Vroulike Genitale Verminking

Vroulike genitale verminking, ook vroulike besnyding, is 'n omstrede prosedure waartydens die vroulike geslagsdele (gewoonlik die klitoris) vir nie-mediese redes verwyder of beseer word.

Die prosedure word vir tradisionele, kulturele en gelowige redes uitgevoer. In baie kulture word dit as 'n deurgangsrite beskou en word dit tussen die ouderdom van 0 en 15 uitgevoer.

Vroulike Genitale Verminking
Verskillende soorte vroulike genitale verminking
Vroulike Genitale Verminking
Uitvoering van vroulike besnyding in Afrika, soos gemeld deur afrol.com

Die prosedure word veral in Afrika uitgevoer, maar ook in die Midde-Ooste en, as gevolg van globalisering, het die gewoonte ook na die Weste uitgebrei. 'n Beraamde 100 tot 140 miljoen vroue dwarsoor die wêreld is besny, waarvan 92 miljoen in Afrika.

Genitale verminking is uiters pynlik, aangesien die geslagsdele die meeste senuweepunte bevat. Die omstandighede waarin dit uitgevoer word, stel miljoene meisies se lewens in gevaar, veral in Afrika. Dit word gewoonlik deur tradisionele besnyders in onhigiëniese omstandighede (dikwels sonder verdowing) uitgevoer, wat tot oormatige bloeding kan lei, asook tot probleme met urinering. Komplikasies kan later in 'n vrou se lewe ook tot probleme tydens haar bevalling of selfs die dood van haar baba lei.

Die omstredenheid van die prosedure berus op die feit dat dit geen gesondheidsvoordele inhou nie en dat die verminking of verwydering van 'n vrou se geslagsdele wêreldwyd as 'n skending van menseregte beskou word. Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie is dit 'n skending van kinderregte, 'n persoon se reg tot gesondheid, veiligheid en liggaamlike integriteit, die reg om nie gemartel of aan wrede, onmenslike of afbrekende behandeling onderwerp te word nie, asook die reg tot lewe, in die gevalle waar die prosedure in die dood eindig.

Dit word ook as diskriminerend en simbolies van die ongelykheid tussen mans en vroue gesien. Besnyde vroue kan nie seksuele bevrediging ervaar nie en haar lojaliteit aan haar man word so "gewaarborg".

Prosedures

Verskillende vorms van besnyding word as vroulike genitale verminking beskou.

  • Klitoridektomie: die gedeeltelike of algehele verwydering van die klitoris of, in enkele gevalle, die vel wat die klitoris omhul.
  • Uitsnyding: die gedeeltelike of algehele verwydering van die klitoris en die buitenste skaamlippe.
  • Infubilasie: die vaswerk en/of vernouing van die opening na die vagina ('n klein gaatjie word vir menstruasie gelaat). Die klitoris, buitenste en binnenste skaamlippe word gedeeltelik of geheel en al verwyder.
  • Ander: alle ander prosedures waardeur die vroulike geslagsdele beseer word, byvoorbeeld die prik, deurboring, insnyding, skraping en branding van die geslagsdele.

Gebruik

Vroulike Genitale Verminking 

Oor die algemeen word die prosedure op jong meisies uitgevoer, van na die geboorte tot die ouderdom van 15. Nou en dan word dit ook op volwasse vroue uitgevoer. 'n Beraamde drie miljoen meisies word elke jaar in Afrika besny.

Die gebruik is veral algemeen in die westelike, oostelike en noordoostelike streke van Afrika, maar ook in sommige lande in Asië en die Midde-Ooste (byvoorbeeld Jemen, Saoedi-Arabië, Irak, Jordanië en Sirië) en in buitelandse gemeenskappe in die Weste, byvoorbeeld in die Verenigde State, Australië, Kanada, Denemarke, Frankryk, Italië, Nederland, Swede en die Verenigde Koninkryk. Daar is egter 'n groot verskil in die aantal besnyde vroue in Afrika- en Westerse lande: in Kenia is 'n beraamde 32% van die vroulike bevolking besny (98% in die noordoostelike streke), in vergelyking met 'n beraamde 76 000 in die Verenigde Koninkryk.

In sommige ontwikkelende lande is die prosedure steeds wettig, of word dit nie deur 'n spesifieke wet gedek nie.

Kulturele en gelowige tradisie

Vroulike genitale verminking word in verskeie kulture regoor die wêreld vir verskeie redes uitgevoer. In sommige lande het dit as deel van 'n ouer geloof ontstaan, maar, alhoewel 'n nuwer geloof miskien tans heers, het die gebruik 'n tradisie geword en word dit deur die kultuur aanvaar.

Baie kulture glo dat vroulike besnydenis nodig is om 'n meisie goed op te voed - 'n goeie manier om haar op volwassenheid en die huwelik voor te berei. Dikwels gaan dit gepaard met die geloof dat dit "onfatsoenlike" seksuele gedrag ontmoedig, soos voorhuwelikse seks en ontrouheid. Die skending van die klitoris of die vernouing/hegting van die vaginale opening sorg vir onbevredigende of pynlike seks en daar word geglo dat hierdie vroue dan die verleiding van 'n voorhuwelikse of buite-egtelike seksuele verhouding sal weerstaan.

