Bertel Pedersen Randers is die Deense stamvader van die Pieterse Afrikanerfamilie.
Daar is weinig oor Bertel se herkoms bekend. Na skatting is hy om en by 1722 gebore en was hy afkomstig van die stad of gebied Randers, in Denemarke.
Daar is 'n paar kandidate wat aanspraak maak om Bertel Pedersen van Randers te wees:
Sommige bronne beweer dat Bertel in 6 Januarie 1738 gebore is as die seun van Peder Nielsson in die Karlby-gemeente in die Djurs Nørre-gebied van die Randersgraafskap. Hierdie inskrywing kan gevind word in die aanlynweergawe van die Kopenhagen-argief. Nog 'n kandidaat was 'n Bertel, seun van Peder Knudsen, wat in 1736 by die Sankt Morten-gemeente in die Støvring-gebied van die Randersgraafskap gebore is.
Hierdie aansprake word egter bevraagteken omdat Bertel in 1743 reeds as matroos aan boord van die skip Doquen gewerk het. Aangesien hy op daardie stadium onmoontlik jonger as 10 jaar oud kon wees, beteken dit dat Bertel voor 1727 gebore moes gewees het. 'n Veilige aanname is dat Bertel tussen 1720 en 1727 gebore is.
Daar is tans geen bevestigbare feite wat Bertel se herkoms bo alle twyfel vaspen nie.
Kandidate wat moontlik Bertel Pedersen Randers kon gewees het is:
Bartel is gebore in Denemarke net nadat die Deens-Sweedse oorlog tot 'n einde gekom het, in 1720. 'n Lang tydperk van vrede was ingelei, wat eers verbreek sou word in 1807 toe 'n oorlog teen Engeland uitgebreek het. Die eerste paar jaar na 1720 is gekenmerk as 'n periode waartydens oorlogskuld betaal moes word asook 'n ernstige landboukrisis. Frederik IV het, met die Eed van Getrouheid in 1721, dele van Gottorp onder Deense heerskappy gebring na 'n lang, intensiewe diplomatieke en politieke poging.
Tydens die tydperk het Frederik IV indiwidueel geregeer soos 'n landbaron. Die politieke mag het langsamerhand verskuif vanaf die koning na 'n raad van ministers. Die Koningkryk se populasie het stewig gegroei van 700,000 in 1720 tot 978,000 in 1807.
Tydens Bartel se vroeë jare was Denemarke in 'n proses van ekonomiese modernisering wat 'n basis sou vorm vir ernstige hervorming van die landboubedryf. In die vroeë 1720's het die plaaslike inwoners nie veel verder beweeg as hul tuisdorpe nie.
'n Landbou krisis in 1730 het daartoe gelei dat die koning grondeienaars bevoordeel het ten koste van die werkende boere op die plase. 'n Arbeidswet het in werking getree in 1733 wat plaaswerkers verbied het om landgoed te verlaat sonder die toestemming van hul grondeienaars. Alhoewel militêre redes aangevoer was vir die wet, het dit tot gevolg gehad dat grondeienaars toegang gehad het tot goedkoop arbeid. Verskeie instansies is ingestel ten einde beter beheer te verkry oor die ekonomie van Denemarke: die Raad van Handel in 1735, die eerste bank wat note vrygestel het in 1736 en die Handelsgulde in 1742.
Teen 1740 het die opkomende middelklas se jong mans hulself begin vereenselwig met 'n nasionale identiteit gebaseer op 'n gemeenskaplike taal en geskiedenis. Hierdie nasionale besef het ontwikkel as gevolg van 'n teenreaksie op die invloed van buitelanders en veral omdat die Deense adel openlik Denemarke as kultureel onderontwikkeld bestempel het.
Bertel het sy eerste skip betree in die hawe van Kopenhagen in 1743. Hy moes sekerlik bewus gewees het van die stad se tragiese geskiedenis. In 1711 is die hoofstad deur builepes getref wat een derde van die populasie uitgewis het. In 1728 het verskeie brande 'n groot deel van Kopenhagen uitgewis toe 'n brand uitgebreek het in 'n kersmaker se winkel in Norregard. Ongeveer 1700 huise, die stadsaal en die Universiteit is afgebrand. Die stad is herbou en die bouwerk is in 1737 voltooi, slegs ses jaar voordat Bertel op die Donquen geklim het as matroos. Tydens die herbou van die stad is die uitleg van die stad aansienlik verander. Die ou Kopenhagenkasteel is gesloop en in sy plek is die Christiansborgpaleis gebou en wat in 1740 deur Christian IV in gebruik geneem is.
