Tsaar (Russies: царь; Bulgaars en Serwies: цар) is ’n vorstelike titel vir die historiese heersers van Rusland, Bulgarye en Serwië.
Afhangende van die tyd en land, kan tsaar keiser of koning beteken.
Die woord, wat van die Romeinse titel Caesar afgelei is, het aanvanklik keiser beteken. In Rusland en Bulgarye het dié betekenis mettertyd vervaag en teen die negentiende eeu het die woord eerder koning beteken. Nog later is die term vir vors in die algemeen gebruik, nie spesifiek vir ’n keiser of koning nie.
Tsaar was in die volgende lande die amptelike titel van die heersers:
Die woord "tsar" is ’n vorm van die vroeëre "tsesar" en is afgelei van die Romeinse titel Caesar. Die verandering van "tsesar" in "tsar" het plaasgevind vanweë die gebruik om titels in Slawiese manuskripte in snelskrif te skryf. ’n Mens kan voorbeelde hiervan in die Oos-Slawiese Primêre Kronieke sien.
In teenstelling met die Latynse woord "imperator" het die Bisantyns-Griekse term "basileus" sowel politieke as Bybelse konnotasies gehad. Dit het aanvanklik iets soos vors beteken, maar het mettertyd koning begin beteken. Nog later het die woord die betekenis van keiser gekry as daar na monarge van dié tyd verwys is, maar Bisantynse bronne het steeds na die Bybelse en antieke konings as "basileus" verwys. Dié woord is altyd as tsaar vertaal in Slawiese vertalings van Griekse geskrifte, en dié dubbele betekenis is dus na Kerkslawies (en later Russies) oorgedra. Tsaar is dus vir keisers asook vir Bybelse en antieke konings gebruik.
Vandag word dit nie meer vir keisers gebruik nie. Dit verwys slegs na plaaslike historiese heersers, Bybelse en antieke konings of konings in feë- en derglike verhale. Die term koning ("korol", король) word gebruik vir veral Wes-Europese konings en buitelandse keisers word gewoonlik "imperator" (император) genoem eerder as "tsaar".
Die leiers van die ou Kiëf-Roes en Moskowië se titel was grootprins. Nadat grootprins Iwan III Rusland verlos het van die Tartaarse (Mongoolse) Juk, het hy na homself as tsaar begin verwys. Die eerste Russiese leier wat egter amptelik as tsaar gekroon is, was sy kleinseun, Iwan IV die Verskriklike (1547).
In die Weste was daar verwarring oor die vertaling van die woord. Daar is eindelik besluit om dit nie te vertaal nie, nes die titels "sjah" en "sultan". Die Russiese senaat en sinode het in 1721 die titel "keiser" (imperator) aan Pieter die Grote toegeken. Dit het tot in 1917, toe Nikolaas II geabdikeer het, die amptelike titel van die heersers gebly. Die titel tsaar is egter steeds algemeen gebruik en word vandag nog gebruik – in Russies sowel as ander tale.
Sien tsaar in Wiktionary, die vrye woordeboek. |
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article Tsaar, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.
®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.