Koningin Camilla Van Die Verenigde Koninkryk: Koningin-gemalin van die Verenigde Koninkryk sedert 2022

Camilla (op 17 Julie 1947 gebore as Camilla Rosemary Shand en later bekend as Camilla Parker Bowles) is koningin van die Verenigde Koninkryk en 14 ander lande van die Statebond as die vrou van koning Charles III.

Sy het op 8 September 2022 die koningin-gemalin geword toe haar man koning word ná die dood van sy moeder, koningin Elizabeth II. Sy is op Charles se kroning op 6 Mei 2023 as koningin Camilla gekroon.

Camilla
Koningin van die Verenigde Koninkryk
en ander lede van die Statebond
Camilla in 2019.
Camilla in 2019.
Geboortenaam Camilla Rosemary Shand
Gebore 17 Julie 1947 (1947-07-17) (76 jaar oud)
Londen, Engeland
Eggenotes
Kinders
  • Tom Parker Bowles
  • Laura Lopes
Vader Bruce Shand
Moeder Rosalind Cubitt

Camilla het in Oos-Sussex en Suid-Kensington in Engeland grootgeword en het haar opvoeding in Engeland, Switserland en Frankryk ontvang. Sy het in 1973 met die Britse weermagoffisier Andrew Parker Bowles getrou en hulle het twee kinders. Hulle is in 1995 geskei. Camilla was nou en dan romanties by prins Charles betrokke voor en tydens elk van hul eerste huwelike. Hulle verhouding het baie aandag in die internasionale pers ontvang. In 2005 is Camilla met prins Charles getroud in die Windsor Guildhall, en dit is gevolg deur 'n Anglikaanse kerkdiens in die St. George-kapel in Windsor-kasteel.

As die voormalige Hertogin van Cornwall het Camilla openbare verpligtinge nagekom, dikwels saam met haar man. Sy is ook die beskermpersoon, president of lid van verskeie welsyn- en ander organisasies. Sedert 1994 het Camilla 'n veldtog gevoer om mense bewus te maak van osteoporose, waarvoor sy verskeie toekennings ontvang het. Sy het ook bewustheid geskep vir sake soos verkragting, seksuele misbruik, geletterdheid, dierewelsyn en armoede.

Vroeë lewe en opvoeding

Camilla Rosemary Shand is op 17 Julie 1947 in Londen gebore. Haar gesin het hulle tyd verdeel tussen hulle plattelandse huis in Plumpton, Oos-Sussex, en hulle stadshuis in South Kensington. Haar pa, majoor Bruce Shand van die Britse weermag, het later 'n sakeman geword. Haar ma was Rosalind Shand, dogter van Roland Cubitt, 3de baron Ashcombe. Een van haar oumagrootjies, Alice Keppel, was van 1898 tot 1910 'n minnares van koning Edward VII.

Shand het in haar kinderjare 'n geesdriftige leser geword danksy die invloed van haar vader, wat dikwels vir haar voorgelees het. Sy het met honde en katte grootgeword en het op 'n jong ouderdom leer perdry. Volgens haar was haar kinderjare "in elke opsig volmaak".

Toe sy vyf jaar oud was, is Shand na die skool Dumbrells op die dorp Ditchling gestuur. Van 10-jarige ouderdom af was sy 'n leerder by die Queen's Gate School naby die gesin se Londense huis. Een van haar onderwysers, die skrywer Penelope Fitzgerald, wat Frans onderrig het, onthou haar as "slim en lewendig". Van 16-jarige ouderdom af het sy die afrondingskool Mon Fertile in Tolochenaz, Switserland, bygewoon. Daarna het sy ses maande lank Frans en Franse letterkunde in Parys studeer.

Nadat Shand die huis verlaat het, het sy in Kensington en Belgravia 'n blyplek met ander vroue gedeel. Sy het as 'n sekretaresse en ontvangsdame gewerk. Shand het aanhou perdry en het ook geskilder, gehengel en tuinbou beoefen.