Voordat Bertel op sy tweede skeepsreis vertrek het was hy heel waarskynlik in Kopenhagen toe die Koninklike Deense Teater geopen is in 1748 met 8 akteurs en 4 aktrises wat 'n Franse komedie opgevoer het. Die teater was geleë by die Kongens Nytorv in die hart van Kopenhagen.
Uit bronne blyk dit dat Bartel se naam mettertyd verander het.
Uit al die name is dit duidelik dat Bertel 'n sterk verbintenis gehad het met die Randersgraafskap en dat Bertel Pedersen van Randers sy oorspronklike benaming was.
Bertel se handtekening soos weergegee in die opgaaf van die tweede reis van Kroonprinses van Denemarke. Ons aanvaar dat die handtekening Bertel se eie handskrif is. Die handtekening vir die rit van Kopenhagen na Tranquebar en handtekening van die terugtog van Tranquebar na Kopenhagen dieselfde was terwyl verskillende persone verantwoordelik was vir die opstel van die opgaaf met die twee geleenthede.
Bertel het op vier skeepsreise gedien:
Bertel het dus ongeveer nege-en-'n-halfjaar ervaring gehad as seevaarder toe hy in Suid-Afrika aan wal gestap het.
Bertel, was reeds aangeteken as bootsman onder die offisiere, tydens die tweede reis van Kroonprinses van Denemarke. Die skeepsjoernaal het die volgende verwysings in wat na Bertel verwys:
25 Oktober 1748: Verwysing in die instruksies dat bootsman Bertel Randers in die kaptein se kajuit eet aan die tweede tafel as persoon nommer agt.
26 Oktober 1748: Baadsman Bertel Randers word gelys as persoon nommer vyftien onder die offisiere. Sy maandelikse salaris is 8 riksdaalders, dieselfde as 'n skeepsassistent, 3de stuurman, 2de timmerman en seilmaker en dubbel dié van 'n normale matroos.
5 November 1748: Bertel verlaat Kopenhagen met die skip Kroonprinses van Denemarke.
18 November 1748: Bootsman Bertel Randers koop velt, twee hemde en wit en blou kledingstukke.
9 Desember 1748: Die skeepsraad word byeengeroep omdat die Soldaat Peder Nielsen Lind gearresteer is vir diefstal. Baadsman Bertel Randers stel voor dat hy oor 'n periode van drie dae 100 sweepslae per dag ontvang as straf. Daar is ooreengekom om die straf so te aanvaar.
16 Desember 1748: Bootsman Bertel Randers koop tabak.
12 Januarie 1749: Bertel Randers, tesame met ander offisiere, teken 'n rekening vir die aankope van voedsel ens. by die Cap Verdic island Porto Praj.
4 Februarie 1749: Die skeepsraad word byeengeroep omdat die "boutellier" nie sy werk behoorlik gedoen het om die noodsaaklike dokumente in te vul ten opsigte van watter kos nie gebruik is nie. Die skeepsraad gee hom geleentheid om sy sake in orde te kry. Ook geteken deur B.P. Randers.
26 Februarie 1749: Baadsman Randers koop naaldwerkgare en tabak.
18 Maart 1749: Die skeepsraad word byeengeroep om te besluit of Korporaal Christan Schultz gearresteer moet word tot by Traquebar. Geteken deur B.P. Randers
8 April 1749: Baadsman Bertel Randers skenk op Paasfees 1 riksdaalder, 2Mk aan die leraar aan boord en 4Mk aan die armes.
5 Mei 1749: Die eiendom van die afgestorwe timmerman, Albrecht Madsen, word opgeveil. Baadsman Bertel Randers koop twee gordyne vir 3Mk en 'n "salvet" vir 2Mk.
18 Mei 1749: Bertel arriveer in Tranquebar met die Kroonprinses van Denemarke.
27 Junie 1749: 'n Hof word saamgestel by Tranquebar se Huis van Justisie. Die lede was: Kaptein Emanuel Sporing, Casper Fenger, Ole Søemod en Bertel Randers.
5 November 1794: Bertel verlaat Tranquebar met Kroonprinses van Denemarke
7 November 1749: Die skeepsraad word byeengeroep weens klagtes oor die kok Hans Hendrich Gotherg. Die skeepsraad bestaan uit Kaptein Sporing, Casper Fenger, Ole Søemod en Bertel Randers. Bootsman Bertel Randers is aangewys om die kok te gaan haal sodat die aanklagte aan hom voorgelees kan word. Bootsman Bertel Randers getuig dat hy gereeld die kok se gevloek en swak taalgebruik waargeneem het asook die onhigiëniese hantering van kos, potte en panne. Hy stel voor dat die kok 'n maand se salaris moet verloor en beboet word met 50 sweepslae. Die straf was te veel vir die kok en hy het oorboord gespring.
