Die rendier (Rangifer tarandus), in Noord-Amerika ook bekend as die kariboe, is ’n spesie Hertagtiges wat inheems is aan die arktiese, subarktiese, toendra- en bergstreke van Noord-Europa, Siberië en Noord-Amerika.
Dit sluit bevolkings in wat op dieselfde plek bly en dié wat rondtrek. Die diere word soms ook takbokke genoem, hoewel laasgenoemde term eintlik na alle herte verwys.
Rendier Tydperk: Pleistoseen – hede | |
---|---|
Wetenskaplike klassifikasie | |
Koninkryk: | |
Filum: | |
Klas: | |
Orde: | |
Familie: | |
Subfamilie: | |
Genus: | Rangifer (C.H. Smith, 1827) |
Spesie: | R. tarandus |
Binomiale naam | |
Rangifer tarandus (Linnaeus, 1758) | |
Subspesies | |
Sien teks. | |
Rendier-habitats in Noord-Amerika en Eurasië. |
Hoewel hulle oor die algemeen wydverspreid en talryk is, is sommige subspesies skaars en minstens een het al uitgesterf.
Rendiere wissel aansienlik in kleur en grootte. In die meeste bevolkings groei albei geslagte jaarliks nuwe gewei (takbokhorings), maar in ’n paar spesies het die ooie nie gewei nie. Die ramme se gewei is gewoonlik baie groot.
Die jag en aanhou van rendiere (vir die vleis, vel, melk en vervoer) is belangrik vir sommige arktiese en subarktiese volke. In Lapland trek rendiere sleë, nes die vlieënde rendiere in stories oor Kersvader.
Die hele tarandus-spesie word vanweë sy verspreiding en groot bevolkings deur die Internasionale Unie vir die Bewaring van die Natuur (IUBN) gelys as "laer risiko", hoewel sekere subspesies, bevolkings en troppe in Noord-Amerika aan die afneem is en een subspesies, die ikoniese noordelike boslandkariboe, sedert 2002 deur die Kanadese bewaringsvereniging COSEWIC as "bedreig" beskou word.
Veertien subspesies word erken in Mammal Species of the World (3de uitg.). Van hulle het twee uitgesterf. Nog drie spesies word deur sommige erken.
Subspesie | Naam | Afdeling | Habitat | Ram se gewig |
---|---|---|---|---|
R. t. buskensis (Millais, 1915) | Bosland | Rusland en omstreke | Geen data | |
R. t. caboti** (G.M. Allen, 1914) | ||||
R. t. caribou (Gmelin, 1788) | Boslandkariboe | Noordelike woude | Suid-Kanada en Noordwes-VSA | Grootste |
R. t. granti | Grant-kariboe | Toendra | Alaska, VSA en Yukon, Kanada | |
R. t. fennicus (Lönnberg, 1909) | Finse bosrendier | Bosland | Noordwes-Rusland en Finland | 150-250 kg |
R. t. groenlandicus (Borowski, 1780) | Toendra | Nunavut en Noordwestelike gebiede, Kanada, en Wes-Groenland | 150 kg | |
R. tarandus osborni** (J. A. Allen, 1902) | Osborn-kariboe | Brits-Columbië, Kanada | Geen data | |
R. t. pearsoni (Lydekker, 1903) | Nowaja Zemlja-rendier | Eilandspesie | Nowaja Zemlja, Rusland | Geen data |
R. t. pearyi (J. A. Allen, 1902) | Eilandspesie | Arktiese eilande van Nunavut en Noordwestelike gebiede, Kanada | Kleinste in Noord-Amerika | |
R. t. phylarchus (Hollister, 1912) | Kamtsjatka-rendier | Bosland | Kamtsjatka en streke om die See van Ochotsk, Rusland | Geen data |
R. t. platyrhynchus (Vrolik, 1829) | Svalbard-rendier | Eilandspesie | Svalbardeilande van Noorweë | Kleinste subspesie |
R. t. sibiricus (Murray, 1866) | Siberiese toendrarendier | Siberië, Rusland | Geen data | |
R. t. tarandus (Linnaeus, 1758) – caribou | Bergrendier – kariboe | Toendra of berge | Arktiese toendra van Fennoscandia-skiereiland in Noorweë | Geen data |
R. t. terraenovae** (Bangs, 1896) | ||||
R. t. valentinae** | Oeralgebergte, Rusland, en Altaigebergte, Mongolië | Geen data |
Subspesie | Naam | Habitat | Uitgesterf sedert |
---|---|---|---|
† R. t. dawsoni (Thompson-Seton, 1900) | Haida Gwaii-kariboe | Haida Gwaii | 1910 |
†R. t. eogroenlandicus | Arktiese rendier | Oos-Groenland | 1900 |
Die tabel sluit die R. t. caboti, R. t. osborni en R. t. terraenovae in wat volgens ’n studie van 1961 nie geldige subspesies is nie, hoewel sommige kenners hulle wel as geldig beskou.
