Higiëne is die gebruike wat uitgevoer word om goeie gesondheid te handhaaf.
Volgens die Wêreld Gesondheidsorganisasie (WGO) verwys higiëne na " omstandighede en gebruike wat bydra om gesondheid te handhaaf en die verspreiding van siektes te voorkom".
Waar dit in die algemene spreektaal verstaan word as "sindelikheid", dra higiëne in sy oorspronklike betekenis veel meer inhoud oor en sluit dit alle toestande en gebruike, lewenstylkwessies, opvattings en kommoditeite in wat bydra tot 'n veilige en gesonde omgewing. Terwyl die mediese wetenskap 'n standaard stel vir higiëne in verskillende situasies, kan dit wat as higiënies beskou word tussen kultuurgroepe verskillend wees en selfs tussen geslagte. Sommige gewone higiëniese praktyke kan deur 'n samelewing beskou word as goeie gewoontes, terwyl die afskeep van higiëne beskou kan word as afstootlik, onbeleefd en selfs bedreigend.
Higiëne is 'n konsep verwant aan sindelikheid, gesondheid en geneeskunde. Higiëniese gebruike word toegepas in geneeskunde en in huishoudings as voorkomende maatreëls om die voorkoms en verspreiding van siektes te bekamp. Goeie higiëne is 'n sleutelfaktor tot gehalteversekering in die vervaardiging van voedsel, farmaseutiese en kosmetiese produkte. Die terme sindelikheid en higiëne word dikwels gelykwaardig aan mekaar gebruik en kan tot verwarring lei. In die algemeen verwys higiëne na gebruike wat die verspreiding van siekteveroorsakende organismes voorkom. Aangesien skoonmaakprosesse – soos handewas – aansteeklike mikrobes en vuilheid verwyder, word dit dikwels beskou as metodes om higiëne te handhaaf. Ander gebruike van die benaming verskyn in sinsdele wat insluit: persoonlike higiëne, slaaphigiëne, geestesgesondheid, mondhigiëne en beroepsgesondheid wat verband hou met openbare gesondheid. Higiëne is ook 'n vertakking van die wetenskap wat gemoeid is met die bevordering en handhawing van gesondheid. Higiëniese praktyke is baie uiteenlopend, en wat aanvaarbaar is binne een kultuur, mag taboe wees in 'n ander.
Mediese higiëne het betrekking op die mediese gebruike wat verband hou met die toediening van medisyne en mediese sorg wat siektes voorkom of beperk en die verspreiding van siektes voorkom.
Mediese higiëniese praktyke sluit in:
Die meeste van hierdie praktyke is ontwikkel in die 19de eeu en was goed gevestig teen die middel van die 20ste eeu. Sommige prosedures (soos die weggooi van mediese afval) is verfyn in reaksie op die uitbreek van siektes soos veral VIGS en Ebola teen die laat 20ste eeu.
Huishoudelike higiëne het betrekking op die higiëniese praktyke wat die insidensie van siektes en die verspreiding daarvan minimaliseer of voorkom in die huishoudelike omgewing en in alledaagse omstandighede soos sosiale geleenthede, openbare vervoer, die werkplek en openbare plekke.
Higiëne tuis en in alledaagse situasies speel 'n belangrike rol om die verspreiding van aansteeklike siektes te voorkom. Dit sluit prosedures in wat gebruik word in 'n verskeidenheid van huishoudelike situasies soos handhigiëne, respiratoriese higiëne, kos- en waterhigiëne, algemene huishoudelike higiëne (higiëne van terreine en oppervlaktes), versorging van diere en huishoudelike gesondheidsorg (die versorging van diegene wat 'n groter risiko loop om infeksie op te doen).
Hierdie komponente van higiëne word tans beskou as aparte kwessies, alhoewel dit gebaseer is op die dieselfde onderliggende mikrobiologiese beginsels. Die voorkoming van die verspreiding van aansteeklike siektes is daarin vervat dat die ketting van infeksieoordrag verbreek moet word. Die eenvoudige beginsel is dat infeksie nie kan versprei wanneer die oordragketting verbreek is nie. In reaksie op die behoefte aan doeltreffende riglyne vir huishoudelike higiëne het die Internasional Scientific Forum on Home Hygiene 'n risiko-gebaseerde benadering (gebaseer op Hazard Analysis Critical Control Point (HACCP) ontwikkel wat bekend geword het as "geteikende higiëne". Geteikende higiëne is gebaseer op die identifisering van die roetes van die verspreiding van patogene in die huis, en die toepassing van higiëniese prosedures op kritieke punte en gepaste tye om die ketting van infeksie te verbreek.
