Die Gereformeerde kerk Koedoesrand is die vierde oudste gemeente in die GKSA se Klassis Waterberg.
Einde 2015, toe hier 54 belydende en 17 dooplidmate was, was dit die sesde kleinste van die 13 gemeentes in die Klassis. Al vyf gemeentes wat toe kleiner was, was in Namibië nadat hulle omstreeks 2008 by dié Klassis aangesluit het.
Gereformeerde Kerk Koedoesrand | ||
Sluit in | Baltimore Maasstroom Marken Marnitz Swartwater Tomburke Tolwe Tuli-blok (Botswana) | |
Klassis | Waterberg | |
Huidige predikant(e) | Hendrik de Beer | |
In kombinasie met | Magol | |
Belydende lidmate | 42 | |
Dooplidmate | 16 | |
Adres | Marnitz | |
Geskiedenis | ||
Stigtingsdatum | 20 Mei 1939 | |
Afgestig van | Gereformeerde kerk Potgietersrus | |
Eerste predikant | Dirk van der Walt 1951–1953 |
Die kerkraad van die Gereformeerde kerk Potgietersrus het op 17 April 1938 besluit om ’n nuwe gemeente in die destydse Verre Noord-Transvaal te stig. Op 20 Mei 1939 het die afstigtingsvergadering plaasgevind op die plaas Strydpan, wat aan Hansie Enslin, ’n lidmaat, behoort het. ’n Hele aantal jare lank, voor die kerkgebou opgerig is, was dit die vergaderplek van die lidmate waar waens sou saamtrek en die tente opgeslaan sou word tydens Nagmaalnaweke. Soms was daar meningsverskille oor die grondkwessie, maar die geskille oor die boukwessie was veel erger.
Ná veel gewik en geweeg het die kerkraad op 23 Augustus 1940 besluit om die 50 morg grond wat die TLC Maatskappy aangebied het, te aanvaar en daarop te bou. Dertig maande nadat die gemeente gestig is, op 8 November 1941, het die lidmate hul kerkgebou in gebruik geneem. Ds. H.J. Venter het by dié geleentheid die rede gehou oor Psalm 147:2 en 3 en gewys op die twee rigtings waarin die mens bou sedert die geslag van die Bybelse Kain; hy het die gemeente gemaan om hul kinders te leer om Jerusalem-bouers te wees.
Later is ’n rondaweltjie op die kerkperseel gebou waarin die predikant kon tuisgaan met kerkgeleenthede, want toe is die gemeente nog bedien deur ds. Venter van Waterberg. Om hier te kom, moes hy sowat 150 myl in sy Ford-motortjie deur sand en bosse aflê. Aan die begin moes lidmate hul eie stoel kerk toe bring, maar op 20 November 1942 het die kerkraad die ontvangs van banke goedgekeur en in November 1943 is die preekstoel ontvang.
In die beginjare het die gemeente nie ’n behoefte aan ’n pastorie gehad nie omdat dit altyd in kombinasie was en die predikant wat ook vir Koedoesrand verantwoordelik was, elders gewoon het. In 1954 is die eerste pastorie wel voltooi, naby die kerk en op dieselfde stuk grond wat die maatskappy destyds aan die gemeente geskenk het.
In November 1974 is ’n tender vir die bou van ’n kombuis en kleedkamers goedgekeur en later is ook besluit om ’n saal te bou. Met verloop van tyd het lidmate ook drie rondawels op die perseel gebou waarin hulle met Nagmaal kon tuisgaan. Later is ’n begraafplaas aangelê en in 1983 was Thomas Scheepers die eerste lidmaat wat hier begrawe is. Eindelik, in 1998, het ’n grasdaklapa ook op die perseel bygekom.
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article Gereformeerde kerk Koedoesrand, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.
®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.