Huwelike en kinders

Eerste huwelik

In die laat 1960's het Shand vir Andrew Parker Bowles (toe 'n luitenant in die weermag) ontmoet deur haar jonger broer, Simon, wat vir haar vader se wynmaatskappy in Mayfair gewerk het. Ná 'n aan-en-af-verhouding van 'n paar jaar is hulle verlowing in 1973 in The Times aangekondig. Sally Bedell Smith beweer die aankondiging is sonder die paartjie se medewete deur hulle ouers gedoen, wat Parker Bowles gedwing het om Shand om haar hand te vra. Hulle is op 4 Julie 1973 in Londen getroud. Shand was 25 jaar oud en Parker Bowles 33. Dit is beskou as die "hoëklastroue van die jaar", met 800 gaste. Gaste teenwoordig sluit in prinses Anne, prinses Margaret en die koninginmoeder.

Koningin Camilla Van Die Verenigde Koninkryk: Vroeë lewe en opvoeding, Huwelike en kinders, Hertogin van Cornwall 
Bolehyde Manor in Allington, Wiltshire.

Die paartjie het Bolehyde Manor in Allington gekoop en later Middlewick House in Corsham. Hulle het twee kinders gehad: Tom (gebore 18 Desember 1974), wat 'n peetkind van koning Charles III is, en Laura (gebore 1 Januarie 1978). Albei kinders is in hulle pa se Katolieke geloof grootgemaak; Camilla het Anglikaans gebly.

In Desember 1994, ná 'n huwelik van 21 jaar, het die Parker Bowleses 'n skeisaak aanhangig gemaak op grond daarvan dat hulle al jare lank apart woon. In Julie dié jaar is Camilla se moeder aan osteoporose oorlede, en haar vader het dit later as 'n "moeilike tyd vir haar" beskryf. Die skeisaak is op 3 Maart 1995 afgehandel. Andrew is 'n jaar later getroud met Rosemary Pitman (wat in 2010 oorlede is).

Verhouding met Charles

Camilla Shand het prins Charles na berig word in die middel van 1971 ontmoet. Andrew Parker Bowles het sy verhouding met Shand in 1970 beëindig en het gevry na prinses Anne, Charles se suster. Hoewel Shand en Charles tot dieselfde sosiale kring behoort en soms dieselfde geleenthede bygewoon het, het hulle mekaar nie amptelik ontmoet nie. Hulle biograaf Brandreth beweer hulle het mekaar nie die eerste keer by 'n polowedstryd ontmoet, soos algemeen geglo word, nie. Hulle het mekaar glo die eerste keer ontmoet in die huis van haar vriendin Lucía Santa Cruz, wat hulle amptelik aan mekaar voorgestel het. Hulle het goeie vriende geword en eindelik 'n romantiese verhouding aangeknoop wat algemeen bekend was in hulle sosiale kring. Namate die verhouding ernstiger geword het, het Charles Shand se familie in Plumpton ontmoet en hy het haar aan sommige lede van sy familie voorgestel. Die verhouding is uitgestel nadat Charles oorsee gereis het vir militêre verpligtinge en is kort daarna beëindig.

Daar is verskillende verduidelikings oor hoekom die verhouding doodgeloop het. Robert Lacey het in sy boek Royal: Her Majesty Queen Elizabeth II van 2008 geskryf Charles het Shand te vroeg ontmoet en het haar nie gevra om vir hom te wag toe hy oorsee is nie. Sarah Bradford het in haar boek Diana van 2007 geskryf 'n lid van die nabye kring van sy grootoom lord Mountbatten het beweer Mountbatten het gereël dat Charles oorsee gaan om die verhouding met Shand te beëindig en voorsiening te maak vir 'n verlowing tussen Charles en sy kleindogter, Amanda Knatchbull. Sommige bronne beweer die koninginmoeder het nie Charles se verhouding met Shand goedgekeur nie, want sy wou hê hy moes trou met 'n Spencer-familielid, een van die kleindogters van haar goeie vriendin lady Fermoy. Ander bronne beweer Shand wou nie met Charles trou nie, maar met Andrew Parker Bowles, omdat hulle sedert die laat 1960's 'n verhouding gehad het, of dat Charles besluit het hy wil nie trou voor hy 30 jaar oud is nie.

