Vars water, ook soet water genoem, is in teenstelling met soutwater in beperkte mate op die aarde beskikbaar, vandaar toenemende internasionale, nasionale en ook plaaslike voorskrifte en ander bestuursmaatreëls om die gebruik daarvan te beheer.
So het Suid-Afrika in die onlangse jare sy Waterwet (No. 36 van 1998) omvattend hersien.
Die feit is dat dié skaars bestaansmiddel in die kern van dier en plant se bestaan is: met slegs sowat 0,75% van die aarde se totale watervoorraad as vars water beskikbaar – sowat driekwart van die 3% van vars water is in gletsers en ander ys opgeneem – vergelyk dit swak met die 97% wat seewater van die totaal uitmaak.
Die hoeveelheid see- en vars water op die aarde is 1 385 miljoen kubieke kilometer. Die 0,75% vars water wat "geredelik" beskikbaar is, kom in varswatermere, damme, riviere, grondwater en in die atmosfeer voor.
Die hoeveelheid water op die aarde bly konstant en is onderhewig aan die deurlopende waterkringloop van verdamping, reën of sneeu, afvloei en opgaring in damme, mere en die see, van waar die proses opnuut voortgesit word. Die son is die krag agter die waterkringloop.
Vars water bevat ’n hoeveelheid organiese en anorganiese stowwe in ’n dinamiese ewewig danksy ’n ingewikkelde reeks selfsuiweringprosesse. Word hierdie fisiese en chemiese ewewig versteur, onder meer weens nywerheids- en huishoudelike afval, kan die water nie sonder nadelige gevolge gebruik word nie. Dié swakgehaltevarswater word gevolglik deur grondwater, riviere en damme opgeneem, waarna plant en dier daaraan blootgestel word. Dit sluit in organiese en anorganiese besoedeling (vergiftiging deur swaarmetale soos kwik, lood, versouting en eutrifisering).
Die rotse onder die aarde se oppervlakte berg gemiddeld 8 miljoen kubieke kilometer vars water. Dit is 40 keer soveel vars water as in riviere, mere en moerasse saam. Die hoogte van die watertafel wissel uiteraard volgens die seisoen, maar die groot vraag na water het die watertafel die afgelope eeu met verskeie meter laat daal.
Enkele ander feite oor grondwater kan genoem word:
Verdamping speel ’n belangrike rol in die waterkringloop. Sowat 0,001% van die wêreld se totale watervoorraad is in die vorm van waterdamp in die atmosfeer. Die hoeveelheid atmosferiese water wissel volgens die temperatuur, omdat warm lug meer waterdamp kan hou as koue lug.
Die begrippe absolute humiditeit en relatiewe humiditeit is ook van belang. Absolute humiditeit is ’n maatstaf van die hoeveelheid waterdamp (gram waterdamp) in ’n hoeveelheid lug (kubieke meter) en relatiewe humiditeit is ’n maatstaf van die hoeveelheid waterdamp as ’n persentasie van die volume lug se houvermoë teen daardie temperatuur wanneer dit versadig is. Lug wat versadig is – met ’n relatiewe humiditeit van 100% - is die doupunt, omdat verkoeling kondensasie tot gevolg het.
Waterdamp kom dus van die verdamping van water in die see, mere, vogtige grond, die meeste plante en selfs mens en dier as ’n natuurlike byproduk van hul metaboliese proses.
Vars water word oorheersend in gletser-ys en ander ysbedekkings van die poolgebiede geberg. Eeue gelede het gletsers sowat 'n derde van die aarde se oppervlakte beslaan en vandag is dit sowat 10%. Gletsers vorm wanneer meer sneeu in die winter val as die sneeu wat in die somer smelt en, terwyl die sneeu vermeerder, word dit saamgepers tot massiewe ysmassas.
So beslaan die Malaspina-gletser in Alaska 3 000 vierkante kilometer en die reusagtige Lambert-gletser by Antarktika het ’n oppervlakte van 'n miljoen vierkante kilometer. Sowat 70% van die aarde se vars water kom in Antarktika-ys voor.
Ysberge vorm wanneer groot dele ys van die kante van gletsers afbreek: die Groenland-yslaag veroorsaak duisende ysberge in die noorde van die Atlantiese Oseaan en skep gevaar vir skepe, veral van April tot Junie. Dit was ’n groot bewegende ysberg wat die Titanic se ondergang was. Indien een groot ysberg tot die kus gesleep kan word, kan dit heelwat vars water aan ’n waterarm land verskaf.
Ongelukkig veroorsaak aardverwarming dat die hoeveelheid ys wat jaarliks smelt, vermeerder. Volgens navorsing het die dikte van yslae in die poolgebiede die afgelope 50 jaar aansienlik afgeneem. Glacier National Park in Amerika het meer as 100 van sy gletsers sedert 1910 verloor. In die Antarktika-gebied het see-ys sedert 1979 met byna 10% gedaal.
Lande het oor die algemeen wet- en bestuursvoorskrifte wat die gebruik en vermorsing van vars water betref. Selfs lande met volop vars water het streng bepalings wat onder meer besoedeling betref.
Omdat Suid-Afrika een van die waterarmste ande ter wêreld is, is dit belangrik dat vars water opgepas word. Daarom maak die Nasionale Waterwet (Wet No. 36 van 1998) voorsiening vir onder meer die bewaring, beskerming, gebruik, bestuur en beheer van die land se waterhulpbronne. Volgens navorsing is die hoeveelheid oppervlakwaterbronne wat beskikbaar is om in die land se waterbehoeftes te oorsien, slegs tot 2030 voldoende (nuwe damme uitgesluit) en moet water gekoester word.
Faktore wat die voorsiening van vars water in Suid-Afrika raak, sluit in:
Verskeie faktore dra by tot ’n groeiende vraag na vars water, insluitend:
Dit is noodsaaklik dat Suid-Afrika ’n pad volg wat omgewingsvolhoubaar is. Dit sluit die beskikbaarheid en gehalte van vars water in. Waterbestuur behels gevolglik dat die vlakke van varswaterverbruik, -gebruik en –besoedeling en die infrastruktuur (en uiteraard ook die gebrek daaraan) vir die opvangs, behandeling en voorsiening van vars water nie die ekostelsels en bevolking moet benadeel nie.
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article Vars water, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.
®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.