Die bergwind is 'n sterk warm droë wind wat in Suid-Afrika van die hoë binnelandse plato na die kusstreke waai.
Bergwinde ontstaan in veral die herfs en lente wanneer 'n hoogdrukstelsel op die hoë, droë en dorre binnelandse plato ontstaan en die wind oor die platorand na streke met 'n lae lugdruk langs die kus daal. Dit is dus 'n aflandige wind. Terwyl die lug van die platorand na die see afsak, styg die temperatuur daarvan (soms selfs met 20°C). Dus kan die temperatuur in Upington 'n 20°C wees en in Alexanderbaai oor die 30°C. Bergwind kom voor langs die hele kus van Suid-Afrika. Gewoonlik waai dit oordag en dan duur dit net 'n paar uur lank. Dit kan egter ook 'n dag of drie aanmekaar waai. Gewoonlik is die windspoed 'n 10 km/u, maar rukwinde van tot 100 km/u kom voor wat dan skade aan geboue aanrig en bome ontwortel. Hierdie uitdorrende bergwinde word as onaangenaam ervaar. Die warmte werk lusteloosheid en irritasie in die hand. Gewoonlik word die bergwind gevolg deur 'n koue front wat lae wolke, mis of motreën bring. Indien die bergwind met 'n naderende kouefront saamval, kan beduidende reën uitsak. Veral in Kaapstad is 'n bergwind die voorbode van koue en nat weer.
'n Bergwind is so tipies van die Suid-Afrikaanse weer dat meteoroloë die Afrikaanse naam gebruik vir soortgelyke weerverskynsels elders in die wêreld. Alhoewel die chinook van Noord-Amerika en die Föhn van die sentrale dele van Europa sterk ooreenkomste met 'n bergwind toon, is die verskille te groot om hulle ook as bergwinde te beskryf.
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article Bergwind, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.
®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.