Die Radio Kalahari Orkes (soms afgekort RKO) is ‘n Suid-Afrikaanse musiekgroep, wat Afrikaanse Boeremusiek verwerk en op ʼn eksentrieke en unieke wyse weergee met instrumente soos ʼn blikkitaar (ramkie), mondfluitjie, banjo, viool, trekklavier en mandolien.
In 2005 het die joernalis en skrywer, Rian Malan, begin om navorsing te doen oor die 1930 Afrikaner-rebelmusikant, David de Lange, wat Amerikaanse jazzmusiek vertaal het na Afrikaans. Radio Kalahari Orkes se fondasie is geskoei op hierdie navorsing en het verder uitgevloei en het meer genres betrek in hul klank.
Die groep word gelei deur die veteraanakteur en storieverteller, Ian Roberts (sang en kitaar), gevolg deur Alicia van Dyk (sang en trekklavier), Barry Steenkamp (baskitaar), Bradley Cooper (tromme), Friso Woustra (kitaar) en Wynand Davel (viool).
Die skrywers van die lirieke wissel tussen Rian Malan en Ian Roberts. Musiek was nog altyd deel van Roberts se lewe en hy het met Afrika-klanke op sy pa se sitrusplaas in die Oos-Kaap grootgeword, waar hy musiek gemaak het met eenvoudige instrumente saam met plaasmense wat hom aan Afrika-musiek blootgestel het.
Die groep het al 'n hele aantal albums vrygestel: Stoomradio, Die Nagloper, Opgestook, Heuningland en Grootste Treffers. Die Radio Kalahari Orkes speel ook graag verwerkings met ander kunstenaars en het al saam met Chris Chameleon, Valiant Swart en Jack Parow opnames gemaak.
Die lirieke word beïnvloed deur verskeie genres soos Kwêla, Afrikana, Ghoema, asook klanke van regoor die wêreld. Die liedjies vertel stories met humoristiese aspekte en is gebaseer op die lewe in Suid-Afrika.
Hier volg van die albums wat die Radio Kalahari Orkes vrygestel het:
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article Radio Kalahari Orkes, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.
®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.