Die Russiese Mafia (Russies: росси́йская ма́фия, rossijiskaja mafija, of ру́сская ма́фия, roesskaja mafia) is nie net een bende nie, maar ’n uiteenlopende groep sindikate van georganiseerde misdaad wat in die voormalige Sowjetunie ontstaan het.
Dit word ook soms genoem Bratwa (братва́; slangtaal vir "broederskap", wat na alle bendes verwys, ook mededingende groepe).
Sedert die verbrokkeling van die Sowjetunie het hierdie groepe se invloed wêreldwyd toegeneem.
Georganiseerde misdaad het sedert die tyd van die tsare in Rusland bestaan in die vorm van struikrowers en diewe bekend as wori w zakone (воры в законе), of "diewe volgens die wet". Hierdie soort misdadiger moes hou by sekere reëls binne die tronke en strafkampe (die Goelag), soos dat hy nie dobbelskuld mag gehad of iemand anders mag verraai het nie.
Een van die belangrikste reëls was dat enige samewerking met die owerheid taboe was. Tydens die Tweede Wêreldoorlog het van die gevangenes ’n ooreenkoms met die regering aangegaan om in die oorlog te veg in ruil vir korter vonnisse. Met hul terugkeer na die tronke en Goelag is baie egter dood in gevegte met gevangenes wat getrou gebly het aan die wette van die diewe.
Tydens die bewind van Leonid Brezjnef, toe die Sowjetse ekonomie ’n knou gekry het, het die wori met die hulp van korrupte amptenare beheer oorgeneem oor die swartmark. Hulle het onder meer elektroniese produkte verkoop wat vir die gewone Sowjetburger feitlik onverkrygbaar was.
Die ware deurbraak vir misdaadorganisasies het gekom tydens die ekonomiese ineenstorting en massa-emigrasie van die 1990's wat op die verbrokkeling van die Sowjetunie gevolg het. Baie voormalige regeringsamptenare was desperaat om geld in die hande te kry en het hulle tot misdaad gewend of het saam met ander Sowjetburgers oorsee getrek, en so het die mafia buite die grense van Rusland uitgebrei. Voormalige KGB-agente, sportlui en veterane van die oorloë teen Afganistan en Tsjetsjnië was sonder werk, maar het baie ondervinding gehad op gebiede wat goed te pas gekom het in misdaad. Wydverspreide korrupsie, armoede en wantroue in die regering het bygedra tot die toename van georganiseerde misdaad. Kontrakmoorde het ’n hoogtepunt bereik en talle is nooit opgelos nie.
Die nuwe misdadigersklas van Rusland het ’n meer Westerse en besigheidsgeoriënteerde benadering in vergelyking met die outydse erekodegebaseerde wori wat aan die uitsterf is. Hul belangrikste bedrywighede is huurmoorde, afpersing, dwelmhandel, geldwassery en prostitusie.
Die verdwyning van die "Ystergordyn" en die internasionalisering van die Sowjetblok se ekonomie het die Russiese mafia ook in staat gestel om bande te smee met ander misdaadorganisasies oor die hele wêreld, soos die Chinese Triadegemeenskap en die Sisiliaanse Cosa Nostra. Bande met Latyns-Amerikaanse dwelmkartels het die Russiese mafia ook in staat gestel om kokaïen die land in te smokkel.
Van die bekendste mafiagroepe is:
’n Paar duisend buitelandse sakelui het in die vroeë 1990's vir "die tweede groot goudstormloop" na Rusland gestroom om te probeer munt slaan uit die oorgang van ’n kommunistiese na ’n kapitalistiese stelsel.
Die periode tussen 1990 en 1998 was in die algemeen ’n wilde en onstabiele tyd vir die meeste buitelandse sakelui in Rusland. Daar was gevaarlike botsings met die Russiese mafia en talle is beseer of vermoor. Die mafia het hulle beskou as ’n vinnige manier om geld te maak – met "beskermingsgeld" wat hulle moes betaal. ’n "Bende" sou byvoorbeeld ’n sakeman "lastig val", en die groep aan wie hy beskermingsgeld betaal het, sou dan die "ander bende" aanval en verjaag. Talle sakelui het die land hieroor verlaat.
Die Russiese mafia kom in ’n hele paar videospeletjies voor, meestal as die speler se vyand, onder meer Max Payne, Stranglehold en die Grand Theft Auto-reeks. In Mercenaries: Playground of Destruction is hulle die speler se bondgenote.
Russiese bendelede verskyn in baie Hollywoodrolprente, gewoonlik as die slegte ouens. Dit sluit in GoldenEye, Rocknrolla, The Jackal, 25th Hour, Ronin, Be Cool, Jungle 2 Jungle, The Italian Job, Training Day, Maximum Risk en Bad Boys II.
Daar was ’n hele paar Russiese rolprente oor die onderwerp. Die bekendste is waarskynlik Брат ("Broer") en Брат 2. Hierin is Danila ’n Tsjetsjniese oorlogsveteraan wat ’n kontrakmoordenaar in Sint Petersburg word. Die fliek en sy opvolg was baie gewilde onder die Russiese jeug.
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article Russiese Mafia, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.
®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.