Volksetimologie is die klankverandering (opsetlik of onopsetlik) van woorde wat betekenisloos is tot nuwe woorde wat verstaanbaarder is.
Die ongewone woorde is uitgespreek soos dit vir die sprekers (die gewone mens, breedweg die volk) geklink het en is soms verander of vervorm tot 'n woord wat bekend klink (hetsy deur klank-, hetsy deur begripassosiasie). Volksetimologieë is in Afrikaans eiegoed, en nie uit Nederlands oorgeërf nie. Dit het hetsy uit misverstand, hetsy uit onkunde, hetsy grappenderwys in die volksmond ontstaan. In wese speel volksetimologie nie 'n belangrike rol in die vorming van die nuwe Afrikaanse woordeskat nie. In die negentiende-eeuse Transvaalse koerante word veral met baie konsepte en eiename van Britse (imperialistiese) herkoms mee die spot gedryf.
Volgens die taalkundige J.J. Smith is die begrip Volksetymologie in 1852 gemunt deur die Duitse taalgeleerde, "W. Förstemann" (d.i. Ernst Wilhelm Förstemann), wel gegrond op 'n ander taalopvatting. Förstemann en ander taalgeleerdes het destyds die wyse om 'n onbekende woordvorm meer "volks" of "eie" te maak as iets positiefs beskou, 'n uiting van die ware en gesonde volksgees. Hierdie volksgees het geen vrede met 'n woord wat hy nie begryp nie en omskep dit in iets wat vir hom iets beteken (byna soos 'n oester wat 'n pragtige nuwe pêrel skep uit 'n irriterende sandkorreltjie). Vir hierdie taalgeleerdes was volksetimologie dus werklik 'n etimologie wat die volk doelbewus beoefen het.
Die moderne taalkundiges is nie hiermee eens nie, want 'n volk is van nature lui en gaan slaan nie eers die woordherkoms van elke woord na waaroor hy struikel nie. Die gewone spreker besig elke dag duisende woorde en bekommer hom nie in die minste oor die oorsprong daarvan nie. Volksetimologie geskied daarom ook op 'n onbewuste wyse - en het werklik niks met die ware wetenskaplike aard van die etimologie (die navorsing van die woordherkoms) uit te waai nie. Tog bestaan "volksetimologie" letterlik sodra die volk spekuleer waar 'n woord vandaan kom, byvoorbeeld wanneer 'n seun die sabbat met bad in verband bring (omdat mens op die sabbat jou weeklikse bad inkry), of om koekmakranka as verbastering van goed vir krampe te beskou (as geneesmiddel vir maagaandoenings), maar dit is die uitsondering op die reël.
Self 'n goeie voorbeeld van hierdie tipe "volksetimologie" sou wees 'n naam soos Kapokberg, geleë in die Wes-Kaap. Omrede die woord "kapok" in die moderne Afrikaans geredelik verbind word met sneeu, sou die Afrikaanssprekende sonder meer dink die berg is so genoem omdat daar so baie sneeuneerslae in die wintermaande moet wees. Dit is 'n vergissing, want Nicolas-Louis de Lacaille skryf in sy joernaal op 16 Augustus 1752: ce nom lui vient d'une espece d'Arbuste qui porte une fleur qui est une forte de ouate, appellée Kapoc dans les Indes, on l'y cultive pour en faire des lits, comme sont nos lits de plumes. (hierdie naam is afkomstig van 'n struikspesie, wat 'n blom dra wat so sterk soos watte is, genaamd "Kapoc" in (Nederlands)-Indië, wat verbou word om beddens te maak (stop), soos ons verebeddens is.)
Self het Smith geen probleem met die ingeburgerde begrip nie, al is dit hoe misleidend, "mits ons op ons hoede is en geen verkeerde konklusies uit die naam trek nie". H.J.J.M. van der Merwe voer ook aan hierdie begrip is misleidend, "want die term gee dikwels aanleiding tot verwarring met 'etimologie', die taalwetenskap wat hom besighou met die herkoms van woorde". Hy stel 'n ander benaming voor, "iets soos verdraaiing".
Baie grappige vervorminge is eendagsvlieë wat nooit werklik deel van die blywende taalskat word nie. Die problematiek is die erkenning daarvan.
Volgens J.J. Smith is die skryftaal nie die getroue beeld van die spreektaal nie - juis omdat dialekte, streekstale en die idiolek in so 'n mate verskil dat ander Afrikaanssprekendes die konteks met moeite sal verstaan, of glad nie. Volgens hom moet die skryftaal so naby as moontlik aan Nederlands bly, "sodat Nederlanders sonder groot inspanning ons boeke kan lees en in ons literatuur kan belangstel"; dus, 'n groter afsetgebied vir die Afrikaanse boek. Wedersyds kan die Afrikaanssprekendes steeds met gemak deur Nederlandse tekste verryk word. Waar daar dus 'n keuse tussen twee woordvorme of spellinge bestaan, behoort die keuse te wees die een wat die naaste op die Nederlands lyk. Die beginsel bestaan om in 'n eenheidstaal alle vervorminge te vermy wat nie buite sekere kringe of streke bekend is nie. Die enigste uitsondering is waar die nuwe volksvorme wel op skrif mag verskyn, soos in romans en ander verhalende werke, "om sekere sprekers of klasse te kenskets, of om lokale kleur aan die vertelling te bied". Wat algemeen gesê word en oral as beskaafde taal geld (en nie neerlandisties onafrikaans voorkom nie, soos bv. nagskade ('nachtschade') in stede van nastergal; hoewel populier tog ook destyds onafrikaans gelyk het teenoor poplier, poppelier, paplier, pappelier, pampelier en tans die norm in die skryftaal is), verdien ook erkenning op skrif.
Van die woorde word as korrek in Afrikaans aanvaar, omrede dit nie opsetlik in Afrikaans verdraai is nie, maar uit onkunde (of misverstand) ontstaan het:
Die volgende woorde is opsetlike verdraaiing:
Vervorming | Oorspronklik | Betekenis |
Cannaan's Land | Kannaland | |
Cheridouws Poort | Tsoaridoas (Khoinaam) | “agterpoort” |
Committees Flats | Kommetjiesvlakte | |
Goodhouse | Gūdaos (Khoinaam) | “skaapdrif” |
Gousrivier Goudsrivier Goudrivier | Gouritsrivier | |
Grappies | Xorabes (Khoinaam) | “graafwaterplek” |
Gous | ≠Goas (Khoinaam) | “modder(plek)” |
Kaap Kaapseberg | Ghaap → !hab | "plato", "platoberg" |
Kraairivier | Grey's River | vernoem na genl. sir Henry George Grey |
Oubees | !Khobes (Khoinaam) | “kalkfontein” |
Ouhoop | Auob → uo-!ab | "Bitterrivier" |
Slangapiesberg | Hlangampisi, 'n verkorting van IDlangampisi | "Plek of berg van die hiëna" |
Sneesvlakte Sneeze Flats | Sineesvlakte | "Sjineesvlakte" |
Sous | Tsaus (Khoinaam) | “put” |
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article Volksetimologie, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.
®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.