Pous Benedictus XVI (Latyns: Benedictus PP.
XVI, Italiaans: Benedetto XVI; gebore as Joseph Alois Ratzinger in Marktl, Duitsland, op 16 April 1927; oorlede op 31 Desember 2022 in Vatikaanstad) was die 265ste pous van die Rooms-Katolieke Kerk tussen 2005 en 2013. Hy is op 19 April 2005 verkies tydens die konklaaf van April 2005, wat gehou is na die dood van Pous Johannes Paulus II. Op 28 Februarie 2013 het pous Benedictus XVI geabdikeer. Die naam ‘Benedictus’ beteken 'geseënde'. Hy was die eerste Duitse pous van die Rooms-Katolieke Kerk in 455 jaar (naamlik sedert die pontifikaat van die Duits-Nederlandse pous Adrianus VI uit Utrecht in die Heilige Romeinse Ryk). Pous Benedictus XVI is op 13 Maart 2013 opgevolg deur Pous Franciskus.
Pous Benedictus XVI | |
---|---|
Geboortenaam | Joseph Alois Ratzinger |
Pontifikaat begin | 19 April 2005 |
Pontifikaat eindig | 28 Februarie 2013 |
Voorganger | Johannes Paulus II |
Opvolger | Franciskus |
Gebore | 16 April 1927 Marktl, Duitsland |
Sterf | 31 Desember 2022 (op 95) Vatikaanstad |
Ander pouse genaamd Benedictus |
Die Vatikaan het op 11 Februarie 2013 aangekondig dat pous Benedictus XVI op 28 Februarie 2013 sal bedank. Die vorige pous wat bedank het, was pous Gregorius XII in 1415.
Benedictus XVI is op 31 Desember 2022 op 95 by sy woning in die Vatikaanstad oorlede.
Pous Benedictus XVI het sy hoërskoolloopbaan met 'n abitur in die destydse Humanistische Gymnasium in Traunstein, Beiere (Duitsland) voltooi. Die skool het intussen van perseel gewissel en heet nou die Chiemgau Gymnasium.
Tydens 'n lesing wat pous Benedictus XVI tydens sy besoek aan die Duitse deelstaat Beiere (9 tot 14 September 2006) op 12 September aan die Universiteit van Regensburg gehou het, het hy groot ontsteltenis in die Islamitiese wêreld veroorsaak. Benedictus XVI het kritiese uitlatings oor die profeet Mohammed aangehaal wat oorspronklik in 1391 deur die Bisantynse keiser Manuel II Palaiologos gemaak is.
Alhoewel die pous later verduidelik het dat hy nie sy eie opinie in sy lesing wou uitspreek nie, het sy uitlatings tot straatoptogte in Islamitiese lande gelei. Tydens 'n ontmoeting met Islamitiese diplomate en verteenwoordigers van Moslemgemeenskappe in Castel Gandolfo het die pous op 25 September sy respek vir die Islamitiese godsdiens beklemtoon. In Oktober 2006 het 38 Islamitiese regsgeleerdes sy verskoning aanvaar.
Nog voor sy amptelike besoek aan Brasilië (9 tot 14 Mei 2007) was die regering in Brasília ontsteld oor uitlatings wat die pous oor die aborsie-kwessie in Meksiko gemaak het. Hy het begrip en steun vir Meksikaanse kerkleiers uitgespreek wat gedreig het om politici te ekskommunikeer wat 'n liberale wetgewing ten opsigte van aborsie steun.
In Brasilië het Benedictus XVI beweer dat die kerstening tydens die kolonisasie van Latyns-Amerika nie aan die inheemse bevolking opgedwing is nie, maar dat hulle self Christene wou word.
Die pous se toespraak tydens die Kersfees van 2008 het onder meer beledigende woorde vir die LGBT-gemeenskappe bevat en is deur teoloë en politici in Duitsland en ander lande skerp veroordeel en as haatspraak beskryf.
Die rehabilitasie van vier tradisionalistiese biskoppe, waaronder Richard William, wat onder meer met sy ontkenning van die Joodse volksmoord deur die Nazi's opspraak gewek het, is vroeg in 2009 deur Duitse teoloë en die biskop van Rottenburg-Stuttgart, Gebhard Fürst, skerp veroordeel.
Wiki Commons bevat media in verband met Pous Benedictus XVI. |
Voorafgegaan deur Julius Döpfner | Aartsbiskop van München en Freising 1977–1982 | Opgevolg deur Friedrich Wetter |
Voorafgegaan deur Franjo Šeper | Prefek van die Gemeente vir die Leerstelling van die Geloof 1981–2005 | Opgevolg deur William Levada |
Voorafgegaan deur Bernardin Gantin | Dekaan van die Kollege van Kardinale 2002–2005 | Opgevolg deur Angelo Sodano |
Voorafgegaan deur Johannes Paulus II | Pous (Pontifex Maximus) 2005–2013 | Opgevolg deur Franciskus |
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article Pous Benedictus XVI, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.
®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.