Die meeste koninklike biograwe stem saam Charles sou nie toegelaat gewees het om met Shand te trou as hy toestemming gevra het nie. Volgens Charles se niggie en peetma Patricia Knatchbull het sommige paleisbeamptes destyds nie gedink Shand is die geskikte vrou vir Charles nie. In 2005 het sy gesê: "As 'n mens terugkyk, kan 'n mens sê Charles moes met Camilla getrou het toe hy die kans gehad het. Hulle het ideaal by mekaar gepas; ons weet dit nou. Maar dit was nie moontlik nie."[...] "Dit sou nie moontlik gewees het nie, nie toe nie."[...] Hulle het egter vriende gebly.

In Augustus 1979 is lord Mountbatten deur die IRL vermoor. Charles was bedroef en het sterk op Camilla Parker Bowles gesteun vir troos. In dié tyd het gerugte begin, onder goeie vriende en in pologemeenskappe, dat Charles en Camilla hulle intieme verhouding hervat het. 'n Bron na aan Parker Bowles het bevestig dat hulle teen 1980 weer minnaars was. Daar is ook bewerings deur koninklike personeel dat dit vroeër begin het. Parker Bowles se man, Andrew, het na berig word die verhouding goedgekeur, terwyl hy verskeie liefdesverhoudings deur hulle huwelik gehad het. Charles het desnieteenstaande gou daarna 'n verhouding met lady Diana Spencer begin. Hulle is in 1981 getroud.

Die verhouding tussen Charles en Camilla het 'n dekade later algemene kennis in die pers geword met die publikasie van Diana: Her True Story in 1992, gevolg deur "Camillagate" (ook bekend as "Tampongate"), die bandopnameskandaal in 1993 toe 'n intieme telefoongesprek tussen Parker Bowles en Charles in die geheim opgeneem en die transkripsies in die geel pers gepubliseer is. Die boek en bandopname het dadelik Charles se openbare beeld geskaad en die media het Parker Bowles swartgesmeer.

In 1994 het Charles eindelik oor sy verhouding met Parker Bowles gepraat in die onderhoud Charles: The Private Man, the Public Role met Jonathan Dimbleby. Hy het in die onderhoud aan Dimbleby gesê: "Mev. Parker Bowles is 'n goeie vriendin van my... vir 'n lang tyd. Sy sal steeds vir 'n lang tyd 'n goeie vriendin bly." Hy het later in die onderhoud erken hulle het hulle vriendskap hervat nadat sy huwelik in 1986 "onherstelbaar skipbreuk gely het".

Beeldherstel

Nadat Charles en Camilla albei geskei is, het Charles verklaar sy verhouding met Parker Bowles is "nieonderhandelbaar". Hy was bewus daarvan dat die verhouding baie negatiewe publisiteit ontlok en het Mark Bolland, wat hy in 1995 aangestel het om sy eie beeld te verbeter, aangestel om Parker Bowles se openbare profiel te poets. Parker Bowles het per geleentheid Charles se nieamptelike metgesel op byeenkomste geword. In 1999 het hulle hulle eerste openbare optrede saam gemaak by die Ritz London Hotel, waar hulle die verjaardagpartytjie van Camilla se suster Annabel Elliot bygewoon het; sowat 200 fotograwe en verslaggewers van oor die wêreld was daar om hulle saam te sien. In 2000 het sy Charles na Skotland vergesel op 'n paar amptelike geleenthede en in 2001 het sy die president van die Britse Osteoporosevereniging geword, wat haar aan die publiek bekend gestel het.

Parker Bowles het later koningin Elizabeth II ontmoet vir die eerste keer sedert die verhouding rugbaar geword het. Dit was op die 60ste verjaardagpartytjie van die voormalige Konstantyn II van Griekeland in 2000. Dit is beskou as 'n oënskynlike stempel van goedkeuring van die koningin op Parker Bowles se verhouding met prins Charles.

Ná 'n reeks verskynings op openbare en private geleenthede het die koningin Parker Bowles na haar gouejubileumvierings in 2002 genooi. Sy het agter die koningin in die koninklike losie gesit op een van die konserte by Buckinghampaleis. Charles het na berig word betaal vir twee voltydse sekuriteitsbeamptes vir haar beskerming. Hoewel Parker Bowles die huis wat sy in 1995 gekoop het bly onderhou het, het sy toe in Clarence House, Charles se amptelike woning sedert 2003, ingetrek. In 2004 het sy Charles op feitlik al sy openbare optredes vergesel. Die media het gegis oor wanneer hulle hulle verlowing gaan aankondig, en mettertyd het meningsopnames in Brittanje gewys 'n huwelik word algemeen gesteun.

