Die Pietersburg-konsentrasiekamp was 'n konsentrasiekamp wat op 11 Mei 1901 tydens die Tweede Vryheidsoorlog naby Pietersburg geopen is.
Die eerste sewe sterfgevalle is reeds in Mei dieselfde jaar hier aangemeld. Hierdie kamp moes vir die hele Zoutpansberg-distrik noord van Marabastad dien. Persone suid van Marabastad is na die Nylstroom-kamp gestuur.
Nie al die mense wat in die Pietersburg-konsentrasiekamp aangehou was, het van hierdie omgewing gekom nie. Heelwat mense van Pretoria en ander plekke in die Transvaal is in die kamp opgeneem. Daar is selfs ‘n persoon wat van so ver as die Kaapkolonie, in die sterftelys aangeteken. Dit is waarskynlik dat hierdie persone na die Noorde gevlug het en hier deur die Britte vasgekeer en gevange geneem is. Baie van die Zoutpansberg-distrik se mense is ook weer na Irene naby Pretoria gestuur.
Oor die inbring van die vroue en kinders na die kamp word van die droewigste verhale van die oorlog vertel. Plummer het die plaaslike swart bevolking met wapens voorsien en hulle opdrag gegee om so veel mense as moontlik bymekaar te maak in na die kamp te bring.
Hierdie mense het met ‘n vrye hand die weerlose vrouens en kinders op die plase aangeval, gemoor en geplunder. In enkele gevalle het Generaal Beyers van die mans na die plase gestuur om die vroue te beskerm, maar die oormag swartes het hierdie mans gedwing om uiteindelik aan die Britte oor te gee en om beskerming vir hul families teen die aanvalle te vra.
Waar daar nie mans was om die families te beskerm nie, is die plase afgebrand en die vroue moes met hul kinders, sonder klere en komberse, die veld in vlug. Ander vroue het vertel hoe hulle per voet na Pietersburg moes vlug om vir beskerming teen die aanvalle by die Britte te vra. Die wreedste verhale van die Britse optrede is ook van alle ander dele in die land vertel. In een geval is ‘n jong vrou wat skaars 24 uur gelede geboorte aan ‘n baba geskenk het, met geweld uit die huis gejaag voordat die Britte die huis afgebrand het. Die Britse soldate het selfs die kombers, wat haar moeder om haar wou draai om haar teen die koue te beskerm, ru by haar afgeneem.
Toestande in die kamp
Die eerste 113 mense wat aan die begin van Mei 1901 ingebring is, is eers in dorpshuise gehuisves. Na ongeveer een maand is hulle verskuif na die kamp teen ‘n sanderige bult, tussen die spoorlyn wat van Pietersburg na Pretoria loop, die Sterklooprivier en die hoofpad na Potgietersrus. Die kamp, met 300 tente, was met doringdraad omring. Wagte het ‘n aantal blokhuise rondom die kamp beman om te verseker dat niemand maklik kon ontsnap nie.
Een groot tent was as hospitaal gebruik, nog ‘n tent was as stoorplek ingerig en een tent het as administratiewe kantoor diens gedoen. Later is nog vier groot tente as hospitale ingerig om die geweldige hoë aantal siekes te versorg. Daar was in totaal slegs 28 beddens in die hospitaal.
Een groot tent is ook as skool en kerk gebruik. Daar was op ‘n tyd meer as 600 leerlinge met slegs 2 gekwalifiseerde onderwysers. Tien kampinwoners het ook bygestaan met die onderrig, wat alles in Engels plaasgevind het. In elke tent het van 4 tot 6 families gewoon. Die tente was oud en stukkend en het weinig beskutting verleen teen die koue wintermaande. Die meeste mense het die geleentheid gehad om komberse en skoon klere bymekaar te maak toe hulle na die kampe gebring is nie. Die mense het dus erg gely.
