Vliegas is 'n verbrandingsproduk van steenkool.
In 'n moderne kragstasie bereik die verbrandingstemperatuur meer as 1 500 °C. Die as wat gevorm word, bestaan uit die swaar bodemas wat op die vloer van die verbrandingsoond versamel en die vliegas wat lig genoeg is om saam met die verbrandingsgasse afgevoer te word. Die vliegas word – dikwels elektrostaties – neergeslaan en in silo's versamel, en word daarop in 'n verskeidenheid van aanwendings benut.
Die Romeine het reeds die vulkaniese as van die Vesuvius vir die beton van die Panteon en die Kolosseum gebruik en dit staan vandag nóg. Vliegas het vergelykbare eienskappe en word ook dikwels in betonmengsels aangewend.
Vliegas bestaan uit fyn stofdeeltjies kleiner as 75 mikron in deursnee. Hulle is gewoonlik glasagtige druppeltjies en amorf van struktuur. Die digtheid wissel gewoonlik van 2,1 tot 3,0 g/cm3 en die spesifieke oppervlak van 130 tot 1000 m2/kg. Die kleur hang af van die gehalte onverbrande koolstof. Lae gehaltes gee ligter kleure. Watter chemiese samestelling die as het hang af van watter brandstof gebruik word: antrasiet, bitumineuse steenkool, subbitumineuse steenkool of bruinkool. Die as van bitumineuse steenkool bestaan hoofsaaklik uit silika, alumina, ysteroksied en kalsiumoksied. Subbitimuneuse steenkool en bruinkool bevat meer kalsium- en magnesiumoksied, en soms ook meer sulfaat. Antrasiet word min gebruik in kragstasies.
In die VSA word vliegas in klas F en klas C onderskei. Klas F het kalsiumgehaltes van 1-12%, gewoonlik as kalsiumhidroksied en -sulfaat. Klas C kan tot 30-40% kalsium bevat, dit het gewoonlik ook meer K, Na en sulfaat.
Vliegas word ook soms in vywers gestoor, maar indien die wande nie waterdig afgeskerm word nie, kan besoedeling van grondwater voorkom. Vliegas kan swaarmetale soos Pb, Ni, Cr, Mn en Fe bevat. Dit kan in water oplos en grondwater kontamineer, soos tewens te Parichha in Jhansi, Indië, gebeur het.
This article uses material from the Wikipedia Afrikaans article Vliegas, which is released under the Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 license ("CC BY-SA 3.0"); additional terms may apply (view authors). Inhoud is onderhewig aan CC BY-SA 4.0, tensy anders vermeld. Images, videos and audio are available under their respective licenses.
®Wikipedia is a registered trademark of the Wiki Foundation, Inc. Wiki Afrikaans (DUHOCTRUNGQUOC.VN) is an independent company and has no affiliation with Wiki Foundation.