14 November 1749: Die skeepsraad word byeengeroep om getuienis van die voorval van die kok aan te hoor toe die kok verdrink het. Bootsman Bertel Randers stem saam met die ander dat hulle nie kan vasstel waarom die kok oorboord gespring het nie.
17 November 1749: Bootsman Bertel Randers koop tabak.
28 Maart 1750: Bootsman Bertel Randers gee die skeepsassistent 'n geskrif namens die hele bemanning van die skip. Die geskrif is onderteken deur die bootsman self, Niels Madse, M. Hans Christian Tersløf, Johan Christian Møller en die matrose Ole Iversen, Rasmus Anthony, Ole Pedersen, Peder Sørensen, Lars Tidemand, Peder Børrensen Ørbeck, Peder Nielsen Bierreby en Stille Jørgensen. Die geskrif het gehandel oor Jens Knie wat op 2 November 1749, toe dit baie winderig was by die kus van Tranquebar beloof het dat, op die veilige terugkeer in Kopenhagen, die bemanning 'n bykomende betaling van 400 rijksdaalders sal ontvang. Die skeepsassistent het aan hulle vertel dat die saak verwys sal word na die bestuur in Kopenhagen.
9 Maart 1750: Die Kaptein roep die skeepsberaad bymekaar (Die kaptein, Casper Finger, Jens Knie, Ole Søemond en Bertel Randers) Hulle moes die saak aanhoor tussen matrose Peder Andersen Scendske en Tømmermand Mogens Pedersen Schouw. Die een het die ander daarvan beskuldig dat hy sy geld gesteel het in Kopenhagen nog voordat die skip vertrek het. Bootsman Bertel Randers beklemtoon dat matroos Peder Andersen Svenske moes gekla het net na die vertrek uit Kopenhagen deur Tømmermand van diefstal beskuldig was. Tømmermand moes in die openbaar verklaar dat Peder Andersen nie skuldig was nie.
11 Maart 1750: Die skeepsberaad kom byeen (Die kaptein, Casper Fenger, Jensknie, Ole Søemond en Bertel Randers) om uitslag te gee in die saak tussen Peder Andersen Svendske en Tømmermand Mons Pedersen Schouw.
1 April 1750: Bootsman Bertel Randers koop 'n ou sak vir 6Sk by die veiling van die goedere van Grey Larsen Bager, na sy dood.
8 Mei 1750: Die skeepsberaad (die kaptein, Casper Fenger, Jens knie, Ole Søemond Bertel Randers en konstabel Morten Jensen Hillerød) Die kwartiermeester Johan Christian is gevang dat hy gesteel het van verskeie bemanningslede. Hy het onder andere 'n kompas gesteel by Bootsman Bertel Randers. Bootsman Bertel Randers stel voor dat hy oor 'n periode van 3 dae elke dag 50 sweepslae ontvang en dat hy vasgeketting bly totdat hulle in Kopenhagen arriveer.
11 Mei 1750: 6:00 voormiddag het die Kaptein besluit dat Johan Christian skuldig is en het hy besluit: Johan Christian sal die gesteelde goedere op die dek en in die openbaar volledig aan die oorspronklike eienaars terugbesorg. Oor 3 dae sal hy 50 sweepslae per dag ontvang. Van die 6de Mei af sal hy as gewone seeman sonder enige betaling geklassifiseer word. Hy sal vasgeketting bly totdat hulle in Kopenhagen arriveer. Die straf is geteken deur E. Sporing, M. Knie, Ole Søemond, B.P. Randers en M.J. Hillerød.
15 Mei 1750: Die kaptein roep die skeepsraad bymekaar om hulle opinie te hoor of hulle in die donker verby 'n gevaarlike deel gaan vaar, in die rigting van Kopenhagen, en of hulle gaan wag tot die volgende oggend. Bootsman Bertel stel voor dat hulle die seile span en so ver as moontlik vaar totdat hulle 'n gids aanboord kan neem. Daardie dag arriveer Bertel terug in Kopenhagen.
In die "Storms om die Kaap. Gevaarlike Deense reise" word 'n klein bietjie van Bartel se persoonlikheid weergegee tydens die derde reis van Kroonprinses van Denemarke. Op 23 Mei 1752 toe die skip in 'n benarde posisie was, het Konstabel Tonnes Tollesen, Bartel en die jongste offisier, Michael Hansen Lindegaard (tydens 'n skeepsberaad) aanbeveel dat hulle 'n bootjie na die land sal stuur sodat hulle kan uitvind waar hulle min of meer is. Sodoende kon hulle bepaal hoe ver hulle nog van Mosselbaai is.
Bartel het in stormagtige omstandighede in die Kaap aangeland.