Die mense het aan vele siektes gely. Elke tent waar jy ingeloer het kon jy siek mense sien lê. Selfs volwassenes het gesterf van die masels. Die mense was magteloos. Al wat hulle kon doen was om te bid. Elke dag en nag het die mense tot die Here gebid om hul kinders te spaar. Behalwe vir die tyd wat die mense gerou het, was daar baie min gewees om die mense in die kamp besig te hou. Die Boere wat die Britte goedgesind was toesig oor die kamp gehou het. Hulle het die vroue beveel om heel dag te werk. Die vroue moes die tente skoonmaak, om die tente uitvee en bossies rondom die tente in in die strate tussen die tente skoffel. Om die reënwater te keer het die vroue slote om die tente gegrawe. Die vroue wat geweier het om te werk is by die kantoor aangekla en dan na kampe buite die Transvaal weggestuur.
Die mans, wat as krygsgevangenes aangehou is, moes die harder handearbeid verrig. So het Jacobus Potgieter vertel hoe hy elke dag die dooies begrawe het. Hy het elke dag na die lyktent gegaan om die name van die dooies op te neem. Die name het hy op ‘n stukkie papier geskryf en dit voor op die bors van die lyk met ‘n speld vasgesteek. Daarna het hy die name in sy sakboek geskryf en die lengte en breedte van die lyke geneem en vir elke lyk ‘n graf gegrawe volgens sy grootte. Dan het hy die naam van die lyk op ‘n stukkie papier geskryf en dit in die oop graf gegooi. Wanneer die lyke by die kerkhof aangekom het, het hy elke lyk in die graf geplaas. Jacobus Potgieter meld dat hy tot sestien of sewentien kiste op een dag moes begrawe.
Die rantsoene, wat in die beginmaande in die kamp voorsien is, was skokkend. Die vleis was baie maer en besmet met siektes. Die beesvleis was besmet met vuursiekte en die skaapvleis besmet met hartswater. Nadat die mense gekla het, is die siek beeste en skape dood gemaak en begrawe. Die mense het daarna geblikte vleis gekry. Die mense het geen vars groente gekry nie. Aan die begin is daar geen water in die kamp voorsien nie. Die vroue moes water in die Sandrivier gaan skep en oor die treinspoor dra. Eendag het ‘n trein ‘n jong meisie, wat water gedra het, dood getrap. Later het die Britte water voorsien met waens.
Vuurmaakhoud was eweneens ‘n groot probleem. Elke tent het slegs twee stukke steenkool per dag gekry om kos mee gaar te maak. Daar was geen hout of steenkool beskikbaar vir verhitting nie. Elke dag het daar waens uitgegaan om hout te gaan haal. Die mense, wat die hout gaan haal het, kon die een helfte van die hout vir hul self hou, terwyl die ander helfte aan die ander mense in die kamp uitgedeel is. Hierdie waens het aan die burgers ook ‘n geleentheid geskep om te ontsnap.
Verskuiwing van die kamp
In Januarie 1902 het ‘n groep van sewe mans ‘n geleentheid waargeneem om te ontsnap. Hulle het een oggend saam met die waens gegaan wat hout gaan haal het.
Hierdie sewe mans was: die twee broers Jacobus Johannes Potgieter (Kotie) en Christiaan Johan Potgieter (Krisjan), AJ Van Jaarsveld (Oom Albert), SJ de Beer (Sagrys), JH Venter (Jan), C Harmse (Stoffel) en W van der Gijft (Willie).
In sy navorsingstuk meld SJ Lee dat hierdie mans aan Generaal Beyers die berig gegee het om die kamp aan te val en die ander burgers ook te bevry. Dit is egter nie waar nie, aangesien die sewe mans die konsentrasiekamp op 18 Januarie verlaat en op 24 Januarie eers by die kommando op Malipspoort aangesluit. Generaal Beyers het vroeg in Januarie sy vesting in Malipspoort verlaat om kos en voorraad te gaan soek.
Sy reis na Warmbad en Nylstroom het niks opgelewer nie en hy en veertig burgers het toe, op pad terug na sy wegkruipplek, die konsentrasiekamp by Pietersburg op 23 Januarie aangeval. Beyers het 150 man uit die Britse kamp bevry, nadat hy vir Kampsuperintendent Tucker en die Britse personeel vir ‘n nag aangehou het. Die volgende dag het hy ‘n aanval op Pietersburg probeer, maar dit het skipbreuk gelei aangesien ‘n paar manne hulle verraai het en die Britte gewaarsky het. Generaal Beyers se aanval het die Britte laat besef dat die kamp nie behoorlik beskerm kon word nie en die aangehoudenes is eers na Colenso en daarna na Pinetown verskuif.