Sommige van hierdie subspesies kan weer verdeel word in ekotipes na gelang van verskeie gedragsfaktore – hoofsaaklik habitatgebruik (noordelik, toendra, berg, bergwoude, noordelike woude, bosse ensovoorts en of hulle rondtrek of nie.
Die glasiale en interglasiale siklusse van die Opper-Pleistoseen het ’n groot invloed op die evolusie van Rangifer tarandus en ander Arktiese en sub-Arktiese spesies gehad. Die isolasie van die rendier tydens die laaste glasiale tyd het "intraspesie-verskeidenheid" teweeggebring, veral in die Amerikaanse en Eurasiese deel van die Arktika.
In die meeste bevolkings groei diere van albei geslagte gewei – dit is die enigste Cervidae-spesie waar ramme én ooie horings kry. In die Skandinawiese bevolkings val ou ramme se gewei in Desember af, jong ramme s’n in die vroeë lente en ooie s’n in die somer. Die gewei het gewoonlik twee verskillende stange of groepe punte, ’n onderste en boonste stang. Daar is aansienlike verskille in die grootte van die gewei van verskillende subspesies (byvoorbeeld klein en dun in die mees noordelike subspesies), maar gewoonlik is die ramme se gewei die grootste horings van alle lewende hertsoorte, naas die Amerikaanse eland (moose), en die grootste in vergelyking met die lyf. Sommige subspesies se gewei kan tot 100 cm wyd en 135 cm lank word.
Die pelskleur verskil ook aansienlik, individueel sowel as tussen seisoene en subspesies. Noordelike bevolkings, wat gewoonlik relatief klein is, is witter en suidelike bevolkings, wat relatief groot is, is donkerder. Dit kan in Noord-Amerika gesien word, waar die mees noordelike subspesie, R. t. pearyi, die witste en kleinste is en die mees suidelike subspesie, R. t. caribou, die donkerste en grootste. Die pels het twee lae: ’n digte, wollerige onderlaag en ’n langer bolaag met hol, luggevulde hare.
Nes die Amerikaanse eland het die rendier gespesialiseerde neusskelpe wat die oppervlakte in die neusgate drasties vergroot. Inkomende koue lug word deur die dier se liggaamshitte verhit voordat dit die longe bereik, en water word gekondenseer en opgevang uit die uitgeasemde lug, en so word die ingeasemde lug weer bevog.
Rendiere se hoewe pas by die seisoene aan: in die somer, wanneer die toendra sag en nat is, word die voetkussings sponsagtig en verskaf dit ekstra trekbeweging. In die winter word die kussings kleiner en stewiger en so word die rand van die hoef blootgestel; dit kap dan in die ys en harde sneeu om te keer dat die dier gly en om hul gunstelingkos, korsmos, te ontbloot.
Die ooie word gewoonlik 162 tot 205 cm lank en weeg 80 tot 120 kg. Die ramme is gewoonlik 180 tot 214 cm lank (hoewel dit wissel van spesie tot spesie) en weeg sowat 159 tot 182 kg. Buitengewoon groot ramme kan tot 318 kg weeg. Die skouerhoogte is sowat 85 tot 150 cm en die stert 14 tot 20 cm lank. Die rendiere van Svalbard is die kleinste. Hulle het relatief kort bene en hul skouerhoogte kan so laag as 80 cm wees.
Die knieë van baie subspesies is aangepas om ’n klikgeluid te maak wanneer hulle loop. Die klank kom uit die senings van die knieë en kan 10 m ver gehoor word. Die frekwensie van die geluide is een van verskeie tekens wat dui op die dominansie van die mannetjie.
’n Studie deur navorsers van die Universiteitskollege Londen in 2011 het getoon rendiere kan lig met ’n golflengte van net 320 nm sien, aansienlik korter as by mense (400 nm). Daar word geglo dit help hulle in die Arktika oorleef omdat voorwerpe wat in normale sigbare lig met die landskap saamsmelt, soos urine en pels, ’n skerp kontras vorm in ultraviolet.In ’n studie by die Universiteit van Tromsø is bevestig Arktiese rendiere se oogkleur verander deur die seisoene van goud tot blou om hulle te help om roofdiere te sien.