Ondanks dié beeldherstelproses het Parker Bowles teenkanting gekry van ondersteuners van Diana wat aan nasioanle koerante geskryf het om hulle opinie bekend te maak, veral nadat Parker Bowles en Charles se trouplanne aangekondig is. Dié menings is op Facebook en TikTok deur internettrolle herhaal op vals steunbladsye en -rekenings wat aan Diana gewy was. In 2023 het The Independent Camilla die invloedrykste vrou van dié jaar genoem in sy "Invloedlys van 2023".

Tweede huwelik

Koningin Camilla Van Die Verenigde Koninkryk: Vroeë lewe en opvoeding, Huwelike en kinders, Hertogin van Cornwall 
Camilla in 2022 op die parlementsopening.

Op 10 Februarie 2005 het Clarence House aangekondig Parker Bowles en die Prins van Wallis is verloof. As 'n verloofring het Charles haar 'n diamantring gegee wat vermoedelik aan sy ouma die koninginmoeder present gegee is nadat sy die lewe aan Charles se moeder geskenk het. As die toekomstige hoof van die Kerk van Engeland was dit omstrede dat Charles met 'n geskeide vrou gaan trou, maar met die toestemming van die koningin, die regering en die Kerk van Engeland kon die twee trou.

Die koningin, premier Tony Blair en die Aartsbiskop van Kantelberg het hulle beste wense in verklarings aan die media uitgespreek. In die twee maande ná die aankondiging het Clarence House 25 000 briewe ontvang, waarvan "95 of 99 persent ondersteunend was"; 908 haatbriewe is ook ontvang, waarvan die dreigendstes aan die polisie gestuur is vir 'n ondersoek.

Die troue sou op 8 April 2005 plaasvind. Op 4 April is aangekondig dit is met 'n dag uitgestel sodat die Prins van Wallis en ander genooide hooggeplaastes die begrafnis van pous Johannes Paulus II kon bywoon. Die seremonie is dus op 9 April 2005 gehou. Charles en Camilla se ouers het dit nie bygewoon nie; in hulle plek het Camilla se seun, Tom, en Charles se oudste seun, William, as getuies geteken. Die koningin en prins Philip het wel die seëndiens agterna bygewoon. Die koningin het ook 'n onthaal in Windsor-kasteel gehou.

Ná die troue het die paartjie vertrek na die prins se landgoed in Skotland, Birkhall, en hulle eerste openbare pligte tydens hulle wittebrood uitgevoer.

Hertogin van Cornwall

Koningin Camilla Van Die Verenigde Koninkryk: Vroeë lewe en opvoeding, Huwelike en kinders, Hertogin van Cornwall 
In 2009 in Brasilië.

Nadat sy die Hertogin van Cornwall geword het, het Camilla outomaties die tweede belangrikste vrou in die Britse volgorde van belangrikheid geword, naas koningin Elizabeth II. Daar is onthul dat die koningin die koninklike volgorde so verander het dat Camilla vierde is op private funksies, naas die koningin, prinses Anne en die koningin se niggie, prinses Alexandra. Binne twee jaar ná die troue het die koningin Camilla se sigbare tekens van lidmaatskap van die koninklike familie uitgebrei: Sy het aan haar die Greville-tiara, wat voorheen aan die koninginmoeder behoort het, geleen en aan haar die wapen van die Orde van die Koninklike Familie van Elizabeth II toegeken.

Koningin Camilla Van Die Verenigde Koninkryk: Vroeë lewe en opvoeding, Huwelike en kinders, Hertogin van Cornwall 
In 'n koets saam met die koningin en prins Charles, 2012.

Ná die troue het Clarence House, prins Charles se amptelike woning, die paartjie se amptelike tuiste geword. Hulle het vir vakansiefunksies in Birkhall gebly en vir familiebyeenkomste in Highgrove House in Gloucestershire. In 2008 het hulle Llwynywermod, Wallis, betrek wat hulle elke jaar in die somer vir besoeke aan Wallis gebruik het. Om tyd saam met haar kinders en kleinkinders deur te bring, onderhou Camilla steeds haar huis Ray Mill House, waarin sy van 1995 tot 2003 gewoon het.