Die vroue van die mans wat ontsnap het is na die Merebank konsentrasiekamp in Durban geneem. Die vrouens is met hul kinders in stinkende perdewaens gelaai. Die reis na Merebank het 7 dae geduur. Die kinders het baie siek geword in die voortdurende reën. Hulle rantsoene is toe met die helfte verminder.
Bevolkingsgetalle in die kamp
Volgens Britse opnames het die kamp se bevolkingsgetal in Augustus 1901 3 713 bereik. Getalle word aangegee slegs tot Januarie 1902, waarna die kamp verskuif is. Aangesien enkele sterfgevalle egter nog steeds in Februarie aangeteken is, word aangeneem dat die kamp eers vroeg in daardie maand ten volle ontruim was.
Na die sluiting van die vredesverdrag van 31 Mei 1902 is die kamp weereens in gebruik geneem om burgers, wat vanaf die krygsgevangenekampe en ander konsentrasiekampe na hul huise terug gekeer het, te huisves. Daar is egter geen amptelike syfers bekend oor die bevolkingsgetalle gedurende hierdie tydperk nie.
Sterftes in die kamp
Die hoogste getal sterftes wat in een maand voorgekom het was 197 in Augustus, indien die datums in die naamlys getel word. Die Britse bronne dui 184 sterfgevalle vir hierdie maand aan. Die verskil in die getalle aangedui is toeskryfbaar aan die aantal grafte wat nie in die Britse rekords aangeteken is nie.
‘n Ontleding van die sterftelys dui ook dat kinders onder 16 ongeveer 80% van die sterftes uitmaak, terwyl vrouens bo 16 meer as 10% van die sterftes uitmaak. Die kindersterftekoers van die Pietersburg-konsentrasiekamp in September is deur Emily Hobhouse aangedui as 1 212 per duisend per jaar, wat abnormaal hoog was. Hierdie syfer is byna vier keer so hoog as die syfer van 326 sterftes per duisend per jaar, wat deur Hobhouse aangedui is as die gemiddeld vir al die kampe in die Transvaal. Indien die sterftes teen hierdie koers aangehou het, sou die hele bevolkingsgetal in minder as tien maande uitgewis gewees het.
‘n Totaal van 49 persone se adres word aangedui as “Burgerskamp, Pietersburg”, wat daarop dui dat hulle in die konsentrasiekamp gebore is en daar gesterf het. Drie van hierdie persone se ouderdom, soos op die lys gemeld, dui egter daarop dat hulle gebore is voordat die kamp gestig is. Daar was wél predikers en teologiese studente in die kamp, wat kinders gedoop het. Vyftien persone is begrawe sonder dat hulle gedoop is.
Die naamlys van sterftes
Die naamlys van sterfgevalle in die Pietersburg-konsentrasiekamp wat hierby ingesluit is, is opgestel van verskeie bronne. Gedurende die oorlog het die Britte die sogenaamde “blouboek” opgestel waarin alle statistieke in verband met die konsentrasiekampe aangeteken was. Ná die oorlog het die Assistent Plaaslike Magistraat van Pietersburg, A.C. Hatfield hierdie bron gebruik om die naamlys van sterfgevalle op te stel, wat op 16 Desember 1908 uitgegee is met die geleentheid van die onthulling van die gedenkteken op die begraafplaas deur Generaal C.F. Beyers.
Datums van afsterwe, soos aangedui op die lys wat hierby ingesluit is, is hoofsaaklik van hierdie bron geneem. In 1972 het S.J. Lee ‘n opname van die grafstene gedoen. Hy het sekere verskille uitgewys waar die sterfdatums wat op die grafstene voorkom verskil van die datums op die sterftelys. Albei datums word op die aangehegte lys aangedui. Geboortedatums word op die aangehegte lys aangedui slegs waar die datum gevind is op Lee se opname.