Die belangrikste bronne van infeksie in die huis is mense (wat draers is of besmet is), voedsel (veral verwerkte voedsel) en water, en huishoudelike diere (in westerse lande meer as 50% van huishoudings een of meer troeteldiere). Daarbenewens is daar plekke waar stagnante water versamel — soos wasbakke, toilette, afvoerpype, skoonmaak gereedskap, waslappe — al hierdie ondersteun mikrobiese groei, en kan sekondêre reservoirs van infeksie wees. Kieme (potensieel aansteeklike bakterieë, virusse, ens.) word voortdurend afgeskei via slymvliese, ontlasting, braaksel, velskubbe, ens. Wanneer die omstandighede dus kombineer, word mense blootgestel – hetsy direk of deur kos of water, en kan 'n infeksie ontwikkel. Die belangrikste "paaie" vir die verspreiding van kieme in die huis is die hande, hand – en voet kontakoppervlaktes, skoonmaak lappe en gereedskap. Kieme kan ook versprei deur klere en huishoudelike linne soos handdoeke. Dienste soos toilette en wasbakke, byvoorbeeld, is ontwerp vir die veilige hantering van menslike afval, maar daar is steeds risiko's verbonde wat krities kan wees op sekere tye, bv. wanneer iemand siek is of diarree het. Veilige verwydering van menslike afval is 'n fundamentele behoefte; swak sanitasie is 'n primêre oorsaak van diarree en siekte in lae-inkomste gemeenskappe. Respiratoriese virusse en swamspore word ook deur die lug versprei.
Goeie huishoudelike higiëne behels dat die ketting van infeksie verbreek moet word sodat kieme nie kan versprei nie. Die aansteeklike dosis van sekere patogene mag baie klein wees (10-100 lewensvatbare eenhede, of selfs minder vir sommige virusse), en infeksie kan die gevolg wees van direkte kontak met oppervlaktes deur die hande of kos wat na die mond, oë of neus oorgedra kan word. Higiëniese reinigings metodes moet voldoende wees om patogene van kritiese oppervlaktes te verwyder en kan op die volgende maniere hanteer word:
Hand higiëne is sentraal tot die voorkoming van die verspreiding van aansteeklike siektes in die huis en die alledaagse lewe.
In situasies waar handewas met seep nie 'n opsie is nie (bv. in 'n openbare plek met geen toegang tot wasfasiliteite), kan 'n waterlose handreiniger soos 'n alkohol-handgel gebruik kan word. Om doeltreffend te wees, moet 'n alkohol-handgel nie minder as 60%v/v alkohol bevat nie. Handreinigers is nie 'n opsie in die meeste ontwikkelende lande nie. In situasies met beperkte water is daar water-bewaringsoplossings, soos bv. die "tippy tap" of kantelkraan. Dit is 'n eenvoudige toestel waar 'n beker aan 'n tou opgehang word en 'n voetpedaal getrap word om 'n klein hoeveelheid water oor die hande uit te giet, met 'n koekie seep daarnaas om hande te was. In lae-inkomste gemeenskappe word modder of as somtyds gebruik as 'n alternatief vir seep.
Die Wêreld Gesondheidsorganisasie beveel aan dat hande met as gewas word in noodgevalle, By skole sonder toegang tot seep en in ander moeilike situasies – soos post-noodgevalle – word die gebruik van skoon sand aanbeveel. Die gebruik van as is algemeen en eksperimente het getoon dat dit ten minste so effektief soos seep is vir die verwydering van bakterieë.
Die korrekte respiratoriese en handhigiëne wanneer mense hoes of nies verminder die verspreiding van kieme - veral tydens die verkoue en griepseisoen.
Voedselhigiëne hou verband met praktyke wat voedselvergiftiging voorkom. Volgens die WGO is daar vyf sleutelbeginsels rakende voedselhigiëne:
Die kwaliteit van drinkwater bly steeds 'n groot probleem , nie net vir ontwikkelende lande nie, maar ook in ontwikkelde lande. Selfs in Europa word beraam dat 1120 miljoen mense nie toegang het tot veilige drinkwater nie. Intervensies t.o.v. waterkwaliteit wat by die gebruikspunt plaasvind kan diarree verwante siektes – in gemeenkappe waar waterkwaliteit swak is – beperk, asook tydens noodtoestande wanneer daar 'n onderbreking is in water voorsiening. Aangesien water besmet kan raak tydens berging (bv. deur vuil hande of vuil houers) is die veilige opberging van water in huishoudings ook belangrik.
Metodes vir die behandeling van drinkwater, sluit die volgende in:
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article Higiëne, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.
®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.