Koningin Camilla Van Die Verenigde Koninkryk: Vroeë lewe en opvoeding, Huwelike en kinders, Hertogin van Cornwall 
Prins Charles en Camilla in November 2005 saam met president George W. Bush en sy vrou, Laura, in die Withuis.

Op 9 April 2012, die sewende herdenking van Camila en die Prins van Wallis se troue, het die koningin die hertogin toegelaat tot die Koninklike Victoriaanse Orde. Op 9 Junie 2016 het die koningin die hertogin toegelaat tot die Privy Council. Op 1 Januarie 2022 het sy Camilla 'n koninklike dame van die Orde van die Kousband gemaak.

Camilla se eerste afspraak op haar eie as die Hertogin van Cornwall was 'n besoek aan die Southampton- Algemene Hospitaal; sy het in Junie 2005 die eerste keer die Britse Vaandelparade (Trooping the Colour) bygewoon en daarna op die balkon van Buckingham-paleis verskyn. Haar eerste oorsese besoek was in November 2005, toe sy en Charles die Verenigde State besoek en president George W. Bush en sy vrou, Laura, in die Withuis ontmoet het.

Sedertdien het die egpaar feitlik die hele wêreld deurreis en onder meer Suid-Afrika besoek. Van die talle hooggeplaastes wat hulle ontmoet het, was pous Benedictus XVI.

Koningin Camilla Van Die Verenigde Koninkryk: Vroeë lewe en opvoeding, Huwelike en kinders, Hertogin van Cornwall 
Camilla ná haar kroning in 2023.

Koningin-gemalin en koningin

Camilla het op 8 September 2022 die koningin-gemalin geword toe haar man die troon as Charles III bestyg ná die dood van sy moeder, koningin Elizabeth II. Op 10 September 2022 was sy op die geleentheid waar Charles amptelik tot koning verklaar is. Sy was 'n getuie saam met haar stiefseun prins William.

Op 29 Maart 2023 het Camilla Charles vergesel op 'n staatsbesoek aan Duitsland, sy eerste buitelandse besoek as monarg. Hulle sou aanvanklik na Frankryk reis voor hulle Duitse besoek, maar dit is uitgestel weens stakings oor Franse pensioenhervormings.

Charles is op 6 Mei 2023 as koning gekroon en Camilla as koningin.

Welsyn en beskerming

Beskermvrou

Camilla is die beskermvrou of president van meer as 100 welsyns- en ander organisasies. Sy is onder andere die erehoofkommodoor van die Britse vloot se mediese diens, kanselier van die Universiteit van Aberdeen, president van die Koninklike Vrywilligersdiens en beskermvrou van die Nasionale Teater. In 2018 en 2020 was sy die onderbeskermvrou van die Koninklike Statebondsvereniging en die Koninklike Dansakademie, waarvan koningin Elizabeth die beskermvrou was.

Osteoporose

Koningin Camilla Van Die Verenigde Koninkryk: Vroeë lewe en opvoeding, Huwelike en kinders, Hertogin van Cornwall 
Die direkteur van die Nasionale Gesondheidsinstitute, Elias Zerhouni, verwelkom Charles en Camilla by die institute se besprekings van osteoporose met die geneesheer-generaal, Richard Carmona, en ander gesondheidsamptenare, November 2005.

In 1994 het Camilla lid van die Nasionale Osteoporosevereniging geword nadat haar moeder daardie jaar aan die siekte gesterf het. Haar ouma aan moederskant is in 1986 aan die siekte dood. Sy het in 1997 beskermvrou van die vereniging geword en is in 2001 as president aangestel.

In 2002 het sy 'n miniboek uitgereik wat vroue help om hulleself teen die siekte te beskerm: A Skeleton Guide to a Healthy You, Vitamins and Minerals. In 2004 het sy 'n konferensie in Dublin bygewoon en die volgende jaar die Nasionale Gesondheidsinstitute in Maryland, VSA, besoek om met gesondheidshooggeplaaste oor osteoporose te praat.

Vir haar werk met osteoporose is twee pryse aan Camilla toegeken, die Ethel LeFrak-prys in 2005 en die Kohnstigtingsprys in 2007. In 2007 is sy 'n erefellow van die King's College London gemaak vir haar werk met osteoporose.