Jacobus Johannes Potgieter was vir ‘n tydperk as krygsgevangene in die konsentrasiekamp aangehou. Gedurende hierdie tydperk het hy die lyke begrawe en al die name in sy dagboek aangeteken. Datums van begrafnis, soos op die aangehegte lys aangedui, is hoofsaaklik vanuit hierdie bron geneem. Daar is gevalle waar die sterfdatum soos aangedui later is as die datum van begrafnis. Die verklaring vir die verskille tussen die Britse datums en die datums van die ander bronne is moontlik dat die Britte somtyds agter geraak het met die administrasie en sterfte sertifikate is eers na die tyd uitgereik.
Die spelling van name en vanne verskil in heelwat gevalle tussen die verskillende bronne hierbo genoem. Waar moontlik is die aangehegte lys met inligting van al hierdie bronne aangevul en spelling van name en vanne gekorrigeer.
Onaangetekende grafte
Verskillende getalle word aangegee vir die totale sterfgetalle in die kamp. Die getal wat die Britte amptelik in hul blouboek aangeteken het is 631, terwyl die naamlys, wat in 1908 deur A.C. Hatfield vergelyk is met die register, 657 name insluit. S.J. Lee het in 1972 ‘n telling van die grafte uitgevoer en tot die slotsom gekom dat die naamlys van 1908 ook nie volledig is nie. Lee se opname dui die name van 5 persone aan wat nie aangeteken is nie, maar hy meld wel dat daar vele ander grafte is wat nie grafstene gehad het nie, en daarom kon hy nie sodanige name insluit nie. Jacobus Johannes Potgieter, wat ‘n opname van grafte vir die tydperk vanaf 1 Augustus tot 11 Oktober 1901 gemaak het, werp effens lig op sommige van hierdie ongemerkte grafte, en hy dui ook 12 name aan wat nie in die naamlys opgeneem is nie. Die totale naamlys van sterfgetalle in die konsentrasiekamp, soos wat hier aangegee sal word, bevat dus 674 name. Dit is egter moontlik dat daar nog ander name ook kon wees, wat nooit opgeteken is nie.
Toe Lee sy opname van grafte in 1972 gemaak het, het hy een graf gevind waar drie persone waarskynlik reeds voor die amptelike opening van die kamp saam begrawe is. Die grafsteen van hierdie graf het aangedui dat die graf behoort aan Oom Koot Harmse en twee kinders wat op 2 Desember 1899 daar begrawe was.
Hervestiging van die burgers
Nadat die oorlog op 31 Mei 1902 beëindig is, het die Britse regering begin om die gevangenes van die konsentrasiekampe op hul plase te hervestig. Die Pietersburg-konsentrasiekamp is vir hierdie doel weer op 10 Augustus heropen. Die krygsgevangenes wat vrygelaat is, is ook na die konsentrasiekamp gebring voordat hulle vry gelaat is. Voordat hulle kon gaan, moes hulle egter ‘n dokument teken waarin hulle trou sweer aan die Britse ryk.
Daar is onmiddellik begin met die vrylating van die mense. Baie moes egter nog in die kamp agterbly totdat alle prosedures afgehandel kon word. In Desember 1902 was daar nog steeds 194 mense in die kamp. Weeskinders is na die Irene kamp gestuur. Die kamp is uiteindelik op 7 Februarie 1903 finaal gesluit verklaar deur die Britse ryk.
Die kamp ná die oorlog
Na die oorlog het die konsentrasiekampkerkhof die Afrikaners voortdurend herinner aan die wreedheid van die oorlog. In 1908 is die kerkhof opgeknap en Generaal Beyers het ‘n gedenknaald in die kerkhof onthul, waarop die volgende woorde verskyn:
Gedachtenis Aan De 650 Vrouwen en Kinderen Gestorven In het Concentratie Kamp
Van Mei 1901 tot Feb. 1902
Edele Moeders en Dochters
Zy riepen niet; Zy klaagden niet;
Zy verduurden; Zy lyden;
Zy kwynden weg als was voor de hitte hunner beproevingen;
Zy stierven, maar met de woorde op de lippen tot man en zoon en volk.