Hy was bootsman in diens van die Deense Oos-Indiese Kompanjie, toe sy skip, bekend as Kroonprinses van Denemarke, 'n Oos-Indiëvaarder, op 9 Junie 1752 deur 'n storm in Mosselbaai verwoes is. Van sy kaptein, Svend Finger, kry 'Randers', soos hy aan boord bekend gestaan het, op 25 Augustus 1753, deur middel van 'n sertifitikaat, toestemming om sy heil aan land te soek, waar hy dit ookal kan vind.
Bartel het in 1756 toestemming van die goewerneur van die Kaap de Goede Hoop Ryk Tulbagh ontvang, met sy ambag as timmerman, om by die Kaap (waar hy burgerregte ontvang het) aan te bly.
Bronne verskil oor wie van die 'Kroonprinses' saam met Bartel in die Kaap agtergebly het. Die boek van G. Nørregaard vertel dat slegs Olle Mortenson in die Kaap agtergebly het. Volgens die Kaapse argiewe was daar egter vyf persone wat op die 'Kroonprinses' was wat toestemming gekry het om in die Kaap agter te bly.
Op 29 Maart 1761 trou hy met Anna Christina Minnie, dogter van Dirk Minnie en Christina Scheepers, te Swellendam. Dirk Minnie was die stamvader van die Minnie-familie.
Barthold het sewe kinders gehad:
Bertel het as veeboer 'n bestaan gemaak op die leningsplaas Drie Vanteyn tussen die Kouga en Langkloof in die omgewing van George in die Oos-Kaap.
Anna Christina sterf in 1776 en laat Bertel met sewe minderjarige kinders agter. Hulle besittings met haar afsterwe word soos volg weergegee:
Besittings: 1 ou wa, 1 ploeg met gereedskap, 4 grawe, 1 houtbyl, 1 ou handbyl, 3 skroefbore, 2 bore, 1 handsaag met 2 lemme, 1 snaphaan, 1 ou saal met houers, 'n pistool, draagband ens., 1 groot pot, 3 klein potjies, 1 koekpan, 3 blikke, 4 gebedsboeke, 3 ou blikke, 6 blikborde, 1 soplepel, 16 vurke, 6 tafelmesse, 1 staal kamerpot, 1 ou blikketel, 3 blik trekpotte, 1 koper koffiekan, 1 klein keteltjie, 2 strykysters, 4 "aade commen", 22 porselyn tafelborde, 1 "partiporc theegoed", 8 bottels, 2 wynglase, 2 anker vaatjies, 2 ou watervate, 2 bottervate, 2 botter "carns", 2 klein botter vaatjies, 4 melk emmers, 2 ou emmers, 3 klein balies, 3 waterkanne, 2 plat potte, 1 meelsif, 6 ou mandjies, 5 kiste van verskillende groottes, 1 bakkis, 1 kinderwieg, 1 skuifdoos, 2 lepelrakke, 2 kinderbedjies, 12 ou sakke, 1 bedsak, 2 beddens, 2 houtkandelare met 2 snuiters, 10 "cronzikels", 2 "ree scheven met harebijtles", 3 "sligt scheven", 5 skewe rollers, 12 skawe met bytels, 5 skawe sonder bytels, 1 kloubytel, 1 deurslag, 1 kruis, 1 kruishout, 1 houtpasser, 2 omslae met 8 "knegts", 1 ou "dissel", 1 knyptang, 1 klein koperpasser, 2 vyle, 1 buigtang, 8 bytels 3 stukke yster, 2 hamers, 1 ou stuk yster, 2 tafels, 3 stoele, 1 ou plank, 1 passer, 1 groot skaar,
Vee: 98 beeste van verskillende soorte, 1 013 skape van verskeie soorte 4 perde 93 bokke
Laste: 10 maande agterstallige rente op die leningsplaas. Geld is verskuldig aan: Jacob Helbek, Jacobus de Buijs, Pieter Jourdaan, Anthon Nortje, Gert van Nimwegen, Andries du Preez, Theodorus Minne, Gert van Roijen, Abraham Viveje en ene Barkhouser.
Bates is gereken op 831 Rd:s en die laste is gereken op 731 Rd:s
Bertel sterf in 1787 volgens die MOOC8/50.27-dokument.
1 kis vol gereedskap 2 kiste 1 bed met 'n 1 bulsak, 4 kussings en 2 komberse 1 "peuling" 4 "elle jas" laken 2 stukke "Snihase" linne 1 "kooij goet zak" 2 "mudde zakke" 1 tafelblad 1 stoel
Tydens sy afterwe was Bertel woonagtig by Stephanus Feraire onder de Langen Cloof.
Erkenning word gegee aan Jurgens Pieterse en Palle Kvist vir die navorsing wat gedoen oor die geskiedenis van Bertel Pedersen Randers
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article Bertel Pedersen Randers, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.
®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.