Palmsondag is 'n Christelike fees wat op Sondag voor Paasfees gehou word.
Dit is die sesde en laaste Sondag van die vastyd en lui die Heilige Week net vóór Paasfees in. In Evangelies-Lutherse Kerke word dié week ook Stille Week genoem. Die Groot of Heilige Week van die Rooms-Katolieke en Oosters-Ortodokse tradisies sluit ook Paasfees self in. Die Palmsondag se datum hou verband met dié van Paasfees.
Palmsondag herdenk Jesus se triomfantelike intog na Jerusalem, 'n gebeurtenis waarna al die vier kanonieke evangelies (Matteus 21,1–11, Markus 11,1–11, Lukas 19,28–44 en Johannes 12,12–19) verwys. In die meeste liturgiese kerke word Palmsondag met die seëning en uitreiking van palmtakke of die takke van ander inheemse bome gevier; palmtakke is tydens Jesus se triomfantelike intog na Jerusalem voor hom vertoon. Die moeilikheid om palms in ongunstige klimate te verkry, het daartoe gelei dat hulle met takke van inheemse bome soos boksboom, olywe, wilgerboom en wierook, vervang is. Die Sondag is dikwels na hierdie plaasvervangende bome genoem, byvoorbeeld Olyfsondag of net algemeen Taksondag.
Volgens die Evangelie volgens Johannes (Joh 12,1) was Jesus ses dae voor die Joodse Pesachfees, wat op die aand van die 15de dag van die maand Nisan begin, in Betanië en Betfage. Daardie aand het hy saam met Lasarus en sy susters Maria en Martha geëet. Twee van die dissipels is na 'n teenoorgestelde dorpie ontplooi om 'n vul te haal "waarop nog niemand gery het nie". Die vul sou langs 'n eselin staan; indien gevra, moes hulle sê "dat die Here die vul benodig en dat Hy hom ook weer terug sou bring". Vroeg in die oggend lê die dissipels hul mantels op die rug van die dier, waarna Jesus daarop gaan sit en na Jerusalem ry. Langs die pad staan mense en roep: "Prys Hom! Loof Hom wat in die Naam van die Here kom! Geseënd is ons voorvader Dawid se koninkryk wat aan die kom is! Prys Hom in die hoogste hemel!" (Markus 11,9–10, en Tehilim/Psalms 118,25–26) Hulle het ook hul mantels op die pad uitgebrei en hulle het jong takke van die bome geneem om hulle op die pad te lê.
Nadat hy Jerusalem binnegegaan het, het Jesus na die tempel gegaan. Dit was baie besig daar; ambagte is gemaak en geld is uitgeruil. Jesus verjaag al die handelaars uit die tempel, en Hy het hulle tafels omgegooi. Na hierdie skoonmaak kom daar allerlei siekes na Hom toe wat Hy gesond gemaak het. Saans het Jesus na Betanië teruggegaan.
Die datum van Palmsondag word, nes baie ander feeste en herdenkings van die liturgiese jaar, volgens die Paasfeesdatum bereken. Vervolgens word Palmsondag op die Sondag vóór Paassondag gehou. Die vroegste moontlike termyn volgens die Gregoriaanse kalender is 15 Maart en die laaste moontlike is 18 April. In die Juliaanse kalender, wat veral deur die Oosters-Ortodokse Kerke gebruik word, verskil dié datum effens.
|
|
|
Wiki Commons bevat media in verband met Palmsondag. |
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article Palmsondag, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.
®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.