“Blyft Getrouw”
Onthuld door Z.ed Gestr. Genl. Beyers Op 16 Dec. 1908
Ererol
Paul PJ Vorster van Leydsdorp, ouderdom 12 jaar, sterf 11 Mei 1901
Elizabeth H Marais nee Bekker van Haenertsburg, ouderdom 23 jaar, sterf 14 Mei 1901
Naam onbekend Marais van Pietersburg, ouderdom 2 dae, Sterf 15 Mei 1901
Erasmus Vorster van Leydsdorp, ouderdom 5 maande, sterf 22 Mei 1901
Frans J Haman van Grootplaats, Spelonken, ouderdom 64 jaar, sterf 22 Mei 1901
Salome M Van Staden van Pienaarsnek, Straaipoort, ouderdom 1 jaar 8 maande, sterf 25 Mei 1901
Anna S Muller van Louis Trichardt, ouderdom 2 jaar, sterf 29 Mei 1901
Catrina W Alberts nee Venter van Welgevonden, Houtbosch, ouderdom 28 jaar, sterf 04 Jun 1901
Maria MP Viviers van Zoekmekaar, Spelonken, ouderdom 4 maande, sterf 06 Jun 1901
Petronella CA Els van Louis Trichardt, ouderdom 2 jaar 7 maande, sterf 06 Jun 1901
David E Combrink van Mahelaskop, Spelonken, ouderdom 23 jaar, sterf 08 Jun 1901
Anna J Eloff van Louis Trichardt, ouderdom 7 jaar 6 maande, sterf 08 Jun 1901
Naam onbekend Dohl van Mara, ouderdom 2 maande, sterf 08 Jun 1901
George RF Moolman van Kareebos, Rhenosterpoort, ouderdom 13 jaar 6 maande, sterf 09 Jun 1901
Caterina EF Bosch nee Moolman van Kareebos, Rhenosterpoort, ouderdom 36 jaar, sterf 09 Jun 1901
Anna ME Oosthuizen van Zandfontein, Matala, ouderdom 17 dae, Sterf 10 Jun 1901
Cornelia F De Beer nee Coetzee van Zandfontein, Pretoria, ouderdom 28 jaar, sterf 11 Jun 1901
Gerhardus P Pretorius van Louis Trichardt, ouderdom 13 jaar, sterf 12 Jun 1901
Philippus C Potgieter van Rooipoort, Marabastad, ouderdom 1 jaar, sterf 12 Jun 1901
Naam onbekend Van Der Berg van Louis Trichardt, ouderdom 2 dae, Sterf 12 Jun 1901
Johanna S Macdonald van Vrischgewaagd, Houtbosch, ouderdom 3 maande, sterf 13 Jun 1901
Beatrice Badenhorst van Wegraakbosch, Haenertsburg, ouderdom 3 jaar 6 maande, sterf 13 Jun 1901
Davis HJ Roux van Louis Trichardt, ouderdom 64 jaar, sterf 14 Jun 1901
Leonard J Grobbelaar van Burgerskamp, Pietersburg, ouderdom 8 dae, Sterf 14 Jun 1901
Annie Opperman nee Nel van Zandfontein, Louis Trichardt, ouderdom 23 jaar, sterf 15 Jun 1901
Stephanus J Combrink van Machelaskop, Spelonken, ouderdom 25 jaar, sterf 15 Jun 1901
Wilhelmina P De Bruin nee Vorster van Kalkbank, Malitiesland, ouderdom 22 jaar, sterf 16 Jun 1901
Aletta S Olivier van Middagzon, Spelonken, ouderdom 4 jaar, sterf 16 Jun 1901
Gert A Oelofse van Rooigrond, Spelonken, ouderdom 44 jaar, sterf 17 Jun 1901
Francina S Botha van Louis Trichardt, ouderdom 18 jaar, sterf 18 Jun 1901
Hester S Hattingh van Nooitgedacht, Laeveld, ouderdom 9 jaar, sterf 18 Jun 1901
Dirk CJ Van Schalkwijk van Rondebosch, Houtbosch, ouderdom 2 jaar, sterf 19 Jun 1901