In 2009 het die Nasionale Osteoporosevereniging die Hertogin vn Cornwall-prys geskep vir werk op die gebied van die siekte. In 2016 het sy 'n eredoktorsgraad van die Universiteit van Southampton gekry uit erkenning vir haar werk om mense bewus te maak van osteoporose.

Oorlewendes van verkragting en mishandeling

Nadat sy in 2009 nege verkragtingsentrums besoek en na oorlewendes se verhale geluister het, het Camilla bewustheid daarvan begin skep en maniere verkondig hoe oorlewendes van verkragting en mishandeling kan aanbeweeg ná hulle trauma. Sy besoek dikwels verkragtingsentrums in Brittanje, en ook oorsee wanneer sy reis.

In 2013 het Camilla 'n ontmoeting by Clarence House gereël tussen oorlewendes van verkragting en ondersteuningsgroepe. Sowat 750 hulpsakkies met luuksetoiletware wat deur personeel van Clarence House saamgestel is, is uitgedeel.

Geletterdheid

Koningin Camilla Van Die Verenigde Koninkryk: Vroeë lewe en opvoeding, Huwelike en kinders, Hertogin van Cornwall 
By Peter McLaughlin, hoof van die Doon-skool, wat sy in November 2013 besoek het op haar toer deur Indië.

Camilla is 'n ywerige leser en 'n voorstander van geletterdheid. Sy is die beskermvrou van die Nasionale Geletterdheidstrust en ander geletterdheidsverenigings. Sy besoek dikwels skole, biblioteke en kinderverenigings om vir jong kinders voor te lees. Sy neem ook deel aan vierings soos Internasionale Geletterdheidsdag en Wêreldboekedag.

In 2011 het sy geld geskenk om die Evening Standard se geletterdheidsveldtog te steun en die Hertog van Edinburg vervang as die beskermpersoon van die BookTrust. Sy het ook veldtogte van stapel gestuur en doen dit steeds om geletterdheid te bevorder. In Januarie 2021 het sy die Hertogin van Cornwall se aanlyn klub Reading Room van stapel gestuur vir lesers, skrywers en geletterdheidgemeenskappe om mekaar te ontmoet en inligting oor hulle belangstellings en projekte uit te ruil. In Oktober 2021 het sy die beskermvrou geword van Silver Stories, 'n welsynorganisasie wat jongmense met ouer mense in aanraking bring en hulle aanmoedig om stories oor die telefoon aan hulle voor te lees.

Ander terreine

Camilla is 'n ondersteuner van dierewelsyn en die beskermvrou van baie sulke organisasies. Sy is ook president van die Brits gebaseerde Brooke-dierehospitaal vir perde, donkies en muile. In 2015 het sy met die afdelingswinkel Fortnum & Mason saamgewerk om 250 bottels heuning te verkoop wat in haar privaat tuin in Wiltshire vervaardig is; dit het binne twee weke uitverkoop. Die opbrengs is geskenk aan die welsynorganisasie Medical Detection Dogs, waarvan sy die beskermvrou is. Sedertdien stuur sy elke jaar 'n beperkte hoeveelheid heuning aan Fortnum & Mason, en die opbrengs gaan na haar ander welsynorganisasies.

Camilla steun organisasies oor die wêreld heen wat armoede en dakloosheid beveg. Sy ondersteun ook gesonde eetgewoontes en kuns- en erfenisorganisasies, en spreek haar uit teen vroulike genitale verminking.

Titels, aanspreekvorme en wapen

Camilla se koninklike monogram as koningin (links) en as Hertogin van Cornwall.

Toe Camilla met Charles trou, het sy die titel en aanspreekvorm "Haar Koninklike Hoogheid die Hertogin van Cornwall" gekry. In Skotland was sy bekend as "Haar Koninklike Hoogheid die Hertogin van Rothesay". Wetlik was Camilla die Prinses van Wallis, maar sy het die vroulike vorm van haar man se volgende hoogste titel, die Hertog van Cornwall, aangeneem omdat die titel Prinses van Wallis so sterk met Charles se eerste vrou, Diana, verbind is.

Koningin Camilla Van Die Verenigde Koninkryk: Vroeë lewe en opvoeding, Huwelike en kinders, Hertogin van Cornwall 
Koningin Camilla se wapen.