Daar is ook 'n heersende geloof in sommige kulture dat hierdie geslagsdele immoreel of "vuil" is en dat besnydenis die sedigheid en skoonheid van hierdie meisies verseker.

Géén van die wêreld se godsdienstige skrifte vereis of beveel vroulike besnydenis aan nie. Binne-in dieselfde gelowe is daar leiers wat dit aanveg of juis vir die behoud daarvan veg.

Gesondheidsgevare

Die besnyding van 'n vrou se geslagsdele is nie voordelig vir haar gesondheid nie, maar juis nadelig vir haar fisiese en/of geestelike gesondheid, aangesien dit die verwydering/beskadiging van gesonde geslagsweefsel behels en inbreuk maak op die normale funksionering van die vroulike liggaam. In die meerderheid gevalle word dit ook sonder verdowing gedoen, met 'n glasskerf, stomp mes of skerp blik as instrument.

Onmiddellike komplikasies:

  • uiterste pyn,
  • skok,
  • bloedverlies,
  • tetanus of sepsis,
  • urienretensie,
  • sere op die geslagsdele en
  • beskadiging van aanliggende geslagsweefsel.

Langtermynkomplikasies:

  • herhalende blaas- of urienweginfeksies,
  • siste,
  • onvrugbaarheid,
  • verhoogde risiko van bevallingskomplikasies en afsterwe van pasgebore babas en
  • herhaalde sjirurgiese ingrepe benodig.

In die geval van infubilasie word die gehegte vaginale opening weer oopgemaak om seksuele omgang met haar man toe te laat en daarna weer geheg. By swanger vroue word die hegting dan ook weer verwyder voor geboorte en daarna weer geheg. Hierdie herhaalde hegting van die opening verhoog die risiko van beide onmiddellike en langtermynkomplikasies.

Bekamping

Drie van die Verenigde Nasies se instellings, die Wêreldgesondheidsorganisaie (WGO), die Kinderfonds (UNICEF) en die Bevolkingsfonds (UNFPA), het in 1997 'n verklaring teen vroulike genitale verminking uitgereik. In 2008 is 'n nuwe weergawe uitreik, wat wyer ondersteuning ontvang het, met die doel om afskaffing van die prosedure aan te moedig.

Instellings streef onder andere na die onwettigverklaring van vroulike genitale verminking in alle lande. Daar word egter gevrees dat deur die prosedure bloot te verban 'n ongewenste effek sal hê, waar, soos in die geval van onwettige aborsies, families hulle tot besnyders op die "swart mark" sal wend, wat net tot hoër sterfgetalle sal lei. Daar word dus gepoog om gemeenskappe te oortuig om dit af te skaf, deur die beskadigende effekte daarvan op vrouens te beklemtoon. Uit ondersoek het geblyk dat hierdie metode die suksesvolste is en dat, sodra 'n gemeenskap van die nadele van die prosedure oortuig is, dit vinnig stopgesit word.

Die WGO merk egter dat die prosedure toenemend deur opgeleide gesondheidsmedewerkers uitgevoer word en, alhoewel dit tot 'n afname in onmiddellike komplikasies kan lei, dit dui op 'n groter aanvaarding van die gebruik binne-in 'n kultuur.

Bronnelys

Eksterne skakels

Tags:

Vroulike Genitale Verminking ProseduresVroulike Genitale Verminking GebruikVroulike Genitale Verminking Kulturele en gelowige tradisieVroulike Genitale Verminking GesondheidsgevareVroulike Genitale Verminking BekampingVroulike Genitale Verminking BronnelysVroulike Genitale Verminking Eksterne skakelsVroulike Genitale VerminkingGeslagsorgaanKlitoris

🔥 Trending searches on Wiki Afrikaans:

Skoonma-se-tongBernice WestAntarktikaKolitisMagda van BiljonBrasiliaanse nasionale rugbyspanDanie du ToitOnderhandelinge om apartheid te beëindigKrieketHeilige SaterdagDemi Lee MooreGoudDuitse masels2023Oorlog in Soedan (sedert 2023)Hannes van WykWillie EsterhuizenLys van bekende Suid-AfrikanersIndustriële RevolusieRooiwaterGesinsdagGerrie PretoriusPofadder (slang)Afrikaanse WikipediaBorsklierTuisbladSenuweestelselWaarheid-en-versoeningskommissieKolorektale kankerWikiHeliosfeerDikdermAntieke EgipteErica BoyerBelgiese gewesteTurkyeAlfabetiese lys van Suid-Afrikaanse bomeSwedeSally EsterhuizenTropiese sikloonWayback MachineKangaroeGrasfamilieKat26 MaartKunsSonnestelselRegardt van den BerghCobus RossouwLN.P. van Wyk LouwGedigPubiese hareMaroela MediaRacheltjie de BeerEerste WêreldoorlogVolhoubaarheidDagroofvoëlsOssewaLys van Suid-Afrikaanse musikanteDeon MeyerAndré SchwartzVaginale kankerVerkleinwoordGetalGeslagMenslike seksuele gedragDermpoliepSowjetunieSeksInligtingMarita NapierNederlands🡆 More