Partick H Cloete van Louis Trichardt, ouderdom 10 jaar 6 maande, sterf 19 Jun 1901
Peter F Van Greenen van Pretoria, ouderdom 15 jaar, sterf 19 Jun 1901
Andries H Olivier van Bokfontein, Magaliesberg, ouderdom 7 jaar, sterf 20 Jun 1901
Elsie JJ Theron nee Naude van Graskraal, Laeveld, ouderdom 45 jaar, sterf 20 Jun 1901
Hendrina Dockrell van Elandshoek, Buffelsberg, ouderdom 3 jaar 6 maande, sterf 20 Jun 1901
Carl J Van Schalkwijk van Pietersburg, ouderdom 5 maande, sterf 20 Jun 1901
Philip VC Vorster van Kalkbank, Malitiesland, ouderdom 10 jaar, sterf 21 Jun 1901
Salomina F De Jager nee Hames van Vlakfontein, Laeveld, ouderdom 50 jaar, sterf 22 Jun 1901
David S Van Dyk van Louis Trichardt, ouderdom 3 maande, sterf 22 Jun 1901
Martha L Van Der Berg nee Schutte van Louis Trichardt, ouderdom 37 jaar, sterf 23 Jun 1901
Petrus J Van Rensburg van Doornfontein, Marabastad, ouderdom 3 jaar, sterf 23 Jun 1901
Naam onbekend Van Der Gryp van Paardeplaats, Haenertsburg, ouderdom 3 maande, sterf 24 Jun 1901
Aleda A Stolz van Rietvlei, Pretoria, ouderdom 7 jaar, sterf 23 Jun 1901
Frederick C Grobler van Zoekmekaar, Spelonken, ouderdom 56 jaar, sterf 24 Jun 1901
Willem TJ Botha van Poortjie, Marabastad, ouderdom 45 jaar, sterf 25 Jun 1901
Cornelius JJ Barkhuizen van Voetpad, Houtbosch, ouderdom 8 dae, Sterf 26 Jun 1901
Johannes WP Espach van Louis Trichardt, ouderdom 9 jaar, sterf 26 Jun 1901
Peter A Wademan van Louis Trichardt, ouderdom 1 jaar 6 maande, sterf 26 Jun 1901
John C Van Staden van Pienaarsnek, Straaipoort, ouderdom 11 jaar, sterf 28 Jun 1901
Frnas JJ Du Preez van Louis Trichardt, ouderdom 73 jaar, sterf 27 Jun 1901
Lizzie, M Venter van Cyferfontein, Spelonken, ouderdom 2 jaar, sterf 28 Jun 1901
Anna K Krige van Boschkoppies, Spelonken, ouderdom 2 jaar, sterf 28 Jun 1901
Johanna M Eybers nee Oelofse van Boschkoppies, Spelonken, ouderdom 64 jaar, sterf 28 Jun 1901
Dina G Henlen nee Fourie van Langverwacht, Spelonken, ouderdom 72 jaar, sterf 28 Jun 1901
Neeltjie EP Potgieter nee Botha van Wakkerstroom, Spelonken, ouderdom 67 jaar, sterf 28 Jun 1901
Gysbert Venter van Dordrecht, Kaapkolonie, ouderdom 21 jaar, sterf 29 Jun 1901
John H Botha van Waterval, Marabastad, ouderdom 50 jaar, sterf 29 Jun 1901
Olof A De Meyer van Louis Trichardt, ouderdom 3 jaar, sterf 29 Jun 1901
Sarel J De Meyer van Louis Trichardt, ouderdom 7 maande, sterf 29 Jun 1901
Paul J Smith van Pretoria, ouderdom 1 maande, sterf 30 Jun 1901
Christiaan Cloete van , Louis Trichardt, ouderdom 2 jaar 6 maande, sterf 02 Jul 1901
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article Pietersburg-konsentrasiekamp, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses. ®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.