Rykie van Reenen (1923 - 2003) was een van die grootste Afrikaanse joernaliste van die tweede helfte van die twintigste eeu.
Rykie van Reenen | |
---|---|
Gebore | 31 Desember 1923 |
Sterf | 28 Desember 2003 |
Nasionaliteit | Suid-Afrika |
Beroep | Joernalis |
Rykie van der Byl van Reenen is op 31 Desember 1923 op die plaas Waterkloof in die distrik Darling aan die Weskus gebore. Aan die Universiteit van Stellenbosch behaal sy die graad B.A. met Afrikaans, Engels en Latyn, asook die graad M.A. in Engels, almal met onderskeiding.
In 1945 tree sy as joernalis in diens by Die Burger en word daar ‘n baanbreker vir die vrou (en veral die Afrikaanssprekende vrou) in die joernalistiek. Hoewel sy haar aanvanklik beperk het tot vrouesake, het sy mettertyd politieke en sosiale kommentaar gelewer. Sy het veral bekendheid verwerf met haar bydraes tot die rubriek Van Alle Kante (waar sy in die voetspore van C.J. Langenhoven gestaan het). In 1965 aanvaar sy ‘n betrekking by die destydse Johannesburgse Afrikaanse Sondagkoerant Die Beeld (ter wille van duidelikheid: dit was nie die dagblad Beeld wat eers in 1974 ontstaan het nie). Haar rubriek Randakker verskyn in Die Beeld en later in die Sondagblad Rapport. ‘n Keur uit haar rubrieke is in 1980 gepubliseer onder die titel Op die Randakker. Tydens die Jom Kippoeroorlog in 1967 maak sy naam as oorlogskorrespondent. Nasionale Pers se direksie bevorder haar tot assistentredakteur van Rapport en daarmee word sy die eerste vrou in die land wat so ‘n hoë pos in die joernalistiek beklee.
Om gesondheidsredes tree sy in 1980 af en vestig haar op Yzerfontein, naby haar geboorteplek. Sy beperk hierna haar skryfwerk hoofsaaklik tot resensies. Op 28 Desember 2003 sterf sy in haar aftreehuis.
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article Rykie van Reenen, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.
®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.