Rendiere is herkouers; hul maag bestaan uit vier kamers. Hulle eet in die winter hoofsaaklik korsmos, veral Cladonia rangiferina (rendiermos), ’n unieke aanpassing onder soogdiere. Hulle is ook die enigste diere buiten sommige slakke by wie die ensiem ligenase, wat korsmos in glukose afbreek, al gevind is.
Hulle eet ook die blare van wilgers en berke, sowel as gras en riet. Daar is bewyse dat hulle in die lente, wanneer hulle nie baie kos het nie, ook klein knaagdiere, soos lemmings, asook vis en voëleiers sal eet. Sommige rendiere eet laatsomer selfs sampioene.
Paring geskied van laat September tot vroeë November. Ramme baklei om die ooie te dek. Twee ramme sal hul gewei ineenstrengel en mekaar wegdruk. Die mees dominante ram kan met tot 15, 20 ooie paar. Hy sal in dié tyd ophou eet en ’n groot deel van sy liggaamsreserwes verloor.
Lammers kan in die daaropvolgende Mei of Junie gebore word. Ná 45 dae kan hulle wei en kos soek, maar suig nog speen tot die volgende herfs, wanneer hulle onafhanklik van die ma word.
Sommige Noord-Amerikaanse bevolkings trek tot 5 000 km per jaar en dek tot 1 000 000 km2. Ander subspesies bly op een plek. In Europa het hulle ’n korter migrasie. Eilandspesies se migrasie is beperk.
Migrerende rendiere kan nadelig geraak word deur parasiete. Kwaai aantastings kan individuele diere verswak en moontlik hul lewensduur verkort. Die vlak van aantasting wissel egter van bevolking tot bevolking. Infeksies veroorsaak uitdunning, wat kan veroorsaak dat diere nie hul migrasie voltooi nie.
Kariboes lê sowat 19 tot 55 km per dag af wanneer hulle migreer en kan tot 60 of 80 km/h beweeg. Jong kariboes van ’n dag oud kan reeds vinniger as ’n Olimpiese snelloper hardloop. Tydens die lentemigrasies sal migrerende groepe verenig en groter troppe van 50 000 tot 500 000 diere vorm, maar tydens die herfsmigrasies word die groepe kleiner en begin die rendiere paar. In die winter reis die diere na woudstreke om onder die sneeu na kos te soek. Teen die lente beweeg hulle van daar na die gebiede waar hulle lam.
’n Rendier kan maklik en vinnig swem, gewoonlik teen 6,5 km/h maar indien nodig tot 10 km/h, en migrerende troppe sal nie aarsel om oor ’n groot meer of breë rivier te swem nie.
Rendiere het aanvanklik in Skandinawië, Oos-Europa, Groenland, Rusland, Mongolië en Noord-China noord van die 50ste breedtegraad voorgekom. In Noord-Amerika is dit aangetref in Kanada, Alaska en tussen Washington en Maine. Tydens die Laat Pleistoseen is hulle in Noord-Amerika so ver suid as Nevada en Tennessee aangetref en in Europa tot by Spanje. Vandag het die rendier uit baie van die historiese streke verdwyn, veral in die suide, waar dit feitlik glad nie meer voorkom nie. Groot bevolkings word steeds in Noorweë, Finland, Siberië, Groenland, Alaska en Kanada aangetref.
Tropgroottes wissel van streek tot streek, maar baie bevolkings is deesdae klein en hul wintergebied is kleiner as wat dit was. Die grootste bevolking is in Taimir, Rusland; dit wissel tussen 400 000 en 1 000 000. Die tweede grootste, in George River, Kanada, wissel tussen 28 000 en 385 000.
Verskeie roofdiere maak jag op rendiere. Steenarende vang lammers en is die diere se grootste vyand in lamgebiede. Veelvrate sal lammers of lammende ooie vang, sowel as swak volwasse diere. Bruin- en ysbere vang rendiere van alle ouderdomme, maar veral swakker diere omdat gesonde rendiere vinniger as bere kan hardloop. Wolwe vang soms groot getalle, veral in die winter.
Jakkalse, valke en kraaie sal karkasse eet. Bloedsuiende insekte, soos jeukvlieë en muskiete, is ’n pes in die somer en kan groot stres onder die diere veroorsaak wat kos- en lamgewoontes kan beïnvloed. ’n Volwasse rendier kan sowat ’n liter bloed per week in die toendra verloor weens bloedsuiende insekte.
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article Rendier, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.
®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.