgeteken:
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article Joseph du Plessis, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.
®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.