In 2021, ná die dood van prins Philip, Hertog van Edinburg, het Charles sy pa se titels geërf en het Camilla amptelik die Hertogin van Edinburg geword. In September 2022, toe Charles koning word, is al sy titels in die kroon opgeneem.

Clarence House het ná Charles en Camilla se troue in 2005 verklaar dat sy ná Charles se kroning die titel prinses-gemalin sal hê in plaas van koningin. Daar was egter geen wetlike of historiese presedent vir so 'n titel nie. In 2022 het koningin Elizabeth II gesê dit is haar wens dat Camilla as die koningin-gemalin bekend sal wees wanneer Charles die troon bestyg.

Toe Charles koning word, het Camilla die titel "Haar Majesteit die koningin-gemalin" aangeneem, wat haar onderskei het van koningin Elizabeth II. Sedert die kroning is haar titel "Haar Majesteit die koningin", in ooreenstemming met vorige koningin-gemalinne.

Kinders

Naam Gebore Getroud Kinders
Datum Gade
Tom Parker Bowles 18 Desember 1974 10 September 2005
Geskei 2018
Sara Buys Lola Parker Bowles
Freddy Parker Bowles
Laura Parker Bowles 1 Januarie 1978 6 Mei 2006 Harry Lopes Eliza Lopes
Louis Lopes
Gus Lopes

Verwysings

Aangehaalde bronne

Nog leesstof

  • Tyrrel, Rebecca (2003). Camilla: An Intimate Portrait. Short Books. ISBN 1-904095-53-4.

Skakels

  • Koningin Camilla Van Die Verenigde Koninkryk: Vroeë lewe en opvoeding, Huwelike en kinders, Hertogin van Cornwall  Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik uit die Engelse Wiki vertaal.

Tags:

Koningin Camilla Van Die Verenigde Koninkryk Vroeë lewe en opvoedingKoningin Camilla Van Die Verenigde Koninkryk Huwelike en kindersKoningin Camilla Van Die Verenigde Koninkryk Hertogin van CornwallKoningin Camilla Van Die Verenigde Koninkryk Koningin-gemalin en koninginKoningin Camilla Van Die Verenigde Koninkryk Welsyn en beskermingKoningin Camilla Van Die Verenigde Koninkryk Titels, aanspreekvorme en wapenKoningin Camilla Van Die Verenigde Koninkryk KindersKoningin Camilla Van Die Verenigde Koninkryk VerwysingsKoningin Camilla Van Die Verenigde Koninkryk Nog leesstofKoningin Camilla Van Die Verenigde Koninkryk SkakelsKoningin Camilla Van Die Verenigde Koninkryk17 Julie1947Charles III van die Verenigde KoninkrykKoningin Elizabeth IIStatebond

🔥 Trending searches on Wiki Afrikaans:

Lys van chemiese elemente volgens atoomgetalPablo PicassoJewgeni PrigozjinTafelbergPampoentjiesPenisBraaiDriedimensioneelPiesangNommertekenTwaalf Stamme van IsraelProteïenInternetWaterVoedselkettingMenseregtedagKlimaatNarsistiese persoonlikheidsteuringPlae van EgipteWillie JoubertDikdermStad20ste eeuSeksismeSwart menseRoofvoëlTennisSteenkool in Suid-AfrikaLeierskapBloedvergiftigingHoofstadKlavierStereotipeMagnetismeBreyten BreytenbachBateKorrupsieMartin Luther King jr.BladwisselendGordelroosSanskritRooipandaGeallieerdes van die Tweede WêreldoorlogAbstraksie (rekenaarwetenskap)BrandbergSpringbokkeUniegebouViëtnamShakaJodeSteenkoolKappie (skryfteken)GeldeenheidKunselementeBloutongsiekteBrittany Ashton HolmesVlag van Suid-AfrikaInflasieWerwelkolomLys van Suid-Afrikaanse musikanteVersamelnaamChatGPTPreseminale vloeistofDistrik SesSiekteWelwillendheidsdagGetalMaatskaplike verantwoordelikheidJode in Suid-AfrikaAngina pectorisHernubare energieAfkortingIngrid JonkerOm-te-infinitiefkonstruksieTrekarbeidLys van Nederlandse skilders🡆 More