Die skuinsstreep of per (ook solidus, vorentoe skuinsstreep, virgule, regleunstreep of vooroor skuinsstreep) (“/”) is ’n leesteken wat in die volgende gevalle gebruik word:
Eenhede: km/h, m/s, W/m ens (Dit is vandaar dat dit ook "per" genoem word.)
Internetadresse
In Afrikaans kan die skuinsstreep as leesteken of skryfteken optree. Volgens die AWS (2017) impliseer die skuinsstreep as leesteken beketenisverwantskap tussen die dele weerskante van die skuinsstreep, of dui aan dat daar van die leser verwag word om keuses tussen moontlikhede te maak.
Die skuinsstreep dui 'n keuse tussen twee of meer items aan.
Bv: hy/sy, ja/nee, dag/nag
Die skuinsstreep dien as skeidingsteken tussen woorde, frases of sinne in verskillende tale.
Bv: Meneer/Sir, Goeiedag / Good day / Dumela
Let op die gebruik van spasies in die voorbeeld hierbo. Waar die skuinsstreep afkortings of enkelwoorde skei, is daar geen spasies nie. Waar dit frases of sinne skei, is daar 'n spasie weerskante van die skuinsstreep. In 'n reeks wat bestaan uit enkelwoorde én frases, moet daar spasie aan weerskante van die skuinsstreep wees. (AWS, 2017)
Die skuinsstreep dui alternatiewe lettergrepe, morfeme of woorddele (maar nie letters nie) in komplekse woorde aan; die weglaatteken word dan teenaan die skuinsstreep geskryf. In hierdie gevalle word die skuinsstreep gebruik in die plek van die woord of.
Bv: man-/vroulik, akteur/-trise
Verhoudings tussen konsepte
Die skuinsstreep word gebruik om rekeningkundige verhoudings van 'n getal of eenheid tot 'n ander getal of eenheid in 'n samestelling uit te druk. Hier word die skuinsstreep gebruik in die plek van die woord tot: leerder/opvoeder-verhouding
Die skuinsstreep skei twee komponente in samestellings of afleidings waarvan die eerste komponent uit twee of meer stamme wat met 'n koppelteken verbind moet word bestaan en waarvan die tweede komponent 'n omgekeerde herhaling van die eerste komponent behels (AWS, 2017): Afrikaans-Engels/Engels-Afrikaans woordeboek
Die skuinsstreep word tussen getalle gebruik om die reeksnommer van 'n item aan te dui. Hier vervang die skuinsstreep die woord van: 17/36 bladsye (bladsy sewentien van ses-en-dertig)
Die skuinsstreep word tussen getalle gebruik om 'n deel uit 'n totaal aan te dui. Hier vervang die skuinsstreep die woord uit: Hy het 7/10 vir sy toets gekry.
Die skuinsstreep word gebruik om 'n relatiewe verhouding tussen eenhede aan te dui. Hier vervang die skuinsstreep die woord per: R20/uur (twintig rand per uur)
Hierdie artikel is ’n saadjie. Voel vry om Wikipedia te help deur dit uit te brei.
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article Skuinsstreep, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses. ®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.